God roep jou. Hy roep jou deur sy Woord: Hy roep: Waar is jy? Met hierdie woorde roep Hy jou na Hom toe. Dat Hy roep, beteken daar is nog genadetyd. Antwoord op God se roep. Antwoord elke dag, dat jy kan lewe.
Tema: God, by Wie lewe is, roep ‘n sondige mens na Hom toe
Adam en Eva het in die volmaakte wêreld geleef; en al die diere saam met hulle. Die heel beste van hulle volmaakte wêreld, was dat hulle ‘n volmaakte verhouding met God gehad het. Hulle is na God se beeld geskep. Hulle het God reg geken, Hom uit hulle harte liefgehad en was bestem om ewig saam met Hom te leef. Die Here het hulle aangestel om sy skepping te bewerk en te bewaak. Hulle moes oor die hele skepping, oor al die diere en voëls heers.
In hierdie volmaakte wêreld het God gereeld met hulle gepraat en hulle met Hom.
Hierdie volmaakte verhouding met God en die volmaakte wêreld wat Hy geskep het, kan ons ons nie indink nie. Ons kan nie, want sonde het in Adam en Eva se lewens en in die wêreld ingekom. Adam en Eva het sonde met al die verskriklike gevolge in hulle lewe ingenooi.
Sonde verwyder jou van God af weg. Sonde het Adam en Eva se lewe met God heeltemal verander. Voorheen was hulle gereeld saam met God. Hy het met hulle gepraat en hulle met Hom. Na hulle sonde het hulle weggekruip vir die Here. Adam en Eva se sonde het hulle ver van God af verwyder.
Dit is vandag nog so. ‘n Mens mag dink jou sonde is nie so erg nie en dink jy sal in elke geval vergifnis ontvang. Die werklikheid is dat sonde jou van God af wegneem. Wie aanhou sondig, bly van God af weg. Weg van God af, is daar net die dood.
Wat Adam en Eva in werklikheid gedoen het, toe hulle die vrug van die boom van kennis van goed en kwaad geëet het, was dat hulle die dood oor hulleself en oor alle mense wat na hulle sou kom gebring het.
Hierdie verskriklike gevolg van sonde sien ons in baie mense se lewe.
Wanneer ons ongehoorsaam is aan die Here en sondig, is ons ook besig met ‘n lewe wat ons van die Here af verwyder en vir ons net die dood bring. Dit moet elkeen van ons en elke mens op aarde baie goed besef: Sonde verwyder jou van God af weg en weg van God is daar net die dood.
Sorg dat jy die Here se tien gebooie in Eksodus 20 goed ken en veral ook soos die gebooie in Sondag 34 – 44 verklaar word. So sal mens goed kan sien wat sonde is wat jou van God af wegneem. So sal jy weet wanneer sondig jy en is jy op die pad van die dood.
Wat het God gedoen na die sondeval?
Hy het soos gewoonlik teen die aand na Adam en Eva in die tuin gekom. Adam en Eva het weggekruip. Die Here het na hulle geroep en gevra: “Waar is jy?” (Gen.3:9).
Hierdie woorde van die Here was nie ‘n gewone vraag nie. God is alwetend en alomteenwoordig. Hy het presies geweet wat Adam en Eva gedoen het en waar hulle tussen die bome vir Hom weggekruip het.
Ons moet daarom dieper oor die Here se vraag nadink.
Die eerste wat ‘n mens opmerk, is dat die Here Adam en Eva nie soos met Korag deur vuur en Datan en Abiram deur ‘n skeur in die aarde laat sterf het nie. Nee, Hy het na hulle geroep.
God wat roep, is Hy wat ongeag Adam en Eva se verskriklike sonde, steeds genadig en vol liefde is. Adam en Eva het God se vyande geword en vir Hom weggekruip. Hy was van ewigheid af genadig en vol liefde. Hy het nie verander nie. Hy het hulle uit genade en liefde na Hom toe geroep.
Die mens van vandag, ons almal, is nie minder sondig as Adam en Eva nie. Ons verdien net soos hulle ook die dood. God is vandag steeds genadig en liefdevol. Hy straf ons nie, omdat ons so sondig is nie. Hy roep ons uit genade en liefde na Hom toe.
Hoe roep God ‘n mens na Hom toe?
