Home Preke Jesus Christus maak alles bekend wat God Hom gegee het, vir ons om te glo

Jesus Christus maak alles bekend wat God Hom gegee het, vir ons om te glo

Datum: 2022-01-02
|
Kernverse: Op.1:1-3
  • ONTMOETING

Votum: Ps.124:8

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lof aan God: Ps.118:1,12

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Sb.12-3:1,2

  • VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34

Antwoord op die Wet: Ps.19:4

Gebed

  •  VERKONDIGING

Sang: Ps.119:1,2

Lees: Openbaring 1:1-3

Kernverse: Op.1:1-3

Tema: Jesus Christus maak alles bekend wat God Hom gegee het, vir ons om te glo

Sang: Ps.118:1,12; Sb.12-3:1,2; Ps.19:4; Ps.119:1,2; Sb.15-8:4,5; Ps.90:1,9

Inleiding:

Openbaring, die laaste boek in die Bybel…. Is hierdie boek met sy baie beelde, sy baie simbole en getalle nie moeilik om te verstaan en daarom eintlik onbekend nie?

Anders gestel: Lees jy Openbaring graag? Verstaan jy wat jy lees? Hoe verander hierdie boek jou lewe?

As die Here wil, ondersoek en ontdek ons hier aan die begin van 2022 wat ons God vir ons in hierdie boek vertel en leer.

Tema: Jesus Christus maak alles bekend wat God Hom gegee het, vir ons om te glo

  1. Die openbaring

Miskien is daar vanoggend van ons wat dink en voel dat Openbaring ‘n baie moeilike boek is wat ‘n mens nie regtig sal verstaan nie. Is die Openbaring, die laaste boek van die Bybel, hierdie moeilike boek om te verstaan met al sy beelde en getalle en simbole?

Luister saam na wat God vir ons in Openbaring sê, hoofstuk 1 verse 1 – 3 vanoggend en as Hy wil, ook in die volgende Sondae dat ons met die boek besig sal wees.

Die laastean die begin van die deel geskryf het en die woord aan die einde herhaal het. Hier staan die woord aan die begin.

Wanneer ons die woord “openbaring” heel aan die begin van die eerste vers sien, moet ons weet hierdie woord ‘n belangrike betekenis het. “Openbaring“ beteken “om die deksel op te lig”.

God het in sy almag, sy alwetendheid en sy genade die deksel van die geskiedenis vir elkeen wat hierdie boek lees of na hom luister, “opgelig”.

Die hele eerste sin van Op.1:1 klink so: “Die openbaring van Jesus Christus”. Die Heilige Gees, want Johannes het onder sy leiding, hulp en inspirasie die boek geskryf, leer ons hier twee baie belangrike waarhede:

  • Die eerste – Die openbaring wat Johannes gekry het, kom van Jesus Christus af. Die Here Jesus Christus, aan die regterhand van sy Vader, het die openbaring van sy Vader gekry. Jesus het sy engel gestuur. Die engel het die deksel van die wêreldgeskiedenis vir Johannes opgelig.
  • Die tweede – Hierdie is die openbaring van Jesus Christus. Jesus Christus neem die belangrikste plek in hierdie openbaring in. Hy is die Middelpunt van die wêreldgeskiedenis! Ons hoor dus aan die begin van hierdie nuwe jaar, dat Jesus Christus die Middelpunt is van alles wat ook hierdie jaar sal gebeur. By verre die meeste mense weet dit nie eers nie, om nie eers te praat van dit glo nie! Elkeen van ons staan voor die vraag: Glo ek met my hele hart dat Jesus Christus die Middelpunt van die wêreldgeskiedenis, en dus ook die Middelpunt van 2022 is?

Dit is nou ook nodig dat ons almal sal besef hoe die openbaring na ons toe gekom het. Ons kyk in Op.1:1,2 in werklikheid na die gesag van die openbaring wat ons voor ons het –

  • God het die openbaring vir Jesus Christus gegee.
  • Jesus Christus het sy engel gestuur.
  • Die engel het Johannes alles laat sien.
  • Johannes getuig van alles wat hy gesien het.
  • Ons lees die getuienis en luister daarna.

