Die Bybel kom van God:
1. As ‘n opdrag.
2. As ‘n openbaring.
3. As ‘n wonderboek.
1. As ‘n opdrag
“Daarna het die Here vir Moses gesê: ‘Skryf hierdie woorde op in ‘n boek as ‘n blywende herinnering …’.”
Hoe sou die boek gelyk het?
Beslis nie soos vandag nie. Op daardie stadium was alle inskripsies op klip. So het God dan ook aan Moses by geleentheid beveel. God self het ook die Tien Gebooie op twee tafels van klip geskryf.
Kan u u dit dus indink. Die eerste Bybeldele het uit klip bestaan. Daar was dus seker ook net die een enkele eksemplaar. Dit kon so maklik verlore gaan tydens oorloë, vlug of ‘n volk wat dit as waardeloos begin ag. In die Koningstyd het dit juis gebeur.
Vandag word baie ou klipinskripsies opgespoor deur opgrawings. Nie een daarvan (sover ek weet) het die eeue oorleef nie – behalwe die Bybel!
God sit dus daaragter. Hy het Moses, Jesaja, Jeremia, Esegiël en ander uitdruklik beveel om alles op te skryf.
“So sê die Here: ‘skryf alles wat Ek met jou gepraat het, in ‘n boek’.”
“Die Here het toe vir my gesê: ‘Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette …”
In die begin het die boek bestaan uit klippe (Deut 27: 2,3) en later uit kleitablete (Hab 2: 2) en gebreide leer (Jes 8: 1).
Al was skryfmateriaal so skaars. Om iets te skryf moes jy een van die volgende vind: ‘n plat klip, of klei om ‘n te tablet te maak en dan te bak of vel. Die nomade het egter vel vir alles nodig gehad, vir tentmaak, klere, skoene, wynsakke. Skryfmateriaal was dus uiters, maar uiters skaars.
2. Die Bybel as ‘n openbaring
Die Bybel vertel nie die geskiedenis van Israel nie of is nie ‘n filosofiese boek oor hoe mense destyds oor alles nagedink het nie. Dit is die verkeerde persepsies wat onkundiges vandag mag hê.
Nee die Bybel is ‘n openbaring.
Dit wil sê die Bybel maak aan ons dinge bekend wat totaal buite ons eie wêreld lê, soos:
* Dat daar net een God is in kontras met al die ander volke se veelgodedom.
* Dat God alles uit niks geskape het – met lig begin het – en dat die mens deur Hom aangestel is om te heers oor sy werke.
* Dat daar ‘n sondeval was. Die mens was oorspronklik in staat tot die ewige lewe.
* Dat God in neerbuigende liefde hom oor die verlore mens ontferm het en dit bekragtig het met ‘n eed en verbondsluiting.
* Dat God sy Seun sou stuur om alles te herstel – en dat sy Gees die werk van die Seun opgevolg het.
* Uiteindelik sal alles uitloop op die wederkoms en herskepping. Daar sal egter ook ‘n groot oordeelsdag wees.
Dit is alles openbaringe – geheimenisse totaal buite die waarneming van die mens.
3. Die Bybel as ‘n wonderboek
Hieroor is daar te veel om te sê. Ons volstaan vanoggend deur nie na detail nie, maar oorsigtelik te kyk na die Bybel as geheel. Wat verstom is die volgende:
Die tydperk
Die Grieke het later met hulle eie gode begin spot en die Romeine het hulle gode vervang deur keiseraanbidding.
Selfs Israel het in elke eeu ander gode gehad. In Egipte is die gode van hul voorvaders anderkant die Eufraat vereer (Jos 24). Later is Baäl, Asjera, Molog, die hemelliggame (son, maan en sterre) en die hemelkoningin (Jeremia se tyd) aanbid.
Maar die Bybel het oor seker 2000 jaar dieselfde gebly.
Die Godsbegrip het nooit verander nie – ook nie God se plan en verbond met die mens nie!
Hoe verklaar ‘n mens dit?
Alleen deur die Gees kan dit verstaan word, soos dit in 2 Petrus 1: 21 staan. Die Griekse woordjie is “epilusis” en beteken om “iets te verklaar”, “te interpreteer” en ook “te inspireer”.
Dit laat ons meteens sien waarom die skrywers nie deur die konings of die gees van hul tyd beïnvloed was nie. Net die Heilige Gees het hulle gedryf en gelei om die geskiedenis van hul tyd suiwer Goddelik te verklaar en te interpreteer.
Die agtergrond van die skrywers
Gewoonlik speel agtergrond en beroep ‘n groot rol in hoe mense dinge sien. Politici, medici, regsgeleerdes, bouers, boere verskil gewoonlik radikaal van mekaar in hoe dinge gesien moet word.
Die Bybel is in sy Boodskap egter ‘n eenheid ongeag die feit dat mense met uiteenlopende agtergronde daaraan meegedoen het.
Die Bybelskrywers was onder andere:
* profete, volksleiers (Josua)
* boere (Job, Moses, Amos)
* digters, konings (Salomo)
* vissers (Petrus)
* wetsgeleerdes (Paulus)
* sangers (Koragiete)
* musikante (Dawid)
* ‘n dokter (Lukas)
* ‘n skinker (Nehemia)
* ‘n eerste minister (Daniël) en vele meer.
Die plekke waar die afsonderlike boeke geskryf is
Mense neem sommer aan dat die hele Bybel in Jerusalem tot stand gekom het. By verre nie. Die grootste gedeelte van die Bybel kom van buite Jerusalem. Die profete was afkomstig uit klein dorpies regoor Palestina.
Verrassend genoeg is baie dele selfs buite die heilige land geskryf in plekke soos:
* Egipte, Sinaï woestyn (Moses)
* Nineve (Jona)
* Babilonië (Klaagliedere, Daniël)
* Klein-Asië (apostels)
* Rome, Griekeland, die eiland Patmos (Johannes),
en so meer!
Die tale waarin die Bybel geskryf is
Hebreeus, Aramees en Grieks. Selfs die feit dat die Bybel oorspronlik in verskillende tale geskryf is kon die eenheid van die Skrif nie aantas nie.
Dit was net moontlik gewees deur die Heilige Gees. Ons teks lees tog:
“Want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.”
Hierdie versie beklemtoon dit baie sterk:
Nie van die mens, maar van God.
Kom ons roem God in verwondering vir sy Woord
“Die Woord van die Here is volmaak.”
“U Woord Here staan vir altyd vas.”
“Hoe aangenaam is U woord, soeter as heuning …”
“U woord is die lamp wat my die weg wys.”
Amen.