Home Preke JESUS GEKRUISIG IN MY PLEK!

JESUS GEKRUISIG IN MY PLEK!

Datum: 2022-04-03
|
Kernverse: 1 KORINTIËRS 1:23a

1 KORINTIËRS 1:23a + SONDAG 15 PTAN+AKASIA 3/4/2022

TEMA: JESUS GEKRUISIG IN MY PLEK!
1. Jesus het volkome in my plek aan die kruis gely.
2. Deur Jesus is ek verlos van die toorn van God oor my sonde.
3. Deur Jesus is ek verlos van die oordeel van God oor my sonde.
4. Deur Jesus is ek verlos van die vloek van God oor my sonde.
5. Daarom kan ek nou soos ʼn verloste mens lewe!
PS 9:1,2,6; PS 9:7,10; SB 73 (14-1):1,2; SB 8 (5-3):1,2; SB 61 (1-3):1,3.

Geliefdes in die Here,
Binnekort herdenk ons weer Goeie Vrydag, die dag van die kruisiging van ons Here Jesus Christus. Die ingrypendste gebeurtenis van alle tye! Die gebeurtenis wat die verloop van die wêreldgeskiedenis vir altyd verander het. Die gebeurtenis wat vir ons ewige verlossing verseker het!

Dit is interessant dat die Nuwe Testament eintlik min vertel van alles wat op daardie dag gebeur het en eintlik min inligting gee oor hoe Jesus gekruisig is. Lukas, byvoorbeeld, gebruik maar net ʼn gedeelte van ʼn hoofstuk om oor die kruisiging te skryf. Oor hoe ons Here gekruisig is, skryf hy net: Toe hulle by die plek kom wat kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die een aan sy linkerkant.

Hoewel die Bybel nie baie inligting gee oor hoe ons Here gekruisig is nie, word daar onteenseglik verkondig DAT Hy gekruisig is. Dit is belangriker as die hoe, want die Nuwe Testament brei baie meer uitbrei uit oor die verrykende gevolge van Jesus se kruisiging as oor die manier waarop Hy gekruisig is. Sy kruis en opstanding is immers die fondament waarop ons geloof gebou is! Dat Hy gekruisig is, staan dus vas. Paulus sê in ons teks: Ons verkondig die gekruisigde Christus!

So word die somtotaal van alle Christelike prediking in ʼn paar woorde saamgevat: Ons verkondig Christus wat gekruisig is.

Daarom gee ons in hierdie preek ook nie veel aandag aan oor hoe Jesus gekruisig is nie, maar eerder aandag aan wat dit vir ons beteken dat Hy aan die kruis gesterf het.

1. Die eerste saak waarvoor die kruisiging van Jesus Christus stel is dat ons verlossing onkoopbaar duur is. Ons kry dit egter verniet.
Ons word uit genade gered, sonder dat ons iets daarvoor gedoen het of dit op enige manier verdien het en sonder dat ons iets daarvoor betaal het. Ongelukkig laat dit sommige mense dink: Dan behoort dit mos goedkoop te wees. Dit kos ons dan niks nie. Ja, baie mense dink dat ons verlossing goedkoop is. Omdat baie mense dink dat ons verlossing goedkoop is, het hulle sondebesef ook afgestomp geraak.

Die meeste sondes, wat in elk geval deesdae vir die samelewing aanvaarbaar is, is daarom ook vir die mens van vandag sommer ʼn ligte sakie. Hulle lê nie eens 1 minuut wakker daaroor nie. Soos ʼn ongelowige eendag op sy sterfbed gesê het: God sal my mos vergewe vir my sondes en ongeloof. Dit is immers sy werk.

Maar die Evangelie van Jesus Christus en Sondag 15 gee vir ons die regte Bybelse perspektief: Ons verlossing is duur! Jesus Christus, die Seun van God is daarvoor gekruisig, Hy het daarvoor gely en gesterf. Hy het die duurste prys denkbaar vir ons verlossing betaal: Sy lewe en sy bloed. Die bloed van die Seun van God – Dit is wat ons verlossing gekos het. Ons verlossing is dus onbetaalbaar duur. Niks is kosbaarder of duurder as dit nie.

