Home Preke God beskerm elke gelowige wat Hom selfs onder die ernstigste druk alleen dien

God beskerm elke gelowige wat Hom selfs onder die ernstigste druk alleen dien

Datum: 2021-01-31
|
Kernverse: Daniël 3

Lees: Daniël 3

Tema: God beskerm elke gelowige wat Hom selfs onder die ernstigste druk alleen dien

  1. Die ongelowige wêreld rondom ons

  • Die wêreld leef sonder God

Aan die einde van Daniël 2 het ons Nebukadnesar die volgende hoor sê: “Werklik, julle God is die grootste van al die gode, Hy heers oor die konings en Hy openbaar geheime, want jy kon hierdie geheim bekend maak” (Dan.2:47).

Mens kon dink dat Nebukadnesar na die wonder in sy lewe tot ander insigte gekom het, dat die God in die hemel die enigste ware God is. Niemand van sy raadgewers kon naastenby sy droom en die uitleg vir hom gee nie. Daniël kon, maar hy het dit baie duidelik vir die koning gesê, dat dit nie hy, Daniël, was wat die droom uitgelê het nie, maar God in die hemel.

Alhoewel Nebukadnesar alles gehoor en beleef het, het hy steeds nie in God geglo as die enigste ware God nie. Hoofstuk 3 van Daniël se boek maak dit baie duidelik. Nebukadnesar en die mense van Babel het sonder God geleef.

  • Maak en dien sy eie gode

Dat Nebukadnesar en sy onderdane sonder God geleef het, het nie beteken hulle het nie eie gode gehad nie. Dit sien ons duidelik aan die begin van hoofstuk 3. Nebukadnesar het ‘n goue beeld van dertig meter hoog laat maak.

Na die beeld in die Duradal in die provinsie Babel opgerig is, het Nebukadnesar al sy amptenare laat kom vir die inwyding van die beeld.  Daar was ‘n groot orkes met ‘n verskeidenheid instrumente. ‘n Aankondiger het hard uitgeroep dat almal, wanneer die instrumente gehoor word, voor die beeld moes buig. By hierdie bevel van die koning was daar ‘n waarskuwing. Wie nie voor die beeld buig nie, sal in ‘n brandende oond gegooi word.

  • Aanvaar nie die opregte gelowige se God nie en wil die gelowige dwing tot afgodery

Hierdie beeld en die koning se magsvertoon het gewys dat hy die opregte gelowiges se God nie aanvaar het nie en hulle wou dwing om sy afgod te aanbid.

  • Plaas ernstige druk op gelowiges

Al die amptenare teenwoordig daardie dag, het voor die beeld gebuig. Almal, behalwe drie. Die Chaldeërs het Sadrag, Mesag en Abednego voor die koning verkla. Nebukadnesar het woedend geword en die drie laat kom. Hy het by hulle uitgevind waarom hulle nie gebuig het voor sy beeld en die beeld aanbid het nie. Hulle het die koning geantwoord dat hulle hulle God het  Wie hulle dien en dat hulle die beeld nie sou aanbid nie.

Nebukadnesar het wit geword van woede en beveel dat die drie vasgebind in ‘n nog warmer vuur gegooi moes word.

Wat het daardie dag gebeur?

Ons sien in koning Nebukadnesar van Babel die wêreld sonder God. So ‘n wêreld het sy eie mensgemaakte gode.

Ons sien dat die wêreld nie plek het vir opregte gelowiges om die ware God te dien nie.

Die wêreld wil gelowiges dwing om soos die wêreld te wees.

Wie nie by die Nebukadnesar se wêreld wou inpas nie, moes sterf.

Gebeur sulke dinge vandag nog in ons moderne tyd?

In Moslemlande soos Iran, moet jy inpas by die Moslemgeloof, anders word jy vervolg, aangekla en in die tronk gegooi en uiteindelik doodgemaak. Mense is lief om Mosambiek toe te gaan vir vakansie. In die noorde word Christene swaar vervolg deur die Islam. Verlede jaar in April alleen is 52 Christene doodgemaak.

Miskien dink jy: Dit is darem nie in Suid-Afrika so nie.

