Ons word almal geraak deur die mense wat by die robotte met ‘n plakkaat wat vir hulp vra of met ‘n bakkie waarin hulle sonder woorde vra dat jy iets moet ingooi. Mens voel ongemaklik en jy wonder of jy moet help of nie.
In elke Gereformeerde gemeente is daar ‘n Diakonie. Baie diakens kan getuig dat daar net gevra moet word vir hulp met kos, klere, huisvesting of ander behoeftes en lidmate gee in oorvloed.
Wat is die beste wat jy vir die mens by die robot of die medegelowige in die gemeente kan doen? Vanoggend se preek is bedoel om God se Woord te verklaar waarin Hy ons leer om goed aan ander te doen, sodat dit nie net oor uiterlike dinge gaan nie, maar juis sodat daardie mens aan wie ek goed doen, Christus in my kan raaksien en vir Hom gewen kan word, of in die geval van iemand wat reeds ‘n Christen is, nog dieper en meer in Christus kan glo.
Tema: Ek doen goeie werke om my naaste vir Christus te wen, want ek is uit genade gered.
Die woorde in ons belydenisskrif, die Heidelbergse Kategismus is “Waarom moet ons nog goeie werke doen…?” Goeie werke is dus ‘n moet in ‘n verloste gelowige se lewe. Ons bely dat goeie werke ‘n moet is, want die Here sê dit in sy Woord in die baie opdragte wat Hy gee.
Wat die Here in hierdie twee hoofstukke vra, het Hy vir die Christene destyds gevra en vra Hy ook van ons vandag.
Vir die preek vanoggend noem ek tien opdragte in 1 Petrus 2 en 3. Ons staan by een stil wat al die ander insluit en ek verwys dan na twee opdragte in besonder. Die tien opdragte is die volgende:
1 Pet 2:12 – Gedra julle altyd goed en leef ‘n voorbeeldige lewe
2:11 – Moenie toegee aan sinlike begeertes nie
2:13 – Onderwerp julle aan elke menslike owerheid
2:15 – Maak ‘n einde aan al die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat
2:17 – Respekteer alle mense en wees lief vir medegelowiges
2:18 – Bediendes moet hulle onderwerp aan werkgewers met die nodige ontsag
3:1 – Vrouens moet onderdanig wees aan mans, en innerlike skoonheid voor
uiterlike skoonheid stel
3:7 – Mans moet verstandig met hulle vrouens saam leef
3:8 – Almal moet eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig leef
3:9 – Moenie kwaad met kwaad vergeld nie, antwoord belediging met ‘n seënwens
Die opdrag wat al die ander insluit, is: Gedra julle altyd goed en leef ‘n voorbeeldige lewe (1 Pet.2:12). Die Here verwag dat my lewenswandel, my lewe elke dag, goed en voorbeeldig sal wees. My lewenswandel is goed en voorbeeldig, wanneer ek as verloste gelowige my deur die Heilige Gees laat lei en in ooreenstemming met God se Woord, die Bybel optree.
Hieruit, volg kortliks die volgende twee opdragte:
Met watter gesindheid moet die opdrag om goeie werke te doen, gehoorsaam word?
Om goeie werke te doen, behoort nie vir my as Christen ‘n swaar en moeilike plig te wees nie. Wie goeie werke doen, volg Christus se voetspore (1 Pet.2:21). Jy doen goeie werke uit heilige eerbied vir Christus (1 Pet.3:15). Jy doen goed, omdat jy ‘n verloste Christen is wat ‘n Godvresende lewe wil leef (Sondag 32).
Die Christene het destyds dit nie maklik gehad nie. Hulle het onder baie moeilike omstandighede geleef. Petrus het aan Christene geskryf wat vreemdelinge was en oor verskeie provinsies in Asië versprei was. Hulle het daar gebly, omdat hulle onder swaar vervolging vir hulle geloof in Jesus Christus moes vlug. Hulle moes dikwels die meeste van hulle besittings agterlaat en vir hulle lewe na ‘n ander land toe vlug. Daar het hulle met omtrent niks aangekom nie en moes van voor af hulle lewe begin.
Ons kry in Petrus se brief meer besonderhede van die Christene se omstandighede destyds.
1 Pet.2:11 – Die Christene was omring deur die sondige wêreld met heidense begeertes.
Daar was losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye,
afskuwelike afgodery.
2:12 – Die Christene was tussen heidene wat hulle belaster het asof hullle
misdadigers was.
2:18 – Van hulle was bediendes van onredelike werkgewers deur wie hulle
onverdiende pyn verduur het.
2:18 – Daar was wel werkgewers wat goedhartig en vriendelik was
3:1 – Vroue het mans gehad wat nie in God se Woord en daarom nie in Hom glo nie
3:9 – Hulle moes gereeld beledigings aanhoor
3:14 – Die Christene het gely omdat hulle as Christengelowiges goed wou doen
3:16 – Hulle is belaster oor goeie lewenswandel in Christus
Meeste van die probleme ken ons nie, maar ons kan ons ook onder moeilike omstandighede bevind. Al is omstandighede hoe moeilik en afbrekend, dit bly vir die Here belangrik dat sy gelowige kinders goed en voorbeeldig sal leef.
