Tema: God se straf op die sonde van die mens
Inleiding:
In die vorige Sondag het ons die totale sondigheid van alle mense gesien. Ons het ook gesien dat nie God nie, maar die mens self, verantwoordelik is vir hierdie sondigheid. Vanaand kyk ons in Eksodus 34 en Sondag 4 na God se straf op sonde.
Tema: God se straf op die sonde van die mens
God is die heilige God wat sonde nie duld nie. Hy tree teen sonde op. Hy straf sonde. Die eerste vraag in Sondag 4 het te doen met die vraag na die regverdigheid van God se straf op sonde. Die vraag lui: Doen God die mens dan nie onreg aan as Hy in sy Wet van hom eis wat hy tog nie kan doen nie?”
Hierdie vraag gaan uit van die verdorwenheid van die mens en dat daar dan versagtende omstandighede vir die mens sou kon wees. Die Heidelbergse Kategismus verwoord in hierdie vraag die woorde van die sondige mens wat na verontskuldiging soek. Ons kan die vraag ook so stel: Alle mense is so verdorwe dat ons in onsself niks goed kan doen nie. Is dit dan nie ‘n onreg deur God om van die mens te vra om sy Wet na te kom nie?
Ons sien in hierdie vraag die tipiese mens na die sondeval. Adam het in die paradys homself probeer verontskuldig deur Eva as die eintlike skuldige aan te wys (Gen.3:12). Eva het op haar beurt haarself probeer verontskuldig deur die slang as die eintlike skuldige aan te wys (Gen.3:13). Israel het oppad na Kanaän die verontskuldiging vir hulle afgodery gesoek in die feit dat Moses so lank weggebly het en vir hulleself ‘n goue kalf laat maak (Eks.32:1). Hoe dikwels neem ons nie maar presies dieselfde houding in nie. In ‘n huwelik waar dit nie goed gaan tussen man en vrou nie, wys die een op die sonde van die ander. Wanneer kinders in ‘n huis lelik rusie maak, is dit gewoonlik die ander een wat alles begin het. Ons probeer in ons sondigheid die skuld na iemand anders wys. Die eerste vraag in Sondag 4 neem hierdie posisie in om die mens te probeer verontskuldig.
Die antwoord op die vraag stel egter die saak onmiddellik reg. Die antwoord bestaan uit twee hoofdele. Die eerste : “ Nee, want God het die mens so geskep dat hy dit kon doen.” Die vertrekpunt kan nie geneem word in die verdorwenheid van die mens nie, om in die verdorwenheid regverdiging vir die mens te wil soek nie. Nee, die vertrekpunt moet terug na die begin, na die skepping van die mens. God is die volmaak goeie en genadige en barmhartige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou. Hy het in die begin die mens goed en na sy ewebeeld geskep. God het die mens so geskep dat hy alles kon doen wat God van hom verwag het. Hierdie eerste deel van die antwoord wys duidelik dat God die mens so geskep het dat hy alles kon doen wat God van hom vra. God doen die mens dus geen onreg aan nie wanneer Hy Homself openbaar as die God wat “ongeregtigheid en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie…” (Eks.34:7).
Die tweede deel van die antwoord: ” Maar die mens het homself en sy hele nageslag as gevolg van die aanhitsing van die duiwel en deur moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof”. Hierdie deel van die antwoord wys dat daar nie versagtende omstandighede vir die mens is nie, maar eerder verswarende omstandighede. Die mens is baie goed geskep (Gen.1:31). God het uitdruklik in die sterkste moontlike terme sonde verbied en die gevolge daarvan in net so duidelike taal bekend gemaak (Gen.2:16,17). Maar die mens het deur moedswillige ongehoorsaamheid gesondig en die vermoë om goed te doen volgens God se wil heeltemal verloor.
Samevattend kan ons alleen maar in ootmoed bely dat God volmaak regverdig is in sy straf op sonde.
2. Die noodsaaklikheid van God se straf op sonde
Die tweede vraag in Sondag 4 raak die moontlikheid aan dat sonde dalk ongestraf kan bly. Die vraag lui: “Wil God hierdie ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly?”
