ONTMOETING
Votum: Ps.121;1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Ps.48:4,5
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Sb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34 en Sondag 40
Antwoord op die Wet: Ps.139:1,12
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Sb.5-4:1,2
Lees: Matteus 28
Kernverse: Mt.28:6,8,9,12,13,19
Tema: Jesus Christus se opstanding is ‘n wondergebeurtenis om oor te getuig
Sang: Ps.48:4,5; Sb.12-3:1,2; Ps.139:1,12; Sb.5-4:1,2; Ps.138:1,2; Ps.118:10,12
Inleiding:
Vandag is Sondag, ‘n rustige dag vir meeste van ons oor die langnaweek. Daardie Sondag na Jesus se kruisiging was allesbehalwe ‘n rustige dag vir die mense wat in Hom geglo het en naby Hom geleef het. Die Vrydag was ‘n skokkende dag vir hulle. Die dissipels en die vroue het op Golgota magteloos moes staan en kyk hoe Jesus ‘n pynlike en vernederende dood sterf. Die Saterdag was hulle verslae en moedeloos, want hulle Verlosser en hulle Here was dood en in ‘n graf. Die twee mans op pad na Emmaus toe het hierdie moedeloosheid in woorde gesê:”Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos…” (Lk.24:21a).
Later die Sondag sou die wondergebeurtenis dat Jesus Christus uit die dood opgestaan het, vir almal duidelik en waar word. Trouens, die getuienis dat Jesus daardie Sondag uit die dood opgestaan het, is na eeue steeds so duidelik en so waar, dat ons tydens hierdie naweek elke jaar die Sondag as Opstandingsondag vier.
Kyk saam na die getuies van Jesus se opstanding uit die dood in Mt.28 en hoe wat daardie getuies gesê het, elkeen van ons se lewe raak.
Tema: Jesus Christus se opstanding is ‘n wondegebeurtenis om oor te getuig
Die engel uit die hemel getuig (vs 6)
Matteus begin die laaste hoofstuk van sy Evangelie oor Jesus Christus met die vroue wat die Sondagmôre vroeg, toe dit begin lig word na Jesus se graf toe is. Die vroue is graf toe om Jesus se liggaam te gaan balsem. Die gewoonte was destyds om die liggaam te balsem en in doeke toe te draai, vir die liggaam om in ‘n graf wat dikwels uit klip gekap is te lê.
Ons het ook nodig om te weet dat Jesus se liggaam eintlik inderhaas van die kruis afgehaal en in die graf neergelê is. Onthou Van 12 uur af, het die aarde vir 3 ure heeltemal donker geword. Na die donkerte het Jesus nog ‘n tyd aan die kruis gehang voor Hy gesterf het. Sy liggaam moes van die kruis af en in die graf wees voor 6 uur die Vrydagaand, want dan het die Sabbat begin. Josef van Arimatea moes ook eers toestemming by Pontius Pilatus gekry het om Jesus se liggaam van die kruis af te haal. Daar was nie tyd om Jesus se liggaam met die nodige salf en olie te balsem nie. Die vroue wat by was toe Jesus se liggaam in die graf neergelê word, het daarom die nodige reukolie en salf by die huis gereed gaan maak (Lk.23:56).
By die graf aangekom, was daar skielik ‘n geweldige aardbewing. ‘n Engel van die Here het van die hemel af gekom. Die engel het die klip voor die opening van die graf weggerol. Nadat hy die klip weggerol het, het hy op die klip gaan sit.
Matteus skryf in sy Evangelie hoe die engel gelyk het en wat hy gesê het. Sy voorkoms het soos weerlig geblink. Sy klere was sneeuwit.
Die verskyning van die engel het die wagte by die graf laat bewe en heeltemal lam laat word. Van skrik het die soldate neergeval op die grond.
Die eerste wat die engel vir die vroue gesê het, was: “Julle moet nie bang wees nie.” Die aardbewing en die verskyning van die engel sou die vroue laat skrik het, daarom stel die engel hullle gerus.
