ONTMOETING
Votum: Ps.121
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.98:1,4
Geloofsbelydenis: Nicea
Sang: Sb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34 en Sondag 42
Antwoord op die Wet: Ps.25:3
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.31:12,14
Lees: Openbaring 15
Kernvers: Op.15:1
Tema: God se finale oordeel oor die wêreld wat nie wou luister en nie wou glo nie
Sang: Ps.98:1,4; Sb.12-3:1,2; Ps.25:3; Ps.31:12,14; Ps.45:1,3,4,5,16; Ps.68:8,15
Inleiding:
Wanneer ‘n mens Openbaring lees of na die boek luister, is die volgende twee dele uit die Bybel, die Ou en die Nuwe Testament baie belangrik om te onthou:
Lev.26:21 – “En as julle jul teen My versit en na My nie wil luister nie, sal Ek meer plae op julle lê, sewevoudig volgens julle sondes”.
Op.1:3 –“Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby.”
Ons is vanoggend in Op.15 en 16 by die openbaring van God se finale oordeel wat kom.
Tema: God se finale oordeel oor die wêreld wat nie wou luister en nie wou glo nie
Opregte gelowiges het sekerheid van ons saligheid (15:1-4)
Aan die einde van Op.14 het ons die gesig gekry van die Seun van die Mens, dit is Jesus Christus se finale oordeel. Hy het sy gelowiges wat aan Hom behoort na Hom toe geneem. Hy het sy engel opdrag gegee om almal wat nie aan Hom behoort nie, bymekaar te maak. Die beeld van die parskuip en die bloed wat vloei wys op die vernietigende eindoordeel van die Hemelregter.
In Op 15 het ons ‘n ander groot en wonderbaarlike teken in die hemel wat Johannes gesien het. Johannes het sewe engele gesien wat die sewe laaste plae bring. Johannes verduidelik ook hierdie laaste sewe plae: Daarmee het die toorn van God sy einde bereik. Sewe is ‘n volheidsgetal. Die sewe engele met die sewe plae, beteken dat God se finale oordeel aangebreek het. Sewe beteken verder dat die oordele volmaak sal wees. God se oordele sal volmaak verskriklik, volmaak erg, volmaak vernietigend en volmaak pynlik en volmaak dodelik wees.
Ons is daarom hier by woorde wat erg is om te lees en na te luister.
In Op 15 en 16 het Johannes die aanloop tot die heilige God se finale oordeel en die oordeel self neergeskryf. Ons kan hierdie gesig in drie dele verdeel: Die see van glas, die Here stuur sy engele uit die hemeltempel, die sewe plae.
Op.15:1-4 – Na hy die sewe engele gesien het het Johannes “iets soos ‘n spieëlgladde see met vuur” daarin gesien. Hier het ons nodig om te verstaan wat die verskillende beelde en simbole beteken. Nie elke gebeurtenis se spesiale betekenis is aan ons bekendgemaak nie. Waar ons uit die hoofstukke self en uit die res van die boek en die Bybel, ‘n beeld kan verstaan, is dit nodig om die betekenis te ken en te glo. Voor die verskriklike oordele het die Here Johannes eers ‘n gesig laat sien wat troos, wat rustig maak, wat sekerheid gee.
Die see, is die volke, die mense. Die bose dier waarvan ons in Op.13 gelees het, het uit die see, uit die sonde mensdom gekom. Hierdie see is spieëlglad. Daar is geen onstuimigheid en geen onrus nie. Hierdie see wys eerder op die gelowiges wat gered en salig is, na Jesus Christus weer gekom het en as Hemelregter alles en almal geoordeel het. Met hierdie gesig gee God die sekerheid van al die gelowiges se ewige saligheid.
Die mense by die see van glas, is die gelowiges in Jesus Christus. Deur opregte saligmakende geloof, wat die Heilige Gees gee, oorwin Christengelowiges die duiwel en sy bose magte. Die Here leer ons hierdie in sy Woord –
Jak.4:7 – “Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug”.
1 Joh.4:4,5 – “want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?”
Hierdie mense het die dier en sy beeld en die getal van sy naam oorwin. So baie keer lyk dit vir ons op aarde of ons geloof nie help nie en of mens met jou geloof in Jesus Christus niks bereik nie. Dit lyk tans in Suid-Afrika of die gelowiges wat saligmakende geloof in Jesus Christus het, al minder word. Vanuit die hemel gesien, wat die werklikheid is, lyk die Christene se geloof heeltemal anders. Die dier is die duiwel en sy antichristelike mag, sy beeld is die vals profeet en sy getal is die mensdom wat in sondige hoogmoed aan mense die ereplek op aarde gegee het.
