Die onderwyser in biologie redeneer logies:
1. As daar ‘n God is waarom sien ons hom nie?
Waarom toon Hy hom nie aan ons nie?
2. Ons kan die bestaan van alles uit evolusie verklaar.
Ons weet vandag dat biljoene jare betrokke is – en oor die biljoene jare is alles moontlik!
3. Daar bestaan net fisiese dinge.
Wat ookal bestaan kan met instrumente gemeet en gesien word – selfs dinge soos strale. Dus: daar bestaan geen geestelike dinge soos ‘n duiwel, engele – en dus ook God nie. Dit is naïewe gedagtes van ons primitiewe voorouers.
Geestelike dinge bestaan nie – net fisiese dinge.
Onder fisiese dinge verstaan ons almal dinge soos die son en maan wat jy kan waarneem en aan fisiese toetse kan onderwerp – en wat volgens natuurwette reageer. So kan byvoorbeeld die son en maan se wentelbane volgens die wette van swaartekrag en spoed verklaar word.
Geestelike en morele wette daarteenoor is gedagtes en begrippe soos reg en verkeerd; liefde en haat; skuldig en onskuldig, heilig en onheilig, goed en sleg of moord en verkragting. Dit kan jy nie letterlik soos fisiese dinge sien, tas, op ‘n weegskaal gooi of onder ‘n mikroskoop plaas nie. Dit is onsigbare dinge wat net in begrippe en gedagtes bestaan.
Nou, as die biologie onderwyser reg is, het ‘n man wat sy vennoot koelbloedig doodgeskiet het nie moord gepleeg nie. Dit was doodgewoon ‘n fisiese daad soos wat ‘n leeu ‘n bokkie vang. Drie mans het dan ook nie ‘n jong meisie verkrag nie – dit was dood gewoon natuurdrange. Dit was net iets fisies. Dit was nie verkeerd of sleg nie, want net wat fisies is, bestaan.
En al die boeke in ons biblioteke en studierigtings op universiteite handel net oor fisiese dinge. Daar is nie so iets soos sielkunde; of regte en howe; of filosofie nie. Politiek bestaan nie – so ook godsdienste. In hierdie heelal vind jy net fisiese wette!
Ps 14 sê net ‘n dwaas kan so redeneer! Dawid beskryf die dwaas juis as iemand wat met geen morele wette rekening wil hou nie. Hy teken hulle as korrup. Hulle dink hulle is vry en het die reg om so te leef. In werklikheid “vernietig” hulle alles om hulle soos met moord, bedrog, magsmisbruik, haat, wraak en vergrype. Want wie nie morele en geestelike wette erken nie, raak psigopaties en gewetenloos.
Maar meneer biologie. Jou grootste flater is dat jy in die laer orde van dinge dinge êrens vassteek. Jy weet dat alles van onder af opbou: van chemiese stowwe (waterstof en fosfor) na samestellings soos klippe, sonne, water. Dat dit verder opbou na lewe – van die heel eenvoudigste vorm tot die mens. Maar daar stop meneer bioloog.
Wat hy nie eers raaksien nie, is dat by die mens kom eers dinge soos beheer, regering, skepping, opbou, liefde en emosies ter sprake. By die mens word die geestelike vlak eers betree.
Maar ver bo alles is God! Hy is nie natuur en dus fisies nie, daarom is Hy onsigbaar.
“Aan Hom wat ewig Koning is, die onsienlike God, kom toe die eer en heerlikheid tot in alle ewigheid.”
Ons kan die bestaan van alles uit evolusie verklaar?
Evolusie gaan uit van die gedagte dat alles vanself – per toeval – onstaan het. Daar was geen bo-natuurlike ingrype nie – geen intelligensie nie.
Vra vir die onderwyser in biologie of die klaskamer waarin hy staan of die handboek wat hy gebruik, vanself ontstaan het – of sit daar intelligensie (dus iemand) daaragter? Selfs al kom jy by ‘n grot waar primitiewe mense gewoon het en jy merk die tekeninge teen die rotswande op weet jy dadelik dat die wind of water dit nie gedoen het nie. Wesens met intellek het dit gedoen – in hierdie geval eenvoudige Boesmans. Selfs in die diereryk is skeppinge oral waar te neem, soos nessies, miershope en kokonne. Niemand sal wil beweer dat dit vanself – of per toeval – ontstaan het nie. Almal weet dat iets (‘n wese) dit geskep het.
Net so, sê die Skrif, is dit met die skeppinge van God.
“Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie.”
Die Gees laat die apostel dus sê:
1. Dit is ‘n skepping.
As jy na God se werke kyk – of dit die heelal is, plante, visse, mense, die planeet aarde, DNA en atoom – kan jy nie anders as om te besef dat daar intelligensie (genialiteit) daaragter sit nie. So min as wat die onderwyser in biliogie se handboek of laboratorium vanself kon ontstaan het, so min alles in die hemelruim.
2. God se werke egter is “ewigdurend”.
Dit wat die mens maak, verval met die tyd en raak uitgediend (motors, geboue, paaie, enigiets). Hy sorg dat nuwe sonne, plante, mense uit die oue gebore word. Dit is nie evolusie wat dit bewerk nie, maar moet veel eerder programmering genoem word. Dit is inderdaad ‘n hoogs geniale proses om alles se voortbestaan te verseker en altyd nuut te hou! As die mens dit maar kan vermag sal dit nooit nodig wees om weer ‘n motor te koop nie! Die oue sal self vir jou ‘n nuwe voortbring!
3. “Die krag van God kan nie met die oog gesien word nie.”
Die mens se krag (soos elektrisiteit, atoomkrag, masjienerie, fabrieke, wapens) kan gesien word, want dit is van ‘n baie lae orde – dit is suiwer fisies en aards.
Die ewigdurende krag van God kan egter nie gesien word nie, want dit is van so ‘n hoë orde en enorme omvang dat dit totaal buite ons waarnemingsvermoë is.
Net soos dit wat die mens doen weer totaal buite die vermoë van ‘n vlooi lê. Dink u ‘n vlooi neem waar dat die mens die mag het om krag uit atoom, water, steenkool en sonlig te wek? Dat die mens oor mikroskope beskik om studies van vlooie te maak en gifstowwe het om vlooie uit te roei? Die verskil tussen die kleine mens op planeet aarde en die grote God van die heelal is baie groter as die verskil tussen ‘n mens en ‘n vlooi.
Die Onsigbare God word sigbaar in Jesus
Die feit dat God geestelik is, beteken nie dat Hy beperk is tot die onsigbare nie! Niks kan God inperk nie. Daarom kon Hy in sy Seun mens word – ons vlees aanneem.
Op meneer biologie se vraag: “Waarom sien ons God dan nie?”, kan dood eenvoudig geantwoord word:
* Omdat Hy soveel meer verhewe bo ons is – soos die mens bo die vlooi.
* Tog kan ons sy ewigdurende krag duidelik elke dag sien in sy skepping en werke.
* Verder het Hy in Jesus na ons neergedaal en het ons sy Woord (Bybel) in ons eie taal. Sy Woord wat op sigself ‘n wonder is as dit eers vir jou begin oopgaan.
* Daarby het God nog sy Gees in ons harte uitgestort. Die Gees bewerk geloof, liefde en hoop. Die Gees skenk gawes en innerlike vrede.
Wat wil jy nog meer hê, o mens, om vas en seker te weet dat daar wel ‘n God is?
Amen