Tot dusver was daar 3 preke in die reeks oor die koninkryk van die hemel. Ons het die volgende belangrike waarhede oor die koninkryk geleer:
Uit Matteus 3 – Die koninkryk van die hemel is ‘n werklikheid.
Uit Johannes 3 – Om in die koninkryk van die hemel te kom, moet jy weergebore wees.
Uit Matteus 5 – Ons het niks, maar God gee vir ons alles om in sy koninkryk te kan leef.
Vanoggend hoor ons uit verskillende boeke van die Nuwe Testament dat die Bybel in die koninkryk van die hemel baie belangrik is.
Tema: In die koninkryk van die hemel het God se Woord ‘n baie belangrike plek.
Ons het waarskynlik elkeen een of meer Bybels. Wanneer ‘n mens ‘n Bybel het, gebruik jy die Bybel elke dag. Jy lees die Bybel. Jy ondersoek die Bybel en jy praat oor die Bybel. Ons het verskillende name vir die Bybel. Bybel, die Heilige Skrif of net Skrif en God se Woord is van die name wat ons gebruik wanneer ons van die Boek wat van God af kom, praat.
Vir vanoggend is die naam “God se Woord” die belangrike naam waaroor die preek gaan.
Wanneer ons van die Bybel as God se Woord praat, is dit nodig dat elkeen van ons sal besef dat die Bybel presies dit is: God se Woord.
Woord beteken: God praat met ons. God die Vader, die almagtige Skepper, praat met ons. Ons bely Hom as “ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is” (NGB, art.1). Hierdie God praat met my deur sy Woord.
Wanneer ek die Bybel oopmaak, en lees, luister ek dus in werklikheid na hierdie enige ware God van hemel en aarde. Ek lees nie net wat Matteus of Markus of Paulus of Johannes geskryf het nie. Inteendeel! Wanneer ek die Bybel lees, luister ek na die lewende God. Hy praat met my.
Daarom is dit belangrik en nodig dat ek die Bybel reg sal sien: Dit is die lewende God wat met my praat.
In die Bybel het ons God wat met ons praat. Hoe het dit gebeur?
Die oudste boeke in die Ou Testament het ongeveer 1250 vC ontstaan. Ons weet dit uit Joodse en Christene se geskiedenis wat vertel is en neergeskryf is. Al die boeke in die Nuwe Testament is geskryf tussen 45 en 90 nC.
Hoe het God sy Woord gegee dat ons vandag die Bybel het om te lees en te luister wat God vir ons wil sê?
Johannes het aan die begin van die boek Openbaring wat hy geskryf het, dit duidelik gemaak hoe dit gebeur het dat ons Openbaring gekry het.
So het dit gebeur dat ons die boek Openbaring gekry het:
Omdat elke boek van die Nuwe Testament net soos Openbaring deel van die Bybel is, kan ons hieruit agterkom en leer hoe dit gebeur het dat ons die Nuwe Testament gekry het. Omdat die Bybel die een Woord van God is, en omdat Jesus Christus self die Woord is, glo en bely ons dat ons die Ou Testament ook deur Christus gekry het. Die openbaring aan die aartsvaders en aan die profete, die openbaring deur die offers en seremonies in die Ou Testament het God deur sy Seun gegee. In al hierdie openbarings het Jesus Christus wat sou kom om sondaars te verlos, sentraal gestaan.
Dat God sy Woord deur sy Seun, ons Verlosser, gegee het, laat ‘n mens besef hoe kosbaar sy Woord is.
Johannes was die getuie wat Openbaring geskryf het. Paulus het sy briewe geskryf. Jesaja het sy profesie geskryf. Dan was daar Moses, Samuel, Lukas en Petrus en nog baie ander getuies of dan skrywers van die Bybel.
Met elkeen van hierdie skrywers het daar iets buitengewoon en baie besonders gebeur. Petrus skryf so daaroor en let op hoe sterk stel hy dit:
“ Dit veral moet julle weet: Geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die Woord wat van God kom, verkondig” (2 Pet.1:20,21).
Die Heilige Gees het elke skrywer “meegevoer” (83 vert) of “gedrywe” (53 vert.) is die woord wat Petrus gebruik. In sy tweede brief aan Timoteus gebruik Paulus die woord “geïnspireer” (2 Tim.3:16).
Die Heilige Gees het op ‘n bepaalde spesiale manier in elke skrywer gewerk, sodat wat geskryf is, nie bloot mensewerk is nie, maar van God af kom. Die Heilige Gees het nie die skrywers verander nie. Hy het elke skrywer met elke skrywer se gawes gebruik om God se Woord te skryf.
Lees dan die Bybel, luister en hoor die stem van die Heilige Gees.
Die Bybel is die openbaring van God. Hy maak Homself in die Bybel sy Woord aan ons bekend. Hy maak bekend wie Hy is, wat Hy wil en wat Hy doen.
Die Here leer ons ook wat Hy wil hê wat ons met sy openbaring moet doen. Hy leer ons dit in 2 Tim.3:16. Kom ons luister na hierdie baie belangrike woorde van die Here, sodat ons die Bybel kan gebruik, soos God wil ons sy Woord moet gebruik:
God het sy Woord vir ‘n bepaalde rede, of dan met ‘n bepaalde doel gegee. Gebruik dan die Bybel soos die Here sy Woord aan ons gegee het.
Die tema van die preek is: In die koninkryk van die hemel het die Bybel ‘n baie belangrike plek.
Hoe belangrik is die Bybel?
Daardie dag in die gebied van Sesarea-Filippi het Jesus ons duidelik geleer hoe uiters belangrik die Bybel is. Die Bybel is een van die sleutels van die hemelryk. ‘n Sleutel sluit oop en toe.
Iemand hoor die Evangelie dat Jesus Christus vir sondaars gesterf en opgestaan het.
Elkeen wat hoor, moet reageer.
Deur die Heilige Gees word ‘n mens wat hoor, weergebore.
So ‘n weergeborene glo in Jesus Christus as enigste Verlosser.
Die mens wat glo, is toegerus om Jesus te volg en Hom uit liefde te gehoorsaam.
Vir so iemand sluit die Bybel, God se Woord, die koninkryk van die hemel oop.
Iemand hoor die Evangelie van Jesus Christus.
Daar is die mens wat nie reageer nie, of oog en oor en hart gesluit hou vir Christus.
So iemand glo nie opreg in Christus nie, is nie toegerus om in die hemelryk in te gaan en te leef nie, volg Christus nie en gehoorsaam Hom ook nie.
Vir so iemand sluit die Bybel, God se Woord, die hemelryk toe.
Wanneer die Bybel die hemelryk op aarde oopsluit, is die hemelryk in die hemel ook oop. Wanneer die Bybel die koninkryk van die hemel op aarde toesluit, is die hemelryk vir daardie mens in die hemel ook toe.
Elke keer dat jy die Bybel lees en elke keer dat jy die Evangelie van Christus hoor, is die sleutel van die hemelryk besig om te werk.
Hoor dan hoe God met jou praat!
Glo met jou hele hart wat Hy vir jou sê!
Leef deur die Heilige Gees as toegeruste gelowige in die koninkryk van die hemel!