Jesus het in my plek gely en daarmee het Hy my volkome verlos. Dit beteken:
• Hy het my verlos van die toorn van God oor my sonde.
• Hy het my verlos van die oordeel van God oor my sonde.
• En Hy het my verlos van die vloek van God oor my sonde.

Kom ons kyk eerstens na Jesus se lyding in ons plek: Die kategismus vra: Wat verstaan jy onder die woordjie “gely” as jy bely dat jy glo in Jesus Christus wat gely het onder Pontius Pilatus?

En die antwoord is: Daarmee bely ek dat ek glo: Dat Christus na liggaam en siel tydens sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan, die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra het. So het Hy met sy lyding as die enigste versoeningsoffer ons liggaam en siel van die ewige verdoemenis verlos en vir ons die genade van God, die geregtigheid en die ewige lewe verwerf.

Jesus het in my plek gely. Gely is ʼn ou klein woordjie, met ʼn groot betekenis, ook in die Bybel. I Petrus 3:18 sê byvoorbeeld: Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring. Ons sal egter nooit in hierdie lewe ten volle besef wat sy lyding alles behels het nie! Hierdie lyding was onbeskryflik intens. Hierdie lyding was na liggaam en siel.

Die lyding het onder andere ingehou dat Hy wat God is, ʼn mens moes word. Dit het ingehou dat sy hele lewe op aarde een uitgerekte lyding was. Hierdie lyding het ʼn dieptepunt bereik toe Hy gekruisig is en sy Vader Hom aan die kruis verlaat het en Hy daarna gesterf het.

Geliefdes, omdat ons sondaars is, verdien ons God se toorn, verdien ons God se oordeel en verdien ons God se vloek oor ons. Dit is ook die drie sleutelwoorde in die drie antwoorde in Sondag 15: God se oordeel, sy toorn en sy vloek.

Om my volkome te verlos, moes Jesus deur sy lyding drie goed doen:
• Hy moes my verlos van die toorn van God oor my sonde.
• Hy moes my verlos van die oordeel van God oor my sonde.
• Hy moes my verlos van die vloek van God oor my sonde.
Kom ons kyk hoekom en hoe Hy dit deur sy lyding gedoen het.

2. Eerstens: Jesus moes my verlos van die toorn van God oor my sonde. Die Kategismus sê baie duidelik dat Jesus dit wel gedoen het. Ons bely: Dat Christus na liggaam en siel tydens sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan, die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra het.

In Sondag 4 bely ons al: God se toorn is verskriklik sowel oor die erfsonde as oor die sonde wat ons self doen. Hy wil dit tydelik en ewig met ’n regverdige oordeel straf. Hy het immers gesê: “Vervloek is elkeen wat nie bly by alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie”.

Geliefdes, omdat God ʼn heilige God is, vertoorn Hy Hom oor sonde. In gewone Afrikaans beteken dit: Hy word verskriklik kwaad daaroor. Hy word woedend daaroor, Hy haat dit. Hy verafsku sonde. Hy vertoorn Hom so daaroor dat Hy dit eerder aan sy eie Seun straf as wat Hy dit ongestraf laat bly. Jesus het God se toorn oor die sonde in my plek verduur en Hy het gesterf onder die toorn van God oor my sonde. Hy het God se woede oor my sonde plaasvervangend op Homself laat fokus.

In antwoord 37 word gesê dat Hy met sy lyding ons liggaam en siel van die toorn van God en die ewige verdoemenis verlos het en vir ons die genade van God en die ewige lewe verwerf het.

Die Skrif sê immers baie duidelik: “Ons God is ’n verterende vuur” (Heb. 12:29). En: “Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring” (1 Pet. 3:18).

God se heilige woede en toorn oor ons sonde het Hy aan sy Seun gekoel in plaas van aan ons.

