Tema: Laat Die Here Deur Jou Werk
Die Here wou Hy lsrael in Kanaän hê. Om in Kanaän te kom moes lsrael deur die Jordaanrivier. Die rivier was te vol. Om deur te kom, moes die priesters met hulle voete in die water van die Jordaanrivier staan, het die Here gesê. Wanneer hulle voete aan die water raak, sou die rivier se vloei afgesny word, sodat lsrael droogvoets deur die rivier kon gaan (Jos3 :13). Die Here het alles so laat gebeur,omdat Hy deur lsrael wou werk, daardie dag by die Jordaan en ook later in Kanaän.
Die Here wil deur hierdie gemeente van Hom werk. Hy leer ons vanoggend in
Josua 3 hoe dit kan gebeur.
Hierdie geskiedenis van lsrael se intog in Kanaän begin in werklikheid met hulle uittog uit Egipte
lsrael was magtelose slawe in Egipte onder die tirannie van die destydse Farao. Israel was in ellende, maar kon vir hulleself niks doen nie. Hulle was slawe in Egipte. Die Farao het hulle onmenslik hard laat werk en was in werklikheid besig om hulle te laat uitsterf. Hulle kon as slawe ook nie self uit Egipte kom nie. Hulle was eintlik gevangenenes in Egipte.
Die Here moes vir hulle alles doen en Hy het. Die Here het Moses as hulle leier aangewys (Eks 3:10). Die Here het die tien plae laat plaasvin (Eks.7 – 12). Die laaste plaag wat die Here oor Egipte gebring het, die dood van die oudste kind in elke huis, het gemaak dat die Farao lsrael laat gaan het. Toe die Farao sy leër gestuur het om lsrael weer gevange te neem en terug te bring, het die Here hulle weer deur ‘n wonder gered. Hy het ‘n wolk tussen lsrael en die Egiptiese leër laat kom (Eks.14:19). Hy het verder die Rooisee voor lsrael laat opdam. Hulle kon droogvoets deur die see (Eks. 14:22). Toe die leër van Farao lsrael agtervolg het, het die Here hulle in die Rooisee
verdrink (Eks. 14:27).
Die Here het in Egipte Vir Israel gewerk. Hy het vir hulle alles gedoen.
Om hierdie verlossing te onthou, het Israel die Pasga elke jaar gevier. Die Pasga het Israel herinner aan die grootste gebeurtenis in hulle lewe, hulle verlossing uit Egipte. Die verlossing uit Egipte was die nuwe begin wat Israel kon maak as vrye verbondsvolk van die lewende God.
Nou weet ons dat die Here Jesus tydens die Pasga die Nagmaal ingestel het (Mat 26:26-29). Die Pasga was vir Israel. Die Nagmaal is vir die kerk van die Here Jesus in die Nuwe Testament. Die Nagmaal is bedoel om ons te herinner aan wat God vir ons gedoen het, toe sy Seun vir ons aan die kruis gesterf het (1 Kor 11). Jesus Christus het deur sy liggaam en bloed aan die kruis te gee, ons van ons sonde verlos.
Israel van ouds was magteloos in Egipte. Ons was ook magteloos in ons sonde. Die Here het vir ons alles gedoen. Hy het sy Seun mens laat word. Ons word verlos deur Jesus Christus se dood aan die kruis.
Ons word net verlos deur die Here wat vir ons werk.
Na Israel uit Egipte is, was hulle verlos van die slawerny. Hulle was vry om as verbondsvolk van die Here te leef. Hulle was uit Egipte, maar Egipte was nog nie uit Israel nie, om dit so uit te druk.
Elke keer wanneer Israel voor ‘n probleem te staan gekom het en hulle geloof moes behou, het hulle in plaas daarvan om opreg in God te glo, na Egipte terug verlang.
Voor die Rooi See het Israel vir Moses gevra: Waarom het jy ons uit Egipte laat trek? (Eks 14:11).
In die Sinai woestyn het hulle kos min geraak en weer het hulle gekla: As ons maar liewer in Egipte omgekom het (Eks 16:3).
By Refidim was daar nie water nie en vir die soveelste keer het Israel verwyt en gevra: Waarom het jy ons uit Egipte laat optrek? (Eks 17:3).
Israel se geloof in God was maar baie eina. Die beste getuienis hiervan is die keer toe hulle na die woestynreis op die grens van Kanaän aangekom het. Op die bevel van die Here het Moses twaalf verkenners die land ingestuur. Hulle het terug gekom en verslag gedoen. Twee van die twaalf het ges^e: Die Here is by ons. Hy sal die land aan ons gee (Num 14:8,9). Die ander tien het ges^e: Die mense in Kanaan is te sterk ons kan nie die land inneem nie (Num 13:31).Israel het hulle ou patroon gevolg en nie in die Here geglo soos die twee verkenners Josua en Kaleb nie, maar weer in ongeloof begin terugverlang na Egipte. Israel het vir mekaar ges^e: As ons maar in Egipte of die woestyn gesterf het! Waarom het die Here ons na hierdie land gebring (Num 14:2,3)?
