Kersfees is op hande. Wêreldwyd in baie lande sal mense Kersfees vier. Kerstyd sal hierdie jaar of ‘n nuttelose tyd of ‘n tyd met ‘n diep betekenis wees. ‘n Mens se verhouding met Jesus Christus, God se Seun, bepaal watter een van die twee, die Kersfees sal wees wat jy hierdie jaar vier.
Tema: God se Seun is ons Koning wat vir ewig regeer
Die psalm begin met ‘n vraag: Waarom raas die nasies en is hulle so in opstand? (Ps.2:1).
Die psalmdigter gee dadelik in die volgende woorde die antwoord: Dit is die konings van die aarde wat so in opstand is. Dit is die leiers wat saamspan teen die Here en teen sy Gesalfde (Ps.2:2).
Wat bedoel die psalmdigter? En hoe raak hierdie woorde ons vandag? Ons is vanoggend in die erediens om ons Verlosser se geboorte te herdenk en God, ons Vader vir hierdie wondergenade te eer en te dank.
Kom ons kyk eers na die tyd toe die psalm geskryf is en daarna hoe die woorde waarmee Psalm 2 begin, ons vandag raak.
Psalm 2 is geskryf met die oog op die fees wanneer ‘n koning in Israel gekroon is. Tydens hierdie kroning het Israel, die verbondsvolk fees gevier. Hulle was bly oor die spesiale verbondsverhouding tussen die koning en die Verbondsgod.
Maar…hulle was ook bewus van die vyandigheid van die heidense nasies teen Israel en die koning. Die nasies was heidene, wat nie in die genadeverbond opgeneem is nie. Hulle en hulle leiers het hulle eie afgode gedien. Hulle kon die God van Israel nie verdra nie en ook nie die Israel se koning nie, veral nie Dawid wat ‘n gelowige was en ‘n baie suksesvolle koning nie. Die wêreldleiers het voortdurend planne beraam teen die Here en teen die koning, sy gesalfde wat Hy aangewys het.
Hierdie vyandigheid teen die Here en sy gesalfde het deur eeue heen nie opgehou nie en duur vandag steeds voort. Die gesalfde waarvan ons in Ps.2:2 lees, was die koning wat aangewys is soos Dawid, maar eintlik het die gesalfde gewys op die ewige Koning wat uit Dawid se nageslag gebore sou word, Jesus Christus.
Met sy koms na die aarde om sondaars te verlos, het Jesus omtrent net vyandigheid gekry. Hy is uiteindelik onder vals aanklagte onskuldig bevind, maar tog ter dood veroordeel.
Tot vandag duur die vyandigheid teen God ons Vader en Jesus Christus ons Verlosser voort. En…dit is steeds leiers in die wêreld wat opstaan teen die Here en teen sy Gesalfde, Jesus Christus. Dit is die filmproduseerder en akteur wat ongehoorsaam en opstandig die Here se heilige Naam misbruik in ‘n film. Dit is die regeringshoof en ander leiers wat die Here se heilige Naam openlik laster in ons land wat in opstand teen die Allerhoogste is. Dit is die grondwet van baie lande wat telkens deur die leiers opgestel is, wat die lewende God met mensgemaakte gode gelykstel wat in opstand is. Dit is leiers wat ons Christelike geloof openlik teenstaan en uit skole wil wegkry wat planne teen die Here en sy Gesalfde beraam.
Die wêreld en veral die leiers is in 2017 besig met ongelowige en goddelose opstand teen die heilige God en teen sy Gesalfde.
Die ironie is hierdie leiers gaan die 25e Des hierdie jaar waarskynlik ook kersfees vier. Dit is egter vir hulle ‘n nuttelose viering sonder enige betekenis.
Die Here is die almagtige, alomteenwoordige en alwetende God. Hy sien alles. Hy hoor alles. Hy weet alles. Die nasies en hulle leiers is nietige mense wat op die aarde bly. Die Here woon in die hemel. Hy lag vir die mense en hulle nietige en vergeefse planne. Hy spot met hulle.
Maar….Hy spreek hulle ook aan in sy toorn en maak hulle skrik en bang in sy gramskap.
Hoe doen die Here al hierdie dinge?
Hy salf sy koning op Sion, sy heilige berg (Ps.2:6).
Israel se koning, veral Dawid was altyd in ‘n baie sterker posisie as die ander leiers van die wêreld, want hy en die almagtige God het ‘n innige band gehad wat geen ander leier of koning gehad het nie. Maar Dawid was nie eintlike koning deur wie God die wêreld sou regeer nie. Hierdie Koning sou een uit sy nageslag wees.
