Home Preke Kersfees sê: God kom na jou toe!

Kersfees sê: God kom na jou toe!

Datum: 2021-12-12
|
Kernverse: SAGARIA 9:9, 10

SAGARIA 9:9, 10

TEMA: Kersfees sê: God kom na jou toe!

  1. Probleme, probleme, probleme …
  2. Sagaria sê: Die Here onthou!
  3. Jubel en juig, want jou Koning kom na jou toe!

PS 47:1,3; PS 47:4; PS 18:1,12; SB 31 (7-1):1,3; SB 51 (3-1):1-3

  1. Geliefdes in die Here,

Oor 2 weke vier ons Kersfees, en al het ons almal sekerlik reëlings getref om te sorg dat dit vir ons ʼn lekker Kersfees gaan wees, weet ons almal dat die lekker nie baie lank gaan duur nie. Ons probleme en ons bekommernisse gaan nie verdwyn net omdat ons ʼn lekker Kersfees gehad het nie. Nee, die lewe met al sy teëspoed en teenstand en pandemies en misdaad en korrupsie wag steeds vir ons. Ook vir die kerk wag daar groot beproewings. Ook vir God se kinders.

God se kerk is nog altyd deur magtige vyande bedreig. In Sagaria se tyd was Juda eintlik omsingel deur magtige vyande. In die Noord-Ooste was daar Sirië, met Damaskus as hoofstad, in die noorde was die Fenisiërs met Tirus en Sidon as hoofstede, en in die Suid-Weste was hulle tradisionele vyande, die Filistyne.

In Sagaria 9 profeteer Sagaria dat die Here hierdie vyande gaan vernietig en dat Hy vir hulle ʼn Verlosser-Koning sal stuur. In hierdie stadium van die geskiedenis was die volk platgeslaan en hulle land het in puin gelê.

Nadat God hulle herhaaldelik gewaarsku het oor hulle sonde, maar hulle hulle nie daaraan gesteur het nie, is hulle WEGGEVOER uit Juda NA BABEL waar hulle amper 70 jaar moes bly.

Die muur rondom Jerusalem, wat die inwoners moes beskerm, is afgebreek, die pragtige tempel is verwoes en so het alles in duie gestort. Die volk was verpletter. Na ongeveer 70 jaar in die heidense vreemde is hulle weer toegelaat om terug te keer. Dit was in die jaar 539 v.C. Tog het almal nie van hierdie aanbod gebruik gemaak nie. Die heidense manier van lewe het vir hulle so lekker geraak dat net ‘n klein handjie vol teruggekeer het na die beloofde land. Die meerderheid het nie kans gesien vir die lewe van stryd wat vir hulle in Judea gewag het nie.

Kort nadat die groepie, wat wel teruggekeer het na Jerusalem, daar aangekom het, het hulle weer begin om aan die Here te offer. Daar in die vreemde kon hulle natuurlik nie offers bring nie.

Drie jaar nadat hulle terug was, het hulle ook begin om weer die tempel van die Here te bou. Maar hulle het nie ver gevorder nie. Trouens, hulle het net die fondament gelê.

Intussen het hulle so besig geraak met die bou van hulle eie huise dat die bouwerk aan die tempel al hoe minder aandag gekry het. Toe hulle nog boonop teenstand van die heidene begin kry, en hulle ook nog droogtes en armoede beleef het, het die tempel se fondamente vir 15 jaar net so gelê. Die volk was verslae en moedeloos. Alles het net teveel vir hulle begin word.

Geliefdes, ‘n mens kan duidelik sien dat daar sterk ooreenkomste is met die tyd wat ons as gelowiges nou deurmaak in ons land. Die ekonomie is besig om al hoe verder terug te gly. Die petrolprys styg met groot spronge. Werkloosheid neem toe, veral ook onder ons eie mense. Die politieke onsekerheid en die kwaliteit van die leiers wat ons het, wek groot kommer.

Christelike onderwys word vervang met sogenaamde neutrale onderwys wat maar net ‘n mooi woord is vir antichristelike, polities gedrewe onderwys. Kommuniste en Moslems in die kabinet en in die parlement word al hoe meer. Swak regering en korrupsie is aan die orde van die dag.

