Home Preke Geloof wat nie sien nie en tog doen, is geloof wat leef

Geloof wat nie sien nie en tog doen, is geloof wat leef

Datum: 2020-07-05
|
Kernverse: Hebreërs 10:32-11:7

Lees: Hebreërs 10:32-11:7

Inleiding:

Geloof in God maak ‘n baie groot verskil in ‘n mens se lewe. Maar…dit moet opregte geloof in die ewige ware God wees. Die Here leer ons in die Hebreërbrief wat ware geloof is en hoe ware geloof ons lewe verander.

Tema: Geloof wat nie sien nie en tog doen, is geloof wat leef

  1. Daar is net een manier om te leef: Deur geloof

Die eerste lesers was Joodse Christene in die eerste eeu na Christus. Hulle het Christus se kruisiging en opstanding nog onthou. Die evangelies is geskryf. Hulle het ook geweet van die handomkeer in Paulus se lewe en van sy kosbare briewe van genade, verlossing en die ewige lewe.

Maar…hulle het ook die vervolging en verdrukking van die Romeinse regering en dieJode beleef. Hulle moes ook beleef dat Jerusalem, die stad van Dawid, in 70 n.C verwoes is. Die vervolging en verdrukking en terugslae het hulle laat sukkel. Hulle het begin twyfel in hulle geloof. Hulle was besig om geestelik agteruit te gaan.

Die wêreld waarin ons vandag leef is ook stukkende en deurmekaar. Hieroor kan mens regtig baie ure praat. Ek gebruik vir vanoggend net twee voorbeelde.

Mense vernietig mekaar in Suid-Afrika. Ons kyk net na ons land met sy moorde. In Suid-Afrika word 57 mense elke dag van die jaar vermoor. Daar gaan byna nie ‘n dag verby of ‘n jong vrou of klein kindjie se lewelose ligaam word ontdek nie. Hierby kan ons nog die aanvalle en moorde op plase ook uitwys.

Dan het die nuutste koronavirus alles omgekeer. Tot nou toe was die verspreiding van die virus in die provinsie waar ons bly nie so erg nie. Die laaste week het alles verander. Twee dokters wat baie goeie kundiges is, het reeds ‘n tyd terug gesê Julie en Augustus gaan slegte maande wees. Ons sien dit in die hoeveelheid mense wat elke 24 uur bykom. Die virus kom al nader aan ons. Van ons lidmate se gesin- en familielede het die virus onder lede. Van ons lidmate se gesinslede moes al in afsondering leef weens kontak met persone wat die virus het. Die inperking agv die virus plaas baie druk op werksplekke en werkers. Werk het minder geword en soms selfs opgehou. Dit het beteken dat mense wat werk se inkomste minder geword het en soms selfs opgehou het.

Die nuus het ons die afgelope week vertel van ‘n predikant wat sy lewe geneem het, omdat hy die druk op hom en sy gemeente nie meer kon hanteer nie.’n Jong skooldogter met baie drome het in ‘n vliegongeluk hier naby ons gesterf.

Wat sien ons? Wanneer jy oor al hierdie dinge dink, kom daar ‘n onrustigheid in jou hart. Soveel swaarkry en leed! Ons leef soos die eerste lesers van hierdie brief in ‘n onvolmaakte, en stukkende wêreld.

Wanneer jy al hierdie dinge gesien het, is daar een ding wat kortkom. Jy het rondom jou gekyk na alles wat op die aarde gebeur. Die tyd het gekom dat jy boontoe kyk. Wanneer jy boontoe kyk, besef ‘n mens daar is net een manier om te leef en dit is deur geloof.

Dit was die bedoeling van die Here met hierdie brief vir daardie eerste lesers.

Die Here het ook daardie doel vir ons gehad.

Hy het hierdie brief in sy Woord laat opneem, want Hy wil ook hierdie woorde vir ons sê.

Hy wil vir ons ook die sleutel tot die lewe gee: Geloof.

