Teksverse
Matt 4: 12 – 17
Jesus se eerste preek
Ons teks is gelaai met drie kragtige onderafdelings:
“Bekering”,
“Koninkryk van God” en
“het naby gekom”.
Die kragtigste onderafdeling van ons teks is nie die eerste twee – soos ‘n mens sou verwag nie – maar die laaste. Die woorde “het naby gekom” druk uit dat iets aan die gebeur is – dat iets dinamies op hande is.
Maar kom ons sê eers iets oor die eerste twee onderafdelings:
1. “Bekering” beteken om “om te draai”. Dit dui op:
* ‘n hartsverandering,
* ‘n omkeer in lewenswyse en
* ‘n vernuwing van gedagtes.
Dink maar net aan die Verlore Seun of Paulus. Die Verlore seun kom tot inkeer. Hy besef dat sy lewenswyse radikaal verkeerd was. Hy neem ‘n vaste besluit om afskeid te neem daarvan en terug te keer na sy vader met ‘n nuwe hartsingesteldheid.
Dit is bekering.
2. “Koninkryk van God” kom 68 keer in die Nuwe Testament voor en spel uit wat aan God behoort – soos die heilige stad, -land, -berg en -volk.
Hoewel die hele aarde aan God behoort (omdat Hy alles geskape het) het baie op aarde so ontaard en onrein geword dat dit nie meer tot die koninkryk kan behoort nie.
Die Skrif spreek daarom van wat “buite” is – soos die dwaalleraars, bedrieërs, onsedelikes, moordenaars en afgodsdiennaars wat buitekant die nuwe Jerusalem is (Openb 22:15). Buitekant die nuwe Jerusalem beteken ook buitekant die koninkryk van God. Hierby kan sekerlik gevoeg word: die demone, goddelose plekke en mense, die mens se groot vyand, die dood.
Die koninkryk van God is dus net dit wat heilig is en aan God behoort.
Die feit dat Jesus verkondig dat die koninkryk van God nou (terwyl Hy op aarde is) naby gekom het, hou dit in dat dit eers “ver” was.
Die wêreld was so goddeloos gedurende die Ou Testament (na die sondeval) dat God sy koninkryk as te ware in die hemel opgetrek het. Daarom word die koninkryk baie dikwels in die evangelies ook die “koninkryk van die hemele” genoem.
Tog was daar reeds in die Ou Testamentiese tyd tye dat die koninkryk van God ook naby kom het. En elke keer toe dit gebeur het, het daar geweldige dinge daarmee gepaard gegaan. Roep in herinnering gebeurtenisse soos:
a) Toe God aan Moses verskyn het en hom na Egipte gestuur het om sy volk uit te lei. Die “nabyheid” van God het wonders ontketen en die onmoontlik is vermag: plae het Egipte geteister en die mag van farao is verbreek; ‘n volk wat nagenoeg twee miljoen getel het, is vir 40 jaar in die woestyn onderhou. Vir ‘n tyd was die koninkryk van God duidelik sigbaar in daardie deel van die wêreld. Volkere rondom het daarvan kennis geneem en was bevrees (bv Jerigo).
b) By die berg Sinaï het God nog nader gekom. Hy was so naby as wat maar in die Ou Testamentiese tyd moontlik was – en weereens het geweldige dinge gebeur: die berg het gebewe en die volk het God se Wet uit sy hand ontvang – geskrywe met sy eie vingers. Die goddeloosheid het weer oorgeneem en dit was asof die koninkryk van God hom nie op aarde kon vestig nie. Die wêreld was te onrein en onbekeerlik – die tyd was nie ryp nie.
Maar met die geboorte van Jesus in Betlehem verklaar God die tyd ryp. Daarom kon Jesus (soos Johannes) die blye boodskap begin met die prediking:
“die koninkryk het (nou) naby gekom”.
