Home Preke Die vyfde en sesde seël - Die vervolgde kerk en die veroordeelde wêreld

Die vyfde en sesde seël - Die vervolgde kerk en die veroordeelde wêreld

Datum: 2022-03-06
|
Kernverse: Op.6:9,12

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde.

Geloofsbelydenis: Nicea

Sang: Ps.9:1,7,10

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/ Sondaag 34 en Sondag 38

Antwoord op die Wet: Sb.9-1:10,11

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.42:1,3

Lees: Openbaring 6: 9-17

Kernverse: Op.6:9,12

Tema: Die vyfde en sesde seël – Die vervolgde kerk en die veroordeelde wêreld

Sang: Ps.98:1,2; Ps.9:1,7,10; Sb.9-1:10,11; Ps.42:1,3; Ps.42:4,5; Ps.98:3,4

Inleiding:

Ons het die genade om deel te mag wees van Christus se kerk. Saam met hierdie genade kom die genade om op ‘n Sondag in ‘n erediens te mag wees. In die ware kerk van Jesus Christus is die Bybel tydens ‘n erediens oop. Ons het die genade om tans met Openbaring besig te wees.

Dit is nodig om die heeltyd seker te maak dat ons weet waarmee ons in Openbaring besig is. Die boek wat met sewe seëls toegebind en verseel is, is die wêreldgeskiedenis. Vanoggend is ons by die vyfde en sesde seël wat oopgebreek word, sodat die wêreldgeskiedenis kan plaasvind en ook tot ‘n einde kan kom.

Tema: Die vyfde en sesde seël – Die vervolgde kerk en die veroordeelde wêreld

  1. Die vervolging van Christus se kerk is deel van die wêreldgeskiedenis

 In die boek wat voor en agter vol geskryf is en met sewe seëls toegemaak en verseël is (Op.5:1) het ons die wêreldgeskiedenis wat gebeur volgens God se ewige raadsbesluit.

Die wêreldgeskiedenis gebeur nie net nie. God laat alles deur sy Seun gebeur. JESUS  CHRISTUS is die MIDDELPUNT van die ganse wêreldgeskiedenis.

Lees en luister saam na die volgende deel van die wêreldgeskiedenis.

Die Lam, die gekruisigde Jesus het die sesde seël oopgemaak. Johannes het die offeraltaar in die hemel gesien. In die Ou Testament is die bloed van die offerdier aan die voet van die altaar gesprinkel. Johannes het die siele van die Christengelowiges wat doodgemaak is ter wille van hulle geloof in Jesus Christus en hulle trou aan God se Woord, gesien. Hulle was onder die altaar, dit is aan die voet van die altaar soos in die Ou Testament, want hulle is in werklikheid geoffer ter wille van hulle geloof.

Kom ons maak eers seker ons verstaan en besef die belangrike waarheid hier in vs 9. Niks in Openbaring is net geskryf nie. Hier leer die Heilige Gees ons ‘n geweldige belangrike waarheid: Bly getrou aan Jesus Christus selfs tot in die dood en jy sal die ewige saligheid erf.

Johannes het die siele van die Christengelowiges wat dood gemaak is ter wille van hulle geloof in die hemel onder die altaar voor die troon gesien. Baie, regtig baie Christene, is in die geskiedenis doodgemaak ter wille van hulle geloof. Dit gebeur steeds. Voorbeelde –

  • Die nag van 23 en 24 Augustus 1572 is tot 70 000 Protestantse Christene in Frankryk doodgemaak, omdat hulle in Jesus Christus as ons enigste Verlosser geglo het.

  • In 2021 is 4761 Christene ter wille van hulle geloof doodgemaak. Dit is Christengelowiges in omtrent 20 gemeentes so groot soos ons wat vermoor is, omdat hulle in Jesus Christus geglo het.

Johannes het die siele van die Christene gesien en hy het hulle gehoor. Johannes het die gebed gehoor van die vervolgde Christene wat vir hulle geloof gesterf het. Die Christene het in hul gebed gevra hoe lank nog voor God sy oordeel oor dié wat nie in Hom glo nie en Christene doodmaak, sal voltrek.

Hierdie is in werklikheid ‘n gebed vir die wederkoms van Jesus Christus. In die hemel bid die Christengelowiges wat reeds gesterf het dat Jesus weer sal kom. Hulle roep. Hulle wil graag weet wanneer kom die gekruisigde Jesus weer. Openbaring eindig met hierdie gebed. Ons het ook nodig om te bid vir Jesus se wederkoms

Johannes het die antwoord gesien op die gebed van die gelowiges.