  1. Geloof is onsigbaar binne ‘n mens

Wat is geloof?

Dit is nogal ‘n vraag. Geloof is so ‘n bekende woord, maar wanneer jy die vraag moet antwoord: Wat is geloof? Wat sê jy om geloof te kan verduidelik?

Die Here leer ons wat geloof is. Dit gaan hier oor ware geloof. Dit is nodig om dit te sê, want in hierdie land is daar soveel vals gelowe. Die geloof wat die meeste veld in ons land wen, is die welvaartgeloof. ‘n Eenvoudiger naam is geldgeloof.

Wanneer die minister van finansies in sy begroting wat hy moet aanpas, sê die breë weg is die manier waarop die regering in die verlede te veel geld uitgegee het en dat ons nou op die smal weg moet gaan, wat beteken uitgawes moet nou besnoei word, is dit maar net ‘n bevestiging dat die geldgeloof elke vers in die Bybel na geld toe terugbring. Daardie gelykenis wat Jesus gebruik het, het niks met geld te doen nie. Dit het alles met die koninkryk van die hemel te doen. ‘n Leier van een van die groot charismatiese kerke verduidelik dat die minister dit gesê het, omdat hy in die betrokke kerk grootgeword het. Maar…geldgeloof is nie ware geloof nie.

Die Here wys ons wat ware geloof is  in Hebr.11:1.

Ware geloof is ‘n vaste sekerheid.

Ware geloof is ‘n vaste oortuiging.

Dit gaan nie hier oor hoe die geloof is waardeur ons salig word nie. Hy skryf vir mense wat reeds deur hulle geloof verlos is en die ewige saligheid het. Die skrywer wys hier wat saligmakende geloof aan ‘n mens doen.

Vaste sekerheid en vaste oortuiging waarvan?

Die dinge wat ons nie sien nie en wat ons hoop, dit is wat ons verwag.

Geloof berus nie op die dinge wat mens sigbaar kan sien nie.

Wat ‘n mens sien, kan nie jou lewe bepaal nie. Die skrywer gee baie voorbeelde uit die Ou Testament hiervan.

Die eerste voorbeeld is God wat geskep het. Daar was niemand nie. Net God het geleef. Net Hy het in die begin alles geskep. Niemand het gesien of gehoor nie. Wanneer jy die Bybel oopmaak by die Bybel se eerste vers en daar staan “In die begin het God die hemel en die aarde geskep”, dan gebeur daar iets in jou. Die Heilige Gees laat jou anders na daardie woorde kyk as ‘n gewone mens van hierdie wêreld. Die Gees laat jou anders dink. Hy laat jou vas en seker glo. Hy laat jou ‘n vaste sekerheid in jou hê, ‘n vaste vertroue. Hy gee vir jou ‘n vaste oortuiging en vaste bewys dat God alles geskep het, al het jy niks daarvan gesien nie.

Geloof is iets onsigbaar hier binne jou, wat jou sekerheid gee, al kan sien jy niks wat sekerheid kan gee nie.

Al lyk die wêreld hoe stukkend en deurmekaar, binne jou het jy ‘n sekerheid, ‘n vaste oortuiging wat eintlik teen alles indruis.

Wat is dit waarop ons hoop en nie sien nie?

Waarvan is ons so oortuig en het ons ‘n vaste bewys?

Vir die antwoord moet ons na die hele hoofstuk kyk.

Die gelowiges van wie ons in die Ou Testament lees, het sekerheid in God gehad. Hulle geloof in Hom en wat Hy beloof het, het hulle met ‘n kragtige geloof laat leef onder die moeilikste omstandighede.

Abraham het byvoorbeeld geglo God kan lewe uit die dood wek, daarom het hy gegaan om Isak te offer.

Moses het die koninklike lewe in die Farao se paleis prysgegee om eerder aan God se volk in verdrukking te behoort.

