Home Preke Die wonder van die Heilige Gees

Die wonder van die Heilige Gees

Datum: 2022-06-05
|
Kernverse: Op.14:1

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lof aan God: Ps.100:1,2,3,4

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.9:1,7,10

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34

Antwoord op die Wet: Ps 32:3

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Sb.8-1/14:1,2

Lees: Openbaring 14:1-5

Kernvers: Op.14:1

Tema: Die wonder van die Heilige Gees

Sang: Ps.100:1,2,3,4; Ps.9:1,7,10; Ps.32:3; Sb.8-1/14:1,2; Sb.1-1/24:1,3; Sb.1-1/24:6,7

Inleiding:

Johannes het nog ‘n gesig gesien. Hy het die Lam op Sionsberg gesien en by Hom honderd vier en veertig duisend mense. Hierdie gesig is van die gekruisigde Jesus wat uit die dood opgestaan het met almal wat aan Hom behoort by Hom in die hemel.

Openbaring 12 en 13 was moeilike hoofstukke om te lees en na te luister. Openbaring 14 is heeltemal anders en wonderlik om te lees. Maar voor ons daar kom, moet daar baie groot en baie belangrike dinge gebeur.

In al hierdie dinge neem die Heilige Gees ‘n belangrike plek in. Vandag is Pinkster. Ons dink aan die Heilige Gees wat na Jesus se kerk toe gekom het. Vanoggend se preek gaan oor die belangrike Persoon in ons lewe, God die Heilige Gees.

Tema: Die wonder van die Heilige Gees

  1. Die Heilige Gees het gekom

Die eerste baie groot gebeurtenis wat moes gebeur, is dat die Heilige Gees moes kom. Sonder die Heilige Gees sou niemand in Jesus Christus kon glo nie. Daarom is die uitstorting van die Heilige Gees, die koms van die Gees ‘n baie groot en baie belangrike gebeurtenis.

Met die koms van die Heilige Gees op Pinkster sien ons weer die hoe die Ou Testament en die Nuwe Testament die een Woord van God is. Pinkster het reeds in die Ou Testament begin. Pasga was vir Israel in die Ou Testament ‘n baie belangrike fees. Soos ons almal seker weet, het Israel met Pasga die verlossing uit Egipte herdenk en gevier. Sewe weke, ons kan ook sê vyftig dae na Pasga moes Israel die fees van die weke of die Oesfees vier. Met die Oesfees het Israel die voltooiing van die oes herdenk en God daarvoor gedank. Toe Grieks ‘n wêreldtaal geword het, het hierdie fees op die vyftigste dag na Pasga as Pinkster bekend begin staan.

Israel en later toe net Juda oorgebly het, het die Pasga en die Oesfees gereeld gevier soos die Here van hulle verwag het. Min het hulle geweet dat én die Pasga én die Oesfees net die skadu was. Die dieper betekenis van die feeste sou eers duidelik word met die koms van Jesus Christus en die koms van die Heilige Gees.

Die dieper betekenis van Pasga was verlossing van sonde en die dood. Hierdie verlossing het Jesus met sy dood aan die kruis en sy opstanding gebring.

Die dieper betekenis van die Oesfees was die koms van die Heilige Gees op Pinkster. Die verlossingswerk wat Jesus begin het kon met die koms van die Heilige Gees voltooi word. Mense kan na die koms van die Heilige Gees wedergebore word, in Jesus Christus glo, tot bekering kom en Christengelowiges word wat ewig kan lewe.

Met die koms van die Heilige Gees het die saamwees by Jesus Christus in die hemel ‘n werklikheid geword.

  1. Ek is gedoop in die Naam van die Heilige Gees

Die tweede baie groot en baie belangrike ding wat gebeur het, is my doop. Wanneer ek van die doop praat, bedoel ek glad nie al die uiterlike dinge nie. Dit gebeur te dikwels dat al die reëlings om die famiilie by die doop van ‘n baba te kry, die ete daarna en ander onbelangrike dinge wat bykom soos die doopkoek en nog meer die meeste tyd en aandag kry.

Vir vanoggend se preek is die volgende belangrik. Ek haal die woorde in die Doopformulier aan: “Net so ook as ons in die Naam van die Heilige Gees gedoop word, verseker die Heilige Gees ons deur hierdie heilige sakrament dat Hy in ons wil woon en ons tot lidmate van Christus wil heilig deur tot ons eiendom te maak wat ons in Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe, totdat ons eindelik onder die gemeente van die uitverkorenens in die ewige lewe vlekkeloos gestel sal word”.