Die oorwinning sal behaal word deur geloof in Jesus Christus God se Seun as ons enigste Verlosser, deur met die Heilige Gees se hulp nie te luister na die vals profeet wat met soveel oortuiging gepreek het dat die ware Jesus gekom het om in al ons behoeftes van ons aardse lewe te voorsien, sodat elkeen wat in Hom glo gesind en ryk sal wees nie, wat deur die Heilige Gees nie aansien en eer onder mense gesoek het nie, dit ook nie aan mense gegee het nie, maar met kinderlike geloof God alleen al die eer gegee het.
Ons kan sê die oorwinning kom vir Christengelowiges wat deur die Heilige Gees by die Bybel bly en in Jesus Christus ons Verlosser alleen glo. God se genade en liefde deur Jesus Christus is die rede waarom hierdie mense wil sing. God help hulle om te sing en gee vir hulle die musiekinstrumente. ‘n Siter is ‘n snaarinstrument om die Here se naam met liedere groot te maak en te prys.
Die gelowiges wat salig in die hemel is, het die lied van Moses, dit is ook die Lied van die Lam, die gekruisigde Jesus, gesing. Moses wys na die verlossing uit Egipte en die wonderverlossing van Israel deur die Rooisee. Die diepste betekenis van die uittog uit Egipte en die deurtog deur die Rooisee, is Jesus Christus wat ons verlos van sonde uit die dood. Hierdie lied gee aan die allerhoogste God die eer.
Die mense by die spieëlgladde see (Op.15:2), die oes wat die Seun van die mens ingesamel het (Op.14:15) en die honderd vier en veertig duisend (Op.14:1) is dieselfde skare gelowiges wat met Jesus Christus se wederkoms by Hom in die hemel sal wees.
Die vuur in die see beteken dat die vyande wat die verbondsvolk leed wil aandoen, veroordeel en vernietig word. ‘n Goeie voorbeeld hiervan in die geskiedenis is die Egiptiese leër wat in die Rooisee verdrink het.
God laat sy finale oordeel oor die aarde aanbreek (15:5-16:1)
Na hierdie eerste teken het Johannes die tempel in die hemel gesien.
Johannes het gesien dat die tempel in die hemel, die woonplek van God oopgemaak is. Sewe engele wat die sewe plae bring het uit die tempel uitgekom.
Dat die engele uit die hemeltempel kom, beteken dat God hulle stuur om sy oordeel te voltrek. Die getal sewe is ‘n volheidsgetal. Die getal sewe beteken God se oordeel is finaal en volmaak.
Soveel gelowiges op aarde wou nie weet dat God heilig is en sonde met heilig erns nie verdra nie en met die dood veroordeel. Die vals beeld sal aan die einde met God se oordeel ontmasker en vir ewig in die niet verdwyn.
Die engele het priesterklere aangehad. Met die sewe plae wat hulle in opdrag van God sal uitstort sal die aarde en sy mense in die vuur van God se oordeel geoffer word.
Een van die vier lewende wesens het toe aan die sewe engele sewe goue bakke gevul met die toorn van die ewige God. Die vier lewende wesens verteenwoordig die aarde. Die teken wys daarna dat die hele aarde deur die eindoordeel geraak sal word.
God se almag, sy heerlikheid en sy heiligheid het die hemeltempel gevul. Aan die einde van vs 8 noem Johannes ‘n baie belangrike waarheid: “…en niemand kon in die tempel ingaan voordat die sewe plae van die sewe engele nie hulle einde bereik het nie”. Hierdie woorde beteken wanneer die finale oordeel aanbreek, is die oordeel finaal.
Dat die oordeel finaal is, beteken: Daar is geen tyd meer vir offers en vir gebede vir versoening en vergifnis nie. Dit is ‘n verskriklike tyd, maar daar kom so ‘n tyd in die geskiedenis dat die tyd vir die mensdom om vir verginfis te bid vir goed verby is. Dit is die tyd vir die almagtige en heilige God se oordeel.
Sy oordeel oor die ongelowige mensdom is finaal en vernietigend (16:2-21)
Met beelde van die sewe engele met hulle sewe bakke wat elkeen uitgooi, beskryf Johannes deur die Heilige Gees die finale eindoordeel van God.
Die eerste engel het sy bak op die land uitgegooi – Kwaadaardige en pynlike swere het aan die mense uitgekom. Die heilige God tref die mensdom met pyn en siekte.
