Home Preke Ek is een met Christus, daarom doen ek goeie werke waardeur ek geloofsekerheid kry -Joh.15:5

Ek is een met Christus, daarom doen ek goeie werke waardeur ek geloofsekerheid kry -Joh.15:5

Datum: 2018-07-22

Elke mens wil graag sekerheid oor die belangrike dinge in jou lewe hê. My werk en my gesondheid is belangrik. Daarom wil ‘n mens sekerheid oor jou werk en jou gesondheid hê. Onsekerheid bring twyfel mee en breek ‘n mens af. Vra maar vir iemand wat vir ‘n hele ruk onseker was of jy nog ‘n werk gaan hê of nie. Vra maar vir die mens wat nie weet of jy gaan gesond word en of jy siker gaan word en sterf nie. Onsekerheid is vir ‘n mens baie sleg en breek jou af.

Die Here wil nie dat sy gelowige kinders in onsekerheid en twyfel leef nie. Hy wil veral nie dat sy gelowige kinders oor hulle geloof en verlossing onseker sal wees nie. Daarom gee die Here op verskillende maniere geloofsekerheid aan elke gelowige kind van Hom. Vanoggend leer ons dat God die goeie werke wat ek as Christen doen, gebruik om aan my geloofsekerheid te gee.

Tema: Ek is een met Christus, daarom doen ek goeie werke waardeur ek geloofsekerheid

kry

  1. Ek is uit genade een met Christus deur die Gees

Verlossing van sonde is ‘n wonder in elke gelowige se lewe. ‘n Mens kan baie oor hierdie wonder sê. In vanoggend se preek wys ek net op twee redes waarom verlossing ‘n baie groot  wonder in ‘n mens se lewe is. Die eerste wonder kry ons in die eerste vraag van Sondag 32 en dit is dat verlossing net uit genade is. Die tweede wonder kry ons in Johannes 15 en dit is die eenheid wat tussen Christus en ‘n verloste gelowige bestaan.

Eerstens dan – Ons is uit genade en uit genade alleen verlos. Hier moet elke mens erken dat niemand van ons, ook nie ek wat uit ‘n goeie huis kom, wat my hele lewe probeer goed doen en wat hard daaraan werk om alles wat verkeerd is te vermy, verlossing verdien nie.

In die verlede het gelowiges geglo jy kan deur goeie werke jou verlossing verdien. Die Fariseërs waarvan ons baie in die Nuwe Testament lees, het vas geglo dat jy deur gehoorsaamheid aan die Here se Wet verdien om verlos te word. Vandag is daar onder andere die Jode en die Sewendedagse Adventiste wat glo dat jy steeds die Wet moet onderhou, byvoorbeeld die Sabbat op die sewende dag van die week.

Die Here maak baie duidelik in sy Woord bekend en dit by herhaling, dat ‘n mens nie deur jou gehoorsaamheid aan die Wet nie, maar alleen uit genade verlos word. Elkeen van ons moet daarom vas glo dat nie een van ons deur wat jy doen, verlos word nie. Jy word net uit genade deur Jesus Christus verlos. Genade is dat God goed aan jou doen, sonder dat jy iets kon doen om sy goedheid te verdien. Dit is die wonder van verlossing – GENADE!

Tweedens – Daar bestaan ‘n wonderlike eenheid tussen Jesus Christus en elke gelowige wat Hy verlos het. Jesus het hierdie eenheid verduidelik met ‘n beeld wat Hy gebruik het:”Ek is die winderdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in Hom….” (Joh.15:5).

 

Hierdie woorde “ek in Christus” en “Christus in my” kom baie keer in die Nuwe Testament voor.

  • Die aand voor sy gevangeneming het Jesus gebid dat Hy in sy kerk die gelowiges sal wees (Joh.17:26).
  • Die gelowiges in Rome kon hierdie woorde in Paulus se brief aan hulle lees: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (8:1).
  • Paulus skryf aan die Galasiërs oor hierdie eenheid in die volgende woorde: “Christus leef in my” (Gal.2:20).

 

Die tweede wonder van verlossing is dat daar ‘n wonderlike eenheid tussen Christus en elke gelowige is. Die eenheid tussen Christus en my as gelowige is net uit GENADE!

Waaruit bestaan hierdie eenheid en hoe gebeur hierdie eenheid?

Die eenheid tussen Christus en ‘n gelowige is ‘n geestelike eenheid, ‘n geestelike band. Jou geloof in Jesus Christus maak jou een met Hom. Dink mooi hieroor na. Jesus Christus is God se Seun. Hy is self lewende almagtige God. Ek en Hy is een vir ewig!

Hierdie eenheid kom van die Heilige Gees af. Die Heilige Gees gee aan my geloof. Die Gees kom in my binneste, in my hart en verstand in. Hy kan dit doen, want Hy is God. Hy begin geloof in Jesus Christus in my. Hy gee aan my die geloof dat Christus vir my aan die kruis gesterf het en my deur sy dood van al my sonde verlos het. Die Gees gee aan my die geloof dat Christus op die derde dag vir my uit die dood opgestaan het en aan my die ewige lewe gegee het. Deur my geloof in Christus maak Hy my een met Christus. Dit gebeur net uit genade. Niemand het geweet mens kan so een met Christus wees nie. Niemand het daarna gesoek of daarvoor gevra nie. God, die Heilige Gees het my uit genade een met Christus gemaak.