 Hierdie is die belangrikste, maar kry ongelukkig met die doop van ons kinders die minste aandag.

Die belangrikste die dag van my doop is die sekerheid wat God die Vader, die Seuen en die Heilige Gees vir my gee. Hierdie behoort elke ouer te ken, te verstaan en te glo om kinders te kan vertel en te kan leer van God in hulle lewe.

Vir vanoggend se preek is die sekerheid wat die Heilige Gees my met my doop gee die belangrike:

  • Die Heilige Gees gee my die sekerheid dat Hy in my bly en leef.

  • Hy gee my met my doop die sekerheid dat Hy my tot lidmaat van Jesus Christus wil heilig. Dit beteken dat die Heilige Gees my van die res van die wêreld wil afsonder om aan Jesus Christus te behoort.

  • Die Heilige Gees sonder my van die res van die wêreld af deur wedergeboorte en geloof in Jesus Christus wat my sondes my sy dood aan die kruis afgewas het.

  • Die Heilige Gees verseker my dat Hy my wil lei en help om elke dag nuut te lewe.

  • Die Gees gee my die sekerheid dat Hy in my sal leef en werk tot Hy my in die hemel bring waar ek saam met al die Christengelowiges by die gekruisigde Jesus in die hemel sal wees, ewig verlos en salig.

Die gesig wat Johannes gesien het en deur die Heilige Gees neergeskryf het vir ons om te lees, is presies die sekerheid wat die Heilige Gees my die dag van my doop gegee het. Hier is ‘n groot verandering in baie ouers nodig. Die dieper, die eintlike betekenis van die doop van ‘n baba moet baie meer aandag kry.

  1. Die Heilige Gees lei my om as Christen nuut te lewe

Daar is baie gelowe en baie mense ook in Suid-Afrika wat oortuig is en openlik sê dat alle mense uiteindelik in die hemel sal kom. Hierdie is ‘n mens gemaakte vals geloof. Ons as Christengelowiges het ook regtig nodig om nie te glo en te dink die pad na die dag daar saam met Jesus in die hemel is ‘n gelyk pad wat met goud uitgelê is, om die taal van Openbaring te gebruik nie.

Op die pad na Jesus in die hemel in die hemel lê sy bloed en sy gebreekte liggaam aan die kruis. Jesus moes ‘n verskriklike lyding verduur en ‘n wrede dood sterf, omdat ek ‘n sondige mens in die mag van die duiwel, die sonde en die ewige dood was. Jesus Christus moes my met sy dood aan die kruis as’t ware uit die mag van die duiwel, die sonde en die dood ruk. Hy moes my met sy lewe verlos en heeltemal nuut maak.

Vir my om in die hemel by die gekruisigde Jesus uit te kom, het ek die Heilige Gees in my nodig. Die Heilige Gees lei my in om as Christen nuut te lewe. En weereens, hierdie nuwe lewe is nie in die eerste plek uiterlike dinge nie. Die Fariseërs het daarvan gehou om te dink geloof het alles te doen met uiterlike dinge. Solank jy die sabbat onderhou deur in die sinagoge te wees en solank jy al die ander wette onderhou, is jou verhouding met God reg en is jy verlos. Hierdie manier van dink en glo, kry ons in Gereformeerde kerke vandag steeds, hier by ons ook. Mense dink en glo ‘n baba moet net gedoop word, belydenis van geloof moet net afgelê word en nagmaal moet net gebruik word. Wanneer ek hierdie uiterlike dinge gedoen het, is my verhouding met God reg en sal ek in die hemel kom.

Hoe verkeerd is hierdie manier van dink en glo nie!

Wie is daar by die gekruisigde Jesus in die hemel? Johannes het twee dinge van hierdie mense daar by Jesus neergeskryf. Onthou, hy het ‘n gesig gesien. Ons mag nie die gesigte, die belde en simbole in Openbaring so lees, asof dit regtig so is nie. Jesus Christus het glad nie bedoel ons moet die gesigte en beelde verstaan asof dit alles die werklikheid is nie.