Daarop het die Here Israel teruggestuur die Woestyn in. Hulle moes veertig jaar in die woestyn rondtrek. Die redes hiervoor was dat die Here die wat nie geglo het en kanaan nie wou ingaan nie, in die woestyn moes sterf (Num 14:32). Die res wat nog jonk was, moes leer om in God te glo. Hulle het die offers en die wette ontvang wat getrou nagekom moes word. ‘n Mens kan in die tweede helfte van Numeri hiervan lees. Deur die offers en die wette het die Here Israel geleer dat hulle aan Hom behoort, Hom alleen moes glo en Hom gehoorsaam moes dien.
Gedurende die tyd in die woestyn het die Here in die harte van Israel gewerk om hulle voor te berei om met gelowige harte Kanaan in te gaan. Dit was hierdie mense van wie ons in Josua 3 gelees het.
Vandag het ons nie meer die offers wat Israel destyds gehad het nie, maar ons het steeds die Woord van dieselfde Here. Ons het ook die Nagmaal en die Doop. Deur sy Woord en sakramente werk die Here deur sy Heilige Gees ook in ons.
Ons kan net met ware geloof in God glo, indien sy Heilige Gees in ons werk deur sy Woord en die Sakramente.
Die Here het eers vir Israel gewerk. Hy het hulle uit Egipte verlos. Daarna het die Here in Israel gewerk deur sy wette en offers. Nou het dit tyd geword dat die Here deur Israel wou werk.
‘n Mens kan nie jou geestelike lewe vassteek by die Here wat vir jou en in jou werk nie. Is die meeste gelowiges nie maar tevrede om te bly by die Here wat vir jou en in jou werk nie? Israel het dit gedoen en kyk wat het met hulle gebeur! Toe dit werklik saakgemaak het, het hulle nie geglo nie! En hulle het Kanaan nie gesien nie. God het hulle in die woestyn laat sterf.
Die here werk vir jou en in jou, sodat Hy uiteindelik deur jou kan werk.
Die Here wou deur die priesters werk. Die priesters moes die verbondsark neem en in die rivier instap. Die Jordaan was daardie tyd van die jaar in vloed. Sy walle was oorstroom. Dit was menslik onmoontlik om deur die rivier te gaan.
Die priesters moes met gelowige harte die ark neem en in die Jordaan instap. Hulle het in God geglo en die verbondsark geneem. Hulle het begin stap na die rivier vol malende water. Israel het heeltemal anders as in die verlede sonder teestribbeling angter die priesters geloop (Jos 3:14), 900 meter soos die Here ges^e het (Jos 3:4).
Die priesters het met hulle voete in die water aan die kant van die vol rivier gaan staan. Die water is nog vlak daar. Toe die priesters se voete in die water gekom het, het die water wat afkom, gaan staan (Jos 3:15). Die priesters het met die verbondsark op droe grond bly staan en Israel is oor die droe bedding deur die rivier. God het die menslik onmoontlike moontlik gemaak.
Israel was in Kanaan waar die Here hulle wou He. Hy het deur die priesters gewerk om Israel deur die Jordaan te laat trek. Hy het deur die twaalf manne, een uit elke stam, gewerk om ‘n klipstapel te maak vir Israel om die dag te onthou. Die Here het deur die ouers in Israel gewerk om die kinders te vertel van sy groot genade in hulle lewe.
Jy wat vanoggend hier is, is deel van die kerk van Christus. Die wat om een of ander rede nie vanoggend hier is nie, is ook deel van die kerk van Christus.
Die Here het vir jou gewerk deur sy Seun vir jou aan die kruis te laat sterf.
Die Here werk al vir baie jare in jou deur sy Woord en sakramente.
Maar… daar kom ‘n tyd dat die Here ook deur jou wil werk.
Ons is aan die begin van ‘n nuwe jaar, 2007. Die Here wil deur hierdie gemeente van Hom werk. Hier is abie geestelike werk wat die Here deur ons onder mekaar wil doen. Hier is net soveel geestelike werk wat die Here deur ons in die gemeenskap wil doen.
Is hier iemand wat bereid is om leiding te neem en die here deur jou te laat werk? Ouderling, diaken, ouer lidmaat, kind, is jy bereid om die Here deur jou te laat werk? Gaan jy die eerste tree gee en ander lidmate saam neem om nader aan God en nader aan mekaar te groei?
Is hier gelowiges wat bereid gaan wees om sonder teestribbeling te volg? ‘n Mens kan so maklik soveel omstandighede voorhou wat verhinder dat die Here deur jou werk. Is die meeste van hierdie omstandighede regtig omstandighede, of is dit dalk ongeloof?
Die Here kan in elke gelowige se lewe die onmoontlike moontlik maak. Is hier iemand wat bereid is om deur die Heilige Gees hierdie jaar voor te loop en eerste met jou voete in die water te gaan staan? Is hier iemand wat deur die Heilige Gees bereid is om te volg waar die Here ons lei?
Laat die Here dan deur jou werk, sodat 2007 vir ons gemeente ‘n jaar kan wees waarin die Here deur ons gewerk het.