Home Preke God laat alles volgens sy tyd gebeur, nou en in ewigheid.

God laat alles volgens sy tyd gebeur, nou en in ewigheid.

Datum: 2023-05-28
|
Kernverse: Pred.3:11

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde

Lof aan God: Ps.150:1,2

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Levitikus 19:1-18

Antwoord op die Wet: Skb.9-3:1,2

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.90:1,2

Lees: Prediker 3:1-17

Kernvers: Pred.3:11

Tema: God laat alles volgens sy tyd gebeur, nou en in ewigheid

Sang: Ps.150:1,2; Ps.71:9; Skb.9-3:1,2; Ps.90:1,2; Ps.84:3,5,6 ; Ps.126:1,2

Inleiding:

Tyd, lewe en die ewigheid is waaroor die Prediker in hierdie deel geskryf het. Luister saam na wat die Heilige Gees vir ons deur Prediker oor hierdie belangrike dinge in elkeen van ons se lewe sê.

Tema: God laat alles volgens sy tyd gebeur, nou en in ewigheid

  1. Tyd kom van God af

Wanneer ons oor tyd dink en praat, dink en praat ons oor iets wat God geskep het.

God het die aarde geskep wat teen ongeveer 1600 kilometer per uur om sy eie as draai en teen ongeveer 107 000 kilometer per uur om die son draai. Die aarde wat teen hierdie geweldige spoed om sy eie as en om die son draai, veroorsaak dag en nag en die verskillende seisoene. Ons kan sê die aarde wat so draai, veroorsaak vir ons tyd. Dit is in werklikheid beter om te sê: God gee deur die aarde so te laat draai, vir ons dag en nag en die vier seisoene. Ons leef tussen dag en nag en tussen die vier seisoene. Dit beteken: Hy gee vir ons bepaalde tyd.

Die prediker het hierdie tyd waarrin ons geleef het, raakgesien, ondersoek en daaroor geskryf. Dit was vir hom swaar om hieroor te skryf. Hy het gesien wat alles in hierdie tyd gebeur. Die slotsom waartoe die Prediker gekom het, was dat die lewe een groot sirkelgang is van dinge wat oor en oor gebeur.

Ons kyk net na ‘n paar van die dinge wat die Prediker geskryf het:

Daar is ‘n tyd om gebore te word , ‘n tyd om te sterf – vs 2

Daar is ‘n tyd om te huil, ‘n tyd om te lag – vs 4

Daar is ‘n tyd vir oorlog, ‘n tyd vir vrede – vs 8

Al hierdie dinge kom en gaan en kom en gaan, oor en oor. Die Prediker het geskryf dat ons vasgevang is in hierdie sirkel van tyd. Hy het selfs sover gegaan as om te skryf dat alles in hierdie sirkel van die lewe tevergeefs is of tot niks kom. Dit is so, wanneer mens net kyk na wat op aarde gebeur. Die Prediker skryf van die lewe onder die son of lewe in hierdie wêreld.

Alles wat in hfst.3 staan, ken ons en het in ons leeftyd gebeur en gebeur steeds.

Vandag emeriteer ek, Akasia se predikant. Dit is nie ons gemeente se eerste predikant wat emeriteer nie. Ons gemeente is ook in hierdie sirkel van predikant wat bevestig word en predikant wat emeriteer. Ons is saaam met ander kerke in hierdie sirkelgang.

In ons kerke se nuutste Almanak, die amptelike statistiekboek, is die name van 142 predikante wat geëmeriteer het en nog lewe. Daar is 297 name van predikante wat reeds oorlede is, waarvan die meeste voor hulle gesterf het, geëmeriteeer het. Baie gemeentes ken hierdie sirkelgang van predikante wat kom en gaan en kom en gaan.

As ons net na lewe hier op aarde gekyk het hoe tyd kom en gaan, het ons waarskynlik ook soos die Prediker daarby uitgekom dat alles tevergeefs is.

Maar, ons het die Bybel, God se Woord. In sy Woord leer die Here ons dat dit Hy is wat tyd geskep het en vir elke ding ‘n tyd gegee het. God het aan elkeen van ons binne die sirkel van dag en nag en seisoen na seisoen lewe gegee. Omdat God die tyd gemaak het en lewe aan ons gegee het, is alles nie tevergeefs nie. Inteendeel! God het tyd geskep en lewe geskep binne tyd met ‘n bepaalde rede, ‘n bepaalde doel en plan.

2. Elkeen van ons het ‘n lewe om in tyd te leef

In sy ondersoek het die Prediker ‘n ander belangrike waarheid in hierdie lewe raakgesien: “God het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd” (Pred.3:11). In Hebreeus staan daar in werklikheid “God het elke ding mooi in sy tyd gemaak”. Alles gebeur nie net nie. God maak dat elke ding wat gebeur, in sy tyd wat Hy daarvoor gegee het, pas.

God het gemaak dat elke mens se lewe mooi in God se tyd pas.

2 April 1978 is daarom ‘n datum waarop iets mooi gebeur het. God het bepaal dat hier ‘n nuwe gemeente van gelowiges sal begin, die Gereformeerde kerk Akasia. Op 24 Julie 2005 het hier weer iets gebeur wat mooi in God se tyd gepas het. Ek is hier bevestig as Akasia se volgende predikant. Vandag 28 Mei 2023 gebeur ook iets wat mooi is en op God se tyd gebeur. Wanneer ek op 31 Mei, as die Here wil, emeriteer en op 1 Junie as hulpdienspredikant begin, pas elke ding wat op elkeen van die dae gebeur mooi in sy tyd.

