Home Preke Ek weet ek het die ewige lewe, want ek glo in die Seun van God

Ek weet ek het die ewige lewe, want ek glo in die Seun van God

Datum: 2021-10-10
|
Kernverse: 1 Johannes 5:13; Johannes 20:26-30; Openbaring 7:9-17

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lees: 1 Johannes 5:13; Johannes 20:26-30; Openbaring 7:9-17

Inleiding:

Die Bybel, die ware lewe, die Heilige Gees, die Seun van God, die geloof in my hart en die sekerheid in ‘n onseker wêreld, is waaroor vanoggend se preek gaan.

Tema: Ek weet ek het die ewige lewe, want ek glo in die Seun van God

  1. Die Here se Woord is lewend en kragtig

Voor ons lê die Bybel oop. So is dit elke Sondag tydens elke erediens. Ek glo en ek weet dat die Bybel elke dag in die meeste huise in die gemeente ook oopgemaak word.

Die Bybel het verskillende name. Die bekendste name is die Bybel, God se Woord, die Heilige Skrif en die Evangelie. Daar is nog ander name ook, maar vir vanoggend is hierdie genoeg.

Wanneer ek die Here se Woord oopmaak en ek lees of ek luister, is dit nodig dat ek sal weet, sal besef hoe die Boek is wat ek nou oop voor my het.

Luister eers weer wat Johannes in sy brief geskryf het:”Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo” (1 Joh.5:13).  Hoe kan ‘n brief wat ek lees of waarna ek luister, vir my sê dat ek die ewige lewe het? ‘n Brief kan dit doen, wanneer die brief soos hierdie een van Johannes, een van die boeke van God se Woord is, WANT….

God se Woord is LEWEND!

Wat beteken hierdie woord wat die skrywer van die Hebreërbrief gebruik het? (Hebr.4:12).

Ons kan hierdie woord so verstaan:

  • Die Bybel is geen gewone boek met bladsye nie.

  • Die Here se Woord is die enigste van sy soort. Daar was nog nooit en sal nooit so ‘n Boek soos die Bybel wees nie.

  • Die woorde in die Bybel is woorde wat die ware lewe, dit is die ewige lewe in hulleself het.

  • Die Heilige Gees gebruik die Here se Woord om die mens wat lees en luister lewend te maak, sodat die leser en die luisteraar van God se Woord, die ewige lewe kan hê.

Daar is ‘n tweede woord, saam met lewend.

God se Woord is KRAGTIG!

Wat beteken dit dat die Here se Woord kragtig is?

Die Bybel, God se Woord het die krag om te doen wat niks anders ooit gedoen het of ooit sal kan doen nie. God se Woord kan in ‘n mens se binneste, jou hart en jou verstand inkom. Daar in ‘n mens se binnekant kan die Here se Woord iemand wat geestelik dood was, nuut maak, sodat daardie persoon geloof kan hê en die ewige lewe kan hê.

Wanneer ek die Bybel in my hand hou, of na die Bybel kyk, of die Bybel oopmaak, het ek nodig om elke enkele keer te besef en te weet dat ek hier die Here se Woord het, wat lewend en kragtig is!

  1. Die Woord se boodskap: God gee die ewige lewe deur sy Seun

Die Bybel is lewend en kragtig omdat die Here se Woord ‘n baie bepaalde en unieke en lewensbelangrike boodskap het.

Johannes het in sy Evangelie van Jesus Christus geskryf dat al Jesus se wondertekens in die Evangelie opgeskryf is, sodat die lesers kan glo dat Jesus Christus, die Seun van God is en deur in Hom te glo, die ewige lewe kan hê (Joh.20:30).

Johannes het in sy eerste brief geskryf dat die doel van hierdie brief is dat sy eerste lesers, dat ons wat vandag lees en luister,  kan weet dat ons die ewige lewe het, ons wat in die Seun van God glo (1 Joh.5:13).

God het in die openbaring wat Hy Johannes laat sien het, vir Johannes ‘n menigte gewys wat niemand kon tel nie. Hierdie menigte is almal wat hulle klere gewas en wit gemaak het in die bloed van die Lam (Op.7:14). Die woorde beteken die menigte in die hemel is die mense wat in Jesus Christus wat gesterf het en opgestaan het, as enigste Verlosser geglo het en deur hierdie geloof die ewige lewe in die hemel ontvang het.

God se Woord se boodskap is dus: God gee die EWIGE LEWE DEUR SY SEUN!

Oor hierdie geweldige waarheid het ons nodig om die volgende te weet en te glo:

  • Die hele mensdom was deur Adam en Eva se sonde in die mag van die ewige dood.

  • God het ons nie in hierdie verskriklike situasie gelos nie.

  • Hy het sy Seun vir ons gegee.

  • Sy Seun het al ons sonde op Hom geneem en daarmee ‘n wrede en vernederende dood aan die kruis gesterf.

  • Deur sy dood aan die kruis het God se Seun my van die mag van die sonde en die dood verlos.

  • Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het God se Seun vir my die dood oorwin en aan my die ewige lewe gegee.

  • Hierdie wondergenade is nie vir elke mens op aarde nie, net vir die mens wat van die Heilige Gees opregte geloof in God se Seun gekry het.

