Ons het die Kerstyd betree. Vanoggend is die Here se Woord oop by die Ou Testament, by die openbaringsgeskiedenis van die ark en die vloed. Pas die ark en die vloed by Kerstyd? Die antwoord op hierdie vraag is “ja”. Vir vanoggend se preek wys ek op twee redes waarom die ark en die geboorte van Christus baie goed bymekaar pas.
Die een rede is Christus lees mens reeds oral in die Ou Testament. Waar God sy genade bewys, is dit in werklikheid ‘n heenwyse na sy wondergenade in Christus. Die volgende rede is dat Petrus het in sy eerste brief geskryf het dat die redding van mense deur die water heen, na die doop gewys het, wat die teken is van verlossing deur Christus (1 Pet.3:20,21).
Tema: God sonder ons uit genade van die sondige verlore mensdom af, om ons te red
Die Here het gesien die hele mensdom was verdorwe en het altyd net slegte dinge bedink. Die Here het genade aan Noag bewys en hom beveel om ‘n ark te bou. Noag en sy gesin en diere soos die Here beveel het, sou in die ark ingaan, die res van die mensdom sou buite bly, omdat hulle so sondig en sleg was.
Wat het die mense gedoen wat so verkeerd was?
Die mensdom destyds was oral en altyd besig met sondige gedagtes en woorde en dade, sonder enige berou. Dit was die mense wat niks met die ark te doen wou hê nie en nie saam met Noag sou ingaan nie. Hulle sou buite bly…sondig en verlore!
Die mensdom is vandag steeds sondig. Ons kyk na net twee voorbeelde, daar is talle, van sondige gedagtes en dade van die mens in die 21ste eeu in Suid-Afrika:
Die Here het die mensdom destyds verdorwe en sleg genoem. Die moderne mens trek ‘n streep deur wat die Here verdorwe en sleg noem en praat van “die lewe wat verander het” en waarby aangepas moet word. Die mens van die 21ste eeu verwag dat die Bybel en selfs die Here by hom moet aanpas. Van vra na God se wil en die doen van sy wil, is daar heeltemal te veel keer, weinig sprake.
Die mens wat vandag so leef, wil dit miskien nie weet nie, maar met so ‘n lewe sondig jy en gaan jy verlore.
Toe die ark klaar was, het Noag en sy gesin en die diere soos die Here beveel (rein diere sewe pare manlik en vroulik en onrein diere een paar manlik en vroulik) in die ark ingegaan.
DIE HERE HET DIE ARK AGTER NOAG TOEGESLUIT.
Toe Noag 600 jaar, 2 maande en 17 dae oud was, het die vensters van die hemel oopgemaak. Vir langer as ‘n maand, 40 dae om presies te wees, het harde stortreën dag en nag geval (Gen.7:12). Daar was nog ‘n bron. Die onderaardse fonteine het oopgebreek (Gen.6:11).
Die water het meer geword en die ark begin lig. Die water het nog meer geword en die ark het begin dryf. Teen die tyd was die vloed al in die huise en steeds besig om te styg. Paniek sou begin heers het. Kinders sou begin gil en huil het. Almal sou angsbevange na die hoogste plekke, die huise se dakke of in die hoogste bome probeer vlug het. Na ‘n ruk is die water oor die huise se dakke en oor die hoogste bome. Vir die mense wat dalk voor die vloedwaters kon vlug, het nog net die berge oorgebly. Die stortreën het sonder ophou bly val. Uiteindelik het die water die hoogste berge bedek. Die water was amper sewe meter bokant die berge. Dit het beteken daar was nêrens meer plek om heen te vlug nie. Alles wat op die aarde geleef het, het omgekom (Gen.7:21,22). God het alles uitgewis.
Iemand beweer dat dit darem nie die hele aarde was nie. Dit was net die bekende deel waarvan die skrywer geweet het, wat onder water was. Asof ‘n mens wil sê: So ‘n vloed was onmoontlik.
Twee opmerkings hieroor:
Die mens buite die ark, is die mens wat aanhou sondig. Dit is die mens met ‘n vol en besige lewe…maar wat nie naby God leef en Hom volg en gehoorsaam nie. Hierdie mens gaan verlore.
Hierdie mens vier ook Kersfees, maar vir hierdie mens is Kersfees nie ‘n fees oor verlossing deur Christus nie. Omdat Christus nie Alles vir hierdie mens is nie, is Kersfees sonder enige betekenis.
Buite die ark was daar paniek en angs en wanhoop en die dood. Binne was Noag, sy vrou, hulle drie seuns en hulle vrouens. God het self die ark se deur agter hulle toegesluit. Daarmee het Hy hulle afgesonder van die sondige wêreld buite die ark. Binne die ark was dit heeltemal anders. Daar was geloof in God, sekerheid oor die toekoms en lewe!
Noag en sy gesin was binne die ark, omat die Here hulle begenadig het. Die Here het Noag begenadig met geloof en met gehoorsaamheid. Die Here het Noag beveel om ‘n ark te bou. Hy het die Here gehoorsaam en die ark gebou soos die Here beveel het. Op ‘n bepaalde dag het die Here Noag beveel om in die ark in te gaan, saam met die diere soos die Here beveel het.
Nadat almal, soos die Here dit wou gehad het, in was, het Hy die ark agter Noag toegesluit en daardeur Noag en sy gesin afgesonder van die sondige mensdom.
Die Here se genade vir Noag en sy gesin het beteken dat Hy hulle van die dood gered het.
Ons in 2017 ken die geskiedenis van Noag en sy gesin, die ark en die sondvloed. Vandag is daar nie meer ‘n ark nie.
Maar….
Daar is die dorp Betlehem waar Jesus gebore is.
Daar is die kruis op Golgota waaraan Jesus gehang het en gesterf het.
Daar is die graf in die tuin van Josef van Arimatea waaruit Jesus opgestaan het.
Die sondige mensdom het steeds redding uit die dood nodig. Jesus Christus is die verskil tussen lewe of dood.
God begenadig ‘n mens met geloof. Wie deur die genade van die Heilige Gees opreg in Jesus Christus glo, opreg glo, dat Hy die Verlosser is wat vir ons gebore is, is nie langer verlore soos die mense buite die ark nie, maar het die lewe soos die mense binne die ark. Trouens, wie in Jesus Christus glo wat vir ons gebore is, het meer as die mense binne die ark. Noag en sy gesin moes nog wag vir die Verlosser wat sou kom. Ons weet Hy het reeds gekom. Hy is ontvang van die Heilige Gees. Hy is gebore uit die maagd Maria, daardie nag in Betlehem. Hy het gekom, sodat elkeen wat in Hom glo, nie langer verlore gaan nie, maar die ewige lewe het.
Glo dan deur die Heilige Gees opreg dat God sy Seun vir ons gegee het.
Glo deur die Heilige Gees opreg dat Jesus mens geword het vir ons.
Glo deur die Heilige Gees opreg dat God jou deur Christus van die sondige mensdom afgesonder het en jou gered het.
Wie met ‘n opregte geloof in Christus hierdie jaar Kersfees vier, sal ‘n Christusfees vier, heeltemal anders as die wêreld. Jy sal hierdie Christusfees kan vier, WANT….God het jou uit genade deur Christus afgesonder van die sondige wêreld en jou deur sy Seun gered.