Home Preke Jesus Christus praat met sy kerk oor alles wat in sy kerk gebeur

Jesus Christus praat met sy kerk oor alles wat in sy kerk gebeur

Datum: 2022-01-30
|
Kernverse: Op.2:1,2,7

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was een wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde

Lof aan God: Ps.150:1,3

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34/Sondag 34, vr.en antw.93

Sang: Ps.59:1,5,10

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.18:1,13

Lees: Openbaring 2:1-3:22 (2:1-11; 3:7-22)

Kernverse: Op.2:1,2,7

Tema: Jesus Christus praat met sy kerk oor alles wat in sy kerk gebeur

Sang: Ps.150:1,3; Ps.71:9; Ps.59:1,5,10; Ps.18:1,13; Ps.84:3,6; Sb.1-1/24:1,3,7

Inleiding:

God wil met sy kerk van alle tye oor die wêreldgeskiedenis praat. Wat Hy wil sê, het Hy vir sy Seun, die gekruisigde Jesus wat opgestaan het, gegee. Ons sien in Openbaring dat Jesus Christus eers met sy kerk oor wat in sy kerk gebeur, praat. Hy het vir Johannes briewe gegee om vir sy kerk te skryf. Die briewe was eers vir die sewe gemeentes in Klein-Asië, maar is bedoel vir die kerk van alle tye. In hierdie briewe praat Jesus Christus met sy kerk oor alles wat in sy kerk gebeur.

Tema: Jesus Christus praat met sy kerk oor wat alles in sy kerk gebeur

  1. Jesus Christus leef in sy kerk

Die eerste wat elke gemeente moet weet, is wie Jesus Christus is. Niemand van ons mag dink en sê dat dit maklik is om te weet wie die Here Jesus is nie. Een van die redes waarom dit in ons land en in die kerk gaan soos dit tans gaan, is omdat baie nie regtig weet wie Jesus Christus is nie. Elkeen van ons het die genade om Jesus Christus in Op.2 en 3 goed te leer ken.

Kyk dan saam in Op.2 en 3 wie Jesus Christus regtig is.

  • Jesus leef in sy kerk. Net meer as ‘n maand gelede het ons Jesus se geboorte herdenk. Dit is goed en reg en ‘n sterk getuienis in hierdie sondige land dat ons Kersfees vier. Maar ons mag nie by die nag in Betlehem bly nie. Op ‘n Sondagoggend soos hierdie het ons die gekruisigde Jesus wat uit die dood opgestaan het en nou die Hoof van die heelal en die kerk om mee rekening te hou. Die belangrikste Persoon in die heelal en die kerk, leef in sy kerk, in ons twee gemeentes.

  • Hy is die Begin en die Einde van alles. In die begin was Hy daar. Alles het deur Hom ontstaan (Joh.1:3). Wanneer hierdie aarde en hierdie hemel, wat ons dink, so vas en seker is, maar nie is nie, tot ‘n einde kom, is Jesus Christus die hemelse Regter daar. Hy wag vir elke enkele mens wat ooit op hierdie aarde geleef het. In die genadetyd wat die kerk nog het, leef die Verlosser en Regter in sy kerk.

  • Hy deel sy kerk in twee. Jesus Christus is in sy kerk met sy Evangelie, God se Woord, die Bybel. Die Bybel is ‘n swaard wat na twee kante toe sny. Jesus Christus deel ook sy kerk met sy Evangelie in twee. In Christus se kerk is daar gelowiges met opregte geloof in Christus. Maar daar is ook lidmate wat net gelowig lyk, maar nie is nie.

  • Hy is self God. Hy kyk regdeur elkeen in sy kerk. Jesus Christus is in sy kerk as die almagtige en alwetende God. Hy het oë wat verby alles van my kyk tot in my hart en my siel. Alles in my binnekant, wat net ek van weet, lê heeltemal oop en bloot voor Jesus Christus.

  • Jesus Christus leef en werk in sy kerk deur die Heilige Gees. Die kerk kan daarom nie op ‘n gewone natuurlike manier dink en praat en doen nie. Die kerk is in die eerste plek geestelik, want die kerk is gelowiges met wedergebore harte vol geloof in Jesus Christus.

  • Jesus Christus die gekruisigde wat opgestaan het, is self sy Evangelie wat ewig oopsluit en ewig toesluit. Die Evangelie van sy kruisiging en opstanding werk soos ‘n sleutel. Jesus Christus is die Een wat bepaal wie in die ewige koninkryk van God is en wie buite is en verlore gaan.

  • Hy is die Getuie wie se woord geld. Die gekruisigde Jesus wat opgestaan het is ‘n Getuie van wie verlos is en wie veroordeel bly. Sy getuienis, sy woord geld. Dit beteken, wat Hy oor elkeen sê, is wat sal gebeur.

Hierdie Jesus Christus, leef in sy kerk, weet alles van sy kerk en praat met sy kerk oor alles wat Hy in sy kerk sien gebeur.