Dan kom die woorde: ”Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kom kyk: Daar is die plek waar Hy gelê het” (Mt.28:5b,6).
Die eerste getuie dat Jesus uit die dood opgestaan het, was ‘n engel uit die hemel. Daar by die graf in die tuin van Josef van Arimatea het die vroue daardie Sondagoggend gehoor en beleef wat niemand weer sou beleef nie: Die wondergebeurtenis dat Jesus wat dood was, leef, met ‘n engel uit die hemel wat die boodskap vertel!
Die vroue se getuienis (vs 8,9)
Die vroue het by die engel gehoor hulle moes vinnig by die dissipels uitkom om vir hulle te vertel dat Jesus uit die dood opgewek is en dat hulle Hom in Galilea weer sal sien.
Na die engel klaar gepraat het, is die vroue haastig van die graf af weg. Hulle was bang, maar baie bly. Hulle het van Jesus se graf wat leeg was, weggehardloop om die dissipels te vertel wat hulle gesien en gehoor het.
Terwyl hulle reguit na die dissipels toe gehardloop het, sonder om langs die pad te stop en enigiemand te vertel, omdat hulle bang was, het Jesus skielik voor hulle gestaan en hulle gegroet. Die vroue het voor Jesus neergeval, sy voete vasgegryp en Hom aanbid.
By die dissipels aangekom, het hulle vertel wat die oggend gebeur het. Lukas het in sy Evangelie geskryf dat die vroue die dissipels “al die dinge” vertel het (Lk.24:8).
Die vroue se getuienis was oor die engel wat verskyn het, die klip wat hy voor die graf weggerol het en sy woorde dat Jesus uit die dood opgewek is. Hulle het ook vertel dat hulle self in die graf gekyk het en gesien het dat die graf leeg was. Verder was hulle getuienis dat Jesus hulle op pad terug ontmoet het, met hulle gepraat het en dat hulle aan Hom geraak het. Dan moes die dissipels Galilea toe gaan waar hulle Jesus weer sal sien.
Die vroue se verstommende getuienis was dat Jesus leef!
Die dissipels wat alles die deurgemaak het, het die vroue se getuienis nie goed ontvang nie. Hulle was daardie Sondagoggend nog besig om oor Jesus te treur en te huil (Mk.16:10). In hulle hartseer het hulle die vroue nie geglo nie. Trouens, Lukas het geskryf dat die dissipels van mening was dat die vroue onsin gepraat het (Lk.24;11).
Iets in die vroue het Petrus en Johannes wel na die graf toe laat hardloop, waar hulle toe met hulle eie oë gesien het, wat die vroue gesien het: Jesus se graf was leeg!
Die Joodse leiers getuig met ‘n leuen (vs 12,13)
Daar was wagte by Jesus se graf in Josef van Arimatea se tuin. Die priesterhoofde en Fariseërs het die wagte gereël. Hulle het na die goewerneur van die gebied, Pontius Pilatus gegaan en vir hom gesê dat die “bedrieër” soos hulle Jesus genoem het (Mt.27:63) gesê het dat Hy na drie dae uit die dood opgewek sal word.
Hulle het by Pilatus wagte gevra om die graf vir drie dae te bewaak, sodat die dissipels nie Jesus se liggaam kom steel nie en dan vertel dat Hy uit die dood opgewek is. Pontius Pilatus het hulle versoek toegestaan en Romeinse soldate gegee om Jesus se graf te bewaak.
Met die aardbewing en die verskyning van die engel uit die hemel uit, het daar van die opgeleide gewapende soldate niks oorgebly nie. Hulle het gebewe van skrik en op die grond bewusteloos neergeval. Na ‘n tyd het hulle bygekom. ‘n Paar van die wagte het vir die priesterhoofde gaan vertel wat gebeur het.
Die priesterhoofde het na die soldate alles vertel het, ‘n dringende vergadering met die familiehoofde saamgeroep. Daar op die vergadering het die geestelike leiers van die Jode met hulle verharde harte en haat teen Jesus ‘n plan gemaak.