Die ergste is egter dit wat op geloofsgebied gebeur. Koudheid en louheid onder gelowiges neem toe. Ook in ons gemeente. In die Covid tyd is daar meer en meer lidmate wat net verdwyn. Moedeloosheid dreig ook onder die getroue ou klompie wat alles aan die gang probeer hou. Wat maak ʼn mens as dit maar elke keer dieselfde getroue groepie is wat elke aksie en elke projek dryf en steun? Soos in Sagaria se tyd is daar twee groepe: Die ywerige bouers en die toeskouers met die slap handjies.

  1. Geliefdes, God stuur sy profeet Sagaria om in hierdie hopelose toestand waarin sy volk verkeer met hulle te praat en te sê: So sê die Here van die leërskare. Sagaria beteken DIE HERE ONTHOU. In Sagaria se naam lê daar dus al troos vir die volk van God- die Here onthou- Hy onthou sy verbond, Hy onthou sy beloftes, Hy onthou sy volk, Hy onthou sy kinders. Hy kan hulle nie vergeet nie. Hy dink elke oomblik aan hulle.

Van Sagaria self weet ons nie baie nie. Ons weet dat hy die seun van Berekja, die seun van Iddo was. Iddo was die hoof van ‘n priesterlike familie wat uit Babel teruggekom het. Sagaria was dus waarskynlik self ‘n priester. Verder weet ons nie veel van hom nie. Dis ook nie baie belangrik nie, want wat wel belangrik is, is dat hy ‘n BOODSKAPPER VAN DIE HERE DIE ALMAGTIGE IS.

Sagaria en die profeet Haggai was tydgenote. Van hierdie twee profete skryf Esra hierdie pragtige getuigskrif in Esra 5:1, 2: In die tyd het twee profete opgetree, Haggai en Sagaria seun van Iddo, (eintlik die kleinseun van Iddo.) Hulle het die Judeërs in Juda en Jerusalem aangespreek in die Naam van die God van Israel. Daarna het Serubbabel seun van Sealtiël, en Jesua seun van Josadak weer begin bou aan die tempel in Jerusalem. Die profete van God het hulle bygestaan en ondersteun.

Sagaria was dus ‘n man van God. God het hom gestuur en hy het nie sy eie boodskap gebring nie, maar God s’n. Hy was ‘n suksesvolle prediker, want die mense het gereageer op sy prediking, Op sy woord het hulle weer begin bou aan die tempel, sê Esra. En toe hulle weer begin bou het, het Sagaria hulle nie gelos nie. Nee, hy en Haggai het hulle bygestaan en ondersteun met boodskappe van die Here af.

  1. Hier in Hoofstuk 9 word die volk bemoedig deur die profesie dat God hulle vyande gaan vernietig en dat Hy vir hulle ʼn Verlosser-Koning sou stuur. Ja, in die hopelose toestand waarin die volk is, bemoedig God sy volk met ʼn Kersaankondiging omtrent 500 jaar voordat Jesus as mens gebore sou word:

9Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou Koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en Hy is ’n oorwinnaar, Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie, op die hingsvul van ’n donkie. 10Ek sal die strydwaens in Efraim vernietig, die perde uit Jerusalem uitroei. Die pyl en boog waarmee oorlog gemaak word, sal gebreek word. Die Koning sal vrede vir die nasies afkondig en Hy sal regeer van see tot see, van die Eufraat af tot in die uithoeke van die aarde.

Geliefdes, in hierdie profesie oor die komende Koning word die groot verskil tussen Jesus Christus se Koningskap en die van wêreldse konings beklemtoon.

Hierdie platgeslane volk wat deur soveel vyande en soveel swaarkry bedreig is, word opgeroep: 9Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Watter rede sou hulle hê om te jubel en te juig? Die eerste aspek waarmee God sy volk troos is: Jou Koning sal na jou toe kom. Jou Koning sal na jou toe kom.