Hierdie is die boodskap van God se Woord!

Hierdie boodskap is die boodskap wat vir my die ewige lewe gee.

  1. Die Heilige Gees laat my in die Seun van God glo

Die ewige lewe is ‘n lewensbelangrike wondergenade in elke mens wat opreg in God se Seun glo.

Die dood was nog altyd ‘n werklikheid in ons lewe op aarde. Ernstige siektes waaraan mense wat ons geken het, gesterf het is een van die dinge wat die dood ‘n werklikheid gemaak het. Dit is asof Covid-19 hierdie werklikheid nog nader aan ons gebring het. In minder as twee jaar het meer as 88 000 mens na komplikasies van hierdie vreemde en gevaarlike siekte gesterf. Die getal kan baie meer wees, want oor meer as 200 000 mense wat dieselfde tyd gesterf het, is daar nie duidelikheid waaraan hulle gesterf het nie.

Die ewige lewe is daarom LEWENSBELANGRIK  vir elkeen van ons!

Wanneer die dood die einde van ‘n mens se lewe is, beteken dit jy leef onder God se oordeel. Sy oordeel nadat iemand gesterf het, is ‘n verskriklike oordeel wat ewig sal duur. Daarom is dit so belangrik dat ek die ewige lewe sal hê. Net lewe op aarde is nie genoeg nie! Om net op aarde te leef, beteken nie dat aan die einde van hierdie lewe die ewige dood nie wag nie.

Die WONDERGENADE is dat ek die ewige lewe kan hê!

Die mens wat in die Seun van God glo, is die mens wat nie meer in die mag van die ewige dood is nie. Hierdie mens se lewe eindig nie meer in God se verskriklike ewige oordeel na die lewe op aarde nie. Hierdie mens het die ewige lewe. Hierdie mens se lewe op aarde gaan uiteindelik oor in lewe in die hemel in alle ewigheid.

Die vraag is: Waar en hoe kry ek hierdie geloof in God se Seun waardeur ek die ewige lewe sal hê?  Hierdie is ‘n baie baie belangrike lewensvraag, want –

  • Niemand het hierdie geloof vanself nie.

  • Niemand erf hierdie geloof van ouers nie.

  • Niemand kan enigiets doen om hierdie geloof te verdien nie.

Hierdie geloof, kom ons praat van saligmakende geloof, kry ek NET BY DIE HEILIGE GEES!

Die Heilige Gees kom in my hart en verstand in met die lewende en kragtige Woord van God. Deur God se Woord plant of begin Hy geloof in Jesus Christus, God se Seun in my binnekant. Met hierdie geloof bind die Heilige Gees my geestelik aan God se Seun.

Luister na wat hierdie band met God se Seun vir my beteken:

Alles wat God se Seun, Jesus Christus gedoen en bereik het met sy sterwe aan die kruis en sy opstanding uit die dood, kry ek nou in my lewe. Dit beteken –

  • Ek het verlossing van sonde!

  • Ek het die oorwinning oor die dood!

Hierdie wondergenade het ek in my lewe, deur die Heilige Gees wat my in God se Seun, my Verlosser laat glo.

  1. Elkeen wat in God se Seun glo, het die ewige lewe

Ons land het in algehele onkunde oor geloof verval, sodat by verre die meeste mense nie weet wat ware of opregte geloof is nie en ook nie waarom geloof so belangrik is nie.

Die meeste mense in Suid-Afrika wat sê hulle glo, glo in God wat voorspoed op aarde sal gee. Die belangrikheid van hierdie geloof is dat ‘n mens se geloof jou finansiële omstandighede en jou gesondheid beter maak.

Ware geloof, opregte geloof is geloof wat die Heilige Gees deur God se Woord vir my gee.

Met hierdie geloof in my hart, glo ek dat Jesus Christus die Seun van God is, wat mens geword het vir my. Hy het vir my aan die kruis gesterf. Hy het vir my uit die dood opgestaan.

Ek en elkeen wat so in God se Seun glo, het die ewige lewe!

Die wondergenade is dat ek nou reeds die ewige lewe het!

Ek is nou reeds ewig aan Jesus Christus, God se Seun en deur Hom aan God die Vader gebind!

Hierdie ewige geestelike band kan en sal deur niks en niemand gebreek kan word nie!

Ons land, die hele wêreld is nie ‘n plek wat sekerheid gee nie. Daar is nie ‘n terrein waar daar nie onsekerheid is nie – Klimaatverwarming, ekonomie, politiek, hierdie pandemie en ander wat dalk nog kom, gesondheidsomstandighede, terroristeorganisasies se planne, die internet en al die toepassings wat daarmee verband hou en alles wat ‘n mens sou kon opnoem. Ons hele land is ‘n onseker plek en so ook die hele wêreld

Te midde van al die onsekerheid en twyfel van die sondige wêreld, leef ek met die wonderlikste ewige sekerheid in my:

Ek, nietige mens, WEET ek het DIE EWIGE LEWE, want ek GLO in DIE SEUN VAN GOD!

Hierdie sekerheid wat die Heilige Gees my gee, maak dat ek vir God met my lewe dankie sê, want wie is ek om soveel genade en soveel liefde van Hom te kry?

Gebed

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle wees.

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.