Hieruit leer ons: Moeilike omstandighede kan jou tog nie laat ophou om ‘n Christen te wees wat jou verhouding met Jesus Christus uitleef nie, nie destyds nie en ook nie vandag nie. Die Here se opdrag staan, ongeag ‘n mens se omstandighede. Dit is baie belangrik om dit te onthou.
Die Here gee in Petrus se eerste brief, die rede waarom ‘n Christen goeie werke moet doen, al is omstandighede hoe moeilik.
Jesus Christus is die Rede waarom ek goed en voorbeeldig moet leef, ten spyte van moeilike omstandighede. Die rede staan in 1 Pet.3:18: “Ook Christus het eenmaal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is”.
Jesus Christus het na hierdie sondige wêreld gekom. Sy eie mense voor wie Hy gekom het, het Hom nie aanvaar nie. “Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie mense die gesig wegdraai” is die woorde waarmee Jesaja Jesus Christus se moeilike omstandighede beskryf (Jes.53:3).
Christus het so verskriklik swaar gely en uiteindelik aan die kruis gesterf, om elkeen wat in Hom glo na God toe te bring. Hulle was sondaars, verlore in sonde. Ons was, net soos hulle elkeen ook verlore in sonde. God het sy Seun gestuur. Jesus het mens geword vir ons. Hy het vir ons baie swaar gely. Hy het vir ons die wreedste dood aan die kruis gesterf. Deur sy dood het Hy ons van ons sondes verlos en die verwydering tussen God en ons weggeneem.
Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding uit die dood het Hy vir ons die nuwe lewe, die ewige lewe, die lewe met God gegee.
Deur sy dood en opstanding het Jesus Christus ons na God toe gebring, sodat ons die ware lewe kan hê. Dit het alles net uit genade gebeur. Ek het niks verdien nie, maar ek het alles ontvang. Ek het hierdie wondergenade in my lewe dat ek sonder dat ek dit verdien het, volmaak verlos is!
Hierdie genade maak my nie passief nie. Inteendeel! Hierdie genade laat my goeie werke doen, sodat ander Jesus Christus in my lewe kan sien en na Hom toe kom.
Wat gebeur wanneer ek goeie werke doen?
Die kern van wat gebeur is: Die heidene sien gelowiges se lewe en verheerlik God in die woorde van Petrus (1 Pet.2:12) of soos ons in die Kategismus bely: My naaste word vir Christus gewen (Sondag 32).
Die mens wat volgens sy sondige begeertes leef, sien hoe ek volgens God se Woord en deur die Heilige Gees nie volgens my begeertes nie, maar volgens God se wil leef. Hulle sien die goeie werke wat die Heilige Gees my laat doen. Die Heilige Gees werk ook in hulle en hulle word vir Christus gewen.
Ongelowige mans sien vroue se voorbeeldige lewe, sien hulle innerlike mens raak. Sonder dat ‘n vrou iets hoef te sê, word die man vir Christus gewen (1 Pet.3:2). Mans wat die innerlike mens raaksien, kan sonder hindernis bid (1 Pet.3:7). Wanneer die mense wat Christus nie ken nie of van Hom afgedwaal het, die goeie werke van Christenvroue en- mans sien, maak die Heilige Gees hulle bewus van Christus en hulle harte oop vir sy Evangelie. Wanneer die Gees so iemand weergebore laat word, word my naaste vir Christus gewen.
Dit is goed en reg om iemand te help met hulp wat veral met die uiterlike te doen het soos kos en klere en medisyne. God verwag dit. Jesus leer ons dat Hy wanneer Hy weer kom, Hy oor hierdie hulp aan ander sal praat. Luister maar weer na sy woorde in Mt.25 dat Hy dors en honger en siek was.
MAAR……ons moet onthou dat Jesus ook oor innerlike hulp gepraat het: Maak die mense my dissipels (Mt.28:19), wees My getuies (Ha.1:8), verkondig die wonderdade van God (1 Pet.2:9). Jesus leer ons dat Hy by sy wederkoms ook gaan praat oor ons hulp aan die innerlike mens: “Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir Hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam, wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as die Vader” (Mk.8:38).
Kos en klere en ander uiterlike hulp is goed. Maar daar is beter hulp. Daar is ‘n groter nood waarmee ons as kerk van Christus ook moet help. Jy kan nie iets beter vir ‘n ander mens doen, as om so te leef dat hy of sy jou goeie werke sien en vir Christus gewen word nie.
Doen dan deur die Heilige Gees goeie werke. Maar doen goed op so ‘n manier dat dit nie net oor uiterlike hulp gaan nie. Doen goed, sodat jou naaste Christus in jou kan sien en deur jou goeie werke vir Christus gewen word of nog meer en nog dieper in Christus glo.