Home Preke Ek, sondige mens, het ‘n dringende behoefte aan Jesus Christus

Ek, sondige mens, het ‘n dringende behoefte aan Jesus Christus

Datum: 2021-02-21
|
Kernverse: Lukas 19:1-10

Lees: Lukas 19:1-10

Inleiding:

Mense in Jerigo het destyds van Jesus wat by Saggeus tuisgeaan het, gesê: Hy gaan by ‘n sondige man tuis.

Jesus Christus het van Saggeus gesê: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom.

Met hierdie woorde van die mense en Jesus Christus ons Verlosseer, vra God vir elkeen van ons in ons voorbereiding vir nagmaal:

Het ek die regte besef van my sonde?

Besef ek hoe nodig ek Jesus Christus het?

Tema: Ek, sondige mens, het ‘n dringende behoefte aan Jesus Christus

  1. My sondebesef

Ons leef tans in ‘n baie vreemde tyd, soos ons almal weet. ‘n Baie vreemde virus, die Koronavirus het omtrent die hele wêreld omgekeer. Die virus veroorsaak die baie gevaarlike Covid-19 waaraan soveel mense oor die wêreld reeds gesterf het. Hierdie virus en sy siekte het die afgelope jaar omtrent die nuus van elke dag oorheers.

Dit is goed om op hoogte te bly van wat om ‘n mens aangaan.

Maar, daar is ‘n ander gevaar wat in werklikheid groter as die Koronavirus en Covid-19 is. Die tydelike liggaamlike gevaar van die virus en die siekte kan so ‘n belangrike plek in ons lewens inneem, dat ons die baie ernstige geestelike gevaar van sonde en ‘n gebrekkige sondebesef vergeet of in die tweede plek skuif.

In die Bybel vertel en leer die Here ons baie keer van mense se gebrekkige sondebesef. Ons kry dit juis by die mense wat gesien het dat Jesus by Saggeus sou tuisgaan daardie dag. “Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê:’Hy gaan by ‘n sondige man tuis’” (Lk.19:7). Om jou sonde nie te besef nie, is nie iets wat per ongeluk gebeur het nie. Dit kom uit ‘n sondige hart en is self sonde voor God.

Ons gemeente beplan om op Sondag 7 Maart en Sondag 14 Maart Nagmaal te gebruik. Om met ‘n gelowige hart en die regte gesindheid nagmaal te gebruik, is voorbereiding nodig. Vanoggend se erediens is juis ‘n voorbereidingsdiens.

Waar begin voorbereiding vir nagmaal?

Voorbereiding begin by my sondebesef. Met voorbereiding, wat nie net uit ‘n erediens bestaan nie, doen ek selfondersoek. My self ondersoek begin met ondersoek na my sonde. Ek meet myself aan God se Woord. Ek ontdek my sonde wat ek in my gedagtes, my woorde en my optrede doen. Ek ontdek my sonde in alles wat ek nalaat om te doen. Ek doen hierdie selfondersoek deur die Heilige Gees. Ek besef my sonde voor God. Ek staan met opregte en diep berou voor Hom, want ek het keer op keer teen die heilige God gesondig. Ek bely my sonde met ‘n opregte hart en verootmoedig my voor God.

Die vraag aan elkeen van ons is: Lyk my tyd van voorbereiding vir nagmaal so?

  1. My hunkering na Jesus Christus

In Lukas 19 ontmoet ons vir Saggeus. Hy het in Jerigo gebly. Hy was die hooftollenaar in die stad. Jerigo was aan die Jordaanrivier geleë, so 25 km van Jerusalem af. Saggeus was die hooftollenaar van daardie omgewing.

Kom ons kry eers duidelikheid oor wat ‘n tollenaar gedoen het. ‘n Tollenaar was iemand wat belasting ingevorder het. Die tollenaars het gewoonlik heeltemal te veel belasting gevra. Dit wat hulle nie aan die owergheid oorbetaal het nie, het hulle vir hulleself gehou. Die tollenaars het hulleself verryk ten koste van die gewone publiek. In ons taal was hulle korrup en het geld van die publiek gesteel.

Op ‘n keer het Jesus en sy dissipels deur Jerigo gegaan. Saggeus het daarvan te hore gekom en probeer om Jesus te sien. Hy was te kort en die skare te groot, daarom het hy die plan gemaak om in ‘n wildevy te klim om Jesus te kan sien.

Ons kan sê Saggeus het in hom ‘n hunkering gehad om Jesus te kon sien.

Die Heilige Gees leef in my. Hy lei my deur God se Woord. Hy leer my my sonde ken. Hy laat die hunkering na Jesus Christus in my ontstaan. Selfondersoek deur die Heilige Gees tydens voorbereiding laat my besef hoe nodig ek Jesus Christus het om my te verlos.  Ek besef deur die Heilige Gees dat ek myself nie kan verlos nie en dat ek die Verlosser wat God gegee het, dringend nodg het in my lewe.