3. Jesus het egter nie net die toorn van God oor my sonde in my plek verduur nie. Hy is ook in my plek veroordeel. Vraag 38 vra: Waarom het Hy onder die regter Pontius Pilatus gely ? En die antwoord is: Sodat Hy onskuldig deur die wêreldlike regter veroordeel sou word en ons daardeur sou bevry van die streng oordeel van God, wat oor ons moes kom.

Sonde moet veroordeel word. Ek moet veroordeel word oor my sonde. Daarom moes Jesus in my plek veroordeel word oor my sonde, sodat ek vrygespreek kon word.

In Eksodus 34:5,7 sê God: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. 7 Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.”

Geliefdes, as God sê: maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie, dan sê Hy: Ek verwag dat daar eers vir die sonde betaal word, voordat Ek dit vergewe. En dit is presies wat Jesus Christus vir ons kom doen het. Daarom word die gekruisigde Christus vandag nog verkondig, Hy wat in ons plek veroordeel is.

En as God sê: Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag, dan sê Hy dat Hy ʼn heilige God is wat sonde haat. Hy sê nie dat Hy kinders sal straf vir hulle ouers se sondes nie. In teendeel: In Esegiël 18 sê God dat elkeen sal sterf vir sy eie sonde. ʼn Seun sal nooit sterf vir sy pa se sondes nie. Maar as ʼn seun sy pa se sondes navolg, dan sal die pa en die seun sterf.

As God sê: Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag, dan waarsku Hy ouers om die regte voorbeeld te stel en Hy waarsku kinders om nie hulle ouers se slegte voorbeeld te volg nie. God is ʼn heilige God wat sonde haat. Hy wil dit met ʼn regverdige oordeel straf. Sonde moet die straf kry wat dit verdien. Enige mens wat dit durf waag om die heiligheid van God aan te tas met sy sonde verdien die ewige hel.

Daarom moes Jesus deur ʼn wêreldlike regter veroordeel word, selfs al was Hy onskuldig. Hy het my veroordeling in my plek gedra, so nie sou ek die ewige oordeel van God in die hel moes dra. In antwoord 38 word gesê dat Hy onskuldig veroordeel is om ons te verlos van die streng oordeel van God wat oor ons moes kom.

Dat Jesus Christus deur Pontius Pilatus veroordeel is, is nie toevallig nie. Hy kon nie maar net sterf nie, maar Hy moes sterf as ’n veroordeelde, as ’n misdadiger wat amptelik deur ’n wettige regter skuldig verklaar en tot die dood veroordeel is en oorgegee is om tereggestel te word. So moes sy skuldigheid in ons plek geopenbaar word en moes dit duidelik blyk dat Hy die dood in ons plek verdien het, en dit terwyl Hy in werklikheid geheel en al onskuldig was. Maar juis so moet ons tot die besef gebring word dat die oordeel van God wat oor Hom uitgespreek is, oor ons uitgespreek moes gewees het; dat sy vonnis ons vonnis moes gewees het.

Omdat Hy die oordeel van God in ons plek gedra het, word ons vrygespreek en verkry ons versoening met God. Petrus skryf: “Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring” (1 Pet. 3:18).

Dit is ook wat Paulus bedoel as Hy sê: “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees” (2 Kor. 5:21). Daarom sê hy ook in ons teks: Ons verkondig Christus wat gekruisig is.

4. Geliefdes, Jesus het ons nie net verlos van die toorn en die oordeel van God oor ons sondes nie, maar ook van die vloek van God oor ons sondes: Vraag 39 vra: Sit daar iets meer in dat Christus gekruisig is en nie op ’n ander manier gesterf het nie? En die antwoord is: JA! Ja, want daardeur is ek seker dat Hy die vervloeking wat op my gerus het, op Hom geneem het, omdat die kruisdood deur God vervloek is.

In antwoord 39 word dus gesê dat Hy aan die kruis gesterf het om ons die sekerheid te gee dat Hy God se vervloeking wat op ons gerus het op Hom geneem het.

Volgens die wette van Israel moes iemand wat die doodstraf ontvang het aan ’n paal opgehang word om te toon dat hy deur God vervloek is (Deut. 21:23).

