Home Preke JESUS CHRISTUS is die LIG wat die donker in ons lewe verdryf

JESUS CHRISTUS is die LIG wat die donker in ons lewe verdryf

Datum: 2021-10-31

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde

Inleiding:

Wanneer ‘n mens die Bybel oopmaak het jy altyd met lewe en dood of lig en duisternis te doen. Dit is regtig so. Vanoggend luister ons na wat God vir ons oor DIE LEWE en DIE LIG sê.

Tema: JESUS CHRISTUS is die LIG wat die donker in ons lewe verdryf

  1. Die wêreld in duisternis het lig nodig

Die tyd wanneer God sy Seun na die aarde gestuur het, het die mense gelewe, maar nie die lewe gehad nie. Baie keer onderskei mense, selfs Christene nie tussen “om te leef” en “om die lewe te hê” nie.

Alle mense en diere en plante en organismes leef op aarde deur God se algemene genade. Maar nie alles en almal het die lewe nie. Net die mens wat In Jesus Christus wat vir sondaars gesterf en opgestaan het, het die lewe. Hierdie is God se spesiale, sy besondere genade.

Wanneer jy geestelik dink en praat of met die Bybel besig is, is dit altyd nodig om die verskil tussen lewe en die lewe te hê, te besef en te onthou.

Met Jesus se koms het die land en sy mense net geleef. Wanneer mens net leef, is jy in die duisternis. Kom ons kyk na die duisternis destyds.

  • Van die beloofde land en ‘n lewe as verbondsvolk naby God en aan Hom gehoorsaam was daar niks oor nie.

  • Die verbondsvolk het onder die harde regering van die heidense Romeinse regering geleef.

  • Die preke wat die Jode gehoor het was dat hulle die wet moet gehoorsaam en omdat hulle nie volmaak gehoorsaam was nie, is hulle geestelik gereeld veroordeel.

  • Vir ongeveer 400 jaar is die deel van die verbondsvolk wat nog oorgebely het, deur heidense wêreldregerings onderdruk en vervolg.

  • In die tyd het hulle God se stem nie soos in die verlede deur die profete gehoor nie.

  • Van die beloofde Verlosser wat juis uit Juda sou kom, was daar nog niks.

  • Elkeen het maar probeer leef soos hy of sy gedink het die beste is volgens die wette van die Ou Testament.

Die mense van Juda het geleef, maar hulle het nie die lewe gehad nie en ook nie geweet waar om die lewe te soek en hoe om die lewe te kry nie. Juda het in duisternis geleef. Dit was ‘n tyd dat die Verlosser wat God beloof het, dringend nodig was.

Tenspyte daarvan dat die Verlosser gekom het, leef die grootste deel van Suid-Afrika in duisternis. Heeltemal te veel mense weet heeltemal te min van Jesus Christus af en hoe lewensbelangrik Hy vir elke mens is. Die grootste deel van die land se bevolking is tevrede om net te leef. Ja, baie in ons land sal sê dat hulle in Jesus glo, maar hulle soek ‘n beter werk, met meer geld wat vir ‘n beter lewe sal sorg en veral ook genesing van siekte van Jesus. Hierdie groot deel van ons land se mense wil ‘n beter lewe op aarde hê en Jesus moet daarvoor sorg.

Suid-Afrika is geestelik ‘n land in duisternis, donkerte. Die nagevolge van die sonde van Adam en Eva soos ernstige siektes, en veral in hierdie tyd Covid-19 en die dood waarmee ons hier op aarde te doen kry, maak die donkerte nog erger.

  1. God gee lig deur sy Seun na ons toe te stuur

Op presies die regte tyd, die volmaakte tyd het God sy Seun gestuur. In die donkerte van die nag het God se Seun deur ‘n almagtige wonder mens geword.

