Home Preke God se oordele oor die mense van die aarde

God se oordele oor die mense van die aarde

Datum: 2022-04-10
|
Kernverse: Op.8:13; 9:1,13,14

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.

Lof aan God: Ps.33:1,5,6

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34 en Sondag 40

Antwoord op die Wet: Ps.119:6,7

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.14:2,3,4,5

Lees: Openbaring 9

Kernverse: Op.8:13; 9:1,13,14

Tema: God se oordele oor die mense van die aarde

Sang: Ps.33:1,5,6; Ps.71:9; Ps.119:6,7; Ps.14:2,3,4,5; Ps.68:1,2; Ps.68:13,15

Inleiding:

In Openbaring 8 tot 11 is ons besig met God se oordeel in die wêreldgeskiedenis. Die Heilige Gees het hierdie oordele nie laat neerskryf om ons as Christengelowiges angstig of moedeloos te maak nie. Onthou die woorde in die begin van die boek: “Salig is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en ter harte neem wat daarin geskryw staan, want die eindtyd is naby” (Op.1:3).

Tema: God se oordele oor die mense van die aarde

  1. Die Here is die almagtige en heilige God

Wanneer ons hierdie deel in Openbaring oor die oordele van God lees, lees ons wat Jesus Johannes laat sien het. In Op.4:1 het Jesus vir Johannes gesê: ”Kom op hierheen, en Ek sal jou wys wat hierna moet gebeur.” Johannes is deur die Heilige Gees in sy gees opgeneem om in die hemel te sien wat alles gebeur. Wat ons in Openbaring lees is die werklike wêreldgeskiedenis. Ons kan sê wat ons lees, is die hemelse waarheid.

Wat verder baie belangrik is, is die halfuur stilte wat in die hemel was, nadat die engel die sewende seël oopgemaak het. Met die oopmaak van die sewende seël het Johanes die sewe engele voor God se troon met sewe trompette sien staan. Hierdie engele elkeen met ‘n trompet was die oordele van God wat in die wêreldgeskiedenis oor die mense op die aarde sou kom. Almal in die hemel het geweet hierdie oordele is baie erg, want dit is die oordele van die heilige God. Hy verdra sonde glad nie, nie vir ‘n deel van ‘n sekonde nie. Almal in die hemel het ook geweet dat die heilige God die mense op aarde wat in sonde aanhou bly leef het, vernietigend sou oordeel met die ergste oordeel. Wat God se oordele baie erg maak, is dat Hy Satan en sy bose magte gebruik om die “bewoners van die aarde” te pynig en dood te maak.

Omdat die hemel die heilige God geken het, het die hemel stil geword voor die almagtige en heilige God.

En die aarde? Van stilte voor die almagtige en heilige God is daar nie sprake nie. Die mense van die aarde ken God nie, weet min of niks van sy almag en sy heiligheid nie, het lankal nie meer ontsag vir Hom nie en word daarom nooit stil voor Hom nie.

Is die kerk anders as die wêreld?  Word gelowiges stil voor die almagtige en heilige God in ons huise? Word ons stil voor God wanneer ons gemeente saam is? Kan elkeen van ons sê: Ek het oral en altyd net die hoogste ontsag vir die almagtige en die heilige God?

  1. God oordeel die sondige mense op aarde met pyn en dood

In Op.9 word dit duidelik waarom die hemel stil geword het voor God sy oordele oor die mense op aarde laat kom het. Wie hierdie hoofstuk lees, sal verstaan waarom die arend met ‘n harde stem geskree het: “Wee, wee, wee die bewoners van die aarde wanneer die ander drie engele op hulle trompette blaas” (Op.8:13)

In Op.9:1-12 kry ons die vyfde trompet

Die vyfde engel blaas die trompet wat aan hom gegee is. Johannes het die ster op die aarde gesien wat uit die hemel geval het. Hy het die ster gesien nadat hy geval het.

Die sleutel van die skag na die onderaardse diepte is aan die ster gegee.

Die trompet wat geblaas word is God se oordeel. In Op.8:13 het die arend dit uitgeroep en geskree dat ellende op “die bewoners van die aarde” wag. Hierdie naam “bewoners van die aarde” is die ongelowiges wat nie in God glo nie en in sonde aanhou leef. God se oordele in die wêreldgeskiedenis is op hierdie mense gerig.

 Johannes het ‘n ster gesien wat uit die hemel op die aarde geval het. Die woord “geval” is in die Grieks so geskryf dat dit beteken die ster het uit die hemel geval en sal buite die hemel bly.

Wie of wat is die ster?

Hierdie is ‘n beeld, is belangrik om te onthou. Dan is die belangrike reël oor dele wat nie vir my as gelowige duidelik genoeg is nie, om in die res van die Bybel te soek na ‘n ander deel wat help om hierdie deel waarmee ek besig is, duidelik te maak.

Die ster is ‘n persoon, want hy het ‘n sleutel gekry en die onderaardse dieptes oopgesluit. Die ster het uit die hemel geval sonder dat Johannes dit gesien het. Watter persoon het uit die hemele geval om buite te bly? Dit is die duiwel. Lk.10:18 help ons hier – “Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val” het Jesus vir sy dissipels gesê, nadat hulle teruggekom het van die dorpe en plekke waarheen Jesus hulle gestuur het. Ons kry dit ook in Op.12:9 dat die Satan uit die hemel gegooi is.

Satan het na sy opstand teen God in die hemel en na hy die eerste twee mense verlei het om sonde te doen, steeds toegang tot die hemel gehad. Ons lees in Job dat hy saam met die ander hemelwesens voor God moes verskyn (Job 1:6). Satan het in die hemel God se kinders en erfgename in die genadeverbond aangekla dat hulle te sondig is om verlos te word.

Ons kan vra: Wanneer is die Satan, die groot aanklaer van gelowiges uit die hemel op die aarde gegooi? Daar is ‘n antwoord op die vraag.Toe Jesus Christus aan die kruis gesterf het, het Hy al die sondeskuld ten volle betaal (Joh.19:30). Toe Hy uit die dood opgestaan het, het Hy aan elkeen wat aan Hom behoort die nuwe lewe, die ewige lewe gegee (1 Pet.1:3,4). Nadat Hy na die hemel opgevaar het, regeer Hy ons lewe en bid Hy vir ons by sy Vader (Hebr.9:24).

In die hemel is daar nie plek vir die gekruisigde Jesus wat uit die dood opgestaan het en die Satan nie. JESUS CHRISTUS, DIE OORWINNAAR oor die duiwel die sonde en die dood, is die REDE waarom God die duiwel uit die hemel gegooi het, om nie weer terug te keer nie, tot die dag dat die hemelse Regter kom om finaal te oordeel en die Satan en al sy volgelinge in die hell te gooi.

 Die onderaardse diepte is die woonplek van die duiwels. Johannes het gesien dat uit die onderaardse diepte rook en sprinkane gekom het (vs 2). Die rook en die sprinkane is die bose magte waarvan die Here ons in Ef.6:12 leer. Die sprinkane wat soos oorlogsperde gelyk het met krone wat na goud gelyk het en alles wat daarmee saamgaan, beteken die duiwel en sy magte het die vermoë en die mag om die mens wat nie deur die Heilige Gees met ‘n opregte hart in Jesus Christus glo nie, te verlei om weg van God af te leef.

Die hare soos vroue en tande soos leeus, wys hoe gevaarlik die duiwel en sy bose magte is. Die voorkoms is die van ‘n vrou, maar weggesteek agter die sagte uiterlike voorkoms van onskadelikheid is die roofdier wat wil seermaak.

Die son wat verduister en die lug wat donker word, wys op die lig wat uit die mense verdwyn. Die mens leef in eie onkunde voort. Luister na hierdie beskrywing: “Hulle gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard. Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ‘n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen” (Ef.4:18,19).

