Verlossing uit genade is ‘n wonder in elke gelowige se lewe. In die volgende preekreeks gaan ons leer dat dit baie belangrik is dat ‘n ware gelowige hierdie genade in jou lewe moet wys. Ons gaan almal uit verskillende dele van die Here se Woord en uit Sondag 32 leer dat ons nie die Here se genade in ons lewe mag misbruik en op ons louere kan rus asof ons geestelik niks of min het om te doen nie. Die Here sal ons in sy Woord wys dat sy genade ‘n ware gelowige juis aanspoor, eintlik aanvuur om hierdie genade met alles wat jy het, uit te leef.
Tema: Dit gaan dit baie goed met jou, omdat die Here ‘n geestelike band met jou het
“Die Here lei die regverdiges op hulle pad” (Ps.1:6) is die woorde waarmee die eerste Psalm eindig. In die Hebreeus, die oorspronklike taal waarin die Psalm geskryf is, staan daar in werklikheid “die Here ken die weg van die regverdiges”.
Die Here ken die regverdige. Die Naam van die Here wat die Psalmdigter in Psalm 1 gebruik het, is die Here se Naam as ons Verbondsgod. Hy is die genadige en getroue God. Hy ken dus die regverdige as sy kind aan wie Hy genade bewys het. Uit die Nuwe Testament weet ons dat God sy genade in Jesus Christus bewys het. Uit genade en liefde het Hy sy Seun gegee. Uit genade en liefde het Jesus Christus sy lewe aan die kruis gegee. Deur sy dood aan die kruis het Jesus ons van sonde verlos. Op die derde dag het Jesus uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy aan ons die nuwe lewe gegee (1 Pet.1:3).
Deur sy dood en opstanding het Jesus ons verlos, sodat God ons vrygespreek het van enige straf en oordeel. ‘n Regverdige is ‘n mens wat op grond van Jesus Christus se sterwe en opstanding verlos en vrygespreek is.
Die Here ken jou as sy verloste kind. Anders gestel, Hy lei jou deur sy Woord en sy Gees op jou pad as verloste, dit is om as verloste kind van God te leef.
Die band wat die Here met jou het, is dus die band van ‘n genadige Vader van sy verloste en vrygespreekte kind. Hierdie band is ‘n ewige band wat deur niks en niemand gebreek kan word nie. Hierdie band is net uit genade. Niemand het God gevra om sy Seun te gee nie. Niemand het Jesus gevra om aan die kruis te sterf en uit die graf op te staan nie. God het sy Seun uit genade gegee. Die verlossing en vryspraak deur Jesus is ook net uit genade.
Daarom is die vraag in Sondag 32 “Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is?”
Verlossing alleen uit genade, is ‘n baie sterk geloofswaarheid in die Bybel en daarom ook in die Gereformeerde geloof. Die band wat die Here met jou het, is dus ‘n ewige Vader-kindverhouding deur Jesus Christus en dit net uit genade.
Verlossing uit genade alleen is ‘n baie belangrike en baie sterk geloofswaarheid in die Bybel, God se Woord.
Verlossing uit genade is daarom ‘n baie belangrike en baie sterk geloofswaarheid in die Gereformeerde geloof.
Uit genade het die Here ‘n band met jou. Hy is ewig jou genadige Vader. Maar jy het ook ‘n band met die Here. Jy is sy verloste en vrygespreekte kind. Jy moet leef soos ‘n opreg gelowige kind van die Here.
Hoe leef ‘n gelowige kind van die Here? Jakobus, Jesus se een broer, vat die lewe van ‘n gelowige saam in die volgende woorde: “Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is” (Jak.4:4).
‘n Gelowige is nie ‘n vriend van die wêreld nie. Dit beteken:
Jy leef soos ‘n gelowige wat die Here liefhet en Hom uit liefde gehoorsaam:
Hier is net ‘n paar voorbeelde:
Jou band met die Here maak dat jy prakties jou geloofsverhouding met die Here uitleef, dat jou vrugte gesien en gehoor kan word.
In die 83-vertaling begin Psalm 1 met die woorde: “Dit gaan goed met die mens…”. Die woord in die Hebreeus beteken “baie goed”. Die 53-vertaling gebruik die woord “welgeluksalig”.
Wanneer het ‘n gelowige wat ‘n band met die Here het, ‘n baie goeie lewe?
Daar kom ‘n dag. Net God die almagtige, alwetende, ewige weet watter dag dit is. Daardie dag stuur Hy sy Seun as Regter om die lewendes en die dooies te oordeel.
Die goddeloses met wie dit gelyk het of dit so goed gaan. Hulle het gelewe net soos hulle wil en dit maklik gehad. Hulle het baie geld en goed gehad. Dit het nie gelyk of hulle iets gekort het nie.
Dan kom Jesus Christus weer!
En…die goddeloses met hulle lekker lewe word soos kaf. Hulle ondergang breek aan. Hulle word finaal geoordeel. Christus die hemelse Regter stuur hulle weg van Hom af en gee bevel dat hulle ewig in die hel moet ly onder God se verskriklike oordeel. Almal sal sien, hulle lewe waar die aardse dinge en hullself vir hulle so belangrik was, was toe al die tyd nie ‘n goeie lewe nie.
Daar is ‘n ander groep mense. Hulle wat ‘n band met die Here gehad het. Vir hulle, die ware gelowiges, is die Regter wat kom om te oordeel, hulle Verlosser wat sy lewe vir hulle gegee het. Gelowiges is reeds vrygespreek, daarom kom Jesus as Regter om alle ware gelowiges saam met Hom in die hemel op te neem. Dit is baie belangrik om hierdie waarheid te herhaal, die keer in ander woorde. Jesus Christus kom as Regter om die ware gelowiges en net die mense wat ‘n ware geloof in Hom as enigste Verlosser gehad het en vir Hom geleef het, by Hom in die hemel te neem.
Wanneer het jy ‘n baie goeie lewe?
Dinge wat net tot hierdie aardse lewe behoort, maak glad nie dat jy ‘n goeie lewe het nie.
Jy het ‘n baie goeie lewe omdat die Here ‘n ewige band met jou het en jy ‘n ewige band met Hom en jy met die geloofsekerheid leef dat Jesus Christus weer gaan kom om jou by Hom te neem.