  • Aan elkeen is wit klere gegee.

  • Die gelowiges is aangesê om te wag tot hulle medegelowiges, wat ook vir hulle geloof doodgemaaak sal word daar saam by die altaar is.

Hier leer die Heilige Gees ons weer ‘n baie belangrike waarheid. Die getal van die Christene wat vir hulle geloof sterf, moet eers vol word saam met die getal van die uitverkorenes. Wanneer die getal van almal wat aan God behoort vol geword het met die laaste Christengelowige, dan sal die Here Jesus weer kom.

In hierdie verse maak God aan ons bekend dat die vervolging van Christus se kerk deel is van die wêreldgeskiedenis. Omdat die wêreld Christus en sy kerk eenvoudig net eenkant toe skuif, maak wat met Christus se kerk gebeur geen indruk op die wêreld nie. Wanneer mense in Mosambiek, of Afghanistan of Oekraïne sterf, word dit die hoofberigte oor die nuus. Wanneer meer as 4000 Christene in ‘n jaar sterf, beteken dit vir die wêreld en die wêreld se nuusmedia eintlik niks.

Dan is dit baie belangrike dat elke opregte gelowige in ‘n gemeente van Jesus Christus sal leer en verstaan en besef en aanvaar dat ons nie kan verwag dat dit met die kerk net goed sal gaan in die wêreld nie. Vergeet maar daarvan om te sê: Met daardie en daardie gemeente gaan dit so goed. Vanuit die hemel gesien en dit is die waarheid, sal dit met ‘n ware gemeente van Christus swaar gaan op aarde, want die vervolging van Christus se kerk is deel van die wêreldgeskiedenis.

  1. Jesus Christus se wederkoms beëindig die wêreldgeskiedenis

 Dan sien Johannes hoe die gekruisigde Jesus die sesde seël oopmaak. Met die oopmaak van die sesde seël, breek die einde van die wêreldgeskiedenis aan, want Jesus Christus die gekruisigde kom weer. Ons het hier niks minder en anders nie, as Jesus Christus se wederkoms! Geweldige dinge gebeur –

Vs 12 – Daar was ‘n groot aardbewing.

–  Die ondenkbare het gebeur: Die son het swart geword!

–  Die maan het heeltemal soos bloed geword.

Vs 13 – Die sterre aan die hemel het op die aarde geval.

Vs 14 – Die hemel het verdwyn.

–  Al die berge en eilande is uit hulle plekke geskud.

In hierdie drie verse leer die Heilige Gees ons die volgende oor die Here Jesus se wederkoms:

  • Jesus Christus se wederkoms is ‘n werklikheid. Sy wederkoms is groter en nader as wat enigeen van ons besef. Niemand van ons mag ooit vergeet wat Jesus ons oor sy wederkoms geleer het nie. Hy het hierdie baie belangrike dinge gesê:

  • Hy kom op ‘n tyd dat niemand dit verwag nie. Die beeld wat Hy self gebruik het was dat sy werderkoms so onverwags sal wees, soos ‘n dief in die nag.

  • Soos in Noag se tyd sal die mense ongeërg wees oor Jesus se wederkoms en hulle nie aan sy wederkoms steur nie, tot dit te laat is.

  • Die skepping sal heeltemal ontwrig en verander word. Vir ons lyk die son na ‘n byna onuitputlike bron van energie. Hy is so skerp mens kan nie na hom kyk nie. Wanneer Jesus weer kom, word die son swart. Die maan sal soos bloed word. Die sterre val op die aarde. Die hemel verdwyn en al die berge en eilande word uit hulle plekke geskud. Die skepping wat vir ons as mense so vas en seker lyk, die son, die maan, die sterre, die berge en eilande, verander heeltemal wanneer Jesus Christus weer kom. Hy oorweldig alles in die skepping, Hy verander alles wanneer Hy weer kom.

  • Dan die mense. Johannes sien hoeveel chaos Jesus se wederkoms onder mense veroorsaak. Dit is onder die mense wat nie in Hom geglo het nie –

  • Vs 15 – konings, hoofamptenare, opperbevelhebbers, rykes en magtiges, almal, slawe en vry het in grotte en onder kranse weggekruip.

  • Vs 16 – Hulle het vir die kranse gesê: Val op ons bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam.