Daar was skaapwagters in die veld net buite Betlehem by hulle skape. ‘n Helder lig het oor hulle gestraal. ‘n Engel uit die hemel het hulle van die geboorte van die Verlosser vertel. Hierdie boodskap aan die skaapwagters het beteken dat die Verlosser vir gewone mense gekom het.

Die helder lig van ‘n vreemde ster het wyse manne uit die ooste na God se Seun gelei. Hierdie gebeurtenis het beteken dat die Verlosser ook vir heidene gekom het.

Die Bybel, die lig op ons lewenspad op aarde, lê vanoggend oop. Ons kan lees en hoor dat God sy Seun vir ons gegee het.

Die enigste manier om nie net te leef nie, maar om die lewe te hê, is om die lewe by God te kry. Hy is lewe. Hy het lewe. Hy gee lewe. Hy het sy Seun gestuur, sodat elkeen wat in Hom glo, die lewe kan hê. Dit beteken dat God die lewe net deur sy Seun gee.

Om hierdie woorde saam te vat: God gee die lewe deur sy Seun, daarom was sy Seun, Jesus Christus DIE LIG vir die mense destyds en is Hy DIE LIG vir ons vandag.

  1. Jesus Christus betree aan die kruis die duisternis van sonde en dood

Wat het Jesus Christus op aarde kom doen?

Die kerk wat preek en die lidmate wat glo dat Jesus gekom het om te sorg dat ek meer geld en besittings en ‘n beter lewe sal hê, is heeltemal verkeerd. Die preke en geloof is vals.

Die kerk wat preek en die lidmate wat glo, ek moet net bid vir die bloed van Jesus dan sal ek altyd gesond word, preek en glo verkeerd. Ook hierdie preke en geloof is vals.

Wanneer ek die Bybel oopmaak, lees en hoor ek die volgende woorde waarom Jesus na die aarde toe gekom het:

  • 1:21 – die woorde van ‘n engel uit die hemel aan Josef:”Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”

  • 3:16 – die woorde van ‘n dissipel van Jesus:”God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”

Daar is baie ander dele in die Bybel hieroor. Die woorde is elke keer dieselfde: Jesus Christus het gekom om ons van sonde te verlos, sodat ons die lewe kan hê!

Daar was net een manier waarop Jesus ons van sonde kon verlos, sodat ons die lewe kan hê. Hy moes die straf vir en oordeel oor sonde dra. Hierdie straf was die dood waarvan God die dag in die paradys gepraat het, toe Hy Adam gewaarsku het teen sonde en dit is die ewige dood (Gen.2:16,17).

Hier is ons by die wonder van die lig wat in die duisternis skyn. Jesus Christus het ons sonde op Hom geneem. Hy het Homself oorgegee aan die geestelike leiers van die Jode wat Hom wou doodmaak. Onder hulle het Hy baie swaar gely. Hy is onskuldig ter dood veroordeel. Uiteindelik het Hy ‘n wrede dood aan die kruis gesterf.

Daar aan die kruis het Jesus Christus met ons sonde op Hom, sy lewe afgelê en gesterf. Deur sy dood het Hy die mag van die sonde oor ons gebreek. Deur sy dood het Hy ook die skuld voor God ten volle betaal. Omdat Jesus Christus gesterf het, het Hy die mag van die duisternis van sonde en dood vir ewig gebreek.

  1. Hy staan op uit die dood en oorwin die duisternis

Die oggend toe die vroue Jesus se liggaam wou gaan salf na sy dood, soos hulle destyds gedoen het, was sy graf leeg. Die dissipels het gaan kyk en die leë graf gesien soos die vroue gesê het. Daarna het Jesus verskeie kere aan mense verskyn. Die getuienis dat Jesus uit die dood opgestaan het, is baie sterk en eintlik oorweldigend.

Dit is baie belangrik om te besef en te glo dat Jesus Christus vir ons uit die dood opgestaan het. Sy opstanding beteken die volgende vir elkeen wat in Hom glo:

  • God se Seun het die dood oorwin. Hy het die dood vir my oorwin.