2.  Christus wys die goeie dinge in sy kerk

Sy kerk wys vals leraars uit. In Efese het mense gekom wat hulle as apostels voorgedoen het. Die gemeente het hierdie mense ondersoek en hulle ontmasker as leuenaars. Ons twee gemeentes sal dieselfde doen. Die getuienis is reeds daar. Nie enigeen wat hier wil preek, of katkisasie gee of Bybelstudie hou, sal dit kan doen nie.

  • Smirna se lidmate was nie ryk in geld en besittings nie. Hulle geloof en geestelike lewe was hulle rykdom. Ons twee gemeentes, soos baie ander kerk in ons land, het ook nie genoeg geld vir wat ons moet doen nie. Maar…die Here se Woord en ons geloof in Hom is ons rykdom.

  • Ten spyte van vervolging en verleiding deur Satan, het sy kerk die geloof in Hom nie gelos nie. Onder die Satan se aanhitsing glo baie in ons land dat enigiemand van enige geloof se lewe aan die einde goed sal eindig. Hierby kom meeste in die land se oortuiging dat ons nie kan sê dat Jesus Christus wat vir ons gekruisig is en opgestaan het, die enigste Verlosser is nie. Ek weet, ons twee gemeentes het ten spyte van wat by verre die meeste in die land dink en sê, nie ons geloof in Jesus Christus ons enigste Verlosser gelos nie.

  • Sy kerk volhard gelowig. Ten spyte van ‘n sondige wêreldse gees in ons land en ten spyte van beproewings soos die afgelope twee jaar, volhard ons gelowig. Ons soek God se Woord. Ons soek die sekerheid wat ons deur die sakramente kry.

  • Daar is liefde, geloof en bereidwilligheid om te dien. In ons gemeentes is daar liefde vir mekaar. Hier is geloof in die enige ware God. Ons is bereid om mekaar te help. Wat die diakens en van ons lidmate vir ander doen, is die getuienis van liefde, geloof en die bereidwilligheid om ander te dien.

Die kerk van Christus is ‘n kandelaar, ‘n staanlamp wat brand en lig gee. Uit wat ons gemeentes sê en doen, moet daar getuienis onder mekaar en teenoor die wêreld uitgaan dat hierdie twee gemeentes die ware kerk van Christus is.

Die Heilige Gees help ons deur God se Woord dat daar dinge wat goed is in ons gemeentes gebeur. Dit wat goed is, moet ons aan vashou en dit uitbou en laat groei.

  1. Christus wys die verkeerde dinge in sy kerk

Jesus Christus kyk diep in elke gemeente en elke gelowige in sy gemeente in. Hy sien wat gedagtes dink, wat harte glo en hande doen. Hy hoor wat monde sê. Die Hoof van sy kerk sien en hoor baie sonde in sy kerk.

  • Sy kerk se liefde is nie meer soveel soos in die begin nie. Die liefde wat Jesus Christus vra, is opoffering. Hy het sy lewe vir sy kerk gegee. Hy vra dat sy kerk, die gelowiges elkeen my lewe vir Hom sal gee. Hoeveel tyd en energie en geld offer ‘n gemeente nie op wanneer die kerk gebou in die begin van ‘n nuwe gemeente gebou word nie. Die gemeente offer al hierdie dinge met opgewondenheid en entoesiasme op. Maar….tien of twintig of vier-en-veertig of tagtig jaar na die begin van die gemeente, wanneer die geestelike bouwerk so nodig is, is die opgewondenheid en enstoesiasme nie meer soveel soos in die begin nie. Opoffering word moeite en skaars, want liefde vir Christus is nie meer soos in die begin nie.

  • Geloof is nie suiwer volgens God se Woord nie, maar ‘n vermening met wêreldse idees en ooruigings. Leef daar in ons gemeentes ook wêreldse idees? Ja, daar leef. Hier is twee wêreldse idees: Die eerste – die hoof is die belangrikste persoon in die skool, die kommisaris is die belangrikste persoon in land se polisie, die president is die belangrikste persoon in die land en saam met hierdie wêreldse manier van doen word die dominee die belangrikste persoon in die gemeente. Dit, terwyl die gekruisigde Jesus wat uit die dood opgestaan het, die heel belangrikste in die kerk is en deur almal so bely moet word. Die tweede – dagboeke bepaal ons program gedurende die week. Dit is heeltemal reg om te beplan. Die sonde is, dat ‘n erediens ook deel van ons gewone program geword het. Indien my program dit toelaat, kom ek Sondag erediens toe.

  • Die invloed van die mondige wêreldmens met sy kennis en daarmee saam ‘n losbandige lewe word in die kerk verdra. Ons land ken nie meer die Bybel nie en daarom ook nie die Tien Gebooie waarin God sy grense vir ons lewe in die genadeverbond gee nie. Hier is een van die belangrikste lewe vir hierdie losbandige land. Hoeveel van ons ken die Bybel regtig, die Tien Gebooie in 20 en Dt. 5 en in die Kategismus, Sondag 34 tot 44, of dink ons nie maar die Kategismus is vir kinders in die katkisasie bedoel nie?