Kom ons kyk dan na die twee dinge wat Johannes van die mense daar by die gekruisigde Jesus in die hemel neergeskryf het:

  • Hulle het hulle nie met vrouens besoedel nie. Die taal is die van die ou oosterse manier van dink en leef. Die man word genoem as verteenwoordiger van mans en vroue. Johannes bedoel nie die mense wat hy daar by die gekruisigde Jesus gesien het, was net mense wat nie seksueel losbandig en onsedelik geleef het nie. Dit ook ja, maar dit is een gebod en daar is nog nege ander. Ons moet hierdie woorde so verstaan dat dit die mense was wat nie ontrou aan God was nie, maar getrou aan Hom geleef het. ‘n Mens leef getrou aan God wanneer jy uit opregte liefde vir Hom, aan Hom gehoorsaam leef. Hierdie gebeur nie net nie. Die Heilige Gees lei my in hierdie lewe en ek het nodig om in die krag van die Heilige Gees, deur bekering hard aan myself te werk om met alles wat ek het met sonde te breek en met liefde vir God aan Hom gehoorsaam te leef.

  • Die tweede wat Johannes geskryf het, was dat daar uit hierdie mense se mond nooit ‘n leuen gekom het nie. Ook hier het ons ‘n gesin, ‘n beeld met ‘n dieper betekenis. Daar is ‘n gebed in 19:15 – “Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here my Rots en my Verlosser”. Die Bybel is vol daarvan dat ek ‘n wag voor my mond moet hou en nie mag praat soos ek wil nie. Ek het die Heilige Gees nodig om my te help en lei dat my woorde altyd die woorde van ‘n verloste nuwe mens sal wees.In die krag van die Heilige Gees het ek nodig om geestelik hard aan myself te werk om nie sommer te praat nie, maar woorde te sê wat vir God aanneemlik is.

Net die mens deur Jesus Christus verlos en wat deur die Heilige Gees nuut geleef het, sal by die gekruisigde Jesus in die hemel uitkom.

  1. 4. Aan die einde bring die Heilige Gees my by die gekruisigde Jesus in die hemel

God is die heel belangrikste Persoon in my lewe. Net by Hom is daar vir my lewe.

Vanoggend op Pinkstersondag gaan die preek veral oor God die Heilige Gees.

Ek het die Heilige Gees nodig. Sonder die Heilige Gees is God nie my Skepper en my Vader nie. Sonder die Heilige Gees is Jesus Christus ook nie my Verlosser nie. Sonder die Heilige Gees in my kom ek nie by die gekruisigde Jesus in die hemel nie, is ek nie een van die honderd vier en veertig duisend nie.

Iets oor die honderd vier en veertig duisend. Natuurlik is dit nie ‘n presiese getal nie, maar ‘n volheidsgetal wat uit 12 en 10 bestaan. Hierdie volheidsgetal beteken dat na Jesus e wederkoms elke enkele gelowige wat deur die gekruisigde Jesus verlos is en aan God behoort daar by Jesus in die hemel sal wees. Nie een sal nie daar wees nie.

Dan ook iets oor die Naam van die Lam en die Vader op die mense daar in die hemel se voorkoppe. Dit is ‘n beeld met ‘n dieper betekenis. Dit wys ook nie na die doopwater op my voorkop nie. Die Naam van die gekruisigde Jesus en van die Vader op iemand se voorkop beteken dat daardie mens ‘n ware Christengelowige was wat openlik vir Jesus Christus en vir ons Vader in die hemel geleef het, sodat ander duidelik kon sien.

Die Heilige Gees gee my ‘n wedergebore hart. Hy gee aan my die kosbare geskenk om in Jesus Christus te kan glo en ‘n verloste nuwe mens te kan wees. Die Gees lei en help my om nuut te lewe, om openlik vir my Verlosser en my Vader te leef dat ander duidelik kan sien en ook hoor.

Die Heilige Gees lei my my hele lewe deur om as verloste Christen nuut te lewe.

Aan die einde wanneer Jesus Christus weer kom, is dit die Heilige Gees wat my by die gekruisigde Jesus in die hemel bring, saam met al die ander ware Christengelowiges.

Vandag is Pinkster. Ons dink met dankbare harte aan die Heilige Gees wat na ons toe gekom het. Dit is goed om die dag te herdenk. So getuig Christus se gemeentes ook in hierdie sondige land. Maar…belangriker is om in die Heilige Gees te glo, om die res van die week, die jaar en die res van my lewe elke dag te leef met die wonder van die Heilige Gees in my hart. So ‘n lewe deur die Heilige Gees is die enigste ware lewe. Net ‘n lewe deur die Heilige Gees sal my aan die einde by die gekruisigde Jesus in die hemel bring.

ANTWOORD

Sang: Sb.1-1/24:1,3

Gebed

Sang: Sb.1-1/24:6,7

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.