Hulle sondige mensgemaakte plan het uit twee dele bestaan:
Die eerste deel – Hulle het die Romeinse soldate omgekoop met geld. Hulle het ‘n groot bedrag geld gegee om te sê dat die disippels in die nag, terwyl die soldate geslaap het, Jesus se liggaam gesteel het.
Die tweede deel – Indien goewerneur Pilatus hoor wat gebeur het, omdat die soldate aan diens geslaap het, sal hulle wat die Jode se leiers is, die goewerneur tevrede stel, sodat die soldate niks het om hulle oor te bekommer nie.
Die Joodse leiers, wat die geestelike leiding met God se Woord aan die Jode moes gee, het ‘n sondige mensgemaakte leuen gebruik om oor Jesus se opstanding uit die dood getuig. Matteus het sy Evangelie dekades na Jesus se opstanding uit die dood geskryf. Die Jode het daardie tyd steeds die leuen oor die dissipels wat sy liggaam gesteel het, onder mekaar vertel.
Ons getuienis tot Jesus weer kom (vs 19)
Jesus Christus het net voor Hy na die hemel opgevaar het, vir sy disippels, dit is vir sy kerk, vir ons gesê: “Julle sal my getuies wees….” (Ha.1:8).
Hoe kan elkeen van ons in ons gemeente oor Jesus Christus se opstanding uit die dood getuig?
Eers dit: Om nie oor Jesus se opstanding uit die dood te dink of te praat of te leef asof Hy nie opgestaan het nie, is eintlik nie veel anders as om ‘n leuen te leef soos die soldate en die Joodse leiers nie.
Elkeen van ons se getuienis begin in my hart. Met die Heilige Gees in my hart, het ek nodig om vas en seker te glo dat Jesus Christus regtig uit die dood opgestaan het!
My getuienis met ‘n gelowige hart oor Jesus Christus se opstanding bestaan uit drie dele:
In my hart glo ek, met my verstand weet ek en in my emosies aanvaar ek dat Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser, die dood oorwin het. Met die Heilige Gees in my leef ek nie met angs vir die dood, asof die dood die einde van alles is nie. Ek glo Jesus het vir my uit die dood opgestaan. Ek groei in my sekerheid dat die dood nie die finale sê oor my lewe of enige ander Christengelowige se lewe het nie en ek praat oor sy opstanding met ander.
Met die Heilige Gees in my, leef ek soos ‘n nuwe mens. Ek staan eintlik deur die Heilige Gees op uit die geestelike dood waarin ek was. Ek leef deur die Gees ‘n opstandingslewe, ‘n nuwe geestelike lewe. Ek leef elke dag van my lewe doelbewus in wat ek dink, wat ek sê en wat ek doen nader aan Jesus Christus, my Verlosser. Ek praat so oor Jesus Christus en ek leef so naby Hom dat ander my kan hoor en sien.
Ek glo vas en ek weet vir seker, dat ek aan die einde van my lewe op aarde by my Verlosser in die hemel sal wees. Ek glo oor my eie dood, ek dink oor my eie dood en ek praat oor my eie dood dat dit die manier is hoe ek by my Verlosser gaan uitkom na ek klaar op aarde geleef het.
Vrydag was ‘n moeilike dag. Ons het die moeilikste dag van Jesus se lewe op aarde herdenk. Vandag is heeltemal anders. Ons herdenk die Sondag toe ons Verlosser uit die dood opgestaan het.
Om met Opstandingsondag in die erediens te wees, is reeds ‘n getuienis dat Jesus uit die dood opgestaan het. Maar….elke Christengelowige het nodig om baie meer te doen as om hierdie Sondag elke jaar in ‘n erediens te wees.
Elkeen van ons het die roeping, die verantwoordelikheid, die opdrag om met hart en mond te getuig: Jesus Christus leef!
Hierdie getuienis behoort by elkeen van ons gehoor te word en gesien te word, tot Jesus weer kom!
ANTWOORD
Sang: Ps.138:1,2
Gebed
Sang: Ps.118:10,12
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; Die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen