“Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Kor.11:26). Hierdie woorde staan in die Bybel in 1 Korintiërs 11. Elkeen wat die brief al gelees het, het op hierdie woorde afgekom. Hierdie woorde kom ook in die Nagmaalformulier voor. Elke gelowige wat gereeld nagmaal gebruik, hoor hierdie woorde dus vier keer ‘n jaar. Die kernvers vir vanoggend se preek, is daarom eintlik bekende woorde. Kom ons maak vanoggend seker dat ons weet wat die vers beteken.
Hierdie woorde is in werklikheid ‘n geloofsbelydenis.
Tema: Met nagmaal bely ek my geloof in Jesus Christus wat vir my aan die kruis gesterf het
Wanneer ek nagmaal toe kom, op staan en na die tafel toe kom en die brood eet en die wyn drink, verkondig ek die dood van Jesus Christus totdat Hy kom. Nagmaal het alles te doen met Jesus Christus wat aan die kruis gesterf het.
Wanneer mens so oor die nagmaal dink, besef jy dat nagmaal ‘n baie diep geestelike saak is en net bedoel is vir die mens met ‘n ware geloof in Jesus Christus, ‘n geloof wat baie sterk en baie diep is.
Die gemeente in Korinte het ook nagmaal gebruik. Nagmaal moes vir hulle ook ‘n baie diep geestelike saak gewees het. Maar….daar het baie verkeerde dinge gebeur, wanneer die destydse gelowiges in Korinte nagmaal gebruik het.
Hulle was ‘n verdeelde gemeente en het nie ‘n hegte verhouding met mekaar gehad nie. ‘n Goeie voorbeeld hiervan was dat hulle destyds kos en wyn van die huis af gebring het. Hulle het met nagmaal saam geëet. Almal kon nie op dieselfde tyd by die nagmaal wees nie, want party moes werk. Hulle het nie ‘n keuse gehad nie. Die lidmate wat vroeër by die nagmaal kon wees, het nie vir die ander gewag nie, maar begin eet en drink. Wanneer die lidmate wat later eers kon kom, by die nagmaal opdaag, was daar niks meer om te eet nie en sommige van die lidmate wat vroeër gekom het, was al onder die invloed van drank.
Dit het in die gemeente gebeur, want die lidmate het nie eerbied vir God en vir sy gemeente gehad nie. Nagmaal in Korinte het in ‘n oppervlakkige eet en drink verander. Dit was sonde.
Wanneer ‘n gemeente so nagmaal gebruik, doen dit eerder kwaad as goed. Dit was destyds in Korinte so. Wanneer ‘n gemeente op ‘n oppervlakkige verkeerde manier nagmaal gebruik, sal dit vandag steeds eerder kwaad as goed doen.
Ek wat met geloof in Christus nagmaal toe kom, moet my daarvan weerhou om nagmaal oppervlakkig en verkeerd te gebruik. Twee voorbeelde hiervan is: Ek moet my daarvan weerhou om my horlosie ongeduldig dop te hou wanneer dit nagmaal is, omdat ek nie daarvan hou as ‘n erediens te lank is nie. Ek moet my ook daarvan weerhou om soveel ander dinge op die Sondag wanneer dit nagmaal is, te reël, dat ek nie kan wag dat nagmaal klaar moet maak en ek weer by die huis kan wees nie.
Hoe kry ‘n mens dit reg om nagmaal reg te gebruik? Wanneer jy deur die Heilige Gees jou goed voorberei het vir nagmaal en wanneer jy nagmaal toe kom met ‘n opregte geloof in Jesus Christus kom jy met die regte gesindheid en sal jy nagmaal op die regte manier kan vier.
Die woorde in die kernvers vir vanoggend se preek wys vir ons dat ‘n mens nie net nagmaal toe kom om te kom ontvang nie. Met elke nagmaal het ek ook ‘n baie belangrike werk om te doen. Met nagmaal verkondig ek die dood van Jesus Christus.
Die woord verkondig beteken ook bely. Met nagmaal bely ek dus my geloof in Jesus Christus. Ek mag daarom net nagmaal gebruik, met ‘n opregte geloof in my hart.
Is jou geloof in Christus baie sterk en baie diep?
Is jy vanoggend bereid om met jou gebruik van nagmaal jou geloof dat Christus vir jou gesterf het, te bely?
As jy “ja” op hierdie vrae kan antwoord, dan is hierdie nagmaal vir jou bedoel.