So lyk die lewe wanneer die Satan en sy bose magte jou beheer. Kom ons haal net drie woorde uit: Onkundig, losbandig en vuil en jy het ‘n akkurate beskrywing van ons land en die wêreld waarin ons leef. Die rook en die sprinkane is reeds hier.

Die sprinkane met angels soos skerpioene veroorsaak pyn. Hoeveel pyn veroorsaak onkunde oor God nie? Baie in ons land ken God nie, ken sy Woord nie en ken ook nie sy kerk nie. Hier is die rede vir die geestelike en emosionele verval in ons land met al die pyn wat daarmee saamgaan.

Hoeveel pyn veroorsaak die losbandigheid van dobbel en los en vas verhoudings met die teenoorgestelde geslag en gebroke huise nie? Ons land sit met ‘n geweldige probleem van ‘n gesin sonder ‘n pa en wanneer die pa nog in die gesin is, hy dikwels ‘n emosionele en geestelike afwesige pa. Kyk ‘n keer baie goed na die mens by die robot se gesig. Sien jy ‘n gesonde, versorgde gesig of sien jy die pyn van ‘n wêreldse lewe weg van God af, waar afhanklikheid van ander dinge ‘n plek gekry het?

Dit lyk asof die bose chaoties optree, want hulle veroorsaak chaos en wanorde. Maar, dat die sprinkane ‘n koning gehad het wat met ‘n Hebreeuse en Griekse naam bekend was, beteken hulle tree met listigheid soos in die paradys en met goed uitgewerkte bose planne op. Altwee die name beteken “Verderwer”. Die duiwel wil ‘n verdorwe mensdom, dit is ‘n mensdom deur en deur sondig, hê. Die naam in altwee die tale wys die Satan tree wêreldwyd op met die doel om pyn te veroorsaak.

Dan kom ons by Op.9:13-21 en die sesde engel wat op sy trompet geblaas het.

 Johannes het ‘n stem tussen die vier horings van die goue altaar voor God gehoor. Onder die goue altaar het die gelowiges wat hulle lewens oor hulle geloof verloor het, gebid (Op.6:9,10). In Op.8:3 sien Johannes ‘n engel by die altaar met ‘n goue wierookbak waarin al die gelowiges se gebede was.

Die stem wat Johannes hoor, is die stem van al die gelowiges wat bi. Die Here leer ons hier soos in soveel plekke in die Bybel, hoe belangrik gebed is. Die allerhoogste God wil dat sy gelowiges bid. Dit is nodig om vir aardse behoeftes en nood te bid. Jesus het ons geleer om vir daaglikse brood te bid, maar onthou hierdie is net een van ses bedes in die Onse Vader!

Ons gebede mag daarom nie net by ons behoeftes vir ons aardse lewe bly nie!  Dit is verkeerd!

Die gebede wat Johannes gehoor het, was gebede vir die wederkoms van Jesus Christus en vir die nuwe hemel en die nuwe aarde!

Hiervoor behoort ons ook te bid!

Die gelowiges het gebid dat die vier engele wat by die Eufraatrivier vasgemaak is, losgelaat sal word.

Die gelowiges se gebede is verhoor. Die engele is op ‘n bepaalde uur en dag en maand en jaar losgelaat om ‘n derde van die mensdom dood te maak. God regeer die wêreldgeskiedenis deur die gekruisigde Jesus. Hy bepaal die oordele oor die aarde en sy bewoners. Hy bepaal ook wanneer die oordele gebeur. Wanneer geweldige dinge in die wêreld gebeur, mag ons nie net na politieke, mediese, ekonomiese en militêre redes kyk vir wat gebeur nie. God laat sy oordele oor die sondige mensdom neerkom.