Trouens, elke ding wat gebeur, pas mooi in sy tyd. Ons kan so sê, want God gee vir ons tyd en Hy gee vir elkeen van ons ‘n lewe om in hierdie tyd te leef.

Die lewe wat God gee, is ‘n baie spesiale lewe. Om presies te weet wat hierdie spesiale lewe is, gaan ons na die Nuwe Testament toe. God het sy Seun gestuur om in die tyd op die aarde te kom lewe. Jesus het deur ‘n almagtige wonder mens geword. Hy het ons sonde op Hom geneem en in ons plek voor die heilige God, sy Vader met ons sonde op Hom gestaan. God het ons straf en die oordeel oor sy Seun, laat kom. Jesus het baie swaar gely en ‘n baie wrede dood gesterf…alles vir ons.

Deur so vir ons te sterf, het Jesus ons skuld voor God betaal, ons van die mag wat sonde oor ons gehad het verlos en ons van straf en oordeel gered. Deur Jesus se dood aan die kruis het ons verlossing van sonde, vergifnis vir sonde en vryspraak van alle straf en oordeel by God gekry.

Jesus het ook vir ons uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy vir ons nuwe lewe, lewe met God, die ewige lewe gegee.

Ons kan sê: Deur Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het, het ons verloste nuwe mense geword. Dit is die lewe wat God vir ons gee in die tyd: Lewe as verloste nuwe mense.

Hierdie lewe is die lewe wat ons hier in Akasia het om te leef. God wat sy Seun gegee het en Jesus wat sy lewe gegee het, verwag van ons om as verloste nuwe mense te leef. Hy verwag dat elke gelowige in ons gemeente die lewe van ‘n verloste nuwe mens sal leef. Hy verwag dat ek as ‘n verloste nuwe mens die hulpdienspredikant in Akasia sal wees.

Dit is baie keer nie maklik om so te leef nie. Daar is baie wat ons liggaamlik en geestelik seer wil maak. Die duiwel met sy boosheid, die wêreldgees met sy losbandigheid en verleidelikheid en ons eie sondigheid is ons geestelike vyande. Ons vyande gebruik enigiets wat hulle kan kry om ons leed aan te doen, sodat ons moedeloos word, ongelukkig word, opstandig word, begin twyfel en selfs kleingelowig word. Hierdie dinge kan in ‘n gelowige se lewe gebeur. Hierdie dinge kan ook in ‘n hele gemeente se lewe gebeur.

Juis om hierdie rede het God die Vader en Jesus sy Seun die Heilige Gees gestuur. Die Heilige Gees is ons Trooster, ons Helper. Hy het gekom om ewig by ons te wees en in ons te bly. Die Heilige Gees in my gee vir my die sekerheid dat ek ‘n verloste nuwe mens is. Hy gee vir my die krag om as verloste nuwe mens te leef. Die Heilige Gees in my help my om die lewe te leef wat God vir my gee om te leef en dit is die lewe as ‘n verloste nuwe mens.

3. God stuur alles af op die ewigheid wat Hy bepaal het

God het ook vir elke mens ”n besef gegee van die onbepaalde tyd”(Pred.3:11). In hierdie vers vertel en leer die Here ons hoe om as verloste nuwe gemeente en verloste nuwe hulpdiens-predikant te leef. Die Here wil dat ons met die besef van die onbepaalde tyd, dit is die ewigheid sal leef. Hy leer ons en Hy help ons deur sy Woord, die Bybel en sy Heilige Gees.

Daar is soveel in die Bybel hieroor. Luister saam na ‘n paar voorbeelde:

  • Wanneer ek swaar kry – 2 Kor. 4:16,17“Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en ewig sal bly.”
  • Wanneer ek finansieel sukkel – Fil.4:12,13“Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is, van alees het ek ondervinding: Om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”
  • Wanneer ek met bekommernis leef – Fil.4:6,7“Wees oor niiks besorg nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
  • Wanneer ek nie gesond word nie – 2 Kor.12:8,9“Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
  • Wanneer ek sukkel met my sondigheid – Rom.7:19,24,25“Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek….Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.”
  • Wanneer die lewe op aarde te belangrik word – Kol.3:1“Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is,waar Hy aan die regterhand van God sit.”
  • Oor die ewigheid in die hemel – Fil.3:14“Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal, waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”

Hierdie is net ‘n paar verse in die Nuwe Testament waar ons Here ons vertel en leer en wys hoe om as verloste nuwe mense onder die omstandighede wat ons hier op aarde raakloop, te leef. Die hele Bybel is vol sulke kosbare verse.

Die belangrikste wat ons in hierdie verse leer is: Leef onder elke omstandighede met opregte geloof naby die Here Jesus. Naby Jesus ons Verlosser, by Hom is daar lewe, ware lewe, nou hier op aarde, maar veral in die hemel.

In die woorde van die Prediker: Daar is ‘n tyd om te omhels. Die tyd wat die Here vir ons hier in Akasia nog gee, is ‘n tyd om mekaar te omhels en saam die lewe te leef wat die Here vir ons gegee het en wat Hy van ons verwag. Kom ons leef dan saam naby Jesus Christus hier op aarde. Kom ons wag saam op die dag wanneer Jesus Christus, ons Verlosser uit die hemel sal kom.

Wanneer ons hierdie lewe leef, sal ons gereed wees om Jesus te ontmoet, om Hom te sien en te hoor. Ook daardie dag is ‘n dag wat God bepaal het. God stuur alles af op daardie dag, ook hierdie tyd wat ons in Akasia nou ingaan.

ANTWOORD

Sang: Ps.84:3,5,6

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Ps.126:1,2

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.