Die eintlike koning deur wie God die wêreld sou regeer, kan ons sy Koningseun noem. Sy Naam is Jesus. Die wêreldleier hoor van ‘n kind wat gebore is en van ‘n man wat aan ‘n kruis gesterf het. ‘n Kind en iemand wat gesterf het, lyk nie na ‘n koning wat regeer nie en ook nie na enige bedreiging nie.
Maar…wie so na Jesus Christus kyk het baie ernstige probleme. Die Kind wat in Betlehem gebore is, is die man wat aan die kruis op Golgota gesterf het, en Hy is die Verlosser wat van God af kom!
God regeer die kerk en die heelal deur sy Koningseun. Hierdie Koningseun bepaal wie onder God se oordeel ewig verlore gaan en wie deur genade verlos word en ewig leef. Dis daarom lewensbelangrik om die regte verhouding met Jesus Christus te hê.
Die Bybel lê vanoggend voor ons oop. Ons hoor hoe die Here vir die koning sê dat die koning sy seun is (Ps.2:7). Die woorde het beteken dat die Here en die koning ‘n innige verbondsverhouding gehad het. Die verhouding Vader-seun is die innigste verhouding wat ‘n mens met God kan hê.
Hierdie innige verhouding het ‘n werklikheid geword vir sondaarmense. God het uit liefde sy enigste eie Seun na die wêreld gestuur. Jesus is deur ‘n almagtige wonder uit die maagd Maria gebore. Hy het ons sonde op Hom geneem en daarmee in ons plek aan die kruis gesterf. Deur sy dood aan die kruis, het Christus ons volmaak van al ons ons sonde verlos. Hy het op die derde dag opgestaan uit die dood. Deur sy opstanding het Hy vir sondaars die ewige lewe verwerf.
Verlossing van sonde en die ewige lewe is net vir elkeen wat aan Jesus Christus behoort. Die belangrike vraag is: Wie behoort aan Jesus Christus? Die antwoord bestaan uit twee dele. Die eerste deel is, nie alle mense behoort aan Jesus Christus nie. Dit beteken nie alle mense word verlos nie. Dit beteken ook nie alle mense ontvang die ewige lewe nie.
Die tweede deel van die antwoord is: Die mens met ‘n ware geloof in Jesus Christus as ons enigste Verlosser, is die mens wat aan Hom behoort, wat verlos word en die ewige lewe het. Die Heilige Gees gebruik die Evangelie van die Kind wat in Betlehem gebore is om ‘n mens se hart binne te dring. Diep in jou binnekant begin Hy ware geloof dat Jesus Christus en net Hy alleen ons Verlosser is.
Wie dit glo, is ‘n verlos en het die ewige lewe!
So iemand is ‘n nuwe mens!
So ‘n nuwe mens kan op ‘n Sondagoggend aan ‘n Kersprogram deelneem met ‘n hart vol blydskap en dankbaarheid. Vir so ‘n mens sal Kersfees 2017 ‘n Christusfees wees.
Aan die anderkant is daar ‘n baie ernstige waarskuwing aan die leiers van die wêreld om die Here ons Verbondsgod met die grootste ontsag te dien en hulle aan die Seun van God te onderwerp.
Jy onderwerp jou aan die Seun van God deur in Hom alleen te glo en uit liefde vir Hom met oorgawe vir Hom te leef. Gebeur dit nie, dan sal die toorn van die Koningseun ontvlam.
Ons vanoggend hier, maar veral elke mens wat nie hier of in ander eredienste van ‘n Christelike kerk is nie, moet weet: Die Kind in die krip het nie ‘n kind gebly nie. Vandag is Hy die Hoof van die heelal aan die regterhand van God. Hy is die Leeu uit die stam van Juda (Gen.49:9). Sy wederkoms is besig om al nader en nader te kom en op daardie dag sal Hy die finale woord hê en elkeen wat nie in Hom geglo het nie van Hom af wegstuur om ewig veroordeel te word.
Die leiers in die wêreld, in Suid-Afrika en in Pretoria het genoeg tyd en kans om die Koningseun te leer ken. Hier is baie kerkgeboue en baie Bybels. Elke Sondag is daar genoeg eredienste waar die ware Evangelie suiwer verkondig word. Niemand sal enige verskoning hê nie.
Slot
Kersdag is om die draai. Daar sal hierdie jaar kersvierings wees wat niks beteken nie, omdat die mens Jesus nie ken nie, nie in Hom glo nie en nie vir Hom leef nie. Vir so ‘n mens behoort kerstyd ‘n tyd van vrees en bewing te wees.
Daar sal ook kersvierings wees wat baie beteken, want vir die mens sal hierdie kersfees ‘n Christusfees wees. As jy so ‘n mens is, dank God daarvoor.