In en deur Jesus was God nie meer “daarbo” nie, maar onder die mens. Ja, deel van die mens. En dit het geweldige dinge teweeggebring: siekes is genees, dooies opgewek, die geheimenis van God is bekend gemaak.
Die kruis, opstanding en hemelvaart het aardskuddings op aarde veroorsaak.
* Het u ook soms ‘n drang om so ‘n buitengewone gebeurtenis te mag beleef?
* Dat u deel mag wees van geweldige dinge wat op aarde gebeur?
* Het u ook behoefte aan die nabyheid van God en sy koninkryk?
* Voel of beleef u dikwels dat God en sy ryk ietwat ver is?
Wel, die probleem lê dan nie by God nie, maar by ons. Want na Jesus het die uitstorting van die Gees plaasgevind – en toe het God vir altyd naby aan ons gekom. So naby dat Hy in elkeen van ons woon – in ons harte en gedagtes. Geweldige dinge het met die inwoning van die Gees onder mense gepaard gegaan. Dink maar aan hoe kragtig die evangelie wêreldwyd versprei het.
Om dit mee te leef verg van ons bekering. Anders gaan die geweldige gebeurtenisse by ons ongesiens verby. Vergelyk dit met die gebeure waarna ons verwys het soos:
a) Die uittog uit Egipte. Voor die volk kon uittrek moes hulle hul eers reinig, die pasga eet en bloed aan deurkosyne smeer. Dit het ook gegeld vir vreemdelinge. Net die vreemdelinge wat dit gedoen het (hul dus bekeer het) het die geweldige gebeurtenisse (rooisee, manna, water uit rots, Sinaï) daarna beleef.
b) Na pinkster was daar miljoene heidene wat gekersten moes word. Net dié wat geglo het (hul bekeer het), het die heerlike en kragtige inwerking van die Heilige Gees ervaar.
c) Net so vandag: Bekering staan as vereiste steeds voorop. Sonder daaglikse bekering en ‘n fokus op die koninkryk sal niemand die nabyheid van God ervaar nie.
Die teendeel: God sal vir jou ver, onwerklik en twyfelagtig voorkom. Soos die Egiptenare mag jy baie naby aan die kragtige teenwoordigheid van God kom (byvoorbeeld in ‘n kerk of in die natuur) en tog geen waarde daaruit put nie – eenvoudig omdat onbekeerlikheid jou hart bly verhard het soos die van Farao.
Ons beleef reeds die magtige teenwoordigheid van God in en deur die Heilige Gees op aarde en in ons. Maar naas dit wag daar nog een baie groot gebeurtenis op u en my – en dit is die oordeelsdag en wederkoms van Jesus.
Vir daardie dag moet ieder mens hom daagliks voorberei. Want niemand weet wanneer Jesus sal kom of wanneer sy/haar laaste uur op aarde aangebreek het nie. Voorbereiding vir die groot dag behels baie meer as net om te glo – soos baie mense helaas die woordjie “glo” verstaan. Glo beteken immers om met jou hele hart en al jou kragte God te aanbid en sy Seun te volg. En glo veronderstel ‘n daaglikse selfondersoek en wegdraai van wat verkeerd is. Ware geloof is sonder bekering onmoontlik.
Met die oordeelsdag gaan boeke geopen word – besonderlik ook die boek van ons werke. Elkeen word dan geoordeel volgens wat hy/sy gedoen het. Maak geen fout nie: jou lewensboek sal van jou bekering of jou onbekeerlikheid getuig – en dit sal ‘n sleutelrol in die uitspraak oor jou spreek.
Hoe so?
Eenvoudig: bekering is die vrug van God se genade en die inwerking van die Gees in ons. Onbekeerlikheid weer is die vrug van ongeloof en die inwerking van die bose wêreld in ons.
Jesus se eerste preek bring ons nie net by die nabyheid van die groot gebeurtenis van die oordeelsdag nie, maar ook by die noodsaaklikheid van ware bekering.
Amen