  • Hy het opgestaan om vir my sekerheid te gee dat my liggaam met sy wederkoms sal opstaan uit die dood.

  • Christus laat my geestelik opstaan, sodat ek nie meer net leef nie, maar dat ek die lewe kan hê.

Hier waar ek nou in 2021 is in ‘n donker land en wêreld, het ek Jesus Christus, God se Seun in my lewe, Hy wat die duisternis van die sonde en die dood oorwin het!

  1. Die Heilige Gees bind ons aan Christus, ons ewige LIG

Jesus Christus het 2000 jaar gelede en 9000 km van hier af uit die dood opgestaan. Hoe kom hierdie wondergenade by my in Pretoria uit, sodat ek nie meer in die duisternis nie, maar in die lig kan lewe?

Wat Jesus Christus gedoen het toe Hy gesterf en opgestaan het, kom net op een manier by my uit. Daar is geen ander manier om wat destyds in Jerusalem gebeur het, deel van my lewe te kan hê nie.

Die een manier is:

  • Die Heilige Gees kom in my met die Evangelie van Jesus se kruisiging en opstanding. Hy kan in my binnekant inkom, want Hy is die almagtige God.

  • Die Heilige Gees begin geloof in Jesus Christus in my hart. Hierdie geloof is geloof dat Jesus Christus vir my gesterf en opgestaan het en my volmaak van sonde verlos het.

  • Die Heilige Gees gee vir my geloof. Ek gebruik die geloof en neem Jesus Christus aan. Ek glo in Hom as my Verlosser (Joh.1:12).

  • Deur hierdie geloof bind die Heilige Gees my ewig aan Jesus Christus.

  • Aan Jesus Christus gebind, het ek die ewige LIG in my lewe.

  • Met God se Seun as die LIG in my lewe, leef ek nie meer in die duisternis nie en sal die duisternis van sonde en dood my nie oorweldig en vernietig nie.

  1. Ons kan deur geloof nou en vir ewig in Christus se lig leef

Wanneer ek deur die Heilige Gees aan Jesus Christus gebind is, is die volgende in my lewe waar:

  • Ek is ‘n kind van die lewende God en ek leef onder sy sorg en sy liefde en sy genade.

  • Ek kry nog swaar, want die duisternis is nog nie weg uit die wêreld nie. Daar is nog ernstige siekte in my en die mense na aan my se lewe, Covid-19 het my en die mense wat ek liefhet, seergemaak, en die vreemde en gevaarlike siekte kan weer ernstiger word as nou, dan moes ek die afgelope tyd en moet ek steeds die dood van iemand naby aan my verwerk en hanteer. Maar…hierdie duisternis het nie meer die mag oor my nie en sal nie die oorhand oor my kan kry nie. Hoekom nie? Ek het Jesus Christus in my lewe en Hy is die onuitblusbare EWIGE LIG in my lewe!

  • Met Jesus Christus deur sy Gees in my hart en my gedagtes leef ek nie met moedeloosheid en vrees oor siekte en dood nie. Die werklikheid van die dood oorheers nie langer meer my lewe nie. Ek leef deur die Heilige Gees met ‘n groter werklikheid in my: JESUS CHRISTUS is die EWIGE LIG in my lewe! Daarom het ek in my hart ‘n vaste geloof; ek het sekerheid; ek het troos; ek het ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan in my.

  • Die wêreld om my is nog donker, maar ek het LIG, want ek het die EWIGE LEWE wat Jesus Christus, ons Verlosser vir my gegee het!

Hierdie is die geloof wat ons in die Bybel kry.

Hierdie is die geloof wat met die Hervorming weer opgekom het en mense se lewe verander het.

Met hierdie geloof leef ek elke dag aan God gebind.

Gebed

Seën: God wat alle genade gee en julle geroep het om deur Jesus Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.