Wanneer ek stil bly oor die Here as die enigste ware God dan sal ek in ons land aanvaar word. Maar, probeer vandag in Suid-Afrika mense wat nie dieselfde as jy glo nie, oortuig dat die Drie-enige God die enigste ware God en Jesus Christus ons enigtse Verlosser is. Probeer vir mense om jou vertel dat Sondag in werklikheid die dag is wat die Here vir Hom afgesonder het. Die oomblik wanneer jy openlik so oor God getuig, sal jy van baie hewige teenkanting in ons eie land kry.

Dan plaas al die gerugte en berigte oor Covid-19 en alles wat daarmee saam gaan, ook druk op ons geloof. Onsekerheid, angs en twyfel kan maklik ons lewe begin oorheers. Wanneer mens so broos is, is jy ‘n teiken vir die duiwel wat jou van God af wil weg lei.

  1. Ons geloof in hierdie wêreld

  • Omring van mense wat nie opreg glo nie

Sadra, Mesag en Abednego was daardie dag omring van heidene wat nie in God geglo het nie. Trouens, hulle was die heeltyd in Babel omring van ongelowiges.

Wat ons geloofslewe betref, is dfit met ons nie veel anders as destyds met Juda in Babel nie. In Suid-Afrika is daar godsdiensvryheid. Elkeen mag aanbid wie hy of sy wil en glo soos hy of sy wil. Dit beteken vir my as gelowige dat ek omring is van mense wat nie opreg in die enige ware God en Jesus Christus as ons enigste Verlosser glo nie.

  • Druk om wêreldse gode te dien

Nebukadnesar was nie tevrede om die drie Judese gelowiges te los om hulle eie God te aanbid nie. Hy het die Judeërs van die begin af probeer verander om Babiloniërs te word. Hulle moes Babiloniese kos eet en die taal leer praat en skryf. Selfs hulle name is verander.

Hierdie druk het nie opgehou nie. Op ‘n keer het Nebukadnesar van hulle verwag om die reuse goue beeld wat hy opgerig het, te aanbid. Onder hierdie amptenare wat daardie dag moes buig, was Sadrag, Mesag en Abednego. Tussen al daardie amptenare het net hulle drie bly staan, tenspyte van die brandende oond wat op hulle gewag het.

Nebukadnesar het hulle laat roep, nadat hy gehoor het hulle het nie voor die beeld gebuig nie. Met sy woede het hy verder druk op hierdie gelowiges geplaas. Toe hulle steeds nie wou ingee nie, het die koning die bevel gegee dat hulle in die brandende oond wat nog warmer gemaak is, gegooi moet word.

Die wêreld van vandag is ook nie tevrede met ons geloof as Christene nie. Die wêreld en die grootste deel van ons land se bevolking wil hê ons almal moet glo dat enige god die ware god is, en dat enigiemand enige god mag aanbid.

  • Geloof is ‘n ewige band met God in sy genadeverbond

Die drie gelowiges wat onder soveel druk was, was gelowiges in die genadeverbond. God het hulle in sy genadeverbond opgeneem. Hy het aan hulle geloof gegee. Hierdie drie se geloof het hulle ewig aan God gebind.

Luister hoe het hulle oor hulle geloof in God gepraat:

“Ons het ons God vir Wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag” (Dan.3:17).

Die wêreld om ons is ‘n baie groot en sterk werklikheid. Die groter en sterker werklikheid is God en sy band met ons in sy ewige genadeverbond. Elkeen wat aan Jesus Christus behoort, is in die genadeverbond. God gee die geloof in Hom wat ons aan Hom bind. Hierdie is ‘n band wat nooit ophou bestaan nie en nooit gebreek word nie.

  • Sterk oortuiging selfs ten spyte van lewensgevaar

Geloof in Hom is so ‘n sterk oortuiging dat selfs lewensgevaar hierdie geloof nie kan blus of beëindig of vernietig nie. Hiervan is daar soveel getuienis: Sadrag, Mesag en Abednego het vir Nebukadnesar ook gesê: Selfs as Hy ons nie van die brandende oond en uit u mag red nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie. Ons sal nie voor die goue beeld buig nie (Dan.3:18). Saam met hulle is daar nog  Daniël, Paulus, Guido de Brés wat die Nederlandse Geloofsbelydenis opgestel het en baie die gelowiges wat in die geskiedenis vir hulle geloof gesterf het.

