Inleiding:
Johannes se eerste brief is ‘n brief waarin die Here ons van sy liefde en sy genade vertel, waarin Hy ons moed inpraat en aan ons geloofsekerheid gee. Vanoggend is ons by die deel van Johannes se brief waar ons Vader ons vertel en leer dat ons sy kinders is en wat Hy van ons verwag.
Tema: GOD NOEM ons is sy kinders en VERWAG dat ons soos sy kinders sal leef
God noem ons sy kinders
Die derde hoofstuk van hierdie brief van Johannes begin met van die wonderlikste woorde wat ‘n mens in hierdie lewe sal hoor. Luister saam daarna: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook” (1 Joh.3:1).
Kom ons kyk na hierdie woorde, wat een van die kernverse vir vanoggend se boodskap is.
Sy Woord is lewend en kragtig
God noem ons sy kinders. God het gepraat. Sy Woord is lewend en kragtig. Sy Woord is lewend. Sy Woord is nie net woorde uit sy mond nie en ook nie net woorde op die bladsye van die Bybel nie. Sy Woord lewe. Sy Woord is kragtig. God se Woord het die krag om tot stand te bring wat Hy sê.
Wanneer God praat, gebeur wat Hy sê
Wanneer God praat, gebeur wat Hy sê moet gebeur. So lewend en so kragtig is sy Woord. Dit is waar van elke woord wat in die Bybel staan.
Ons sien dit in die skepping in die begin en in die herskepping van sondaars
Die skepping in die begin en die herskepping of nuwe skepping van sondaarmense wys duidelik hoe kragtig God se Woord is.
Kom ons dink eers terug aan die skepping. Ons kyk na net twee voorbeelde.
1:3 – “Toe het God gesê:’Laat daar lig wees!’ En daar was lig.”
3:9 – “Toe het God gesê:’Laat die waters onder die hemel op een plek bymekaar kom, sodat die droë grond sigbaar word’. So het dit gebeur.”
Elke keer het gebeur wat God gesê het.
Nou kyk ons na die herskepping.
7:14 – “…’n Jong vrou sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring en sy sal Hom Immanuel noem.”
1:22,23 – “Dit het alles gebeur, sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:’Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.’ Die Naam beteken God by ons.”
Met dieselfde Woord waarmee God met die skepping gepraat het, sodat alles wat Hy gesê het, gebeur het soos Hy gesê het dit moet, het Hy deur sy profeet Jesaja gepraat en deur die engel wat Hy uit die hemel na Josef gestuur het. Presies wat die Here deur Jesaja en deur die engel gesê het, het gebeur.
Met presies dieselfde Woord, praat God weer. Hierdie keer sê Hy dat ons, dit is elkeen met ware geloof in God in sy of haar hart, sy kinders is.
Omdat God sê ons is sy kinders, is ons sy kinders.
Op grond van Jesus se kruisiging en opstanding noem God ons sy kinders
Dit is wonderlike genade wanneer God ons sy kinders noem. Niemand is vanselfsprekend sy kinders nie. Elke mens op aarde is ook nie ‘n kind van God nie.
Hoe gebeur dit dat ons wat hierdie woorde in 1 Joh.3:1 lees en hoor, seker kan wees dat ons sy kinders is?
God het sy eniggebore Seun na die aarde gestuur. Jesus Christus het mens geword. Hy het ons sonde op Hom geneem. Met ons sonde op Hom het Jesus Christus baie swaar gely en ‘n verskriklike dood aan die kruis gesterf. Deur sy dood het Hy al ons sonde voor God weggeneem. Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan. Hy het die dood oorwin en aan ons die nuwe lewe, die ewige lewe by God gegee.
Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser is die REDE waarom God ons uit genade sy kinders noem!
Wat Hy ons noem, dit is ons: Kinders en erfgename
Die Vader in die hemel noem ons sy kinders en ons is sy kinders. Ons is kinders en erfgename van Hom. Ons leef nou elke dag onder sy sorg, sy liefde en sy genade. Ons kan, as kinders van ons Vader, nou reeds seker wees dat ons erfgename van die ewige lewe is. Die Heilige Gees in ons, gee ons hierdie sekerheid.
Dit is wonderlike genade om ‘n kind van die lewende God genoem te kan word, en dit deur God self. Hierdie genade en hierdie sekerheid gee soveel troos in ‘n sondige en stukkende lewe.
Hierdie genade en sekerheid om ‘n kind van die hemelse Vader te wees, bring ook ‘n baie groot verantwoordelikheid mee.
Hy verwag dat ons soos sy kinders sal leef
Aan die einde van hoofstuk twee en deur die hele hoofstuk drie, maak ons Vader aan ons bekend dat Hy wil hê dat ons soos sy kinders sal leef en ook hoe Hy wil hê ons as sy kinders sal leef.
Kom ons kyk saam daarna.
Leef deur die Gees in ‘n innige verhouding met God – 2:28
Ons Vader wil dat hê dat ons in Jesus Christus, sy Seun sal bly en deur sy Seun ook in Hom, ons Vader sal bly. Hoe bly ek in Jesus en my Vader in die hemel? Die woord “in” beteken “in ‘n innige verhouding”. Ek bly in Jesus Christus deur ‘n innige geestelike verhouding met Hom te hê.