Hierdie vraag is vandag in 2009 nog net so aktueel as in 1563 met die opstel van die Kategismus. Ons hoor gereeld stemme wat beweer dat God nie sonde straf nie en ook dat daar nie so iets soos die ewige oordeel in die hel is nie.
God is getrou. Hy is juis ook getrou aan Homself, aan sy geregtigheid en sy heiligheid. In die paradys het Hy uitdruklik vooraf aan Adam en Eva die straf op sonde voorgehou: “Die dag as jy daarvan eet, sterf jy” (Gen.2:17). Op grond van onder andere hierdie deel van die Bybel, bely die Gereformeerde gelowiges oor die moontlikheid dat sonde nie gestraf word nie, die volgende: “Nee, glad nie; inteendeel, sy toorn is verskriklik sowel oor erfsonde as oor die sonde wat onsself doen: Hy wil dit in die tyd en in ewigheid met ‘n regverdige oordeel straf. Hy het immers gesê: ‘Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die Wet om dit te doen nie.’”
God laat sonde nie ongestraf bly nie, lees ons in Eks. 34:6. Hy vertoorn Hom verskriklik oor sonde. Hy straf sonde in die tyd. Ons lees in Eks.32:35 dat die Here Israel getref het, omdat hulle die goue kalf gemaak het. Ons weet uit die res van die hoofstuk dat drieduisend man doodgemaak is. Ons sien die Here se toorn in die tyd teen sonde in die ellende wat ons in die wêreld sien. Die mens wat in onsedelikheid leef en siektes opdoen, die mens wat sy hulp in alkohol soek en uiteindelik ‘n wrak word of die mens wat geld najaag by die dobbeltafels en ‘n totale slaaf daarvan word, en vele ander word getref deur die toorn van God nog in hierdie lewe.
Maar die Heilige God se toorn in hierdie lewe is nog maar net die voorsmaak van sy ewige straf in die poel van vuur. Ja, God straf sonde met die ewige dood in die hel. Van hierdie oordeel lees ons in Op.14:19,20 “En die engel het sy sekel oor die aarde laat gaan en die wingerdstok van die aarde afgeoes en dit gegooi in die groot parskuip van God se grimmigheid. En die parskuip is is buitekant die stad getrap en bloed het uit die parskuip gekom tot aan die tooms van die perde, tweehonderd myl ver” .
God se heiligheid, sy geregtigheid en trou eis dat Hy sonde sal straf en dit doen Hy ook, tydelik en ewig.
Ons bely in hierdie vraag en antwoord die noodsaaklikheid van God se straf op sonde.
3. Die barmhartigheid in God se straf op sonde
Die laaste poging wat die sondige mens aan wend om aan God se straf te ontkom, word verwoord in die laaste vraag van Sondag 4: “Is God dan nie ook barmhartig nie?”
Hierdie vraag gaan uit van die standpunt dat die barmhartigheid van God straf op sonde behoort uit te sluit.
In die antwoord op die vraag word die regte perspektief uit die Bybel gegee. God is een God. Hy is barmhartig en Hy is regverdig.
God is regverdig daarin dat Hy sonde tydelik en ewig straf soos Hy gesê het. Deur sonde met die dood te straf maak Hy Homself bekend as die God van geregtigheid.
Maar juis in sy straf op sonde maak God Homself ook as die barmhartige bekend. God laat nie toe dat sonde oor jou bly heers nie. Hy straf die sonde. Verder maak Hy sy barmhartigheid daarin bekend dat jy nie gestraf word vir jou sonde nie. Nee, aan die kruis op Golgota het God se Seun gehang en gesterf. Hy het in jou plek die straf op jou sonde gedra. In Jesus Christus sien ons die Here God, barmhartig en genadig, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou.
Aanvaar en bely deur die Heilige Gees God se regverdige en noodsaaklike straf op sonde. Glo deur die Heilige Gees dat Christus jou straf gedra het en dank God sonder ophou vir hierdie genade.
Amen