Dit is eintlik mos heeltemal verkeerdom! Gewoonlik moet jy na die koning toe gaan. Die koning is baie belangrik en besig. Gewoonlik het hy ook nie tyd vir gewone mense se probleme nie. Maar met hierdie Koning is dit anders.

Hy kom na jou toe. Dit is nog meer merkwaardig as jy besef: Hierdie Koning wat na sy mense toe kom, is Jesus Christus. Die troos vir die volk was dus: God self, die Groot Koning, kom in sy Seun na sy mense toe. God word mens en kom na ons toe. Immanuel, God met ons!

Ja, die Kersboodskap is: God het na ons toe gekom, en al word ons deur baie vyande en probleme bedreig weet ons: Hy gaan weer kom! Soos wat dit die volk getroos het toe Sagaria vir hulle gesê het: Jou Koning sal na jou toe kom, so troos dit ons om te hoor: Jou Koning het al ʼn slag aarde toe gekom met die eerste Kersfees en Hy sal weer na jou toe kom met sy wederkoms. In tussen is Hy by jou en in jou deur sy Gees.

Hierdie Koning wat van sy hemelse troon afgeklim het en ʼn mens geword het, word verder so beskryf: Hy is regverdig en Hy is ’n oorwinnaar, Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie, op die hingsvul van ’n donkie.

Hy is regverdig. Deur die eeue was daar nog maar min regverdige leiers. Die meeste regeerders het vir hulle eie voordeel geregeer. Korrupsie was nog altyd deel van koning wees. Maar nie hierdie Koning nie. Nee, Hy is regverdig. Jesus Christus is nie net regverdig deurdat Hy korrek is in sy optrede teenoor alle mense nie, Hy maak ook regverdig. Hy is ons geregtigheid voor God. Hy maak ons regverdig deurdat Hy self gesterf het in ons plek en ons so in God se oë regverdig gemaak het.

Ja, ons Koning het nie net na ons toe gekom nie, Hy het na ons toe gekom om ons te verlos deur in ons plek te sterf! Hy is waarlik regverdig en Hy maak waarlik regverdig.

Boonop is Hy ’n oorwinnaar, sê ons teks. Hy is Christus Triumphator, Christus die Oorwinnaar. Hy het na sy mense toe gekom om die sonde en die dood te oorwin toe Hy aan die kruis gesterf het vir ons sondes en opgestaan het uit die dood en Hy sal weer kom om die bose die finale nekslag te kom toedien met sy wederkoms.

Al is Hy die groot Oorwinnaar, is Hy nederig. Hy was die toonbeeld van nederigheid. Hy was nooit vol van Homself nie. Hy het nooit sy eie belange voorop gestel nie, maar die van sy mense. Hy het nooit sy almag misbruik ter wille van Homself nie. So anders as die regeerders van destyds en van vandag.

Hy het sy nederigheid gewys deur na die mensdom toe te kom. Hy het nie gehuiwer om ʼn mens te word nie, al was Hy God. Daarom sê die Woord: 5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: 6Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, 7maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, 8het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. (Filippense 2). Dit is ware nederigheid!

Een van die kere wat Hy hierdie nederigheid gedemonstreer het, was met die intog in Jerusalem. Sagaria het hiervan geprofeteer toe hy gesê het: Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie, op die hingsvul van ’n donkie.

Ons lees in Matteus 21:1-11: Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur 2en vir hulle gesê:

“ ‘Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar ’n donkie kry wat vasgemaak is, en ’n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. 3En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur.’

4Dit het gebeur sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word: 5 ‘Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie, op die vul van ’n pakdier.’

6Die twee dissipels het toe vooruit gegaan en gedoen wat Jesus hulle beveel het. 7Hulle het die donkie en die vul gebring, van hulle klere op die diere gesit, en Jesus het opgeklim. 8Die grootste deel van die skare het van hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takkies van die bome afgebreek en dit op die pad gestrooi. 9Die mense wat voor Jesus geloop het en dié wat agter Hom aan gekom het, het begin uitroep: ‘Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Prys Hom in die hoogste hemel!’

10Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gevra: ‘Wie is hierdie man’ 11Die skare het geantwoord: ‘Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!’ ”

Vers 4 en 5 sê baie duidelik dat dit wat Sagaria omtrent 500 jaar tevore geprofeteer het, hier vervul is: “4Dit het gebeur sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word: 5 ‘Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie, op die vul van ’n pakdier.’ ”

Ja, ons Koning het al na ons toe gekom! Hy is nie ʼn aardse Koning wat ʼn aardse koninkryk kom vestig het nie. Daarom ry Hy nie op ʼn oorlogsperd of ʼn strydwa Jerusalem binne nie, maar nederig op ʼn donkie, op die vul van ʼn pakdier.

Geliefdes, in ons tyd is ons eintlik baie gesteld op waarmee op ons ry. Dit sal eintlik belaglik wees as ʼn minister met ʼn donkie-karretjie by ʼn kabinetsvergadering opdaag. Dit sal snaaks wees as die president met ʼn bromponie by ʼn staatsbanket opdaag.

Maar Koning Jesus wys dat Hy Hom nie steur aan menslike idees nie. Nee, Hy ry as die Groot Oorwinnaar Jerusalem binne op ʼn donkietjie. Sy koninkryk is anders as wat mense dink. Hy is nie ʼn aardse Koning wat Hom steur aan snobisme nie en prag en praal nie.

Sagaria profeteer verder en sê: (Hierdie Koning sê:) “10Ek sal die strydwaens in Efraim vernietig, die perde uit Jerusalem uitroei. Die pyl en boog waarmee oorlog gemaak word, sal gebreek word. Die Koning sal vrede vir die nasies afkondig en Hy sal regeer van see tot see, van die Eufraat af tot in die uithoeke van die aarde.”

Efraim was die 10 stamme-ryk wat van Juda, die 2 stamme-ryk in Jerusalem, afgeskei het. As Jesus sê: “10Ek sal die strydwaens in Efraim vernietig, die perde uit Jerusalem uitroei”, dan sê Hy eintlik: Ek sal weer eenheid bewerkstellig in my volk. Ek sal vrede bring in my kerk.

En dan die heerlike profesie: “Die Koning sal vrede vir die nasies afkondig en Hy sal regeer van see tot see, van die Eufraat af tot in die uithoeke van die aarde.”

Die Verlosser-Koning  het 2000 jaar gelede begin om die vrede vir alle nasies af te kondig met die eerste Kersfees. Vrede vir al die nasies sal voleindig word met die wederkoms van ons Here.

In Matteus 28:18-20 sê die Koning, Jesus Christus: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Die vrede wat Hy vir die nasies afgekondig het, moet ons ook aan die nasies verkondig. En ons kan dit vreesloos doen, want ons weet alle mag in die hemel en op die aarde behoort aan ons Koning, Jesus Christus, en Hy is by ons tot die voleinding van die wêreld. Hy regeer oor die heelal, van see tot see, van die Eufraat af tot in die uithoeke van die aarde.

Ja, mag hierdie Kersfees-boodskap u bemoedig vir al die probleme en teëstand en teëspoed wat nog hierdie jaar en volgende jaar vir ons wag.

Ons Koning het al gekom en Hy kom weer. Sy Evangelie is vir alle nasies, daarom ook vir ons. Hy het klaar ewige vrede vir die nasies in die Nuwe Jerusalem afgekondig en Hy regeer al klaar oor alles en almal!

As dinge vir u te veel word, onthou die Kersprofesie van Sagaria 9: “9Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou Koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en Hy is ’n oorwinnaar, Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie, op die hingsvul van ’n donkie. ‘10Ek sal die strydwaens in Efraim vernietig, die perde uit Jerusalem uitroei. Die pyl en boog waarmee oorlog gemaak word, sal gebreek word.’

Die Koning sal vrede vir die nasies afkondig en Hy sal regeer van see tot see, van die Eufraat af tot in die uithoeke van die aarde.”

Ons Christus-Koning regeer tot in ewigheid en ons is veilig in sy hande!

Amen.