Lees: Matteus 7:24-29
Inleiding:
‘n Lewe met Christus, ‘n lewe op Hom gebou, is ware lewe. ‘n Lewe sonder Christus is ‘n vergeefse en nuttelose lewe. Die Here praat met ons deur sy Woord en deur Nagmaal en Hy leer ons vanoggend om ons lewe op Christus te bou en hoe belangrik dit is dat ons ons lewe op Hom sal bou.
Tema: Ek het hulp nodig om my lewe op Jesus Christus te bou
Lewe op Christus gebou, is ware lewe
Jesus wat teen een van die berge in die omgewing van Kapernaum daardie dag oor die koninkryk van die hemel gepraat en die mense geleer het, was die Seun van die lewende God. Hy was self God.
Hy het ons oor Homself geleer en gesê:
“Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).
Johannes het in sy Evangelie oor Jesus Christus geskryf:
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16).
In sy eerste brief het Johannes die volgende oor Jesus geskryf:
“Van die begin was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien, ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is” (1 Joh.1:1,2).
Al hierdie wonderlike dinge wat ons oor Jesus Christus lees, het een boodskap: Ware lewe kry mens net by Hom, God se Seun, ons Verlosser!
Om die woorde van Jesus in die gelykenis van die huis op rots en die huis op sand te gebruik: Lewe op Christus gebou, is ware lewe.
Ware lewe bestaan uit luister, glo en doen
Hoe bou ek my lewe op Christus?
Hierdie is ‘n baie belangrike lewensvraag wat elke gelowige moet vra en die antwoord op moet kry!
Die Here Jesus leer ons in Mt.7:24-29 dat ek my huis op Hom bou op die volgende manier:
Luister na wat Jesus sê. Hy is die Seun van die lewende God. Net Hy ken God die Vader regtig. Sy Vader het net Hom, sy enigste Seun gestuur om ons te kom vertel en leer hoe God ons van ons sonde verlos, sodat ons nie meer verlore gaan nie, maar die ewige lewe het. Luister dan na alles wat Jesus gesê het. Lees die Bybel gereeld. Lees om te verstaan wat God deur sy Seun vir ons sê.
Glo in Jesus Christus ons Verlosser. Daar is net een Verlosser van sondaars. Sy Naam is Jesus. Hy is die Christus, die Gestuurde wat gekom het en vir ons aan die kruis gesterf het. Deur sy dood het ons van al ons sonde, van die mag wat sonde oor ons gehad het en die sondeskuld wat ons voor God gehad het, verlos. Hy het vir ons opgestaan uit die dood, sodat ons die ewige lewe by God kan hê. Elke mens met hierdie geloof word gered en het die ewige lewe. Elke mens sonder hierdie geloof gaan ewig verlore.
Gehoorsaam die Here Jesus. Dit help niks om na Jesus te luister, maar Hom nie te gehoorsaam nie. Doen daarom wat Hy sê. Span jou geestelik in om Hom te gehoorsaam. Jesus het ons so baie geleer van die koninkryk van die hemel, hoe om in die koninkryk te kom en hoe om in die koninkryk naby God en vir Hom te leef. Sorg dat jy weet wat Jesus Christus van jou verwag en gehoorsaam Hom deur die Heilige Gees.
Dit is hoe ek my lewe op Christus bou: LUISTER – GLO – GEHOORSAAM!
Lewe sonder Christus is ‘n vergeefse en verlore lewe
Dit is so: Iemand kan in ‘n eie huis in ‘n rustige en mooi woonbuurt bly, ‘n goeie vaste werk met ‘n inkomste hê waarmee ‘n mens goed kan lewe, ‘n stabiele gesin hê en goeie gesondheid geniet. Al hierdie dinge is baie belangrik. Maar dit is nog nie lewe nie. Dit is bestaan onder God se algemene genade wat Hy vir alle mense gee. Sonder sy besondere genade is elke enkele mens verlore, al lyk dit in die wêreld se oë of dit so goed gaan.
Sonder Jesus Christus is ‘n mens se lewe soos ‘n huis wat op sand gebou is. Wanneer daar storms kom, stort so ‘n huis inmekaar en word heeltemal verwoes. Daar is baie storms of dan gevaar wat ‘n mens sonder Jesus Christus se lewe heeltemal inmekaar laat stort. Die eerste gevaar is die duiwel en sy aanvalle. Sonder Jesus Christus, is elke mens in die mag van die duiwel, al lyk so iemand se lewe suksesvol. Die tweede gevaar is die dood. Wanneer die dood kom en dit sal in elke enkele mens se lewe gebeur, stort so ‘n lewe sonder Jesus Christus inmekaar en beland in die hel.
God se algemene genade kan jou nie red nie. Sy algemene genade gee vir jou ‘n baie goeie bestaan, maar nie ware lewe nie! Elke mens het God se besondere genade nodig om ware lewe te kan hê. Hy, die Allerhoogste het self so besluit en dit so bepaal.
God se besondere genade, is sy Seun wat Hy gegee het om vir ons te sterf en op te staan, sodat ons ware lewe kan hê. Lewe op Christus gebou, net lewe op Christus gebou, is ware lewe.
Nagmaal is vir ons gegee om elkeen van ons te wys op God se besondere genade in ons lewe.
Die Heilige Gees help my met nagmaal om my lewe op Christus te bou
Wat gebeur met Nagmaal?
Die eerste om te weet en te glo, is: Jesus Christus, wat aan ons die lewe gee, het Nagmaal vir sy kerk ingestel. Jesus het deur sy dood en iopstanding ook die Hoof van sy kerk geword. Nagmaal is ‘n opdrag van die Hoof van sy kerk. Christus se kerk, ons gemeente moet Hom gehoorsaam, indien ons ons lewe op Hom bou. Daarom was dit moeilik in hierdie grendeltyd om nie Nagmaal te kon gebruik nie.
Dan is die brood en die wyn die tekens van Jesus se liggaam en bloed wat Hy aan die kruis vir ons gegee het. Dit tekens is belangrik, want Christus het dit gegee. Maar….om net brood te eet en wyn te drink is nie genoeg nie. Net eet en drink beteken nog nie ek bou my lewe op Christus nie.
Elkeen van ons het meer nodig. Ons het die Heilige Gees nodig.
Die Heilige Gees verseker my met Nagmaal dat Jesus Christus sy lewe vir my aan die kruis op Golgota gegee het. So seker as wat die brood en wyn deel van my word, so seker is Christus my Verlosser deel van my en ek deel van Hom.
Verder maak die Heilige Gees my geloof sterker met Nagmaal, sodat ek met sy hulp en sy leiding nog meer en nog dieper na Christus luister, nog vaster en sterker in Hom alleen glo en Hom nog meer wil gehoorsaam.
So help die Heilige Gees my dan met Nagmaal om my huis op Christus te bou. Daarom het ek hierdie Nagmaal nodig en is hierdie Nagmaal ook weer baie belangrik. Kom dan met ‘n gebed in jou hart Nagmaal toe. Vra die Heilige Gees om jou te help met hierdie Nagmaal dat jy jou lewe op Christus sal bou.
Nagmaalformulier
Sang voor Nagmaal: Ps.23:3
Sang tydens Nagmaal: Ps.119:1,2,6,7
Voltooiing van die Nagmaalformulier
Antwoord op die Woord en sakrament: Ps.71:1,2
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees
Amen