Home Preke JESUS CHRISTUS het uit die dood opgestaan; Hy is ons HOOP!

JESUS CHRISTUS het uit die dood opgestaan; Hy is ons HOOP!

Datum: 2025-04-27
|
Kernverse: 1 Pet.1:3-5.

ONTMOETING
Votum: Ps.124
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Grote God (L 190)
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels.
Sing: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20
Antwoord op die Wet: Ps.25:3,5
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.71:12,14
Lees: 1 Petrus 1:1-9.
Kernverse: 1 Pet.1:3-5.
Tema: JESUS CHRISTUS het uit die dood opgestaan; Hy is ons HOOP!
Sang: Grote God (L 190):1,2,3; Ps.71:9; Ps.25:3,5; Ps.71:12,14; Die Heer, my Herder (L 577):1,2,3,4,5; Skb.18-7/45:1,3,11.

Inleiding:

Paasnaweek met Goeie Vrydag en Opstandingsondag is verby. Maar die genade van Goeie Vrydag en die genade en wonder van Opstandingsondag gaan nie verby nie. Die evangelie van die gekruisigde Jesus wat opgestaan het, is so belangrik en so nodig. Die gekruisigde Jesus wat opgestaan het, gee vir ons hoop. Trouens, Hy is ons hoop in ‘n lewe, in ‘n land en ‘n tyd waar daar soveel is wat ons hoop kan wegneem.

Tema: JESUS CHRISTUS het uit die dood opgestaan; Hy is ons HOOP!

  1. Jesus het uit die dood OPGESTAAN.
  • Jesus se opstanding was ‘n belofte in die Ou Testament.
    Job 19:25“Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aard triomfeer!”
    Psalm 16:10“U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie”.
    Jes.42:4“Self sal Hy ook nie uitgedoof of geknak word nie, totdat Hy my wil op die aard gevestig het…”.

Al hierdie beloftes is deur gelowiges, Job, Dawid, Jesaja, met die Heilige Gees in hulle geskryf. Trouens, die Heilige Gees het hulle hierdie woorde laat skryf. Hierdie beloftes was reeds eeue voor Jesus se opstanding vas en seker.

  • Jesus self het met sy gelowiges oor sy opstanding gepraat.
    Matt.17:22,23“Toe die dissipels weer in Galilea bymekaar was, het Jesus vir hulle gesê: “Die Seun van die mens gaan oorgelewer word in die hande van mense, en hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.”
  • Die Here Jesus Christus het regtig uit die dood opgestaan.
    Luk.24:1-3“Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het. Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af; en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie”.
  • Christus se opstanding is ‘n wonder wat gelowiges se lewe verander.
    Joh.20:19,28; 1 Kor.16:2 – Die dissipels het na Jesus se opstanding, in plaas van op die sabbat, die sewende dag van die week, op Sondag, die eerste dag van die week bymekaar gekom. Die sabbat van die ou verbond op die sewende dag het tot ‘n einde gekom, nadat die Here Jesus uit die dood opgestaan het. Die dag van sy opstanding, die dag van oorwinning oor die dood en ewige lewe het die rusdag vir die gelowiges van die nuwe verbond geword. Dit is die eerste dag van die week, Sondag.

Hierdie waarheid bring alle gelowiges in ‘n gemeente voor die vraag: Is Sondag vir ons die dag waarop Christus vir ons uit die dood opgestaan het en is ons om daardie rede saam met ander Christene in die erediens?

Hand.4:13 – Die dissipels was eenvoudige en ongeleerde mense, maar na Christus se opstanding, het hulle met die Heilige Gees in hulle, sterk en oortuigde getuies vir die Here Jesus geword, sonder om vir enigiemand terug te deins.

Ook hier is ‘n vraag: Leef Christus se opstanding so helder en sterk in ons harte dat ons geloof ons ook sterk en oortuigde getuies vir Hom in hierdie land maak?

Joh.11:25,26 – Deur Jesus se opstanding uit die dood, het Hy die dood oorwin en die dood se mag oor elkeen wat in Hom glo, gebreek. Ons ou lewe was lewe in die mag van die duiwel, sonde en die dood. Deur Jesus Christus se opstanding het ons die nuwe lewe, verlos uit die mag van die duiwel, die sonde en die dood. Hierdie is ‘n geweldige verandering in elke gelowige se lewe.