  • Uiterlik lyk dit of die kerk lewe, maar innerlik is daar nie ware lewe nie. Voor Covid was jaarprogramme vol met baie aktiwiteite. Gedurende die afgelope twee jaar se inperkings moes ons noodgedwonge baie van daardie aktiwiteite los. Die vraag is: Hoeveel van ons aktiwiteite lyk na lewe, maar is in werklikheid nie. Ons staan voor hierdie vraag: Lewe ons regtig?

  • Sy kerk is geestelik lou. Die laaste gemeente moes harde woorde van Christus hoor. Hy skryf in sy brief niks wat goed is in die gemeente nie. Hy wys Laodicea daarop dat die gelowiges nie warm of koud is nie, maar lou. Omdat die gemeente geestelike lou was, was Hy op die punt om die gemeente te verwerp. In die Grieks staan daar uitspoeg. Is hier nie ook louheid by ons nie?

Christus praat oor hierdie verkeerde dinge in sy kerk. Dit sal ons niks help om die verkeerd te ontken of oor te wil redeneer nie. Een ding moet gebeur: Ons moet ons bekeer van alles wat in ons gemeentes verkeerd is. Bekeer beteken omdraai. Ons het nodig om op te hou met wat verkeerd is en heeltemal daarmee te breek. Bekeer beteken ook om nuut te begin. Ons het nodig om opnuut kerk te wees soos God wil.

  1. Jesus se beloftes aan sy kerk

Jesus Christus wys die goed en die verkeerd in sy kerk uit. Hy gee aan sy kerk beloftes vir die toekoms. Die beloftes en die bekering in die gemeente is direk aan mekaar gebind.

Ons kyk na die beloftes wanneer Christus se kerk hulle nie bekeer nie.

  • Christus self sal die kandelaar, die staanlamp, dit is sy gemeente van sy plek wegvat. Christus sal die gemeente laat ophou bestaan. Hoe ver is ons hiervan, wanneer ons gemeentes soveel minder word?

  • Christus sal skielik kom en sy onbekeerde gemeente met sy Woord bestry, dit is veroordeel. Dit is verskriklik wanneer die Verlosser sy eie gemeente veroordeel!

Jesus Christus sal sy kerk wat nie regtig tot bekering kom nie en ook nie regtig ‘n lewe van bekering leef nie, nie net laat aangaan jaar na jaar nie.

Dan kyk ons ook na beloftes aan sy kerk wat ‘n lewe van bekering en volharding in geloof leef.

  • Die gelowiges sal die ewige lewe erf. Elkeen se naam staan reeds in die boek van die lewe en sal ewig daar bly. Hier het Christus se kerk ‘n belofte wat sekerheid gee oor die toekoms.

  • Wie God se Woord hoor en met geloof en bekering antwoord, sal een met Christus wees op aarde en in ewigheid.

  • Die kerk, die gelowiges wat deur bekering gelowig volhard tot die einde sal ‘n nuwe Naam kry. Hierdie Naam is die gekruisigde Jesus wat opgestaan het se Naam. Die nuwe Naam beteken ‘n gelowige behoort ewig aan Jesus Christus.

Met hierdie beloftes gee Christus vir sy kerk sekerheid oor die toekoms.

  1. Die Heilige Gees is nodig

Christus se kerk, die gelowiges, ons gemeentes het nodig om Christus te antwoord. Vanself sal ons nie die regte antwoord kan gee nie. Die genade is dat die Heilige Gees na Christus se kerk toe gekom het. Ons het die Gees nodig om ons te help om te reageer op wat Christus sê.

Die Heilige Gees is hier by ons. Deur Hom kan ons antwoord:

Die eerste antwoord – Luister na wat die Heilige Gees sê. Lees hierdie sewe briewe weer en weer. Lees die boek Openbaring weer en weer. Lees die Bybel gereeld. Luister na wat God sê. Lees met ‘n gebed in die hart dat die Gees jou sal help om te luister, te verstaan en te glo.

Die tweede antwoord – Bekeer jou. ‘n Gemeente sal net ‘n lewe van bekering kan leef, indien elke gelowige in die gemeente met bekering leef. Ondersoek deur die Heilige Gees jouself. Toets jou aan God se Woord, nie aan gewoontes of soos jy groot geword het nie. Die Bybel is die enigste bron van waarheid. Breek met die verkeerde. Vra na wat Christus in sy kerk wil en doen dit.

God het in die verlede, Hy is besig in die hede en Hy sal in die toekoms teen die sondige wêreld optree. Uiteindelik sal Hy sy Seun stuur. Jesus Christus sal hierdie hemel en hierdie aarde se bestaan tot ‘n einde bring.

Dat Hy eers met sy kerk praat, is uit genade en liefde. Wanneer die aarde en die hemel tot ‘n einde kom, sal net die gelowiges wat aan Jesus Christus behoort en deur geloof aan Hom gebind is, bly leef. Die ander gelowiges en kerke wat nie naby Jesus Christus en vir Hom geleef het nie, sal ewig veroordeel word.

Christus praat met ons. Ons het genadetyd om te luister, te glo en uit liefde vir Hom te doen wat Hy vra.

ANTWOORD

Sang: Ps.84:3,6

Gebed

Sang: Sb.1-1/24:1,3,7

Seën: God wat alle genade gee en julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.