  1. Die Heilige Gees in my laat my goeie werke doen

Nadat die Heilige Gees my een met Christus gemaak het, het Hy nie klaar met my en gaan dan uit my uit nie. Inteendeel! Hy bly in my. Hy het gekom om ewig in my te wees. Die Heilige Gees, dit is die Gees van Christus, leef in my en Hy werk in my.

Die Gees beheers my lewe. Hy lei my. Hy dring my om te leef soos ‘n gelowige wat een met Christus is. Hy laat my vrugte dra of dan, goeie werke doen.

Die Heilige Gees laat my vrugte dra. Watter vrugte? Daar word so baie vrugte in die Bybel in duidelike taal genoem. Vanoggend kyk ons na die vrugte waarvan die Here Jesus ons in Joh.15 leer.

  • 15: 9“Julle moet in my liefde bly” – Sonder Christus in jou lewe kan jy nie liefhê nie. Die mens wat nie een met Jesus is nie, kan nie liefhê nie. Jesus het dit self gesê: “Sonder My kan julle niks doen nie” (Joh.15:5). Ons bely dieselfde in Sondag 2 van die Kategismus: “Ek is van nature geneig om God en my naaste te haat”. Omdat die Heilige Gees, die Gees van Christus in my leef en werk, het ek God lief en het ek ook ander lief en wys ek dit. Liefde is nie in ‘n mens se gene nie, kom nie deur opvoeding nie en word ook nie aangeleer nie. Liefde kom alleen deur die Heilige Gees in jou. In ‘n land vol haat en wraak en geweld is dit so nodig dat Christengelowiges die liefde van Christus sal wys.
  • 15:8 “My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle…my dissipels is” – ‘n Dissipel is iemand wat Jesus Christus volg en by Hom leer en al meer by Hom leer. Ons weet Jesus het na die hemel opgevaar en Hy sit nou aan die regterhand van sy Vader, hoe leer mens by Hom en hoe volg jy Hom? Jy leer by Jesus deur die Bybel. Jy volg Hom deur te doen wat in die Bybel staan. Sonder die Heilige Gees sal niemand Bybel wil lees nie en ook nie doen wat God in sy Woord sê nie. In ‘n bandelose en wettelose samelewing is hierdie vrug vandag baie nodig.
  • 15:27”Julle moet getuig..” – Die mens sonder die Heilige Gees praat graag oor homself, praat graag sleg van ander en gebruik graag vuil taal. Uit so iemand se mond kom daar geen getuienis oor Christus nie. Maar….die gelowige wat die Heilige Gees in jou het, jy sal van Christus getuig. Luister na Jesus se eie woorde:”Wanneer die Voorspraak kom…die Gees van die waarheid…sal Hy oor My getuig…en julle moet getuig…” (Joh.15:26,27). Die gelowige met die Gees in jou, kan nie anders nie. Jy praat oor Christus. Hierdie vrug is veral vandag baie belangrik. Mense praat oor so baie dinge van die wêreld, maar so min oor Christus.
  • 16:1“Julle moenie afvallig word nie” – Ons leef in ‘n land, in ‘n omgewing waar baie van Christus afvallig geword het. ‘n Mens is afvallig wanneer Christus nie vir jou absoluut die enigste Verlosser is en Hy nie langer heel eerste in jou lewe is nie. Suid-Afrika is ‘n afvallige land, want baie glo nie meer en sê nie meer dat die Here Jesus Christus die enigste Verlosser is nie. Dit is net die gelowige wat die Heilige Gees in jou het, wat ten spyte daarvan dat ‘n groot meerderheid, anders glo en sê, sal bly glo en bly sê: Ek glo in Jesus Christus. Hy is my enigste Verlosser.

  1. Deur my goeie werke kry ek geloofsekerheid

Ons kom nou terug na die vraag in Sondag 32 en die deel van die antwoord waaroor die preek vandag gaan. Die vraag is:”Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enigste verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is”. Die deel van die antwoord waaroor vandag se preek gaan is:”Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry”.

Ons leef in ‘n baie onseker wêreld. In ons eie land is daar oor soveel dinge onsekerheid.  Die Here wil nie hê dat hierdie wêreldse onsekerheid in sy gelowige kinders se harte en gedagtes leef nie. Hy het sy Heilige Gees gegee. Die Gees maak ons een met Christus en laat ons as Christengelowiges goeie werke doen. Die goeie werke is nie om aansien onder mense te kry nie. Die goeie werke is om aan ons sekerheid te gee van ons geloof in Christus, van ons verlossing en van ons ewige lewe.

  • Wanneer ek liefhet, weet ek die Heilige Gees werk hierdie liefde in my.
  • Wanneer ek in die Bybel by Jesus Christus leer en doen wat Hy verwag, weet ek dit is die Heilige Gees wat my Jesus laat volg en by Hom leer.
  • Wanneer ek van my Verlosser praat, weet ek dit is die Heilge Gees wat die woorde in my hart en in my mond lê.
  • Wanneer ek in ‘n afvallige wêreld in Christus as my enigste Verlosser glo, weet ek hierdie kosbare en lewensbelangrike geloof in my hart, kom van die Heilige Gees af.

Kyk ek na hierdie goeie werke in my lewe, dan weet ek: Christus is deur sy Gees in my.

Die sekerheid dat ek Christus in my het, is die geloofsekerheid wat God vir my wil hê.

Hy gebruik die goeie werke wat ek doen om aan my hierdie geloofsekerheid te gee.