Hierdie openbaring kom van God af. Wat ons in hierdie boek lees of waarna ons in hierdie boek luister, kom van die ewige, allerhoogste en alwetende God af, wat die openbaring van die wêreldgeskiedenis aan sy Seun, die Hoof van die heelal en die Hoof van sy kerk, gegee het. Hierdie openbaring het dus die hoogste gesag wat daar is!

Die genade om die boek waarin die Allerhoogste God die deksel van die wêreldgeskiedenis vir ons oplig, te kan besit en te kan ontdek wat daarin staan, is aangrypend! Hierdie genade is vir ons bedoel, want ons het die Bybel. Ons kan, as die Here wil, in die tyd wat voorlê met hierdie boek besig wees.

Ons het nodig om met Openbaring besig te wees, want ons het die “openbaring oor wat binnekort (83 vert.) / gou (53 vert.) moet gebeur”. Die allerhoogste God, deur Jesus Christus laat die wêreldgeskiedenis gebeur. Dit “moet” gebeur. Ons lees in hierdie woord God se almagtige, alwetende en heilige “moet”. Soos God beskik so “moet” en so sal die geskiedenis gebeur. “Binnekort” of “gou” beteken dit wat die engel Johannes laat sien het, was reeds besig om te gebeur, dat die wêreldgeskiedenis vinnig gebeur en dat die voleinding van die tyd naby is.

Vir elke Christen wat hierdie woorde lees of hoor, beteken dit: Maak gebruik van die genadetyd wat God nog gee!

  1. Die getuienis

Oor die getuienis van die openbaring van Jesus Christus, leer die Heilige Gees ons drie belangrike waarhede. Op.1:2 gaan oor die getuienis.

  • Johannes is die getuie. Johannes is een van Jesus se dissipels. Teen die tyd dat hy die openbaring ontvang het, was hy die enigste dissipel wat nog geleef het. Die ander dissipels het onder swaar vervolging reeds gesterf ter wille van Jesus Christus en hulle geloof in Hom. Johannes is ook vervolg. Hy is nie as martelaar doodgemaak nie. Hy is na ‘n eiland met die naam Patmos verban. Patmos is vandag een van die Griekse eilande aan die weste van die Turkse kus. Johannes is verban om hom te keer om langer oor Jesus Christus te praat. Daar op die eiland waar hy afgesonder moes wees, het Johannes tussen 85 en 95 n.C. hierdie openbaring ontvang wat God bewaar het en in sy Woord laat opneem het, sodat ons kan lees en kan luister. Die goddelose Romeinse keiser, Domitianus, het die getuie van Jesus Christus verban om hom stil te hou. Jesus Christus het die deksel van die wêreldgeskiedenis opgelig, sodat Johannes en die hele wêreld kan sien en hoor en glo!

 Jesus Christus het na sy opstanding, net voor sy hemelvaart gesê: “Julle sal my getuies wees…” (Ha.1:8). Johannes het Jesus liefgehad. Hy het sy Verlosser gehoorsaam. Hy het getuig.

Die Here Jesus se opdrag “Julle sal my getuies wees” was nie net vir die dissipels bedoel nie. Hierdie opdrag is vir sy kerk, dit is elke Christengelowige bedoel. Hierdie jaar wat God goed gedink het om vir ons te gee, is ‘n jaar om van Jesus Christus te getuig. Die kerk, die gelowiges in ons land se stem is te stil, ons getuienis te min en te swak. Ons het die OPENBARING en ons het die OPDRAG en ons het die HEILIGE GEES. Ons het nodig om hierdie jaar ‘n jaar van getuienis oor die Here Jesus Christus te maak!

