Home Preke God Drie-Enig praat met sy kerk oor Jesus Christus

God Drie-Enig praat met sy kerk oor Jesus Christus

Datum: 2022-01-09
|
Kernverse: Op.1:4,5

ONTMOETING

Votum: Psalm 124:8

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood op gestaan het

Lof aan God: Sb.1-2/60:1,2,3

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34

Antwoord op die Wet: Ps.32:3

Gebed

VERKONDIGING

Sang:Sb.1-1/24:3,6

Lees: Openbaring 1:4-8

Kernverse: Op.1:4,5

Tema: God Drie-Enig praat met sy kerk oor Jesus Christus

Sang: Sb.1-2/60:1,2,3; Ps.71:9; Ps.32:3; Sb.1-1/24:3,6; Sb.1-1/24:1,7; Sb.2-4/33:1,2,3

 Inleiding:

Vanoggend is ons by die tweede preek oor die inleiding van Openbaring, die laaste boek van die Bybel. Reeds hier by die inleiding sal elkeen wat lees en luister besef dat wat God vir ons in hierdie boek sê, elke gelowige diep sal raak. Ons het elkeen nodig om alles te gee dat hierdie boek nie vir ons onbekend bly en ‘n boek wat ons nie mooi verstaan nie.

Tema: God Drie-enig praat met sy kerk oor Jesus Christus

  1. Die kerk het ‘n brief (profesie) van God gekry

Op die oog af lyk dit of Johannes hierdie brief geskryf het. Sy Naam staan aan die begin van die  brief geskryf. So was die gewoonte destyds. Ons kry die name van die skrywers gewoonlik aan die begin van die brief.

Maar dit is baie belangrik om te onthou wat in die eerste drie verse van hierdie laaste boek van die Bybel staan. Johannes het geskryf, ja, maar God het die openbaring aan sy Seun gegee. Jesus het sy engel gestuur. Die engel het Johannes alles laat sien. Die Heilige Gees het Johannes gelei en gehelp om hierdie laaste boek van God se Woord te skryf.

Ons het dus in werklikheid in Openbaring ‘n brief van God af. Hierdie brief is terselfdertyd ook ‘n profesie. Op.1:3 maak dit duidelik. ‘n Profesie se belangrikste kenmerk kry ons in dié woorde: “So sê die Here”.

Ons het dus in die boek Openbaring God wat met ons praat.

Verder het elkeen van ons nodig om raak te lees dat Johannes deur die Heilige Gees hierdie brief in die eerste plek aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië geskryf het. Hierdie gemeentes kry ons later in die hoofstuk. Maar…die Here het hierdie brief vir meer gelowiges as in daardie sewe gemeentes bedoel. Die Here God het doelbewus hierdie brief bewaar en deur die werk van die Heilige Gees in die Christelike kerk hierdie brief in sy Woord laat opneem. Ons het dus hier ‘n brief, ‘n profesie wat vir die kerk van Christus deur die hele geskiedenis oor die hele aarde bedoel is, ook vir Christus se kerk vandag, daarom ook vir hierdie twee gemeentes wat vanoggend in hierdie erediens saam is.

Dan kom ons by woorde wat regtig baie belangrik is: “Genade en vrede vir julle…” (Op.1:4).

Genade en vrede is sulke bekende woorde. Kom ons maak net seker elkeen van ons weet wat die Bybelse betekenis van die woorde is, wat die Here daarmee bedoel.

  • Genade – God is ons goedgesind, al verdien ons dit nie. Die ewige God se goedgesindheid beteken liefde vir ons, volmaakte verlossing en volmaakte vergifnis. Ons het nie gesoek nie, ons het nie gevra nie, ons het nie verdien nie, maar ons het genade gekry en kry steeds elke dag genade op genade.

  • Vrede – God sorg dat daar eenheid tussen Hom en ons is en dat niks meer tussen Hom en ons staan nie. Hierdie eenheid kom deur Jesus Christus wat deur sy dood en opstanding alles wegneem wat ons tussen God en ons opgestapel het. Saam met hierdie eenheid tussen God en ons kom daar nabyheid, rustigheid, sekerheid.

Soos ons deur Openbaring gaan, as die Here wil, sal ons dinge hoor wat erg is, soms baie erg en baie moeilik om te lees en na te luister. Dan sal dit nodig wees om vas te hou aan hierdie twee baie belangrike woorde waarmee hierdie brief begin – genade en vrede.