Na regte moes ons almal voorwerpe van God se vloek geword het omdat ons sy wet oortree het, want met verwysing na Deut. 27:26 sê Paulus: “Daar rus ’n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie” (Gal. 3:10).

Omdat ek ʼn sondaar is, rus God se vloek ook op my, daarom het Jesus in my plek ʼn vervloekte van God geword. Daarom moes Hy aan ’n kruis sterf.

Daar aan die kruis het Hy ook die volle vloek van God ervaar, nie net in die verskriklike liggaamlike pyn en lyde nie, maar veral ook daarin dat God Hom verlaat het en Hy daar helse smarte moes deurmaak.

Galasiërs: 3:13 sê: “Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring deur in ons plek ’n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: ‘Vervloek is elkeen wat aan ’n hout opgehang is’” Omdat Hy God se vloek in ons plek gedra het, het Hy vir ons God se seën verwerf. Ons mag nou altyd by God wees. Daarom verkondig ons ook vandag nog die gekruisigde Christus.

Wat verkondig ons as ons die gekruisigde Christus verkondig? Die kategismus vat dit mooi saam:
1. Jesus het volkome in my plek gely.
2. Deur Jesus is ek verlos van die toorn van God oor my sonde.
3. Deur Jesus is ek verlos van die oordeel van God oor my sonde.
4. Deur Jesus is ek verlos van die vloek van God oor my sonde.

Hiermee het Jesus my by God gebring, het Hy my volkome verlos. Nou is God nie meer toornig oor my nie, maar lief vir my. Nou veroordeel God my nie meer nie maar spreek Hy my vry. Nou is ek nie meer ʼn vervloekte nie maar ʼn geseënde!

Jesus het my by God gebring: In sy Vaderarms. Op pad na sy ewige woning. Deur Jesus is ek nou vir ewig God se kind. Daarom wil ek ook soos Paulus die gekruisigde Christus as enigste Verlosser verkondig! Hierdie troos het immers my lewe verander!

5. Daarom wil ek nou soos ʼn verloste mens lewe! Om paasfees te vier, maar dit verander nie jou lewe nie, is nutteloos.

As ons iets verstaan van die gekruisigde Christus, die lyding van die Here Jesus in ons plek en wat dit alles beteken, dan sal dit ons lewe verander. Dit sal ons siening van sonde verander. Dit sal ons siening van ʼn dankbare lewe verander. Dit sal ons geloof versterk. Ons sal Jesus nie net jammer kry vir dit wat Hy in ons plek gely het nie, maar ons sal ook werklik berou hê oor ons sondes.

Ware geloof en ware sondebesef loop hand aan hand. Geliefdes, ’n afgestompte sondebesef is ’n gevaarlike ding. Ons almal het dit al ondervind.

Ook in ons eie persoonlike lewens is dit nodig dat ons sal vra: Hoe laat Jesus se kruisiging en lyding my my sonde besef en hoe bekeer ek my daarvan? Hoe dra ek dit oor aan my kinders en kleinkinders en hoe beïnvloed dit hulle? Die toets of ek net simpatie het met Jesus se lyding en of ek in Hom glo wat in my plek gely het, is tog of sy bittere lyding my lewe verander het of nie.

Die punt is, geliefdes, dat Jesus se lyding ons nie onaangeraak mag laat nie. Neem ons net daarvan kennis, maak dit ons net ʼn bietjie hartseer of VERANDER DIT ONS LEWENS? Jesus het immers hierdie lyding deurgemaak om my volkome te verlos en om my lewe te verander, sodat ek nuut sal leef onder leiding van sy Woord en Gees!

Hy het gesterf sodat ek dankbaar kan weet en glo:
1. Jesus het volkome in my plek gely.
2. Deur Jesus is ek verlos van die toorn van God oor my sonde.
3. Deur Jesus is ek verlos van die oordeel van God oor my sonde.
4. Deur Jesus is ek verlos van die vloek van God oor my sonde.

En hierdie dankbaarheid is lewensveranderend onder leiding van die Heilige Gees.

Amen.