  • Die getuienis is van wat God gesê het. Die getuienis is nie mensgemaak nie en gaan ook nie oor ‘n mens nie. Die getuienis wat ons voor ons het, is wat God gesê het. Die Here Jesus se engel het Johannes alles laat sien. Die Heilige Gees het Johannes laat skryf. Wie Openbaring lees of na die boek luister, lees en luister in werklikheid na God wat praat.

 Wanneer ons getuig, moet ons van God praat met Jesus Christus as die Middelpunt. Die wêreld, ons land en selfs die kerk lyk soos dit alles lyk, omdat Jesus Christus heeltemal te veel keer nie die Middelpunt van wat ons dink en sê en doen, is nie!

  • Jesus Christus het die getuienis bevestig. Met hierdie woorde beklemtoon Johannes dat niks in hierdie openbaring van homself af kom nie. Johannes het alleen gesien wat die engel wat Jesus Christus gestuur, hom gewys het.

 Ons het in 2022 baie om oor te praat, te getuig. Jesus Christus, ons Verlosser is die Middelpunt van die wêreldgeskiedenis, ook van alles wat hierdie jaar sal gebeur, as die Here wil. Elkeen van ons het baie om van Christus te vertel, te getuig.

Ons het die gesag om in 2022 van die Here Jesus te getuig. Ons het sy opdrag en ons het sy openbaring. Ons het die Heilige Gees. Wat ons vertel, wat ons getuig, kom nie uit onsself nie. Om in 2022 van Jesus Christus te kan getuig, het ons nodig om met die Bybel besig te wees en vir mekaar te bid.

  1. Die saligheid

Salig of geseënd is die wat…is woorde wat sewe keer in Openbaring voorkom. Hier is die eerste.

Destyds was daar ‘n voorleser tydens ‘n erediens. Johannes het hierdie gelowiges in gedagte gehad. Hy skryf ook van die gelowiges wat die woord van God gehoor het. Met hierdie woorde druk die Heilige Gees ons elkeen op die hart: Ek kan nie neutraal staan wanneer dit by die boek Openbaring kom nie.

Die boek is ‘n profesie in die vorm van ‘n brief. ‘n Profesie gaan oor wat God sê. Ons ken sekerlik almal die bekende woorde wat omtrent in elke profesie van die Ou Testament voorkom: “So sê die Here”. Openbaring is ook so ‘n boek. Ek kan nie die boek lees of hoor en niks gebeur nie.

Wat wil die Here hê, moet gebeur? Drie woorde maak sy wil bekend: Lees, hoor en die laaste woord, ter harte neem of gehoorsaam of bewaar (enige betekenis is reg). Die Here wil dat ek sy openbaring in my hart sal bewaar. Hy wil dat die boek Openbaring deel van my lewe sal wees, in my hart sal wees waar ek sy woorde in die laaste boek van die Bybel bewaar.

Wanneer ek die boek Openbaring in my hart bewaar, bewaar ek in werklikheid Jesus Christus wat vir my gesterf en opgestaan het en na die hemel opgevaar het, in my hart. Ek kan Jesus net in my hart bewaar deur die Heilige Gees in my. Die Heilige Gees gee vir my ‘n wedergebore hart. Hy gee vir my geloof in Jesus Christus. Ek bewaar Jesus Christus in my hart, dit is ek glo in Hom, ek is lief vir Hom en ek gehoorsaam Hom, deur die Heilige Gees wat my help.

Elkeen wat deur die Heilige Gees in Jesus Christus glo, het die ewige lewe, is salig.

  1. Slot

God lig vir ons in die laaste boek van sy Woord die deksel op die wêreldgeskiedenis. Jesus Christus is die Middelpunt van die wêreldgeskiedenis. Elkeen wat Openbaring lees en hoor en in die Here Jesus glo, het die ewige lewe, is ewig salig.

Hierdie alles maak van Openbaring ‘n baie kosbare boek en ‘n boek om in 2022 besig mee te wees.

  • ANTWOORD

Sang: Sb.15-8:4,5

Gebed

Sang: Ps.90:1,9

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.