Die tweede engel het sy bak in die see uitgegooi – Die see het soos die bloed van ‘n dooie, dit is gestolde bloed geword. Die seelewe word uitgewis.
Die derde engel het sy bak in die riviere en waterbronne uitgegooi – Die water het ook bloed geword. Water is lewe. Lewe op aarde word onmoontlik.
Die vierde engel het sy bak op die son uitgegooi – Die son het die vermoë gekry om die mense te brand. Die skroeiende son pynig die mense op aarde, sodat dit al moeiliker word om te lewe.
Die vyfde engel het sy bak op die troon van die dier uitgegooi – Daar het duisternis oor die koninkryk. God tree direk op teen die duiwel en sy bose ryk. Die bose staan magteloos voor die heilige God se oordeel. Die duiwel, die wêreld, die antichris verloor hulle mag om mense van God af weg te lei. Hulle einde breek aan.
Die sesde engel het sy bak oor die groot Eufraatrivier uitgegooi – die rivier het opgedroog. Drie vals profete het uit die bekke van die draak en die dier en uit die mond van die vals profeet gekom en hulle het die konings van die wêreld bymekaar gemaak om teen God te veg. Die Eufraat is beeld van die skeiding tussen die Ooste en die Weste. Geloof in Jesus Christus word al minder in die Weste en die sondige wêreldse manier van lewe al meer. Leiers in die Westerse wêreld het hier ‘n belangrike rol. Daar is nie neutrale grond nie. ‘n Mens is of vir Christus of vir die sondige wêreld. Die manier van doen in die Weste wys al minder ‘n lewe vir Christus. Hierdie wêreldse gesindheid maak die deur oop vir baie ander gelowe en gode uit veral die Ooste. Ons sien dit reeds gebeur. Ons het nodig om te besef dat ons hier met beelde en tekens te doen het. Elkeen wat 16:16 lees, moet oppas om Armageddon as ‘n plek in die toekoms te wil sien. Armageddon wys eerder op die geweldige stryd wat nou reeds tussen die kerk van Christus en die bose magte aan die gang is (Ef.6:12) en sal uitloop op die wederkoms van Jesus Christus waar die goddelose finaal vernietig sal word en die Christengelowiges ewig salig sal wees.
Die sewende engel het sy bak in die lug uitgegooi – Weerligstrale, dreunings en donderslae het gekom. Die groot stad is in drie dele geskeur en ander stede het inmekaar gestort. Eilande en berge het verdwyn. Haelstene van vyftig kilogram het op die mense geval. Hierdie teken wys op die geweldige en vernietigende oordeel van God wat kom. Die hemel en die aarde soos ons dit nou ken, sal dan tot ‘n einde kom.
By wat reeds gesê is, kan ons oor die sewe plae, die eindoordeel nog die volgende belangrike dinge sê:
Die plae kom oor die mensdom wat nie in Jesus Christus geglo het nie en God nie gedien het nie. Die plae veroorsaak ontwrigting, pyn en vernietiging. Die aanloop tot die plae sien ons nou reeds. Die volle geweld daarvan kom nog.
Voorheen is ‘n derde elke keer aangetas. Met die eindoordeel word die hele goddelose wêreld en al die ongelowige mense geraak. Die heilige God se oordeel is dan volmaak en finaal oor alles en almal.
Die mensdom se reaksie op hierdie plae was om God se heilige Naam te laster. Verharde harte verander nie, nie in ons tyd nie, nie in die toekoms nie. Die Here se gebod oor die laster van sy Naam klink so:”Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik nie ongestraf laat bly nie” (Eks.20:7). Met sy eindoordeel tree die waarskuwing van God se derde gebod in werking.
Die laaste tyd wanneer die goddelose mensdom al verder van God wegdwaal, word dit vir die Christengelowiges al moeiliker. Niks gebeur buite Jesus Christus om nie. Hy troos sy kerk en gee sy kerk geloofsmoed om aan te hou met die ware geloof wat ons by die Heilige Gees gekry het. Hy kom onverwags. Wie aanhou glo, sal nie onverwags gevang word nie (vs 15).
Luister weer na die twee verse waarmee die preek begin het:
Lev.26:21 – “En as julle jul teen My versit en na My nie wil luister nie, sal Ek meer plae op julle lê, sewevoudig volgens julle sondes”.
Op.1:3 –“Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby.”
ANTWOORD
Sang: Ps.45:1,3,4,5,16
Gebed
Sang: Ps.68:8,15
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen