ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Ps.66:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20
Antwoord op die Wet: Ps.32:3
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.42:1,3
Lees: Filippense 4:1-13
Kernverse: Fil.4:6-9
Tema: God se raad: Gebed in die plek van bekommernis
Sang: Ps.66:1,7; Skb.12-3:1,2; Ps.32:3; Ps.42:1,3; Ps.116:1,4,5,7; Ps.42:4,5,7
Inleiding:
Die Bybel is oop in vanoggend se erediens. Dit beteken: Die lewende God praat met ons. Hy praat met ons oor bekommernis en gebed en vrede.
Tema: God se raad: Gebed in die plek van bekommernis
“Wees oor niks besorg nie” is die woorde wat Paulus aan die gemeente in Filippi geskryf het. In werklikheid was dit die Heilige Gees wat Paulus gelei het om die brief en hierdie woorde te skryf. Die woorde kom dus van God af. Hy is ewig. Sy Woord is ewig. Die woorde aan die Christengelowiges in Filippi is ook bedoel vir Christengelowiges in ‘n gemeente van Christus vandag. Die woorde is ook vir ons.
Omdat hierdie woorde van God af kom, is dit belangrik en nodig dat ons die woorde reg sal verstaan, sal glo wat ons lees om dan te leef soos die Here hier vir ons sê
Kom ons kyk na omstandighede wat mens bekommerd kan maak.
Eers die gemeente van Jesus Christus in Filippi –
Die gemeente in Filippi het baie gehad waaroor hulle hulle kon bekommer:
Daar was soveel wat gebeur het wat die Christengelowiges in Filippi met bekommernis kon laat leef.
Die wêreld is vandag steeds ‘n gebroke wêreld met soveel waaroor ons ook bekommerd kan wees.
Liggaamlike dinge waaroor ons bekommerd kan leef –
Geestelike en emosionele swaarkry –
Daar is soveel wat vandag gebeur om ook ons ‘n lewe van bekommernis te kan laat leef. Die Here praat met ons hieroor.
2. God se raad teen bekommernis
Die Here praat met ons oor bekommernis. Here gee raad.
In Grieks, die taal waarin die brief geskryf is, staan daar: “Oor niks moet julle bekommerd wees nie” (Fil.4:6). Die woord bekommerd is dieselfde as wat Jesus gebruik het in sy Bergrede in die omgewing van Kapernaum, toe Hy die skare en ons geleer het om ons nie te kwel, of te bekommer nie (Mt.6:25). Die basiese betekenis van bekommerd is wegtrek of verdeel.
Ons kan sê die Here sê vir ons dat niks ons van ons geloof in Hom moet wegtrek nie. Ons kan hierdie woorde van God ook so verstaan: Niks mag ons harte verdeel in geloof in God aan die eenkant en moeilike omstandighede aan die anderkant nie.
“Oor niks moet julle bekommerd wees nie” is verder ‘n opdrag van die lewende God. Ek kan daarom nie hierdie vers lees of na die woorde luister en dan niks doen nie. Die lewende Here wil hê dat ek as Christengelowige in sy gemeente my nie moet bekommer nie.
Die Heilige Gees het Paulus die woorde ook so laat skryf, dat die Here ‘n manier van lewe bedoel het. My manier van lewe, moet ‘n lewe wees waar ek my nie bekommer nie.
Elkeen wat Fil.4:6 lees of hoor, staan voor hierdie vraag: Is God vir my belangrik genoeg dat ek na Hom sal luister, Hom sal glo en sal doen wat Hy van my vra?
Die Here wat vir elkeen van ons sê: “Oor niks moet julle bekommerd wees nie”, is ‘n wonderlike God vol genade en liefde vir elke gelowige kind van Hom wat moeilike omstandighede het waar ek juis met bekommernis kan leef. Hy hou nie op by die opdrag nie. Hy gaan verder.
Here praat met elkeen. Hy praat met my. Hy gee raad.
Die Heilige Gees het Paulus gebruik om sy raad teen bekommernis vir ons neer te skryf. Sy raad klink so: “..maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend” (Fil.4:6). Het julle gehoor hoe mooi die Here met ons praat: “Oor niks moet julle bekommerd wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend”.
Die Here se raad teen bekommernis bevat drie dele.
Die eerste – Gaan na die Here toe met jou bekommernis. Bid. Vir bid gebruik Paulus drie woorde:
GEBED – Praat met God. Besef dat Hy die lewende God is. Hy is jou Vader. Hy is jou Verlosser. Hy is jou Helper en Trooster. Praat met Hom, die Drie-enige God.
SMEKING–Besef hoe nodig jy God het. Smeek Hom vir uitkoms. Vra regtig. Maak jou diepste begeertes, wense, vrese aan God bekend.
