Lees: Matteus 27:32-56
Inleiding:
Israel is ‘n uur voor ons. Dit is nou al na tien in die oggend daar. Wanneer dit vanoggend 11:00 by ons is, sal dit 12:00 in Israel wees.
Om 12 uur het die land daardie Pasga in Palestina skielik stikdonker geword. Dit was toe dat die heilige God sy toorn oor sonde op sy eie Seun laat kom het, sodat ek nooit onder die toorn van God sal kom nie.
Tema: Jesus het die donkerste Vrydag verduur, sodat ons Goeie Vrydag kan beleef
Jesus Christus het sy donkerste Vrydag verduur
Die jaar is onseker. Dit was enige jaar van 30 tot 33 n.C. Die dag was die Vrydag van die Pasga daardie jaar. Daardie dag was die dag van die heilige God se toorn.
Wanneer dit by sonde kom, is God se toorn verskriklik.
Kyk maar na die voorbeelde in die Bybel:
Gen.6 – Stortreën van langer as ‘n maand dag en nag het ‘n watervloed veroorsaak wat die mensdom uitgeroei het, behalwe vir 8 mense.
Gen.19 – Die Here het vuur en swael uit die hemel laat reën en Sodom en Gomorra is deur die vuur verteer.
Eks. 14 – God self verdrink die hele Egiptiese leër in die Rooisee.
Num.16 – Die Here het ‘n skeur in die aarde gemaak wat Korag, Abiram en Datan wat teen Moses in opstand gekom het, eenvoudig ingesluk.
Daar is nog baie voorbeelde van God se toorn teen sonde, maar hierdie is meer as voldoende.
Geen wonder nie, dat die skrywer van Hebreërs geskryf het dat dit verskriklik is om in die hande van die lewende God te val (Hebr.10:31).
Ons moet regtig oppas om nie te dink sonde is nie so erg nie. Dit gebeur maklik. Alle mense sondig. Nou kan mens maklik dink, omdat alle mense sondig, is dit nie so erg dat ek ook sondig nie. Sonde is eintlik tipies menslik.
Verder reken die mensdom daar is groter sonde en kleiner sonde. Groter sonde is ernstig. Kleiner sonde is nie so erg nie. Hierdie manier van dink en praat is suiwer mensgemaak met geen grond onder enigeen se voete wat so dink nie.
Sonde is om die doel te mis waarvoor God jou op aarde geplaas het. Sonde is ongehoorsaamheid. Deur sonde dwaal ‘n mens weg van God af. Weg van God af bly die duiwel en nog meer sonde en uiteindelik die ewige dood oor. God stort sy toorn uit op elkeen wat weg van Hom af leef.
God se toorn oor sonde is baie erg. Daardie Vrydag wys hoe erg.
Teen 12:00 die middag het dit heeltemal donker geword. In die middel van die dag, word dit ewe skielik eintlik middernag en stikdonker. Die donkerte het drie ure lank geduur. Die hele land was stikdonker. Daar is mense wat dink dat dit ‘n sonsverduistering was, of ‘n sandstorm of asreën na ‘n vulkaniese uitbarsting. Nie een van hierdie pogings is enigiets werd nie.
Wat het daar in Palestina daardie Vrydag tussen 12 uur en 3 uur gebeur?
Die skepping self, moes buig voor die heilige God se toorn. Die son met sy geweldige hitte en energie is vir daardie drie ure uitgedoof kan ons sê. Wanneer die heilige God kwaad word, luister selfs die skepping en buig selfs die son voor Hom.
Gedurende daardie drie ure het Jesus Christus, ons Verlosser se lyding die dieptepunt bereik. Na ‘n nag van die bitterste lyding, het Jesus aan die kruis gehang. Hy het juis aan die kruis gehang, omdat Hy die dood van ‘n verwerpte misdadiger moes sterf. Wie aan ‘n kruis gehang het is deur God en mens verwerp. Om gekruisig te word, was die ergste dood, en ‘n verwerpte misdadiger het daardie dood verdien.