Kom ons hou dan deur die Heilige Gees vas aan God se goedgesindheid en die eenheid tussen Hom en ons, soos ons met hierdie laaste boek van die Bybel verder gaan. In hierdie twee woorde het ons God se gesindheid teenoor ons. Ons sien hier hoe God in sy hart oor ons, sy kerk voel. Wat God sê, behoort elke gelowige diep dankbaar te maak.

  1. God Drie-Enig is aan die Woord

Hierdie brief kom van God af. Hy maak Homself bekend aan ons, dat ons presies kan weet wie met ons praat en Hom goed kan ken.

God maak Homself so bekend:

  • Hy wat is en wat was en wat kom – Ander dele in die Bybel verduidelik self wat hierdie woorde beteken.

  • 3:14“Toe sê God vir Moses:’Ek is wat Ek is…’”

  • 90:2 – “Voordat die berge gebore is, voordat U die wëreld voortgebring  

                 het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God”.

Met hierdie woorde vertel en leer God ons wie Hy is: Hy is die ewige, onveranderlike, getroue God. Hierdie woorde gaan oor God die Vader.

  • Die sewe Geeste voor sy troon – Hoe moet ons hierdie woorde verstaan? Die Heilige Gees het Johannes by die Ou Testament laat aansluit. In die heilige deel van die tabernakel was die goue kandelaar met sewe arms met elkeen ‘n pit wat dag en nag moes brand. Hierdie lig het gewys op die lig wat van God af uitstraal deur sy Heilige Gees. Dan is sewe ook ‘n getal met ‘n baie sterk simboliese betekenis. Sewe is ‘n volheidsgetal wat hier wys dat die Heilige Gees volmaak is.

  • Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, die Heerser oor die konings van die aarde – Ons leer drie belangrike dinge van Jesus Christus.

  • Hy is die getroue Getuie – Van die eerste oomblik van sy lewe het Jesus Christus met sy lewe getuig dat Hy die Verlosser is wat God gestuur het – die nederige krip waarin Hy pas na sy geboorte gelê het, die vlug na Egipte, alles wat Hy die mense geleer het, sy bittere lydeing, sy verskriklike dood aan die kruis, sy opstanding uit die dood, sy hemelvaart, sy regering aan die regterhand van sy Vader, alles getuig dat Hy en net Hy die ware Verlosser is.

  • Die Eerste wat uit die dood opgestaan het – Hy is die Eerste en Enigste wat uit die dood opgestaan het en met sy krag as God die dood so ewig oorwin het.

  • Die Heerser oor die konings van die aarde – Jesus Christus sit aan die regterhand van sy Vader. Hy het die hoogste posies van mag en eer in die ganse skepping. Hy is die Hoof van die heelal en die Hoof van sy kerk. Sy Vader regeer alles en almal deur Hom. Hy is die werklike Heerser, Regeerder van alles en almal. Elke regeerder in die wêreld behoort Jesus Christus as Heerser te erken en Hom te vra hoe om in sy diens te regeer.

Ons het dus in hierdie brief, hierdie profesie ‘n geweldig belangrike brief. Die Drie-enige God is aan die woord. Hy praat met ons. Wanneer God praat, behoort die volgende te gebeur:

  • Ek het nodig om met al my aandag te luister.

  • Ek behoort gretig te wees om te hoor wat God Drie-enig vir my wil sê.

  • Wat ek gaan hoor, is so belangrik, dat ek die Heilige Gees nodig sal hê om te kan luister en te kan verstaan.

  • Wat ek hoor, sal ek deur die Heilige Gees in my met geloof moet aangryp en vashou.

  • Die gelowiges wat God hoor praat, sal met mekaar oor die brief, die profesie moet praat om mekaar te herinner aan wat gelees en gehoor is en mekaar moed in te praat.

Nou kom ons by die vraag: Waaroor praat die Drie-enige God met ons?

  1. Die brief gaan oor Jesus Christus

 Hierdie brief en profesie is nie net vir oë en ore bedoel nie. Hierdie brief is vir elkeen wat lees en hoor se hart bedoel. Daarom behoort elkeen van ons met hierdie gebed in die hart te luister na wat God sê: Heilige Gees maak my verstand oop dat ek kan verstaan, maak my hart oop dat ek kan glo en maak my mond oop dat ek kan vertel.