Geloof kan ‘n mens nie wegsteek nie. Geloof is deel van my lewe. Geloof in God is die kern van my lewe. Die Here vra van my om onder alle omstandighede, selfs baie moeilike omstandighede, my geloof uit te leef.

  1. God is almagtig en getrou

  • Druk van die wêreld kan doodsgevaar inhou

Vir Sadrag, Mesag en Abednego het die wêreld se druk, doodsgevaar ingehou. Indien hulle nie soos die destydse wêreld wou wees nie, moes hulle doodgemaak word. Nadat hulle Nebukadnesar se beeld nie wou aanbid nie, is hulle vasgebind in die brandende oond gegooi.

  • God is almagtig en sterker as die dood

Daardie dag het God Homself bekend gemaak aan die drie gelowiges, aan die heidense koning en al sy heidense ongelowige onderdane dat Hy almagtig is en selfs sterker is as die dood.

Terwyl Nebukadnesar gekyk het hoe Sadrag, Mesag en Abednego as straf in die brande oond sterf, het hy meteens verskrik opgespring en vir sy raadgewers gevra of hulle dan nie drie vasgebinde jongmans in die oond gegooi het nie, want hy het vier figure los in die oond gesien rondloop.

Nebukadnesar het hulle toe uit die oond geroep. Hulle het uitgekom. Ons lees verder in Dan.3:27 dat die vuur niks aan hulle kon doen nie, nie eers die hare op hulle koppe is geskroei nie. Hulle klere het selfs nie eers na vuur geruik nie.

Wat het gebeur daar in die oond?

God het in sy almag en sy genade en trou, as Verbondsgod, die gelowiges wat hom gedien het, uit die dood gered. Hy het daardie drie jongmans onder die ernstigste druk van die wêreld gered. Hy het hulle uit die dood gered.

Die heidense wêreld het daardie dag ‘n baie sterk en duidelike getuienis gekry van Wie God is. Eers het die drie jongmans van hulle geloof in God getuig. Daarna het God self deur die wonder van redding selfs uit die dood getuig dat Hy, ons Verbondsgod almagtig en getrou is.

Ons leef in hierdie sondige en stukkende land nie uit ons eie nie. Ons leef in die genadeverbond. Ons leef as mense wat dood in die mag van sonde was. Dit hoort tot die verlede. Jesus Christus het gekom. Hy het ons sonde op Hom geneem. Hy het vir ons aan die kruis gesterf. Deur sy dood het Hy ons uit die mag van die sonde verlos en ons sondeskuld voor God heeltemal weggeneem. Hy het vir ons uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy aan ons die ewige lewe met God gegee.

Elkeen van ons wat in 2021 opreg in God glo, is ook deur Hom uit die dood gered.

Nadat Jesus na die hemel opgevaar het, het Hy en sy Vader vir ons die Heilige Gees gegee. Die Heilige Gees het gekom om ewig by ons en in ons te bly. Hy gee aan elkeen wat verlos is, ‘n sterk, diep, opregte geloof in Jesus Cvhristus ons Verlosser en God ons Vader. Verder help die Heilige Gees ons om nie bang te wees nie, maar gee ons krag en liefde vir God en selfbeheersing.

Laat die Heilige Gees jou lewe beheers.

Leef deur die Heilige Gees met ‘n sterk geloof.

Moenie vir die druk van die wêreld skrik of bang wees nie.

Staan deur die Heilige Gees in ons sondige en stukkende land vir God op.

Wees ‘n getuie vir Jesus Christus, ons enigste Verlosser.

Leef in hierdie vreemde en moeilike tyd met die sekerheid: Die Here beskerm elke gelowige wat Hom, selfs onder die ergste druk, alleen dien.

Amen

Gebed

Klankbaan

Luister na die preek.