‘n Innige geestelike verhouding met Jesus Christus beteken –
Ek glo met my hele hart net in Hom as my enigste Verlosser.
Hy is in my hart en in my gedagtes.
Ek het Hom lief met my lewe.
Ek wys my liefde deur Hom te dien en te gehoorsaam.
Wanneer ek so ‘n innige verhouding met Jesus Christus het, bly ek in Hom en deur Hom ook in my Vader in die hemel.
Leef rein – 3:3
As kind van God leef ek rein. Rein is om nie sonde te doen nie. Ongelukkig leef ek nog in ‘n sondige wêreld en ek is self nog sondig. Dit beteken nie ek hoef nie rein te leef, omdat dit nog nie vir my moontlik is nie. Inteendeel! Ek leef rein op die volgende manier –
Ek ken God se wet baie goed, sodat ek my sonde kan ken.
Ek leef met die sekerheid dat Jesus Christus my van al my sonde verlos het.
Ek veg met alles wat ek het teen die duiwel, die sondige wêreld en my eie sonde.
Ek veg teen die verkeerde deur ‘n lewe van bekering te leef, waar ek breek met sonde en al hoe nader aan God en al hoe meer vir Hom leef.
Deur die Heilige Gees wat my lei, leef ek ‘n lewe van heiligmaking deur in alles nie na my sondige wil nie, maar na God se wil te vra en sy wil te doen.
Moenie deur die duiwel mislei word om sonde te doen nie – 3: 7,8
Die duiwel is ‘n baie gevaarlike vyand van elke kind van God. Hy wil my van my Vader laat wegdwaal. Hy sal my nie openlik laat wegdwaal nie. Nee, hy probeer my mislei om sonde te doen. As kind van God het ek nodig om in die krag van die Heilige Gees die duiwel te weerstaan. My Vader gee die belofte dat die duiwel dan van my af sal wegvlug (Jak.4:7).
Wees lief vir mekaar – 3:11
My Vader wil dat ek sy groot gebod sal gehoorsaam. Hy vra van my om vir medegelowiges lief te wees. Die woord vir liefde beteken “om soveel om te gee dat jy bereid is om opoffering te maak vir ‘n ander gelowige”. Die liefde waarvan Johannes in sy brief skryf, is liefde vir medegelowiges. Elkeen van ons in ons gemeente moet daaorm helder en duidelik besef: Ons Vader in die hemel wil hê dat ons mekaar lief sal hê.
Liefde mag nie net woorde wees nie, maar moet tot dade oorgaan – 3:18
Baie belangrik: Liefde mag nie net by woorde bly nie. Die woord vir liefde, wat die Heilige Gees Johannes laat skryf het, is ‘n woord wat beteken dat elkeen wat hoor en lees, iets moet doen. Liefde mag nie net lippetaal wees nie.
My Vader het uit liefde gedoen – Hy het sy Seun gegee (Joh.3:16).
Jesus Christus het uit liefde gedoen – Hy het sy lewe vir my afgelê (Joh.15:13).
My Vader vra nou van my om ander gelowiges lief te hê en my liefde met dade te wys.
Ons leef in ‘n land en wêreld waar die liefde wat God die Vader vra, baie min geleef word. Die rede waarom ons land en die wêreld lyk soos dit lyk, is die min liefde, die min dade van omgee.
Ons as kinders van Ons Vader het ‘n baie groot verantwoordelikheid om ‘n sterk getuienis te gee dat ons as gemeente mekaar regtig liefhet.
Bewaar sy gebooie – 3:22-24
God is ook duidelik oor hoe ons ons liefde vir mekaar moet wys. Ons het sy gebooie. Ons kry God se gebooie in Eks.20:1-17 en Dt.5:6-21. Dan verduidelik Jesus Christus die gebooie in sy Bergrede wat ons in Mt.5-7 kry. In die Heidelbergse Kategismus kry ons van Sondag 34 tot Sondag 44 die verduideliking van die Here se gebooie.
Indien ek hierdie dele in die Bybel en die dele in die Kategismus nie ken nie, sal ek mos nie God se gebooie kan bewaar nie. Daarom is dit nodig dat ek my Vader se gebooie God sal ken. Ek sal dan sy gebooie in my verstand en my hart kan bewaar. Met sy gebooie in my gedagtes en my hart, sal ek Hom uit liefde kan gehoorsaam.
Ons leef in ‘n tyd van losbandigheid en wetteloosheid. Elke dag sien en hoor ‘n mens meer as genoeg voorbeelde hiervan. Paulus het eeue gelede geskryf “ons leef in ‘n goddelose tyd” (Ef.5:16). Die tyd het nie verander nie. Ons leef steeds in ‘n goddelose tyd.
Ons is kinders van die lewende God, ons Vader in die hemel.
Sy Seun het ons nuwe mense gemaak.
Die Heilige Gees in ons lei en help ons om nuut te leef.
Luister dan na jou Vader in die hemel.
Doen wat Hy van jou vra.
Leef saam met al die gelowiges in ons gemeente en al die gelowiges wat jy ken, as kinders van ons Vader in die hemel.
Gebed
Gebed vir die Here se seën: Drie-enige God: Vader, Seun en Heilige Gees, gee ons u liefde, u genade en u gemeenskap, want ons het dit so nodig.
Amen