ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Skb.1-2:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eks.20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.130:2
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.105:4,5
Lees: Matteus 16:13-23 en Sondag 31
Belydenis en doop
Sing: Ps.134:4
Kernvers: Mat.16:18
Tema: Jesus Christus bou sy kerk op rots
Sang: Skb.1-2:1,2,3; Skb.12-3:1,2; Ps.130:2; Ps.105:4,5; Ps.134:4; Ps.33:5,6; Skb.15-1/75:1,2,3
Inleiding:
Elke gelowige kind van die Here het geestelike beskerming in hierdie wêreld nodig. Die kerk bied geestelike beskerming teen die gevaar van die duiwel, die sonde en die wêreld, want Jesus Christus bou sy kerk en Hy bou op ‘n vaste rots.
Tema: Jesus Christus bou sy kerk op rots
Elke huis het ‘n fondament. Die fondament is die basis waarop die huis gebou is en wat die huis stewig laat staan. Die kerk van Christus word ook op ‘n stewige fondament, ‘n rots gebou. Christus het self gesê dat Hy sy kerk op ‘n rots bou. Hierdie rots maak ook dat die kerk staande bly.
Cesarea Filippi was ʼn dorp heel in die noorde van Israel. Dit was ʼn gewone dag in die omgewing van die dorp toe Jesus sy dissipels gevra het: “Wie, sê die mense is, is die seun van die mens?”
Die dissipels het geantwoord, dat die mense gesê het: Johannes die Doper, Elia, Jeremia of een van die profete (Mat.16:14). Daarna het Jesus gevra: “Maar julle, wie sê julle is Ek” (Mat.16:15).
Hierdie twee verse met wat die mense van Jesus geglo het en sy vraag aan sy dissipels, is een rede wat ons in die Bybel kry, waarom gereformeerde kerke ‘n geleentheid het soos om belydenis van geloof te doen. Daar is soveel verskillende kerke en soveel menings oor Jesus. Elke gelowige het nodig om hierdie vraag te antwoord: Wat glo jy van Jesus Christus? Die vrae wat aan elke gelowige kind van die Here met belydenis van geloof gevra word, gaan oor ons geloof in die enige ware God Vader, Seun en Heilige Gees, ons sonde en verlossing, oor die Woord van God en ons belydenis, ons lewe van gehoorsaamheid aan God in die sondige wêreld en ons lewe in die gemeente as ‘n lewende lidmaat met opregte geloof.
Dit is verder belangrik om te besef dat Jesus nie net vir die twaalf dissipels gevra om te sê wie Hy is nie. Die dissipels was die begin van die Nuwe Testamentiese kerk. Jesus, wil dus van sy kerk, sy gelowiges hoor wie ons glo Hy is. Ons antwoord die Here Jesus se vraag deur belydenis van geloof in ‘n erediens te doen.
Petrus het namens die dissipels geantwoord: “U is die Christus, die seun van die lewende God” (Mat.16:16). Daarop het Jesus geantwoord: “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou” (Mat.16:18).
Wie is die rots waarop die Here Jesus sy kerk bou? Die rots is nie Petrus self nie, want:
Daar is ʼn ander antwoord op die vraag wie die rots is. Die rots waarop die kerk gebou word, is die geloof wat Petrus ontvang het. Geloof is ‘n vroulike woord in Grieks. Jesus het van Petrus se geloof dat Jesus die Christus, die Seun van God is, gepraat.
Die geloof dat Jesus die Christus, die Verlosser is en God se Seun kom van die Heilige Gees af. Die Heilige Gees gee hierdie geloof aan mense deur God se Woord. Hierdie geloof verander nie. Die geloof wat Petrus namens die dissipels bely het, is vandag eeue later dieselfde: Jesus is die Christus, die Verlosser, en Hy is die Seun van God.
Hierdie geloof is die rots waarop Christus sy kerk bou! Dit is nodig dat ons op hierdie vaste rots sal bly staan: Jesus Christus is ons Verlosser net Hy alleen en Hy is die Seun van God.
2. Die Bouwerk wat gedoen word
Christus het gesê dat Hy sy gemeente sal bou. Wie of wat is die gemeente of dan die kerk?
Gewoonlik dink lidmate aan die gebou, wanneer ons die woord kerk hoor. Maar die kerkgebou is net die kerkgebou en nie die ware kerk nie. Meeste gemeentes bestaan reeds voor daar nog ‘n gebou is en die eredienste word aan die begin in een of ander skoolsaal gehou. So wie is die gemeente wat Christus bou?
Die rots is die geloof in Christus, daarom is die gemeente wat op die rots gebou word, die mense wat van God die openbaring ontvang het dat Jesus die Christus is en wat geglo het.
Die kerk is dus almal wat vanoggend hier met ‘n ware geloof in Jesus Christus sit. Die kerk hou nie op, wanneer die erediens verby is nie. Daarom is die kerk ons wat hierna huis toe gaan ry. Ons wat more as die Here wil en ons leef, die week ingaan om te gaan werk of in ons huise besig gaan wees, ons is die gemeente, die kerk van Christus. Die kerk is mense aan wie God geloof in Christus gegee het.
En… hierdie geloof kom nie wanneer iemand ʼn ervaring het van wonderlike herstel van siekte of lewend uit ‘n ernstige motorongeluk gekom het nie.
Die dissipels wat in Jesus as Verlosser geglo het, was reeds die begin van die kerk vann die Nuwe Testament. Toe meer mense van die Here Jesus wat vir ons gekruisig is en opgestaan het, gehoor het en in Hom geglo het, het die gemeente uitgebrei en gegroei.
Hoe bou Jesus Christus sy kerk?
Die bouwerk aan die gelowiges laat die kerk groei. Meer mense sluit by die gemeente aan. Maar, dit is nie al nie. Die bouwerk laat die gemeente se geloof ook dieper groei.
3. Die Bouer wat die kerk bou
Wie presies is die bouer van Jesus Christus se kerk? Is die bouer van die gemeente die predikant of die kerkraad of die kommissie vir gemeentebou?
Nee! Daar is net Een wat die kerk bou! “Op hierdie rots sal Ek my gemeente bou”, het Jesus gesê.
Jesus Christus is die Seun van God. Hy is ware almagtige en heilige God. Hy is ook die Seun van die mens. Hy is ware en regverdige mens. Hy is die Eienaar van sy kerk. Hy het deur sy dood aan die kruis op Golgota en deur sy opstanding die kerk syne gemaak.
Hy bou sy kerk deur sy kerk te verlos van sonde en hierdie verlossingsboodskap te laat verkondig en sy Gees te gee dat mense kan glo. Dit is wonderlike genade in die lewe van elke gelowige om te weet dat ons deel is van Jesus Christus se gemeente, omdat Hy ons geestelik gebou het en by sy gemeente gevoeg het. Dit is wonderlike verder genade om te kan glo, dat ‘n gemeente nie op ons eie is nie. Ons Verlosser bou sy gemeente.
Met Christus as enigste Bouer van sy kerk, het elke Christengelowige deur die Heilige Gees die sekerheid dat ek staande sal bly teen die duiwel, die sonde en die wêreld. Elke Christengelowige het ook die sekerheid saam met ander gelowiges in die Here Jesus Christus, dat ons teen die duiwel en die wêreld en die sonde staande sal bly, want ons is Christus se gemeente en Hy bou ons geestelik op die rots van ware geloof!.
ANTWOORD
Sing: Ps.33:5,6
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skr.15-1:1,2,3,4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met ons almal wees
Amen