Glo ons almal met ons hele hart dat ons deur Jesus se opstanding nie meer in ons ou lewe is nie, maar die nuwe lewe by God as ‘n genadegeskenk gekry het?

2. God gee aan ons die EWIGE LEWE.

Toe Christus uit die dood opgestaan het en sy graf daardie Sondagoggend leeg was, was die  vroue en die dissipels van die Here Jesus getuies dat Hy uit die dood opgestaan het. Hulle was ooggetuies. Hulle het gesien dat sy graf leeg was. Hulle was oorgetuies. Hulle het by die engele gehoor dat Jesus uit die dood opgestaan het.

Die getuies wat ons oor Jesus se opstanding het, is dus nie van hoorsê nie. Petrus is een van die oog- en oorgetuies van die Here Jesus se opstanding. Hy het self in die graf ingegaan. Jesus het na sy opstanding aan Petrus verskyn. Die brief wat ons vanoggend voor ons oop het, is dus ‘n brief van ‘n oog- en oorgetuie van Jesus se opstanding.

Verder het die Heilige Gees hom gelei, gedring en geïnspireer om hierdie brief te skryf. Deur die Heilige Gees het Petrus geskryf dat ons deur Christus se opstanding die nuwe lewe, die ewige lewe as geskenk ontvang het.

Hierdie ewige lewe loop vir ons as Christengelowiges uit op ‘n ewige erfenis. Oor die ewige lewe kan ons en behoort ons die volgende in ons harte te weet:

  • Die ewige lewe deur Christus wat vir ons gesterf en vir ons opgestaan het, is ‘n werklikheid. Ons weet nie net hiervan nie. Ons glo vas en seker met die Heilige Gees in ons dat ons nie meer verlore gaan nie, maar die nuwe lewe, die ewige lewe het. Ons het die ewige lewe deur Christus se opstanding uit die dood het.
  • Die ewige lewe is nie net ‘n lewe wat in die toekoms lê nie. Die volheid van die ewige lewe waar ons met liggaam en siel ewige in die hemel by Christus sal wees, wag nog in die toekoms. Maar die werklikheid dat ons nou reeds kinders en erfgename van God is wat die ewige lewe sal erf, is nou reeds vas en seker en nou reeds deel van almal wat in Christus glo, se lewe. Daarom behoort Christene nou reeds al ons gedagtes en beplanning en ideale en energie hoofsaaklik vir hierdie lewe op hierdie aarde te gee nie. Ons het hier ‘n roeping, maar ons roeping vir hierdie tydelike lewe is nie belangriker as ons roeping vir die ewige lewe nie.
  • Die ewige lewe wat ons nou reeds het, loop vir ons uit op die ewige erfenis in die hemel. Hierdie ewige erfenis is onverganklik, onbesmet en onverwelklik.

Hierdie ewige erfenis is onverganklik – ons erfdeel gaan in ewigheid nie ophou of wegraak nie.
Ons erfenis is onbesmet – ons erfdeel in die hemel is volmaak.
Ons erfenis is onverwelklik – so nuut en volmaak soos ons erfenis in die begin is, so nuut en volmaak sal ons erfenis vir ewig bly.

Wanneer ons lees wat Petrus geskryf het, behoort ons almal te besef hoe belangrik die ewige lewe en ons ewige erfenis is. Ons as Christene sal in ons lewe van elke dag moet wys dat ons die ewige lewe het en dat ons  ewige erfenis vir ons die belangrikste is.

Daarom: Nie vashou aan hierdie aardse lewe met alles wat ons het nie, maar vashou aan die ewige lewe en die ewige erfenis wat ons deur Christus se opstanding by God gekry het!

3. Ons het ‘n LEWENDE HOOP op ‘n ewige erfenis.

Jesus Christus gee vir ons hoop. Dat Hy uit die dood opgestaan het gee vir elkeen wat deur die Heilige Gees met ‘n opregte hart in Hom glo en aan die ewige lewe en ons ewige erfenis vashou.