Jesus Christus, ons Verlosser was bereid om as ‘n verwerpte misdadiger in ons plek te sterf. Hy het dit ook gedoen.
Aan die einde van die drie ure se donkerte het Jesus uitgeroep: “My God, my God waarom het U My verlaat” (Mt.27:46).
Daardie oomblikke het Jesus se lyding ‘n dieptepunt bereik –
Die mense vir Wie Hy gekom het wou Hom nie gehad het nie.
Aan die kruis gedurende die donkerte wou sy Vader Hom ook nie gehad het nie.
Jesus was daar heeltemal alleen en op sy eie.
En….Hy het daardie bitterste en donkerste Vrydag vir ons beleef, sodat ons wat in Hom glo, Goeie Vrydag kan hê.
Ons het Goeie Vrydag
Die woord “goed” in Goeie Vrydag beteken in werklikheid “heilig”. Goeie Vrydag is die heilige dag deur God afgesonder vir die dood van sy Seun aan die kruis.
Elkeen van ons het die genade om na ‘n erediens toe te gaan. Ons mag vrylik erediens toe gaan op Goeie Vrydag. Christengelowiges kan op ‘n spesiale manier in ‘n erediens by God wees. ‘n Gemeente se gelowiges kan ookbymekaar wees. Ons beleef dit juis nou. Dit is reeds ‘n rede waarom ons die dag “Goeie Vrydag” kan noem.
In die erediens luister na ons na God se Woord. Die preek uit God se Woord gaan hoofsaaklik oor die gekruisigde Jesus. God se Seun het sy hemelse lewe prysgegee en Homself diep verneder om mens te word en vir ons sonde te ly en te sterf. Om hierdie Evangelie te hoor is ‘n verdere rede waarom hierdie dag “Goeie Vrydag” is.
Dit is baie belangrik om aan Goeie Vrydag te dink en na die erediens toe te kom met ‘n diep gelowige hart. Geloof kom nie vanself nie. Ek kry my geloof by die Heilige Gees. Hy kom in my binnekant met die Evangelie van die gekruisigde Jesus Christus. Hy gee geloof in Christus. Die geloof wat die Gees gee, maak my een met Jesus Christus, ons Verlosser. Met hierdie geloof, wat ons saligmakende geloof noem, is ek verlos, vrygespreek en vergewe.
Om hierdie sekerheid te hê, en dit elke jaar op hierdie dag te hoor, is ‘n verdere rede waarom die dag regtig ‘n Goeie Vrydag is.
Wanneer ek so oor hierdie dag nadink, kan dit nie anders nie, as dat ‘n diep dankbaarheid in my hart kom. Met die Heilige Gees in my, is ek so diep dankbaar vir al die genade wat van Jesus Christus se donkerste Vrydag ‘n Goeie Vrydag vir ons almal maak.
Dankbaarheid is ‘n baie belangrike deel van ‘n Christengelowige se lewe. Dankbaarheid vir Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser kan nie net by ‘n gevoel of by woorde bly nie. Dankbaarheid vir sy lyding en sterwe aan die kruis kan ook nie net een dag vir ons belangrik is nie.
Dankbaarheid is om te doen.
Wat kan ek doen om vir Jesus Christus dankie te sê dat Hy daardie donkerste Vrydag in my plek verduur het, sodat ek saam met ander Christengelowiges Goeie Vrydag kan beleef?
Ek kan Hom met my lewe dank!
Ek kan met die Heilige Gees in my:
My gedagtes vol maak met My Verlosser en wat Hy alles vir ons gedoen het.
My mond gebruik om van Jesus Christus te vertel.
My krag en tyd gebruik om met my lewe dankie te sê deur te doen wat Hy van my in sy evangelie vra.
Met my lewe vir ander buite ons gemeente wys ek het Jesus Christus lief en wil vir Hom leef.