DANKSEGGING – Dink ook aan dit wat goed in jou lewe is. Sien die goeie ook raak en sê vir God dankie daarvoor.
Gaan op hierdie manier OOR ALLES NA GOD TOE!!!…. met GEBED en SMEKING en DANKSEGGING!!!
Moenie hier ophou nie. Mens hoor dikwels iemand sê ek het gebid, maar dit het nie gehelp nie. Onthou: Die Here se raad teen bekommernis het nog twee ander noodsaaklike dele.
Die tweede – Die tweede deel van God se raad gaan oor jou gedagtes.
Bekommernis het juis daarmee te doen dat ’n mens nie reg dink nie. Ook ‘n Christengelowige kan in omstandighede kom waar jy nie meer weet waarheen nie. Die berg voor jou lyk net te hoog, die afgrond te diep, die nag te donker. Dit is jou gedagtes wat vir jou sê: Te hoog, te diep, te donker, ek weet nie meer waarheen nie.
Die alwetende God, wat jou so goed ken, wat elke gedagte van jou ken, praat met jou oor die gedagtes wat jy dink. Die tweede deel van die Here se raad is, dink reg. Rig jou gedagtes op alles wat edel, reg, rein, mooi en prysenswaardig is (vs 8). Dink aan dit wat goed en reg is. Verander met ander woorde die gedagtes van te hoog, te diep en te donker, dat jy alleen is en dat jy niemand het nie. Verander gedagtes wat nie goed en reg en waar is nie, in ander nuwe gedagtes wat goed en reg en rein en waar en edel is.
Hoe sal ek hierdie deel van God se raad kan regkry?
Die Heilige Gees help jou hiermee. Die Gees is jou Trooster en jou Helper. Die Heilige Gees is by jou. Hy is in jou. Hy is die almagtige God met baie krag. Hy maak jou sterk om die gedagtes van te hoog, te diep en te donker en ek weet nie meer nie, te verander in gedagtes wat waar en goed en reg is – gedagtes dat my Vader my ken, my liefhet en sal gee wat vir my die beste is.
Dan is daar nog ‘n deel van God se raad teen bekommernis.
Die derde – Jou gebed en jou regte gedagtes moet opgevolg word met dade, die regte dade. Om die regte ding te doen, is die derde deel van God se raad teen bekommernis. Vir vanoggend noem ek drie dade.
Die Here se raad teen bekommernis is dus: BID REG, DINK REG EN DOEN REG!
3. God se belofte vir sy kind wat bid
Hierdie raad is in werklikheid opdragte van die Here, jou God. Wie sy raad ignoreer en nie volg nie, doen sonde. Daarom moet elkeeen wat met bekommernis leef, in die krag van die Gees daarmee breek.
Aan die ander kant: Wie sy raad volg, vind uitkoms by die Here!
Die Here belowe in die plek van bekommernis – VREDE!
God gee vrede deur Jesus Christus wat vir jou gesterf en opgestaan het. Hierdie vrede beteken dat God en jy in ’n innige verhouding bymekaar is. Hy is liefdevolle Vader en jy is gelowige kind. Hy het jou lief met ‘n ewige en volmaakte liefde. Hy het jou so liefgehad dat Hy sy Seun vir jou gegee het. Jesus het jou so liefgehad dat Hy sy lewe vir jou aan die kruis gegee het om al jou sonde wat tussen jou en God was, weg te neem. Hy het jou so liefgehad dat Hy vir jou uit die dood opgestaan het, sodat jy ‘n nuwe lewe kan hê.
Jy is vir God sy kosbare kind. Jy leef nou deur Jesus Christus onder jou Vader se liefde en sy genade en sy sorg. God is jou Vader wat luister. Hy is jou Vader wat gee.
Hierdie waarheid bring vrede in die plek van bekommernis. Die vrede wat van God af kom, gaan mens se verstand te bowe, maar dit gebeur. God laat dit in jou gebeur. In die plek van bekommernis het jy vrede in jou hart en in jou gedagte, bo wat jy verwag het.
En wat meer is: God sal sorg dat sy vrede wat Hy vir jou bedoel het, in jou sal bly. In die plek van bekommernis, het jy vrede, vrede wat bly.
Die vrede wat God gee, is verder ook vrede wat uitloop op die volmaakte vrede by God, wanneer jy, gelowige met die wederkoms van Christus, in hemelse heerlikheid opgeneem word. Jy sal by God wees en jy sal by Christus wees, en…….jou vrede sal volmaak en ewig wees!
ANTWOORD
Sang: Ps.116:1,4,5,7
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Ps.42:4,5,7
Seën: God wat alle genade gee, en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak
Amen