Home Preke Ek leef op die pad wat die Here my in sy Woord wys.

Ek leef op die pad wat die Here my in sy Woord wys.

Datum: 2023-08-27
|
Kernverse: Ps.119:105,106

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die Heilige Gees

Lof aan God: Ps.33:1,2

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.9:1,7,10

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34

Antwoord op die Wet: Skb.9-1:1,10,11

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.33:5,6

Lees: Psalm 119:97-112

Kernvers: Ps.119:105,106

Tema: Ek leef op die pad wat die Here my in sy Woord wys.

Sang: Ps.33:1,2; Ps.9:1,7,10; Skb.9-1:1,10,11; Ps.33:5,6; Ps.25:2,4; Ps.119:39,53

Inleiding:

Die wonder van God se Woord, die Bybel….die genade om die Bybel te kan hê om te lees wat God vir ons sê….die sekerheid dat die Bybel vir my die ware lewenspad wys waar ek naby God en vir Hom kan lewe, is waaroor vanoggend se preek uit Ps.119 gaan.

Tema: Ek leef op die pad wat die Here my in sy Woord wys

  1. Ons leef in ‘n donker wêreld sonder rigting

Ps.119 is ‘n lied in die boek Psalms, een van die wysheidsboeke in die Bybel, God se Woord. Wysheid het in die Bybel ‘n baie spesiale betekenis. Wysheid is om God se wil vir die lewe van elke dag te ken en te doen. Dit is daarom net ‘n Christengelowige wat deur Jesus Christus verlos is en die Heilige Gees het, wat ware wysheid kan hê.

Die psalm met sy 176 verse is vol wysheid, die wonderlikste wysheid. Die psalm bevat wonderlike wysheid, want God gee hierdie wysheid. Die woorde in hierdie psalm is woorde wat van God af kom en woorde wat die Heilige Gees aan die digter gegee het om neer te skryf vir ons om te lees en te glo..

Die eerste twee woorde waarna ons vanoggend kyk is “lamp” en “lig”. Omdat Psalm 119 ‘n lied in ‘n wysheidsboek in die Bybel is, kan ons baie beelde verwag. Hierdie twee woorde is juis beelde.

‘n Mens gebruik ‘n lamp of ‘n lig wanneer dit donker is, so donker dat jy sonder ‘n lamp of ‘n lig nie kan beweeg of  leef nie. Dat die digter hierdie twee woorde gebruik het beteken dat die wêreld waarin hy geleef het, donker was. Trouens, die wêreld waarin hy geleef het, was so donker dat hy nie sonder ‘n lig kon leef nie.

Die wêreld waarin ons leef, is nie minder donker nie. Die wêreld van vandag, dit is die tydsgees wat deur die mense van die wêreld veroorsaak word, is donker en sonder enige rigting. Oor die donker wêreld kan mens baie sê. Dink saam oor die donker wêreld sonder rigting waarin ons leef. Hier is net ‘n paar voorbeelde:

  • Die wêreld het kennis van die enige ware God byna heeltemal verloor. Daar is tans  meer as 4000 verskillende gelowe in die wêreld. Soveel gode word aanbid. Die Hindoes wat tans 1,2 miljard is en 16% van die wêreldbevolking uitmaak, het 33 gode, eintlik moet ‘n mens van afgode praat. Van die huidige wêreldbevolking is 31% Christene. Dit beteken 69% van die wêreld is heeltemal sonder rigting wanneer dit by God kom…en verlore op pad na die ewige verderf in die hel!
  • Die tydsgees waarin ons leef, is vas oortuig dat sonde ‘n outydse begrip is wat nie meer by die wêreld van vandag pas nie. In die wêreld se oë is dit net die kerk wat nog van sonde wil praat. Die kerk is in elk geval glad nie meer belangrik vir die wêreld nie. Predikante wat nog oor sonde en Jesus as ons enigste Verlosser preek, is vervelig en baie in Suid-Afrika stel nie meer in sulke gemeentes belang nie.
  • Die wêreld het heeltemal koers verloor met die wesenlike van menswees, dat God man en vrou geskep het. In sommige lande word jy baie kwalik geneem, en kan daar teen jou opgetree word, indien jy iemand van die vroulike geslag haar en iemand van die manlike geslag hom noem. Jy moet eers vra of die vrou as ‘n vrou en die man as man bekend wil wees.
  • Die Gereformeerde kerke wêreldwyd het nog nooit ontken dat homoseksualisme en lesbianisme ‘n ingewikkelde situasie is waaroor ‘n mens in afhanklikheid van God en deur die Heilige behoort te dink en te praat nie. Maar, dat die uitleef van ‘n seksuele verhouding met ‘n persoon van dieselfde geslag nie mag nie, daaroor was die Gereformeerde kerke ook nog altyd duidelik. Indien jy dit vandag sê, hang die wêreld ‘n etiket om jou: Jy is homofobies. Jy ly aan mensevrees.
  • Dan hoor mens al meer dat ouers nie meer  hulle kinders wil leer wat om te doen nie en hulle leer om te onderskei tussen reg en verkeerd nie. ‘n Kind moet self kan besluit wat die kind wil en nie wil nie. ‘n Kind moet veral self kan besluit om in God te glo of nie te glo nie. Hierdie ouers is heeltemal sonder rigting.
  • ‘n Laaste voorbeeld van die donkerte waarin die wêreld leef: Die wêreld jaag geld en sukses na. Om die Here te soek terwyl Hy nog te vinde is, is daar feitlik geen sprake van nie. Om geld en sukses te soek, na te jaag is die lewe in die wêreld se oë. Wie by geld en sukses uitgekom het, kan werklik lewe, is die wêreld se vaste oortuiging.