Tydens voorbereiding staan elkeen voor die vraag of ek myself ondersoek het en in my binneste die hunkering na Jesus Christus, my Verlosser het. Nagmaal sal alleen betekenis vir my hê, indien ek in my hart ‘n hunkering na Jesus Christus, my Verlosser het.

  1. Jesus Christus in my lewe

Saggeus het vooruit gehardloop weg van die skare af en in ‘n wildevy geklim om Jesus te sien.

Daardie dag het ‘n wonderlike verandering in sy lewe gekom. Jesus Christus, Seun van die lewende God, het, toe Hy by die vyeboom gekom het, opgekyk en vir Saggeus gesê om af te kom uit die boom, want dit was die dag waarop Jesus by hom sou tuisgaan.

Jesus se besoek aan Saggeus was nie net ‘n gewone vriendskaplike besoek nie. Jesus het gekom vir die sondaarmense wat verlore is. Saggeus was so ‘n sondaar wat verlore was.

Dit is lewensbelangrik om te weet, te besef en vas te glo, waarom Jesus Christus mens geword het. Hier op aarde het Hy al ons sonde op Hom geneem. Hy het die verskriklikste lyding ondergaan. Hy het die ergste dood gesterf. Jesus Christus, ons Verlosser, het dit alles vir my gedoen.

Die Heilige Gees gee aan my geloof in Christus. Deur my geloof is ek een met my Verlosser en het ek Hom vir ewig in my lewe.

Ek leef in ‘n sondige en stukkende land. Ek het soveel waarteen ek moet veg. Die duiwel met sy boosheid, die sondige wêreld met sy verleidelikheid en my eie sondigheid wat maak dat ek dikwels ‘n baie swak sondebesef het, is my geestelike vyande teen wie ek nie opgewasse is nie. Ek het Jesus Christus in my lewe so nodig. Die Heilige Gees verseker my met die brood en die wyn tydens nagmaal dat Jesus Christus, my Verlosser in my lewe is.

Elke mens het hierdie versekering van die Heilige Gees gereeld nodig. Elkeen van ons moet maar baie versigtig wees dat niemand ons drie geestelike vyande en ons eie swakheid onderskat nie.

  1. My redding

Met Jesus Christus in jou lewe, kan jy nie dieselfde mens bly nie. Saggeus was nog in die mag van die sonde en die ewige dood. Hy het die agtste gebod oortree en van mense geld wederregtelik geneem. Hy het homself ryker gemaak ten koste van ander mense. Hy het die negende gebod oortree deur sy valsheid. Daarmee het hy eintlik die hele wet oortree (Jak.2:10) en voor God gesondig.

Sy lewe was in die duiwel en die sonde se greep.

Jesus Christus het alles verander!

Hy het juis gekom om sondaars wat verlore was te red.

Deur vir my aan die kruis te sterf en vir my op die derde dag uit die dood op te gestaan het, het Jesus Christus my van sonde en die ewige dood gered. Deur Hom het ek verlossing, vryspraak en vergifnis by God gekry.

Die Heilige Gees verseker my met nagmaal dat so seker as wat ek die brood en wyn sien en inneem, sodat dit deel van my word, so seker het Jesus Christus my van al my sonde verlos en my geestelik skoon gewas.

  1. My lewe as verloste

Wanneer Jesus Christus jou van sonde verlos, is jy ‘n nuwe mens.

Kyk hoe het Saggeus se lewe verander. As verloste deur Jesus Christus, was hy ‘n nuwe mens. Hy het reeds nuut begin lewe en sou voortaan nuut lewe, nadat Christus in sy lewe gekom het. Hy sou aan almal by wie hy onregmatig geld gevat het, dit vierdubbel teruggee. Hy sou die helfte van sy goed vir mense wat arm is, gee.

‘n Nuwe mens leef anders, leef nuut.

Hoe leef ek nuut?

Deur die Heilige Gees breek ek met sonde –

  • Ek het opreg berou oor my sonde

  • Ek haat sonde en is baie ontevrede omdat ek steeds sondig

  • Ek vermy sonde en vlug daarvan weg na God toe

Deur die Heilige Gees leef ek na God se beeld –

  • Ek is baie bly en dankbaar dat Jesus Christus in my lewe is

  • Ek het God lief met my lewe

  • Ek soek in alles na God se wil en ek leef daarvolgens

Hierdie nuwe lewe is nie ‘n keuse nie. As verloste nuwe mens is dit lewensnoodsaaklik dat ek anders sal leef as die mens wat Christus nie het nie. Self sal ek dit nie regkry om nuut te lewe nie. Ek het die Heilige Gees nodig. Met nagmaal versterk die Heilige Gees juis my geloof in Christus. Hy verseker my dat Christus my verlos het en nuutgemaak het. Na nagmaal lei die Gees my om as verloste nuwe mens nuut te lewe.

Gebed

Klankbaan

Luister na die preek.