  1. Jy het hierdie geloof, omdat jy aan die onsigbare God gebind is

Waar en hoe het hierdie mense die geloof gekry wat hulle so sterk gemaak het?

God het hulle aan Hom gebind as sy verbondsvolk. Hy het die genadeverbond met hulle gesluit. Hulle het die belofte van ‘n ewige genadeverbond geglo.

Kan ons ook die belofte van die ewige genadeverbond glo?

Christus maak elkeen wat in Hom glo deel van die genadeverbond. Ons sonde was tussen God en ons, sodat ons almal ver van God af was. Ver van God af is daar net die sonde en die duiwel en die ewige dood. Christus het alles verander. Hy het die sonde wat tussen God en my was, wat God onbereikbaar ver vir my gemaak het, op Hom geneem. Met daardie sonde op Hom het Hy aan die kruis gehang en die heilige God se straf en oordeel verduur en uiteindelik gesterf. Deur sy dood het Hy die sondeskuld wat ons voor God gehad het, ten volle betaal. Deur sy dood het Hy ons sonde voor God weggeneem. Deur sy opstanding uit die graf het Hy die dood oorwin en aan opns die nuwe lewe, die ewige lewe met God gegee.

Hierdie verlossing van sonde en nuwe lewe is net vir die mens wat opreg in Christus glo. Jou geloof kry jy by die Heilige Gees.

Die geloof wat jou aan Christus bind, bind jou ook aan God.

Jou geloof in God maak jou geestelik baie sterk.

God werk in jou dieselfde krag as wat Hy gewerk het toe Christus uit die dood opgestaan het.

  1. Hierdie band met God laat jou leef en doen

Omdat hulle hierdie sterk geloof gehad het, hierdie vaste oortuiging en bewys, hierdie vaste sekerheid het Henog met God gewandel, Noag die ark gebou, Abraham vir Isak gevat om hom te offer en het Moses uit die Farao se paleis gegaan. Niks hiervan was die maklike lewe op aarde nie, maar dit was die lewe met God. God was hulle sekerheid. Al was alles teen hulle, het hulle geweet dat God hulle aan Hom gebind het met geloof. Hulle geloof het al die verskil gemaak.

God is ook jou sekerheid. Hy het Homself deur Jesus Christus aan jou gebind. Jesus Christus het deur vir jou te sterf en op te staan, God se kind gemaak. Jy is nageslag van Abraham en in die genadeverbond, ewig aan God gebind.

Die Koronavirus is hier by ons in ons omgewing. Die virus is vreemd. Hy is gevaarlik. Hy versprei in ons provinsie soos ‘n veldbrand. Daar is nie ‘n teenmiddel nie.

Geweld in ons land is al vir jare deel van ons lewe. Die geweld word net meer en meer. Ons land het ‘n baie gevaarlike land geword om in te bly.

Hoe leef ons in hierdie gevaarlike land en gevaarlike tyd?

Ons kan in angs leef. Ons kan Bybel lees, maar onseker wees of wat God sê ons regtig kan help. Ons kan bid, maar met twyfel of die Here ons gebed sal verhoor. Ons kan woorde vir mekaar sê wat moedeloos en onseker klink.

Die vraag is dan: Waar is ons geloof?

Laat die Heilige Gees jou dan lei in hierdie land en hierdie tyd. Hy is die Gees van God. Hy gee jou geloof. Hy gee jou sekerheid al sien jy niks wat jou seker maak nie.

  • Lees dan die Bybel deur die Heilige Gees met sekerheid dat God met jou praat.
  • Bid deur die Heilige Gees met sekerheid dat God jou hoor en vir jou net die beste sal gee.
  • Praat met sekerheid wat getuig dat jy God ten volle vertrou en praat die mense om jou moed in, sodat ook die mense wat jy ken hulle vertroue in God stel.

Leef so deur die Heilige Gees as iemand wie se geloof ‘n lewende geloof is.

Klankbaan

Luister na die preek.