In die verlede, dit is voor Jesus se koms na die aarde, het God mens op baie maniere geroep:
Na Jesus se koms, roep God mense deur sy Seun, Jesus Christus (Hebr.1:1). Wie Jesus is en wat Hy gedoen het vir ons en steeds doen, is in die Bybel neergeskryf. God roep jou dus deur sy Woord. Elke keer dat jy die Bybel oopmaak, roep God jou. Hy roep: Waar is jy? Elke keer wat jy in die erediens sit en na die Here se Woord luister, roep God jou: Waar is jy?
Deur God se genade en sy liefde, het ek ‘n Bybel om uit te lees.
Deur God se genade en liefde kan ek nog na ‘n erediens toe kom.
Deur sy genade en liefde kan ek hoor hoe Hy my na Hom toe roep.
Dat God Adam en Eva na hulle sonde en ongehoorsaamheid na Hom toe geroep het, beteken dat daar nog vir hulle genadetyd was.
God het presies geweet wat Adam en wat Eva gedoen het. Sy vrae aan hulle was daarom nie gewone vrae nie. Ons moet dieper daarna kyk.
Met sy vrae het die Here vir Adam en Eva geleentheid gegee om hulle sonde te besef en hulle te bekeer. Ongelukkig het die teenoorgestelde gebeur. Adam se antwoord op die Here se vraag aan hom was: “Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee en ek het geëet” (Gen.3:12). Eva se antwoord was: “Die slang het my mislei en ek het geëet” (Gen.3:13).
Adam het homself verontskuldig en Eva in werklikheid God ook verkwalik dat hy gesondig het. Eva het haar ook verontskuldig en die slang verkwalik.
Vandag, en veral in die tyd waarin ons leef, staan die mens met presies dieselfde gesindheid voor die Here. Dis die mens wat sondig, maar dan homself verontskuldig met woorde soos “ek is ook maar net mens” of “tye het verander” of “dit is darem nie so erg nie” of “maar baie mense doen dit dan”.
Werklike diep en opregte sondebesef voor God is vandag baie skaars. Die gevolg is dat bekering nie gebeur nie. Ons praat van bekering ja. Ons praat van daaglikse bekering. Ons weet daarvan. Ons weet ook dat God dit van ons verwag, maar dit gebeur nie.
Wanneer ek die Here my hoor roep: Waar is jy?, dan is dit nie tyd om my te verontskuldig nie. Dit is nie tyd vir redeneer nie. Wanneer die Here my deur sy Woord roep, is dit tyd om my sonde te besef en tot bekering te kom. Wanneer die Here roep, is dit tyd om met opregte sondebesef en ‘n hart vol berou oor my ongehoorsaamheid na Hom toe terug te kom.
Adam en Eva het nie na die Here toe teruggekom nie. Hulle was uiterlik by Hom, maar hulle harte was ver van Hom af. Die Here het hulle van Hom af weggestuur uit die paradys uit. Weg van die Here was die dood, die ewige dood.
Die mens wat vandag nie jou sonde besef nie en nie regtig tot bekering kom nie, is op dieselfde pad as Adam en Eva, die pad van die ewige dood.
Die mens wat jou sonde regtig besef en daarby besef hoe verskriklik enige sonde is, die mens wat jou bekeer en terugkeer na die Here, is die mens wat sal lewe.
Hoe kry mens dit reg om te antwoord wanneer God roep en na Hom terug te keer?
Uit jouself sal niemand dit regkry om na God toe terug te keer nie. Jy het hulp nodig. God help jou. Hy het daardie dag in die tuin van Eden beloof dat Hy die pad terug na Hom sal oopmaak. Hy het daardie belofte gehou.
Hy het eerder as om ons vir ons sonde te laat sterf, sy eie Seun laat sterf. Jesus Christus het deur sy dood aan die kruis ons sondeskuld weggeneem en ons van die mag van die sonde verlos. Hy het vir ons op die derde dag uit die dood opgestaan.Deur sy opstanding het Hy aan ons die nuwe lewe gegee.
Deur Jesus Christus is ek ‘n verloste mens, ‘n nuwe mens, wat weet wat sonde is en dat sonde my van God af weg verwyder.
Ek het ook die Heilige Gees ontvang. Deur die Gees se krag kan ek my sonde besef, kan ek met sonde breek, kan ek my bekeer en kan ek op hierdie manier terugkeer na God by Wie daar lewe is.
God roep vanoggend elkeen wat sy Woord hoor.
Hy roep jou elke dag deur sy Woord.
Besef dan jou sonde voor God.
Bekeer jou met die krag wat die Heilige Gees gee.
Keer terug na God toe by Wie daar vir jou lewe is!
‘n Lewe by God hier op aarde loop uit op ‘n lewe by God ewig in volmaakte hemelse heerlikheid!