Die mense op aarde wat nie geglo het in Christus kom uiteindelik voor die Hemelregter te staan. God is die Een op die troon. Die Lam wat geslag is, is die Leeu wat oordeel en verslind wie nie aan Hom behoort nie.

Omdat soveel die gekruisigde Jesus nie geken het nie, het hulle probeer vlug. Ewe skielik is aardse skeiding wat so belangrik was, weg. Konings en rykes en magtiges en slawe vlug almal weg van Christus af. Dis ‘n vergeefse vlug vir almal, want hulle roep die berge en die rotse waar hulle skuil om op hulle te val en hulle te verberg vir die oordeel van Hom wat op die troon sit en vir die toorn van die Lam.

Van hulle besige en geldelik voorspoedige lewe het niks oorgebly nie. Hulle lewe deur het hulle hulleself ingespan vir die hier en die nou. Die Christengelowiges en die liggaam van Christus moes swaarkry onder die wêreldmense. Christus se kerk is na die kantlyn geskuif, geminag, vervolg en doodgemaak. Met Christus se kerk onder beheer en onder druk kon die wêreldmense met hulle sondige lewe ver van God af voortgaan. Aan Christus se wederkoms, het hulle nie gedink nie, tot dit te laat was.

Die deel eindig met die vraag: Wie sal staande bly wanneer die groot dag van God die Vader en sy Seun Jesus Christus se oordeel aanbreek. Hierdie vraag het twee antwoorde.

Die eerste – Die mense wat nie met ware geloof in Jesus as enigste Verlosser geglo het nie, sal ewig veroordeel word. Al is daar miljarde van hierdie mense; elkeen sal God se ewige oordeel ontvang. Dit is so belangrik om te besef daar is mense wat ware geloof in Jesus Christus gehad het en mense wat vals geloof in Hom gehad het. Die mens sonder ware geloof sal ewig veroordeel word, selfs al het daardie mens elke Sondag in ‘n erediens gesit!

Die tweede – Die mense met ‘n ware geloof wat die Heilige Gees gegee het, is die mense wat in die Here Jesus as enigste Verlosser geglo het. Johannes was so ‘n gelowige. Hy het hierdie wêreldgeskiedenis en die einde daarvan gesien, sodat hy ons kon vertel. Elkeen met ‘n ware geloof in Jesus Christus sal die dag met sy wederkoms terwyl die geweldige dinge gebeur, veilig by Hom wees, toegevou in sy liefde en sy beskerming.

In hierdie eerste ses seëls wat die boek styf toegemaak en verseël het, het ons dus die wêreldgeskiedenis soos God in sy ewige raad daaroor besluit het. Hy laat die wêreldgeskiedenis deur sy Seun gebeur. Die wêreldgeskiedenis bestaan uit hierdie dele –

  • Die Evangelie van Jesus Christus.

  • Oorloë en bloedvergieting.

  • Hongersnood en ellende.

  • Die dood

  • Die vervolging van Christus se kerk en die doodmaak van Christene.

  • Jesus Christus se wederkoms.

Aan die einde van hfst. 6 en die begin van hfst. 7 het ons ‘n baie goeie voorbeeld wat wys dat ons nie Openbaring mag lees en verstaan asof die een hoofstuk net voortgaan na die volgende met die een ding wat na die ander gebeur nie.

Op.6 eindig met die wederkoms van Jesus Christus. Daarmee kom die wêreldgeskiedenis tot ‘n finale einde. Niks bly meer oor nie. Tog is daar nog hoofstukke 7 tot 22. Die Heilige Gees leer ons hier dat Johannes die wêreldgeskiedenis vanuit verskillende hoeke gesien het en vir ons neergeskryf het. Ons het nou klaar gemaak met die wêreldgeskiedenis soos God die geskiedenis deur sy Seun laat gebeur. Vanaf Op.8:2 – 11:19 sal ons, as die Here wil, kyk na wat Johannes gesien het oor God se oordele oor die wêreld.

Dit is regtig nodig dat elkeen van ons met volle aandag sal lees en luister, hiermee saam met ‘n gebed in die hart dat die Heilige Gees ons sal help om te verstaan, te besef, te aanvaar en te glo wat God vir ons in die laaste boek van die Bybel sê.

Op hierdie manier sal ons uit Openbaring kry wat God vir ons bedoel het en sal ons as ware kerk van Christus die toekoms met vertroue in ons God aanpak.

ANTWOORD

Sang: Ps.42:4,5

Gebed

Sang: Ps.98:3,4

Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.