Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die Heilige Gees
Lees: 1 Johannes 2:28-3:3
Inleiding:
Ons het verlede Sondag gekyk en geluister na wat die Here vir on sin 1 Joh.2:28 – 3:24 sê. Die kernboodskap van hierdie deel is: Die genade dat God ons sy kinders noem en Hy verwag van ons om soos sy kinders te leef. Daar is soveel in hierdie hoofstuk, dat dit nodig is om in kleiner dele by 1 Joh.3 stil te staan. In die volgende aantal Sondae kyk en luister ons na wat die Here vir ons in 1 Joh.3 sê.
Tema: Die wonderlike genade om kinders van God te wees
God vra my volle aandag vir wat Hy wil sê
Die Woord van God kom van Hom self af. Die Heilige Gees is die eintlike skrywer van die Bybel. So leer die Here ons in 2 Pet.1:20,21 – “Dit veral moet julle weet: Geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het die mense die woord wat van God af kom, verkondig.”
Hierdie waarheid oor die Heilige Gees, as die eintlike Skrywer van die Bybel, moet elke keer in my hart en my gedagtes wees wanneer ek die Bybel oopmaak. Omdat ek weet en glo die Bybel is God se Woord, gee ek al my aandag.
Dit is ook nodig dat ons by die woord waarmee 1 Joh.3 begin, sal stilstaan. In Afrikaans kom ‘n mens nie agter hoe belangrik die woord is nie. In Grieks, die taal waarin die Nuwe Testament geskryf is, is dit anders.
Die eerste woord van die hoofstuk is “kyk”. Daar is drie redes waarom die woord baie belangrik is.
Die eerste rede is: In Grieks is die woord ‘n opdrag; ons kan ook sê ‘n bevel. Die Heilige Gees verwag van ons om te “kyk”.
Die tweede rede is: Die Heilige Gees het Johannes die woord laat skryf. Dit is ‘n woord wat van die Heilige Gees af kom. Niks wat die Heilige Gees sê, is nie baie belangrik nie.
Die derde rede is: Met hierdie woord vra die Heilige Gees elkeen wat lees en luister se volle aandag.
Daarom:
Baie dinge het dalk die afgelope week gebeur. Skuif al die dinge wat jou aandag kan aflei, eenkant.
Los eers alles wat jy hierna nog moet gaan doen.
Wees gereed en reg om met volle aandag te luister na wat die lewende God vir jou wil sê.
Ons het ‘n Vader wat ons uit liefde sy kinders noem
Wat sê God vir ons in hierdie hoofstuk?
Hy verseker ons van sy liefde vir ons as ons Vader in die hemel.
Hy wys ons sy liefde: Hy noem ons sy kinders.
Ons kyk eers na God se liefde vir ons –
Die allerhoogste God in die hemel, het ons lief. Ons is almal nietige en sondige mense op die aarde. God verseker ons van sy liefde. Sy liefde is nie net ‘n woord nie. Sy liefde vir ons beteken Hy gee soveel om dat Hy bereid is om ‘n baie groot opoffering te maak.
Die opoffering wat God gemaak het, is dat Hy sy Seun, sy eniggebore Seun, dit is sy enigste egte en ware Seun, opgeoffer het vir ons.
Sy Seun, Jesus Christus het op sy beurt sy lewe vir ons opgeoffer. Hy het vir ons aarde toe gekom. Hy het al ons sonde op Hom geneem. Hy het met ons sonde op Hom baie swaar gely en vir ons aan die kruis ‘n verskriklike dood gesterf. Deur sy dood het Hy ons van die mag van sonde verlos en al ons sondeskuld voor God weggeneem. Hy het vir ons op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy vir ons die nuwe lewe gegee. Dit is die ewige lewe met God.
Deur sy kruisiging en opstanding het Jesus Christus elkeen wat in Hom glo, in die innigste verhouding aan Hom gebind. Deur ons aan Hom te bind, het Hy ons aan aan sy Vader gebind. Deur sy dood en opstanding het Jesus Christus se Vader ook ons Vader geword.
Ons Vader noem ons nou uit liefde Kinders van God.
Dit is wonderlike genade dat God ons Vader is en Hy ons sy kinders noem. Hy doen dit, omdat Hy ons liefhet. Sy liefde is nie vir almal nie. Hy wys sy liefde net aan die mense wat deur Jesus Christus verlos is en in Hom as enigste Verlosser glo.
Glo jy in Jesus Christus as ons enigste Verlosser?
Is jou antwoord: Ja, dan is jy een van die mense wat die wonderlike genade in jou lewe het dat God jou sy kind noem, omdat Hy jou liefhet.
Ons is regtig kinders en erfgename van ons Vader
Die woord “noem” het ook ons aandag nodig.
God is die almagtige Skepper van hemel en aarde. Hy het alles uit niks geskep, so bely ons in Sondag 9 van die Heidelbergse Kategismus. Ons bely hierdie waarheid op grond van die Bybel. Ons sien dit in Genesis by die skepping in die begin dat God alles uit niks geskep het deur net ‘n woord te sê. Hier is een voorbeeld –
Gen.1:11 – “Toe het God gesê:’Laat daar uit die aarde groenigheid voortkom, groen plante wat saad gee en vrugtebome op die aarde, wat elkeen na sy aard vrugte dra en waarvan die saad in sy vrug sit.’ So het dit gebeur.”