Om saam te vat: Die grootste deel van ons land se mense wys met die wêreldse lewe hoe donker dit is. Die wêreld en ons land lyk soos dit lyk, omdat die grootste deel in die mag van die duiwel is en in die ryk van die duisternis leef. Hier lê die grootste probleem en ellende van ons land en sy mense: ‘n Lewe sonder God, ‘n lewe van sonde in die mag van die duiwel. Polities en ekonomies het ons land groot probleme, maar die grootste ellende is dat te veel in ons land God nie ken nie, omdat te veel sy Woord nie ken nie!

2. Die Here se Woord skyn soos ‘n lig voor my

Oor die wêreld het Paulus in die brief aan die gemeeente in Rome destyds so geskryf: “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting” (Rom.8:22). Die skepping sug dat Jesus weer moet kom, want sonde verniel die skepping.

Elkeen van ons leef in die skepping wat sug oor die pyn wat sonde veroorsaak. Ons kan sê dat elkeen van ons in ‘n donker land sonder rigting leef.

Hoe leef ek, Christengelowige in hierdie donker land sonder rigting?

In ons land het ek, Christengelowige en Afrikaner, die Bybel in Afrikaans! Vir 90 jaar al, het ons wat Afrikaans as moedertaal het, die Bybel, God se Woord in ons moedertaal.

God se Woord, die Bybel is “die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad” (Ps.119:105). Ek kan elke dag Bybel lees!
Ek kan elke dag van my lewe na God luister!
Ek kan elke Sondag in ‘n erediens wees waar God se Woord vir my uitgelê word!
Ek kan die wysheid wat God my leer as’t ware indrink en deur die Gees met die wysheid leef wat God van my verwag!

God se Woord is my lamp en my lig, want God vertel my in sy Woord van Sy Seun, Jesus Christus wat Hy na die wêreld gestuur het. Jesus het ons sonde op Hom geneem en daarmee aan die kruis op Golgota gesterf. Deur sy dood aan die kruis het Jesus ons van die mag en die skuld en die straf van sonde verlos. Hy het ons heeltemal verlos, volmaak verlos. Paulus skryf deur die Heilige Gees aan die Christengelowiges in Kolosse dat God hulle deur sy Seun uit die mag van die duisternis geruk het (Kol.1:13).

Die Sondagoggend, die derde dag na Jesus gekruisig is, was die graf in die tuin van Josef van Arimatea leeg. Jesus het uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy aan ons die nuwe lewe, die ewige lewe met God gegee.

Jesus Christus, God se Seun het ons deur sy kruisiging en opstanding uit die donkerte oorgebring na die lig. Deur Jesus Christus is ek nie meer ‘n wêreldmens en deel van die tydsgees wat in donkerte leef nie. Deur Jesus wat vir my gesterf en opgestaan het, is ek by God. By God is ek in die lig en kan ek in die lig leef.

Omdat God se Woord my van Jesus Christus, ons Verlosser vertel en leer, wie Hy is en wat Hy gedoen het en steeds doen en in die toekoms nog sal doen, is God se Woord die “lamp wat my die weg wys, die lig op my pad”!

3. Ek volg die Here se Woord op my lewenspad

Die donker pad is die lewe waar ek self besluit wat ek wil en wat vir my verkeerd is en wat vir my reg is. Die donker pad is verder waar ek leef volgens wat ander mense dink en sê en doen. Mense, sondige mense wys vir my my lewenspad.

Lewe in die lig is waar God vir my in sy Woord wys wat ware lewe is en ek die Here se Woord volg en doen wat Hy my leer en van my verwag. Daarom lyk my lewe so:

  • Ek aanbid en dien die enige ware God soos Hy Hom in sy Woord aan my bekend maak. Ek het net Hom lief met my hele hart, my hele siel, my hele verstand en al my krag. Van enige ander afgod wil ek niks weet nie.
  • Ek leef ‘n lewe van  bekering waar ek teen die sonde in my lewe veg en met die Heilige Gees in my daarmee breek. Ek leef deur die Gees as verloste nuwe mens leef.
  • Ek  dink en praat oor man en vrou soos God in sy Woord sê.
  • Ek glo vas daarin en indien ek ‘n ouer is, doen ek dit: Kinders moet opgevoed word om die Here te ken, Hom lief te hê en uit liefde te gehoorsaam.
  • Jesus Christus is vir my die belangrikste Persoon. Ek doen wat Hy my leer. Ek maak nie skatte op aarde bymekaar nie. My skat is in die hemel, waar Hy my Verlosser en waar my Vader is.

In my lewe as Christengelowige volg ek die Here se Woord op my lewenspad. Met hierdie manier van lewe verskil ek baie van die meeste mense in ons land. Maar….dit maak nie saak nie, want wat God in sy Woord sê, is vir my belangriker as enigiets of enigiemand in ons land en in die wêreld. Ek sê hierdie woorde en ek leef hierdie lewe omdat God vir my die heel belangrikste is!

ANTWOORD

Sang: Ps.25:2,4

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Ps.119:39,53

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.