Die vier engele wat losgemaak is, het miljoene perderuiters tot hulle beskikking gehad. Johannes het hulle getal gehoor. In die vorige gesig met die skerpioensprinkane het die oordeel oor die pyniging van die mense op aarde gegaan. Hierdie gesig was anders. Hierdie perderuiters was daarop uit om mense dood te maak, ‘n derde van die mensdom. Johannes het gesien deur die vuur en die rook en die swael uit die perde se bekke is ‘n derde van die mensdom doodgemaak.

Die perde en hulle ruiters was ‘n verskriklike gesig. Hulle het vuurrooi, donkerblou en swaelgeel harnasse aangehad. Die perde se koppe was soos die koppe van leeus. Uit hulle bekke het daar vuur en swael en rook gekom. Hulle sterte was soos slange en het koppe om die mense te pynig.

Dood en verwoesting wat aangerig word, is ‘n teken dat Die einde van die tyd naby is, dat Jesus Christus weer kom. Hoe gebeur hierdie dood en verwoesting van so baie mense? Twee voorbeelde is oorloë en natuurrampe.

Oorlog is ‘n verskriklike ding. Die wreedheid en geweld en moord ken in oorlogtyd nie perke nie. Op die foto’s en in die video’s wat van Oekraïne gewys is, kan ‘n mens sien hoe mense dood in die strate lê.

Rampe saai ook dood en verwoesting. Kyk na die wêreld in die laaste jaar en paar maande –

  • Tydens vloede in Indië en ‘n aardbewing in Haiti in 2021, is 10500 mense dood en miljoene se lewens ontwrig.
  • Jaarliks, ook in 2021, sterf 9 miljoen mense van honger wêreldwyd.

Sedert Covid-19 begin het in 2020 tot nou het reeds 6,17 miljoen mense gesterf en baie meer mense se lewens is op ander maniere diep geraak.

‘n Mens sal dink, wanneer die oorloë en rampe en die dood so gesien word, enigiemand tot in die hart geruk sal word en na God sal soek. Dit gebeur nie.

Weg van God, sonder Hom, bly net die ewige dood saam met Satan en sy bose magte oor.

  1. Lees en hoor, verstaan, besef, glo, bid

Een belangrike vraag moet nog geantwoord word: Wat word van die Christengelowiges wat in Jesus Christus glo, wanneer hierdie verskriklike oordele van God oor die “bewoners van die aarde” kom?

Die mense wat die seël van God op hulle voorkoppe het, sal nie onder hierdie oordele kom nie. Die mense met God se seël is die gelowiges wat aan Hom behoort. Sy oordele sal nie oor dié wat aan Hom behoort kom nie.

Die Christengelowiges wat aan God behoort word wel diep geraak deur die sondigheid en goddeloosheid van die “bewoners van die aarde”. Gelowiges sterf ook in oorloë en natuurrampe, maar vir ‘n gelowige is dit nie God se oordeel nie. Hierdie is baie belangrik. Die dood is deur Jesus wat vir ons gesterf en opgestaan het die oorgaan na die ewige lewe.

Wat is ons antwoord op wat die Heilige Gees vir ons in Op.9 vertel en leer?

  • Lees die hoofstuk met aandag. Hoor wat God sê.
  • Verstaan dat die rampe en ellende in die wêreld die oordele van God oor “die bewoners van die aarde”
  • Besef dat God deur al die verskriklike dinge wat gebeur, besig is om die aarde en die hemel na die einde toe te bring.
  • Glo in God wat deur die gekruisigde Jesus die wêreldgeskiedenis laat gebeur en moenie net na politieke, mediese, ekonomiese en militêre gebeure kyk nie.
  • Maar….in Openbaring leer God ons dat ons nie bloot vir die verligting en die verbygaan van alles wat swaar en verkeerd is moet bid nie. Met die einde wat naderkom, is daar eintlik net een gebed – die gebed dat Jesus Christus gou moet kom!

ANTWOORD

Sang: Ps.68:1,2

Gebed

Sang: Ps.68:13,15

Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.

Amen