Home Preke Ek glo aan die kerk!?

Ek glo aan die kerk!?

Datum: 2022-01-23
|
Kernverse: 1 KORINTIËRS 1:2

1 KORINTIËRS 1:2 + So 21 PTAN + AKASIA 23/1/2022

TEMA: Ek glo aan die kerk …!?
1. Glo jy nog aan die kerk?
2. Wat beteken dit om aan die kerk te glo?
3. Kan mens aan jou lewe sien dat jy aan die kerk glo?

PS 48:1,4; PS 48:5; PS 9:7-9; SB 27 (12-2):1,4,5; SB 45 (18-7):1,11,12.

1. Geliefdes, dit lyk so deesdae asof meer en meer mense hulle rug draai op die kerk van die Here, asof meer en meer mense nie meer aan die kerk gloe nie. Party mense sal sê: Maar ek het nog nooit aan die kerk geglo nie. Ek glo in die Here, ek glo nie aan die kerk nie. Die kerk is mos nie iets om aan te glo nie! Ander sal dalk sê: Die kerk het nog net moeilikheid gemaak in die wêreld. Al die kerkmense wat ek ken, is skynheilig. Die kerk tree liefdeloos op in die wêreld. Ek aan die kerk glo?! – nooit as te nimmer nie.
Maar ons as Gereformeerdes bely dat ons aan die kerk glo. Ons het vangoggend dit weer bely in die 12 Artikels: Ek glo aan ʼn heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges. In die geloofsbelydenis van Nicea bely ons: Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk. In Sondag 21 van die Kategismus bely ons ook wat ons glo van die heilige, algemene Christelike kerk.
In artikel 27 van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely ons: Ons glo en bely ‟n enige katolieke of algemene kerk, ‟n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees. Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal daar tot die einde wees, want Christus is ‟n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie.
En in artikel 28 gaan ons so ver as om te bely: Ons glo – aangesien hierdie heilige vergadering (die kerk) ‟n versameling is van hulle wat verlos word en daarbuite geen saligheid is nie en dat niemand, wat sy stand of status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie; inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar.
Dit is dus baie duidelik: Ons as Gereformeerdes glo aan die kerk. Ons moet egter mooi onderskei. Ons glo nie in die kerk nie. Ons glo aan die kerk. Ons glo in die Here. Dit beteken ons dien die Here as God. Ons glo in Hom. Maar ons glo aan die kerk. Dit beteken dat ons nie die kerk as God aanbid nie, maar dat ons sekere dinge van die kerk glo.
Ja, geliefdes, al is die kerk onvolmaak en al maak die kerk foute en al voel ons partykeer kwaad vir die kerk of seergemaak deur die kerk, behoort ek as kind van die Here steeds aan die kerk te glo.
In die tyd van die Pandemie is die kerk verbied om in eredienste bymekaar te kom en is die Woordverkondiging hoofsaaklik elektronies gedoen. Maar nou dat ons weer in eredienste bymekaar kan kom lyk dit asof baie mense hulle geloof aan die kerk verloor het en in „n sitkamergodsdiens verval het.

2. Maar as ek sê dat ek aan die kerk glo, dan sê ek daarmee dat ek glo: Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ‟n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde
toe vergader, beskerm en onderhou en dat ek daarvan ‟n lewende lid is en ewig sal bly. (HK So 21).
Ek glo dus aan die kerk omdat die kerk sy oorsprong by God het. As dit nie vir God was nie, sou die kerk nie bestaan het nie. Die kerk bestaan immers uit mense wat deur God uit die wêreld uitgekies is om in Hom te glo. Hoor maar hoe begin Paulus sy Brief aan die Korintiërs. Hy sê hy skryf aan:
Die gemeente van God wat in Korinte is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here:
Hieruit is dit baie duidelik: Die kerk is God se kerk. Dit is die gemeente van God. Dit behoort nie aan ʼn mens nie maar aan God. Dit is ook duidelik dat die kerk uit mense bestaan. Die kerk is nie ʼn gebou nie, maar ʼn groep mense. Verder is dit duidelik uit ons teks dat die kerk nie uit gewone mense bestaan nie, maar uit geheiligde mense, mense wat deur God uitverkies en geroep is om sy kinders te wees, mense wat deur Jesus Christus van die sonde en die dood verlos is, mense wat hulle lewens daaraan toewy om God te dien. Mense wat die Naam van Jesus Christus aanroep, dit wil sê mense wat Jesus Christus aanbid en Hom vereer.
As ek dit nie meer glo nie, naamlik dat die kerk nie uit gewone mense bestaan nie, maar uit geheiligde mense, mense wat deur God uitverkies is om sy kinders te wees, mense wat deur Jesus Christus van die sonde en die dood verlos is, mense wat hulle lewens daaraan toewy om God te dien, as ek dit nie meer glo nie, dan kan ek nie meer aan die kerk glo nie. En as ek nie meer aan die kerk glo nie, dan glo ek ook nie meer in die Here wat die kerk verlos het nie.
Daarom bely ons ook in artikel 28 van die NGB: Ons glo – aangesien hierdie heilige vergadering (die kerk) ‟n versameling is van hulle wat verlos word en daarbuite geen saligheid is nie – dat niemand, wat sy stand of status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie; inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal – as lede van een en dieselfde liggaam – aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die broers in die opbou van hulle geloof te dien.
Ja, geliefdes, ons geloof aan die kerk gaan so ver as om te sê dat daar buite die kerk geen saligheid is nie, dat ʼn mens nie gered kan word sonder om deel van die kerk te wees nie. Natuurlik is dit nie die kerk wat ons red nie, maar Jesus Christus. Maar as die kerk die mense is wat deur God uitverkies is om aan Hom te behoort, dan kan daar mos buite die kerk geen saligheid wees nie. As God jou nie uitgekies het nie dan kan jy nie gered word nie en dan wil jy nie gered word nie. Maar as God jou uitgekies het, dan maak Hy jou deel van sy kerk sodat jy saam met sy ander geheiligdes die Here kan aanroep.
Ons woord kerk kom van die Griekse woord kuriake wat juis beteken “dit behoort aan die Here.” Die Griekse woord vir kerk in die Nuwe Testament is ekklesia, wat uitgeroeptes beteken. Daarom bely ons ook: dat niemand, wat sy stand of status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie; inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar.
Dit is dus duidelik dat mense wat vandag sê dat hulle in die Here glo, maar nie aan die kerk nie, gruwelik dwaal.
As die kerk God se plan is om die wêreld te red, en hulle wil nie deel wees van die kerk nie, dan sê hulle eintlik daarmee dat hulle nie wil deel wees van God se plan nie.

3. Maar ons glo anders. Ons glo aan die kerk en daarom glo ons God se plan kan nooit misluk nie. Ons glo die kerk, ons, die gelowiges, het ʼn taak in hierdie wêreld en ʼn gewaarborgde ewige toekoms! Ons toekoms word gewaarborg deur die bloed van Jesus Christus en deur die waarheid van die Woord van God.
Ja, ons kan opgewonde wees oor die kerk en oor die boodskap van die kerk en oor die ewige toekoms van die kerk! Die kerk, met al sy foute en tekortkominge bestaan al sedert die begin van die mensdom met Adam en Eva en die kerk sal tot in ewigheid bestaan. Deur die eeue het die kerk verskriklike moeilike tye deurgemaak. Verskeie kere het die wêreld al gedink: Nou is dit klaarpraat met die kerk. Tog bestaan die kerk vandag nog en sal dit tot in ewigheid bestaan! Hoekom? Omdat die kerk nie deur ʼn mens uitgedink is nie, maar deur God. Omdat die kerk nie aan mense behoort nie, maar aan God. Daarom glo ek nog steeds aan die kerk.
Ja, geliefdes, ons vergeet dit so maklik. Die kerk is God se plan met die wêreld. Die kerk is deur God daar gestel as die mense wat aan Hom behoort en deur wie Hy sy kinders geestelik versorg. Die kerk is soos ʼn militêre basis waar mense opgelei word en toegerus word om die aanslae van die vyand die hoof te bied. Vanuit hierdie basis beweeg gelowiges elke dag om te veg teen die satan en sy magte.
Maar die basis het ook ʼn siekeboeg waar gewondes verpleeg word en versorg word. Mense wat deur die wêreld verwond is en deur die lewe seergemaak is, kan hier weer rus en versorging en krag kry van medegelowiges wat Jesus Christus se liefde aan hulle bedien.
Geliefdes, dit lê ʼn geweldige verantwoordelikheid op ons. Die kerk, ons, is God se plan om sy kinders geestelik te versorg en om sy Woord aan die wêreld te bring. Die kerk, ons, die gelowiges, is ook God se enigste plan. Hy het nie nog ʼn plan nie. Hy het nie ʼn plan B in die plek van die kerk nie.
Hoor net hoe beskryf God sy kerk in ons teks: Die gemeente van God wat in Korinte is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here.
Daarom hoef ons nooit te twyfel aan die toekoms van die kerk nie. Die toekoms is ewig en staan vas: In Openbaring 21 lees ons: En ek het ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. 2 En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‟n bruid wat vir haar man versier is.
Dit is die toekoms van die kerk! Ons sal ewig in God se heerlike teenwoordigheid lewe!
Ons kan ook uitsien na die dag wanneer Jesus weer kom, want God self sal by ons wees as ons God. 21:4 En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.
Nou leef ons nog daarmee saam en ly ons daaronder, maar ons het hierdie vaste belofte van Jesus Christus: 21:5 Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar. Dit maak dus nie saak wat die wêreld dink of sê of doen oor en met die kerk nie. God het ʼn onfeilbare plan met ons en niemand kan sy plan omverwerp nie. Soos wat in die tyd van Noag net die mense gered kon word wat in die ark was, so sal net
die mense gered word wat deel van die kerk is. En net die wat waarlik in Jesus Christus glo as enigste Verlosser, is waarlik deel van die kerk.
Soos wat die mense vir Noag gespot het omdat hy ʼn skip op droë grond gebou het, maar later hulle woorde moes sluk, saam met ʼn klomp water!, so sal die mense ons spot omdat ons deel is van die kerk, maar ook eendag hulle woorde moet sluk.
Openbaring 1:7 sê: 7 Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!
In Openbaring 21 vers 6 en 7 word daar uitgebrei op hierdie belofte van ons ewige toekoms: 6 En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet. 7 Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‟n God wees, en hy sal vir My ‟n seun wees.
Ja, die wêreld is ʼn sinkende skip en daar is net een reddingsboot: die kerk van Jesus Christus. Daarom moet ons nou so veel as moontlik drenkelinge oortuig om in die reddingsboot te klim, om Jesus as hulle Verlosser te aanvaar. Hy en Hy alleen kan ʼn mens vir ewig verlos.
Geliefdes, daarom hoef ons nie skaam te wees om te bely nie: Ek behoort aan die kerk van Jesus Christus. Ek glo aan die kerk van die Here. Daarom hoef ons ook nie skaam te wees om te leef soos iemand wat aan die kerk van Jesus Christus glo en behoort nie.
Ons hoef ook nie moedeloos te raak oor die toekoms van die kerk nie. Ons kan ons roeping getrou uitleef, want die kerk het ʼn ewige toekoms!
Omdat ek in die Here van die kerk glo, omdat ek aan die kerk van die Here glo, leef ek ook elke dag as ʼn geroepe geheiligde! Ek maak tyd om as deel van die kerk die Here elke dag te dien met huisgodsdiens, met binnekamergodsdiens, met liefdesdiens en deur mee te leef met medegelowiges en hulle te help om hulle laste te dra. Ek dien die Here elke dag met ʼn dankbare, gehoorsame lewe.
Omdat ek aan die kerk van die Here glo, praat ek nooit sleg van die kerk nie en kraak ek nooit die kerk af nie, maar vertel ek eerder vir almal hoe ʼn groot voorreg dit is om deur God gekies te wees om aan sy kerk te behoort! Ek praat nooit sleg van die kerk nie, want ek wil nie sleg praat van die Bruid van Christus nie!
En my lewenswyse toon duidelik aan dat my geloof aan die kerk nie net „n teorie is nie, dat ek „n lewende lid van die kerk is! Dit wat jy bely, is ook dit wat jy moet uitleef in getrouheid en diensbaarheid en meelewing.
Omdat ek aan die kerk van die Here glo, gebruik ek die gawes wat die Here aan my gegee het om die Here en my medegelowiges in die kerk te dien.
Omdat ek aan die kerk van die Here glo, gee ek ʼn ordentlike dankoffer om die Here van die kerk te vereer en sodat die kerk sy werk in die wêreld kan doen. Omdat ek aan die kerk van die Here glo, mis ek ook nie ʼn erediens nie, want met elke erediens, weet ek, roep die Here sy kerk bymekaar om Hom te kom vereer en te verheerlik.
My geloof aan die kerk is daarom nie net ʼn mooi belydenissie wat ek elke Sondag onnadenkend bely nie. Nee, dit is ʼn ware belydenis wat uit my hart kom en wat ek met my lewe bevestig. Ek weet en glo immers dat ek nie net tydelik hier op aarde deel van die kerk is nie. Nee, ek is ewig deel van die kerk wat die Here ook vir ewig in die Nuwe Jerusalem sal dien!
Daarom is dit vir my ‘n voorreg om die Here elke dag dankbaar te dien en so ‘n lewende lid van sy kerk te wees!
Amen.