Tema: Koninkryk en kerk
Inleiding:
God se kerk is steeds baie afhanklik van Hom. Die kerk het God elke dag oral en altyd nodig. Jesus Christus leer ons in die Onse Vader om gereeld te bid dat God sy kerk sal bewaar en vermeerder. ‘n Gelowige bid hiervoor wanneer jy die woorde “Laat U koninkryk kom” bid.
Tema: Koninkryk en kerk
Die kerk behoort aan God
Jesus Christus het self in Sesarea-Filippi vir sy disippels gesê: “..op hierdie rots sal Ek my kerk bou.” (Mat.16:18). Die kerk is Jesus Christus s’n en Jesus behoort aan God (1 Kor.3:23). God leer ons duidelik in sy Woord dat die kerk aan Hom behoort. Sy kerk is vir Hom baie kosbaar, want Hy het sy kerk syne gemaak deur die kosbare bloed van sy Seun Jesus Christus (1 Pet.1:19). Omdat sy kerk so kosbaar is, bewaar God sy kerk.
God bewaar die kerk deur sy Woord
Die kerk van God het drie doodsvyande, die duiwel, die wêreld en die sonde in mense. God bewaar sy kerk teen hierdie drie doodsvyande. Hoe bewaar God sy kerk? Hy bewaar sy kerk deur sy Woord. Hoe gebeur dit?
God maak in sy Woord die verlossing deur Jesus Christus en die vergifnis wat sy kerk ontvang het, bekend.
Hy gee aan sy kerk geloof deur sy Woord. Met hierdie geloof aanvaar sy kerk die verlossing en vergifnis. So bind God Hom aan sy kerk en sy kerk aan Hom.
Hy verseker sy kerk wat aan Hom gebind is van die lewe met Hom wat nou reeds begin, en in ewigheid sal duur.
Hy wys in sy Woord ook aan sy kerk hoe sy kerk uit dankbaarheid Hom moet gehoorsaam.
So bewaar God sy kerk deur sy Woord.
Geen wonder nie, dat ons van die eerste gelowiges in die eerste Nuwe Testamentiese gemeente lees, dat hulle almal elke dag getrou in die tempel bymekaar gekom het nie (Hand.2:46). Waarom in die tempel? Daar is die Woord van die Here gelees. Daar het die gelowiges onderrig ontvang in God se Woord. In die tempel was die Woord. Waar die Woord was, daar was die gelowiges.
God se manier van doen is vandag nie anders nie. Hy bewaar sy kerk steeds deur sy Woord. Die kerk bly bewaar deur aan God se Woord getrou te bly. Bly by God se Woord. Bly getrou aan sy Woord. So sal jy as deel van God se kerk bewaar word.
Bid daarvoor
Jesus Christus het ons geleer om te bid vir die bewaring van God se kerk. Elkeen van ons moet goed besef: Indien die kerk nie bewaar word nie, word ons ook nie bewaar nie. Jou lewe hang dus daarvan af dat God sy kerk sal bewaar.
Bid vir jou eie bewaring. Bid dat die Here jou sal help om aan sy Woord getrou te bly.
Bid vir die bewaring van ander saam met jou in die gemeente.
Bid vir die bewaring van gelowiges oor die hele wêreld, ook in ander lande.
2. Die vermeerdering van die kerk
Die Here se kerk is in die wêreld
Die Here neem nie sy kerk weg uit die wêreld en steek sy kerk weg agter hoë mure nie. Die kerk is ook nie ‘n afgeslote geheime organisasie nie. Nee, die kerk leef in die wêreld.
Die kerk moet die lig van die Evangelie van Christus laat skyn
Die kerk leef ook nie in die wêreld, omdat dit nie anders kan nie. Nee, God het sy kerk in die wêreld geplaas met ‘n doel. Die kerk se doel is om God te verheerlik. Hoe doen die kerk dit? Die kerk moet die lig van die Evangelie van Christus laat skyn.
Dit beteken die kerk moet self eers die Evangelie gelowig aanvaar. Die kerk moet die Evangelie goed ken en oortuig wees van die verlossingsboodskap van die Evangelie. Met hierdie geloofsoortuiging moet die kerk die wêreld van Christus vertel. So laat die kerk sy lig skyn.
So vermeerder God sy kerk
Hierdie manier van doen het ‘n mens gesien by die eerste gemeente. Petrus het die Evangelie van Christus aan hulle verkondig. Hulle het tot die geloofsoortuiging gekom dat Christus wat gekruisig is en opgestaan het, hulle Verlosser is. Hulle het elke dag bymekaar gekom om hierdie boodskap van verlossing te hoor. Hulle het elke dag bymekaar gekom om oor hulle verlossing te praat en saam te eet en hulle het die gemeenskap buite die gemeente van God vertel.
Met hoe die eerste gemeente geleef het en waaroor hulle gepraat het, het hulle die lig van Christus se Evangelie laat skyn. Daarom lees ons “En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg” (Hand.2:47).
Hoe leef ons? Waaroor praat ons?
Deur hoe ons leef en waaroor ons praat wil God sy kerk hier in ons omgewing vermeerder.
Bid daarvoor
Bid vir die vermeerdering van God se kerk, in die gemeente waaraan ons behoort, in ons land en oor die hele wêreld.
Bid dat God jou sal help om te lewe soos Hy wil, ‘n lewende lidmaat een met die res van die gemeente.
Bid dat God jou sal help om so te praat dat jou woorde ‘n ander kan bereik en kan lei om in Christus te glo.
3. Die groei van die kerk in die koninkryk
Die kerk is die teken van sy koninkryk
Waaroor gaan hierdie bede? Nie net oor een gemeente nie. Nee, die bede is “Laat U koninkryk kom.” Mens bid vir die bewaring en vermeerdering van die kerk, want die kerk is die teken van God se koninkryk.
Wanneer die kerk groei bou God sy koninkryk
Wanneer die kerk groei, bou God sy koninkryk. Hy regeer in die harte van mense. Die gelowiges se geloofsoortuiging word al sterker en die gelowiges in die koninkryk word al meer.
Bid en werk daarvoor
God wil hê dat ons vir die bewaring en vermeerdering van sy kerk sal bid. Jesus het ons in sy gebed geleer om hiervoor te bid. Gee ag, luister en leer en bid. Bid dat God sy kerk sal bewaar. Bid dat God sy kerk sal vermeerder. Bid dat Hy sy koninkryk sal uitbou.
Bid en werk gaan hand aan hand. Werk ook vir die bewaring van God se kerk. Stel jou deur die Heilige Gees beskikbaar. Bly self getrou aan God se Woord. Help medegelowiges om vas aan God se Woord te bly. Wees jy die gelowige wat deur wat jy doen en wat jy sê, ander tot geloof in God en tot inkeer begelei. Wees so deur die Heilige Gees instrument in God se hand.
Die gelowige wat deur die Heilige Gees vir die koninkryk bid, sal die gelowige wees wat ook vir die koninkryk werk.
Die gelowige wat vir die koninkryk werk, is die gelowige wat ook met vrymoedigheid vir die koninkryk mag bid.