Wanneer Johannes skryf dat God ons sy kinders noem, gebruik hy die taal waarvan ons in Genesis 1 met die skepping lees. Ons weet dat wanneer God iets sê, gebeur dit en is dit soos Hy gesê het. Wanneer God dan sê ons is sy kinders, is dit regtig so.
Elke mens, hoe nietig en sondig ook al, wat in Jesus Christus glo, noem God sy kind en so ‘n mens is regtig God se kind.
‘n Tweede belangrike betekenis van hierdie vers is dat wanneer God ons sy kinders noem, ons ook sy erfgename is. Ons wat in Jesus Christus glo, het dus die genade dat ons kinders en erfgename in God se testament van die ewige lewe is. Sy testament is sy ewige genadeverbond. Ek is ‘n kind en erfgenaam van die ewige lewe. Dit beteken my lewe gaan uitloop op die dag wanneer ek saam met almal wat in Jesus Christus glo, deel sal wees van die groot skare voor God se troon in die hemel, wat niemand sal kan tel nie.
Hierdie is ‘n vaste en wonderlike sekerheid wat nooit sal verander nie, wat ek as gelowige in Jesus Christus het.
Die wêreld ken God en sy kinders nie
Om kinders van God genoem te word en kinders te wees, verander gelowiges se lewe.
Hoe?
Die wêreld is ‘n baie onseker plek. Die wêreld se mense het ‘n baie onseker lewe. Dit was nog altyd so, maar hoe duidelik het die nuutste Corona virus met sy gevaarlike en aansteeklike siekte, Covid-19, dit nie vir ons gewys nie.
Die kinders van God kry ook seer deur hierdie virus. Die kinders van God word ook baie siek. Die kinders van God sterf ook van Covid. Kinders van God is ook hartseer oor grootouers, ouers, kinders en kleinkinders wat sterf as gevolg van Covid.
Maar…hier is die groot verskil tussen ‘n Christengelowige en ‘n wêreldmens: Elkeen wat in Jesus Christus glo, weet “Dat wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan” (2 Kor.5:1).
Elkeen wat deur Jesus Christus ‘n kind van God is, het die sekerheid dat ons aardse lewe ‘n tent is, tydelik en verganklik. Ons het ook die sekerheid van ‘n lewe in die hemel by God na ons lewe op aarde. Die Heilige Gees gee ons sekerheid oor ons lewe nou en in die toekoms.
Christene met hierdie sekerheid leef nie met onsekerheid en twyfel nie. Die Heilige Gees help ons hiermee. Ons is hierin baie anders as die wêreld. Die wêreld ken ons nie en verstaan ons nie en aanvaar ons ook nie. Die rede hiervoor is, omdat die wêreld God nie ken en aanvaar nie.
Daar wag ‘n heerlike toekoms saam met Jesus vir ons
Dit is ‘n wondergenade om deur Jesus Christus kinders van God genoem te word en om regtig kinders van ons Vader in die hemel te wees.
Op elke kind en erfgenaam van ons Vader wag ‘n heerlike toekoms.
Luister hoe het die Heilige Gees Johannes gelei om oor hierdie toekoms te skryf: “Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is” (1 Joh.3:3).
Die heerlikheid in die hemel het geen oog nog gesien, geen oor nog gehoor en in die hart van geen mens opgekom nie, het Paulus deur die Gees geskryf (1 Kor.2:9). Menslike taal kan nie regtig lewe by God in die hemel beskryf nie. Wat ons wel weet is:
Ons sal soos Jesus wees – Hierdie woorde beteken ons sal soos Jesus ook deur swaarkry en die dood gegaan het om in die hemel te kom. Dit beteken verder ons sal in ewige hemelse heerlikheid leef as kinders van God.
Ons sal Hom sien soos Hy werklik is – Jesus is as God op die aarde by ons. Ons menslike oë kan Hom hier nie sien nie. Wanneer ons saam met Hom in hemelse heerlikheid is, sal ons Hom sien soos Hy regtig is: Die Seun van die lewende God, ons Verlosser wat gekruisig is en opgestaan het en ewig leef en regeer!
Elkeen wat uitsien na Jesus se wederkoms, leef rein
Om ‘n kind van God te wees en te verwag dat Jesus Christus weer sal kom, verander ‘n mens se lewe heeltmal.
Die Christengelowige wat deur die Heilige Gees op Jesus wag, sal rein leef soos Jesus rein is.
Hoe leef ‘n mens rein?
Ek weet, want God leer my in sy Woord, dat daar nog baie sonde in hierdie wêreld is.
Ek ontken nie my sonde nie, ek ken my sonde deur God se Wet, sy Woord te ken.
In my hart het ek ‘n vaste en sterk geloof dat Jesus Christus my van al my sonde verlos het.
Deur die Heilige Gees leef ek ‘n lewe van bekering. My lewe lyk so: Elke dag breek ek met die sonde in my gedagtes, my woorde en wat ek doen. Ek leef elke dag my lewe deur nader aan God, soek al meer na sy wil en gehoorsaam Hom al meer en meer, omdat ek Hom met my hele lewe liefhet.
Wanneer Jesus Christus weer kom, sal Hy my dan kry waar ek met bekering besig is om al verder van sonde en al nader aan Hom te leef.
Ek weet, ek sal met die koms van my Verlosser, die woorde uit sy mond hoor waarna ek my hele lewe so uitgesien het: Jy het my getrou gedien. Kom in en deel in my vreugde.
Gebed
Antwoord op die Woord: Ps.33:10,11
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen