Lees: Daniël 6
Inleiding:
Die boek Daniël is ‘n baie interessante en leersame boek. Die boek is interessant, want hy is in twee dele geskryf en in meer as een taal. Een deel van die boek is geskiedenis. Tot dusver het ons in die eerste vyf hoofstukke hoofsaaklik na geskiedenis gekyk – Juda wat deur Nebukadnesar van Babel in ballingskap weggevoer is en alles wat daarmee saamgegaan het. Vanoggend in Daniël 6 is ons steeds by geskiedenis. Daar kom nog ‘n deel van die boek Daniël wat nie geskiedenis is nie, maar profesie of openbaring in geheime taal. Daarby kom ons nog, as die Here wil.
Die boek is verder leersaam, want die lewende God leer ons regtig baie in hierdie boek wat Daniël deur die Heilige Gees geskryf het. Vanoggend leer ons juis weer baie oor gebed en die plek van gebed in my lewe.
Tema: My gebedslewe is my geloofsbelydenis voor God en my geloofsgetuienis voor die wêreld
In Daniël 6 leer ons Daniël verder ken as ‘n gelowige uit Juda wat God geken en Hom gedien het. In die heel eerste hoofstuk van hierdie boek het ons Daniël leer ken as ‘n jong man wat God oral en altyd gehoorsaam het. In hoofstuk 2 het ons hom leer ken as ‘n jong man wat saam met sy vriende na die Here gebid het, toe Nedukadnesar al sy raadgewers om die lewe wou bring, indien hulle nie sy droom en die droom se uitleg vir hom vertel het nie.
In Daniël 6 kry ons Daniël, al heelwat ouer en in ‘n ander koning se paleis. Die koning was koning Darius, die Mediër wat in vennootskap met Persië regeer het. Daniël het steeds ‘n belangrike werk in Babel gehad. Hy was een van drie ministers aan wie al die goewerneurs-generaal verslag moes doen, sodat die koning se belange voldoende en behoorlik behartig kon word. Ook in sy werk het Daniël die Here gedien en Hom gehoorsaam, Hy was in alles betroubaar en deeglik en ‘n voorbeeld vir die heidense amptenare saam met wie hy moes werk.
Daniël se manier van lewe verder was dat hy drie keer ‘n dag gebid het. Sy dakkamer se venster was oop na Jerusalem. Hy het God elke dag geprys, aanbid en gedank.
Ons kan sê Daniël het ‘n lewende geloofsverhouding met God gehad.
Hierdie is openbaringsgeskiedenis wat nie oor Daniël gaan nie. God maak Homself in hierdie geskiedenis van Daniël bekend as die lewende Verbondsgod wat ‘n lewende verhouding met my in die genadeverbond wil hê.
Van die heel begin af het God Homself bekend gemaak dat Hy ‘n lewende verhouding met elke kind van Hom wil hê. Hier is enkele voorbeelde:
Die Here is vandag en in ewigheid dieselfde onveranderlike God. Hy wil ook ‘n lewende verhouding met my hê.
Hoe kom ek in so ‘n verhouding met God?
Uit die res van die Bybel, veral die Nuwe Testament weet ons dat Jesus Christus my in ‘n innige verhouding met God bring. Hy verlos my van al my sonde deur vir my aan die kruis te sterf. Deur sy dood neem Hy al die sonde weg wat ek tussen my en God opgehoop het. Jesus staan vir my op uit die dood. Daardeur gee Hy aan my nuwe lewe. As nuwe verloste gelowige is ek nou in die innigste Vader-kindverhouding met God.
Elke gelowige in die genadeverbond het ‘n antwoord om aan God te gee. Hy wil ‘n lewende verhouding met my hê. Hoe antwoord ek Hom dan? Hoe lyk ‘n lewende verhouding met God?
Oor ‘n lewende verhouding met God kan mens baie sê, want die Here self leer ons baie in sy Woord. Met hierdie preek is ons in Daniël 6 besig. Kom ons kyk na wat die Here ons in hierdie hoofstuk leer.
Ons sien Daniël se verhouding met God in sy werk. Hy was betroubaar en eerlik in sy werk in ‘n omgewing waar sy ongelowige kollegas die teenoorgestelde was. Daniël se kollegas en koning Darius het ook geweet, Daniël het so geleef, omdat hy God gedien het.
Dan sien ons Daniël se verhouding met God veral in sy gebedslewe. Daniël het ‘n gewoonte gehad om te bid. Sy gebedslewe was nie bloot ‘n gewoonte nie, maar ‘n manier van lewe wat uit sy hart en sy verhouding met God gekom het.
Nadat koning Darius op aandrang van sy heidense personeel beveel het dat enigiemand wat vir dertig dae enige god of mens aanbid, behalwe vir hom wat Darius is, met die dood gestraf moes word en in die leeukuil gegooi moes word.
Toe Daniël hierdie bevel hoor, het hy na sy huis toe gegaan. Soos sy gewoonte was, het hy steeds drie keer per dag gebid. Hy het sy dakkamer se venster na Jerusalem se kant oopgemaak. Hy het met hierdie gebaar steeds sy geloof op die Verbondsgod en sy verbondsbeloftes gerig. Tydens sy gebede het Daniël voor God gekniel. Hiermee het hy gewys dat hy homself klein ag voor God wat hoog verhewe en heilig is. Dan het Daniël God geprys, Hom aanbid en gedank.
Ons kan sê: Daniël se gebedslewe was sy geloofbelydenis voor God.
Dit is so belangrik dat ek sal bid met opregte geloof in my hart, sodat my gebedslewe ook ‘n geloofbelydenis voor God sal wees.
Daar is voorbeelde in die Bybel waar dit anders was.
Jes.1:15 – “As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak. Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande is met bloed bevlek”.
Jak.4:3 – “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: Julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig”.
Juda tydens Jesaja se optrede en die eerste Christene aan wie Jakobus geskryf het, het gebid ja, maar hulle het nie ‘n lewende verhouding met God gehad nie. Albei hierdie groepe mense het gebid, maar nie omgegee of hulle harte vol opregte geloof was en hulle ‘n lewende verhouding met God gehad het nie.
Dit is so belangrik dat my gebedslewe in werklikheid my geloofbelydenis voor God sal wees. Wanneer ek bid, moet elke gebed ‘n gebed uit ‘n gelowige hart wees. Hierdie sal nie vanself gebeur nie. Ek het die Heilige Gees nodig. Die Heilige Gees gee aan my geloof. Hy help en lei my om met ‘n opregte hart te bid.
So ‘n gebedslewe, waar elke gebed ‘n opregte gebed met die Heilige Gees se hulp is, is in werklikheid my geloofbelydenis voor God.
Daniël het naby God geleef. Sy lewe tussen sy kollegas by sy werk het sy verhouding met God gewys. Hy het sy verhouding met God op nog ‘n manier gewys: Sy gebedslewe.
Om Daniël was daar ander amptenare in Babel. Hulle was heidene. Hulle was baie vyandig teenoor Daniël. Hulle was baie afgunstig op hom en wou hom uit die pad kry. Hulle het alles in hulle vermoë gedoen om iets teen Daniël te kry, sodat hy nie langer in die paleis kon werk nie. Hulle het niks gekry nie. Uiteindelik het hulle besef hulle sal iets teen sy geloof moet kry.
Hierdie was die rede vir hulle versoek aan koning Darius dat in ‘n tydperk van dertig dae niks en niemand anders behalwe hy aanbid kon word nie. Wie iets of iemand aanbid, moes die doodstraf kry en in die leeukuil gegooi word.
Darius het gevlei gevoel en die wet gemaak. Dit was die sondige plan van Daniël se kollegas by die werk wat in werklikheid sy teenstanders was wat hom leed wou aandoen.
Elkeen van ons moet weet ons leef in ’n vyandige wêreld wat Jesus Christus, ons enigste Verlosser nie aanvaar het en nie in Hom geglo het nie. Die wêreld het Christus gehaat en haat hom steeds.
Die wêreld is vyandig teenoor enigeen wat Jesus Christus wil dien en liefhê. Is ek so ‘n Christengelowige? Dan moet ek besef ek leef ook in ‘n vyandige wêreld. Die wêreld aanvaar steeds nie dat Jesus die enigste Verlosser is nie. Indien ek naby Jesus Christus en vir Hom wil leef, sal ek die teenkanting en haat van die wêreld beleef.
Die vraag is: Hoe wil God hê dat ek teenoor die wêreldse mens sal optree?
Die Here leer ons die antwoord op hierdie vraag in Daniël 6 –
Wanneer ek hierdie gebedslewe het, dan is my gebede ‘n geloofgetuienis voor die wêreld. Ek is deur die Heilige Gees besig om Jesus Christus se een groot opdrag te gehoorsaam en dit is om sy getuie in die wêreld te wees.
‘n Slotwoord: Die Here leer ons in Daniël 6 baie oor die verhouding tussen ons en Hom. My lewende verhouding met God wys veral in my gebedslewe. My gebedslewe uit ‘n gelowige hart is my geloofbelydenis voor God en my geloofgetuienis voor die wêreld.
Om te kan bid, is daarom ‘n groot genade, maar ook ‘n groot verantwoordelikheid.
Gebed