Ons almal leef in ‘n stukkende wêreld, ‘n stukkende land en soms in ‘n stukkende lewe. Daar is genoeg rede om moedeloos en sonder hoop te wil leef.

MAAR….daar is baie meer rede om MET HOOP TE LEEF!

Die ewige lewe deur Christus wat opgestaan het, is ‘n werklikheid nou reeds. Ons kan nou reeds met die Heilige Gees in ons seker wees van die ewige lewe en nou reeds dink en praat en doen soos mense wat die ewige lewe het.
Die ewige erfenis wat vir ons wat in Christus glo, is ‘n werklikheid wat op ons in die toekoms wag. Met die Gees in ons  kan ons nou reeds seker wees van ons ewige erfenis.

Hoop is juis sekerheid. Die gekruisigde Jesus wat opgestaan  het, Hy is ons sekerheid, Hy is ons HOOP!

Wanneer ons ons hoop op ons gesondheid en ons liggaamskragte stel, verdwyn ons hoop wanneer  ons oud of swak of siek word of sterf.
Wanneer ons ons hoop op ons werk en ons inkomste stel, verdwyn ons hoop wanneer die firma waar ons werk toemaak of wanneer ons geld verswak of wanneer ons inkomste nie saam met die lewenskoste styg nie.
Wanneer ons ons hoop op ‘n politieke party stel, verdwyn ons hoop wanneer daardie party nie die verkiesing wen nie.

Maar…wanneer ons ons HOOP OP CHRISTUS stel, het ons ‘n ewige en lewende hoop wat nie verdwyn nie, in ewigheid nie. Ons hoop is lewend, want Christus het opgestaan. Hy leef. Hy regeer. Hy maak ons ewige erfenis vir ons gereed. Hy kom weer om ons te kom haal.

4. God BEWAAR ons en ons erfenis.

Die land waarin ons leef, is allesbehalwe ‘n volmaakte land. Dit lyk eerder asof die onvolmaaktheid, die stukkend en die verkeerd al meer word.

Dit lyk baie keer of die kerk, hoe die kerk moet wees  en hoe dit met die kerk behoort te gaan, al hoe meer onvolmaak word.

Dit voel en lyk dalk vir baie van ons of die probleme en moeilike omstandighede in ons eie lewe al meer en al groter word.

Die probleme en swaarkry in ons land en in baie lande in die wêreld, die probleme en swaarkry in die kerk en ons eie swaarkry, lyk soveel keer vir ons te veel en te groot. Selfs gelowiges wil moed opgee.

God praat met ons hieroor in Petrus se brief. Ons kan uit 1 Pet.1 die volgende neem:

  • Jesus Christus het regtig opgestaan! Hy lewe!
  • Deur sy opstanding het God vir ons die nuwe lewe gegee.
  • Die nuwe lewe loop vir ons uit op ons ewige erfenis in die hemel.
  • Al die probleme en die swaarkry in hierdie lewe gebeur nie sommer net nie.
  • God het ‘n  plan, ‘n doel met swaarkry en probleme. Hy is besig om met al die probleme in die land en in die kerk en in ons eie lewe, ons geloof te toets. Hy is besig om ons geloof meer en meer te suiwer, sodat ons gereed sal wees om ons erfenis te ontvang wanneer die Here Jesus weer kom.
  • Die swaarkry en probleme sal ons as Christengelowiges nie onderkry en oorweldig nie. God bewaar ons vir ons erfenis wat in die hemel op ons wag.
  • Hy bewaar ook ons ewige erfenis, ‘n plek by Hom en by Jesus sy Seun in die hemel. Op die tyd dat Hy besluit, sal Hy sy Seun stuur om ons te kom haal. Tot dit gebeur, is ons erfenis volmaak veilig in die hemel.

Wanneer ons 1 Pet.1 lees en met ons hele hart in die Here Jesus Christus wat vir ons uit die dood opgestaan het, glo, het ons HOOP.

Dit is nie swak of vergeefse hoop nie, Inteendeel! Ons het ware, ewige, lewende hoop, want CHRISTUS wat opgestaan het IS ONS HOOP!

ANTWOORD
Sing: Die Heer my Herder (L 577):1;2;3;4;5.
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.18-7/45:1,3,11
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen

Klankbaan

Luister na die preek.