  • Hy het ons uit liefde verlos – Liefde is ‘n baie bekende woord. By Jesus Christus sien ‘n mens wat opregte ware liefde regtig is. Hy het ons deur sy bloed van ons sondes verlos. Hy het al my sonde op Hom geneem. Hy het in my plek voor sy Vader, die Heilige God, gestaan en my straf en my oordeel gedra. Hy het met my sonde in my plek aan die kruis gesterf. Dit is wat die woorde Hy het ons uit liefde deur sy bloed verlos, beteken.

  • Jesus Christus het die gelowiges, die kerk koninkryk en priesters vir God, sy Vader gemaak – Jesus Christus het elkeen wat in Hom glo, se lewe heeltemal verander. Die mens wat sy of haar lewe vir hierdie aardse bestaan gegee, eintlik geoffer het, is nou deur Jesus se dood en opstanding ‘n priester vir God. Ek gee nou my lewe, ek offer my lewe nou vir God. Slawe van die duiwel en die sonde het deur Jesus konings geword in die hemelse koninkryk. Ek is deur Jesus Christus ‘n verloste nuwe mens wat teen sonde veg en teen die duiwel weerstand bied met alles wat ek het. Hierdie wonderlike waarheid bring elkeen voor die vraag: Waarvoor of vir wie leef ek hier op aarde? Is ek priester, koning vir God?

  • Die heerlikheid en die krag is syne in ewigheid – Die gekruisigde Jesus Christus, wat opgestaan het, na die hemel opgevaar het en nou aan die regterhand van sy Vader regeer straal sy heerlikheid, dit is volmaakte koningskap uit. Net Hy het hierdie heerlikheid. Hy is self ook almagtige God wat die sonde, die duiwel, die wêreld en die dood oorwin het. Net Hy het hierdie krag. Hierdie heerlikheid en hierdie krag het net Hy en in ewigheid.

  • Hy kom weer en almal sal Hom sien – Hier kom ons nou by die grootste en belangrikste waarheid van ons tyd: Jesus Christus kom weer as hemelse Regter. Twee weke gelede het die wêreld Kersdag gevier. Gelowiges het die geboortedag van ons Verlosser herdenk. Die grootste deel van die wêreld het bloot as familie bymekaar gekom en saam geëet. Die vraag is; Wat maak ons met die hemelse Regter wat weer kom? Jesus is nie meer die Kind in die krip nie. Hy is die hemelse Regter wat weer kom en elke enkele mens sal Hom sien en voor Hom staan. Die miljoene mense uit al die volke van die aarde wat nie geglo het nie, nie wou glo nie, nie tyd wou maak vir Jesus Christus nie, sal met selfverwyt en rou en trane van spyt voor Jesus Christus staan. Al die trane sal tevergeefs wees, want die tyd van die finale oordeel het dan aangebreek.

  • Jesus Christus is self almagtige God in heerlikheid – Tot dusver (vs 4-7) het Johannes deur die Heilige Gees oor die Here Jesus geskryf. In vs 8 het ons die Here Jesus Christus self aan die woord. Ons Verlosser maak Homself hier as ewige en almagtige God bekend. Hy is die Alfa en Omega. Hierdie is die eerste en laaste letter van die Griekse alfabet. Dit beteken Jesus Christus is die Begin van die wêreldgeskiedenis. Johannes het in sy Evangelie oor Jesus Christus geskryf dat alles deur die Here Jesus ontstaan het (Joh.1:3). Hy is die Einde van die wêreldgeskiedenis. Wanneer Hy weer kom, gaan Hy hierdie hemel en aarde tot ‘n einde bring en ‘n nuwe hemel en nuwe aarde laat aanbreek. Alles wat tussen die begin en die einde van die wêreldgeskiedenis is onder Jesus Christus, die Seun van die lewende God se beheer.

Wanneer ‘n mens hierdie woorde in Openbaring lees, woorde wat nog net die inleiding is, sal elkeen besef dat ons ‘n geweldige en aangrypende boek voor ons oop het, ‘n boek wat in ‘n reeks preke ons harte dieper gaan raak as wat ons nou besef.

ANTWOORD

Sang: Sb.1-1/24:1,7

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Sb.2-4/33:1,2,3

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.