Tema: Dra mekaar se laste soos Christus vra
Inleiding:
Die kerk is Christus se kerk. Hierdie gemeente is Christus se gemeente. Christus het alles vir sy kerk gegee. Hy wil nou dat sy kerk, dat hierdie gemeente op ‘n sekere manier vir Hom en teen die duiwel en die sonde moet lewe. Van oggend leer ons hoe ons volgens Gal.6:2 moet lewe soos Christus van ons verwag.
Tema: Dra mekaar se laste soos Christus vra
Ons dink eerste aan liggaamlike laste
Gal.6:2, “Dra mekaar se laste” is ‘n baie bekende vers onder gelowiges. Die laste waaraan ons gewoonlik dink, is liggaamlike laste. Siekte is seker die liggaamlike las waaraan ons eerste dink. Die tweede las is waarskynlik armoede. Hierdie laste kry dikwels aandag. Dit is belangrik en ook reg so.
Maar, hoe belangrik liggaamlike laste ook mag wees, praat die Here hier nie van liggaamlike laste nie, maar in werklikheid van geestelike laste.
Die Here praat van geestelike laste
Waarom kan mens sê dat die Here hier van geestelike laste praat? Kom ons kyk eers na die woord soos hy in die vers staan. Die oorspronklike betekenis van die woord “las” is gewig. Gelowiges moet dus mekaar help met die gewigte wat elkeen saam dra. Watter gewig dra mens met jou saam? Dit kan ‘n liggaamlike gewig of las wees, maar die swaarste gewig wat elke mens dra is tog die las van sonde.
Dan kan mens ook na ander omliggende verse in die hoofstuk kyk vir groter duidelikheid. In vers 1 word van sonde gepraat en in vers 5 word daar ook na ons sondige dade verwys waarvan elkeen van ons rekenskap sal gee. In vers 7 en 8 gebruik die Here die beeld van saad saai en praat Hy van saai op die akker van ons sondige natuur of op die akker van die Gees.
Die Here bedoel dus met “laste” sonde en alles wat daaruit voortkom. Hy bedoel sonde soos vyandskap, haat, woede, rusies, losbandigheid, verdeeldheid en oneerlikheid, meerderwaardigheid, hoogmoed en alle ander geestelike en emosionele sonde, asook eensaamheid, twyfel, mismoedigheid, aggressie, depressie, angs en al die ander geestelike en emosionele omstandighede wat bestaan as nagevolge van sonde
Ons moet goed verstaan, lewe hier op aarde gaan in die eerste plek oor die koninkryk van God en dit is ‘n geestelike koninkryk! Ware Christengelowiges moet dus in die eerste plek oor mekaar se geestelike laste besorg wees.
2. Dra mekaar s’n
Christus gee opdrag
Christus is die Hoof van sy kerk. Hy wil dat sy kerk op ‘n sekere manier sal leef, daarom gee Hy opdragte aan sy kerk. Die opdrag waarmee ons vanoggend besig is, is: “Dra mekaar se laste.” Christus praat hier met elke gelowige lidmaat in elke gemeente.
Hoe –
– ken die Bybel
Kom ons maak eers seker dat ons weet hoe om nie met geestelike laste om te gaan nie. Wel, ons moenie die geestelike laste meer maak deur mee te doen aan sonde nie. Indien iemand van ons maklik van ander mense praat, moet jy nie daaraan meedoen en saam praat nie. Indien daar verdeeldheid in ‘n gesin of ‘n gemeente bestaan, moet jy nie die een wees wat dit aanhits nie.
Hoe dra mens wel mekaar se laste? Ken in die eerste plek die Bybel, sodat jy kan sonde kan onderskei. Mens hoor vandag baie verskonings vir sonde. Daar word gesê dat daar net ‘n misverstand was of dat ‘n persoon nie bedoel het om verkeerd te doen nie of dat gebeure of ander persone kwalik geneem behoort te word vir die sonde wat ons gedoen het. Wel, in Gal.6:5 leer die Here ons dat nie gebeure of ander mense nie, maar elke mens self met jou gedagtes en woorde en dade voor God staan.
Ken daarom die Bybel goed, sodat jy kan weet “die sonde lê en loer voor die deur en sy begeerte is na jou, maar jy moet oor hom heers” (Gen.4:7). Ken Rom.14:23, sodat jy weet “enigiets wat ‘n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde.” Ken Jak.4:7 sodat jy weet om die duiwel teë te staan, dat hy van jou af kan wegvlug.
– ken jou medegelowiges
In die tweede plek is dit nodig dat mens ook jou medegelowiges sal ken, sodat jy kan weet met watter sonde hulle te doen het en waarmee hulle sukkel. Leef naby lidmate saam met jou in die gemeente. Leef so naby aan ander, dat jou medegelowiges jou sien as iemand wat sal luister en sal help.
Help mekaar
Dra mekaar se geestelike laste. Onthou, dit is ‘n opdrag van Christus. Hoe dra mens ‘n geestelike las?
¨ Help mekaar reg. In die eerste deel van Gal.6:1 leer die Here ons om mekaar reg te help. Om iemand reg te help, moet jy jou deur die Heilige Gees laat lei. Gelowige lidmate moet mekaar help teen die duiwel en die wêreld en die sonde. Ons moet saam in die geestelike geveg skouer aanskouer staan.
¨ Waarsku mekaar. In die tweede deel van Gal.6:1 leer ons om mekaar te waarsku. Die Here het juis dele in sy Woord laat opskryf as ‘n waarskuwing vir ons (1 Kor.10:11). Om mekaar se geestelike laste te dra beteken om mekaar te waarsku teen sonde en die nagevolge van die sonde.
Dit is asof ons vergeet dat ons vyand die duiwel soos ‘n brullende leeu rondloop op soek na iemand om te verslind (1 Pet.5:8). Selfs gelowiges help mekaar bitter min reg en waarsku mekaar nog minder. Aan die anderkant wil ons nie reg gehelp of gewaarsku word nie. Ons vervies ons vir ander wat ons reghelp of waarsku.
Wat hierdie saak in Gal.6:2 betref, sal daar groot veranderings in ons geestelike lewe moet kom.
3. Christus verwag dit van jou
Christus het elke las van jou gedra
Hierdie opdrag is nie ‘n vrywillige keuse nie. Nee, onthou dit is Christus wat met jou praat. Hy het self elke geestelike las van jou gedra. Hy het die las van jou sonde gedra. Hy het dit alles uit liefde vir jou gedoen.
Christus het omdat Hy jou liefgehad het, sy lewe vir jou aan die kruis gegee. Hy het die las van jou sonde en jou skuld volledig gedra. Hy het met jou sonde en skuld aan die kruis gesterf. Hy het sy lewe gegee vir jou. Hy het die ergste lyding, die lyding van die hel vir jou ondergaan, sodat jy, wanneer jy geestelik en emosioneel baie swaarkry, kan weet Christus het die geestelike pyn reeds ook vir jou gedra.
Hy verwag van jou om ander se laste te dra
Christus wat vir jou gesterf en vir jou opgestaan het, verwag nou van jou om ander se geestelike laste te help dra.
Dit is vir Christus so belangrik dat Hy self die hele Wet van God verklaar het met die woorde: “Die tweede gebod wat hiermee gelykstaan is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mat.22:39).
Die liefde en eerbied wat jy vir Christus het, sal wys in die mate wat jy doen wat Christus van jou verwag in Gal.6:2!