Tema: Benut julle vryheid in Christus deur mekaar te dien
Inleiding:
‘n Lewende lidmaat in die ware kerk van Christus is ‘n lidmaat wat besig is met dit wat Christus wil. Vanoggend hoor ons dat Jesus Christus wil dat gelowige lidmate wat deur Hom vrygemaak is, mekaar moet dien.
Tema: Benut julle vryheid in Christus deur mekaar te dien
1. Christus het julle vrygemaak
Jesus het sy hemelse vryheid prysgegee
Jesus Christus, Seun van die lewende God het sy lewe in die hemel verlaat en Homself laat inperk as mens hier op aarde. Die Seun van die lewende God wat in hemelse majesteit geleef het, het alles prysgegee en Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem (Fil.2:7).
Hy Homself ook oorgee om gevangene te wees
Hy het Homself gewillig oorgegee om gevange geneem te word, asof Hy ‘n misdadiger was. Hy het Homself oorgegee om onskuldig veroordeel te word en saam met die ergste misdadigers op Golgota gekruisig te word. Jesus Christus het sy volkome vryheid prysgegee om ‘n gevange te word van die dood en die graf.
Dit alles om jou vry te maak
Deur ‘n gevangene te word, het Christus ons vrygemaak van die slawerny van sonde. Dit is baie belangrik dat elkeen sal besef dat jy ‘n magtelose slaaf van die sonde was. Elke mens moet weet en bely: Die ganse mensdom was in die mag van die sonde met net een bestemming en dit is die ewige dood onder die nimmereindigende verskriklike oordeel van God.
Van hierdie oordeel het Jesus Christus ons vrygemaak. Hy het jou vrygemaak deur in jou plek te sterf en vir jou uit die dood op te staan. Die vryheid wat Christus gee, is vryheid van die mag van die sonde en die dood. Ons is nou nie meer slawe van sonde en dood nie, nee ons is vrygemaak. Deur Christus het ons nou die nuwe lewe, die ewige lewe, die lewe met God, die lewe vir God! Hierdie lewe wat ons nou reeds het, sal vir ons uitloop op die ewige lewe met God in die hemel. Dit is ons vryheid!
2. Moenie die vryheid misbruik nie
Vryheid misbruik in Galasië
Twee groepe lidmate in Galasië het hulle vryheid misbruik en ‘n slegte invloed op die gemeentes in Galasië gehad. Die een invloed was die Judaïste wat nog die Joodse geloof met al die baie wette aangehang het. Hierdie mense wou dat die gelowiges in die gemeente steeds al die wette van die Ou Testament nakom. Paulus skryf dat hierdie invloed die gemeente se verstand benewel het (Gal.3:1), sodat hulle ‘n ander evangelie aangeneem het (Gal.1:6). Hierdie invloed het veroorsaak dat die gemeente nie vry geleef het nie, maar steeds in die mag van die sonde was. Indien mens nog deur die wet jou vryheid wil kry, moet jy elke gebod volmaak nakom, dit kan niemand, daarom is die mense wat die wet gebruik om verlos te word, nog in die mag van die sonde en nie vry nie. Wat hierdie situasie vererger, is die feit dat indien mens deur die wet verlos wil word, leef jy eintlik sonder Christus!
Die tweede invloed was die van die heidene wat vryheid weer gesien het as losbandigheid – elkeen is vry om te doen wat hy wil. Daardie losbandigheid het aanleiding gegee tot onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, rusies, uitspattigheid, dronkenskap en al die sondes wat in Gal.5:20,21 genoem word.
Verdeeldheid het gevolg
Omdat die twee groepe lidmate in die gemeentes in Galasië nie aan Christus vasgehou het nie, maar hulle lewe volgens hulle eie manier wou leef, was daar nie ‘n eenheid onder die lidmate nie. Die lidmate was nie almal een met Christus nie, daarom was dit onmoontlik om een met mekaar te wees. Die gemeentes in Galasië was nie eensgesind in hulle geloof nie en dus verdeelde gemeentes.
Die gevolg van hierdie verdeeldheid was dat die gelowiges begin het om mekaar te verskeur en te verslind (Gal.5:15).
Sulke onenigheid is sonde en mag nie
Wanneer daar verdeeldheid in ‘n gemeente is, en lidmate leef in onenigheid, beteken dit die gemeente word leef nie vas aan Christus nie. So ‘n gemeente word dan nie deur die Heilige Gees beheers nie, maar deur die lidmate se sondige natuur. Lidmate of gesinne sal elkeen vir homself leef en nie vir mekaar nie. Sulke Gereformeerde lidmate sal die belofte aan God vergeet wat met belydenisaflegging gedoen is, naamlik om gawes gewillig en met vreugde tot voordeel van ander in die gemeente te gebruik. Sulke onenigheid is sonde!
3. Leef vry en dien mekaar
Wie vry is deur Christus, moet ook vry leef
“Julle, broers” lees ons in Gal.5:13. Die Heilige Gees praat met elke gelowige in die gemeente. “Julle is tot vryheid geroep. Geroep beteken hier om iets te doen. Geroep tot vryheid beteken om die vryheid wat jy ontvang het, te gebruik. Geroep is om te leef wat jy is. Christus het jou vrygemaak, leef dan vry.
Die gemeente wat verdeeld leef, sondig
Onenigheid – verskeur en verslind mekaar met woorde, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies – dit is duidelike onenigheid. Die minder duidelike onenigheid, maar nie minder sondige nie is: Verdeeldheid, skeuring, afguns.
Hoe gebeur dit? Lidmate ken mekaar en wil mekaar ook nie ken nie. Lidmate voel niks vir mekaar nie en besef en beleef nie die band wat ons bind nie. Lidmate leef so min as moontlik saam met mekaar met so min as moontlik kontak met mekaar. In plaas van vreemdelinge in die wêreld, is gelowiges vreemdelinge vir mekaar.
Hierdie sonde mag nie in die gemeente leef nie. Die Here praat met elke gemeente hieroor en gee aan elke gemeente die opdrag om mekaar in liefde te dien.
Weerstaan die sonde deur julle vryheid te benut
Die verdeeldheid en onenigheid wat in die wêreld heers, mag op geen manier in die kerk posvat nie. Gelowige lidmate moet alles in julle vermoë doen om die sonde van onenigheid in die gemeente te weerstaan. Moet daarom nie langer in die mag van die sonde leef nie. Benut julle vryheid in Christus. Hoe?
Leef vry deur mekaar te dien
Dien is doen, om goed te doen. Dus: Doen iets vir mekaar in liefde. Wees bereid om enigiets te doen wat die Here vra, al kos dit ook wat.
Die Heilige Gees lei die gemeente hierin.
Prakties beteken dien die volgende:
¨ Moenie wag vir iets om te gebeur nie.
¨ Leer jy jou medelidmate goed ken. Ken ander so goed dat jy weet waarmee hulle te doen het.
¨ Wees jy op die uitkyk om goed te doen aan iemand anders. In die gemeente is daar lidmate wat nuut en vreemd is, lidmate met vervoer probleme, ernstige huislike probleme, ernstige geloofsprobleme en so kan mens opnoem. Doen iets om te help. Begin om mekaar te dien!
‘n Gemeente waar lidmate mekaar dien, is ‘n lewende gemeente van Christus wat die eenheid van die Gees in die gemeente uitbou, soos God wil. Ons is nog nie daar nie. Kom ons hou ons besig met diens aan mekaar. Kom ons werk hard om deur mekaar te dien, die eenheid van die Gees hier baie meer uit te bou.