Home Preke 'n Heilige lewe voor die heilige God.

'n Heilige lewe voor die heilige God.

Datum: 2023-10-01
|
Kernverse: Num.20:12, Dt.3:23-26

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lof aan God: Ps.118:1,8

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.9:1,7,10

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34

Antwoord op die Wet: Ps.59:1,5,10

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.38:1,17

Lees: Numeri 20:1-13 en Deuteronomium 3:12-29

Kernverse: Num.20:12, Dt.3:23-26

Tema: ‘n Heilige lewe voor die heilige God

Sang: Ps.118:1,8; Ps.9:1,7,10; Ps.59:1,5,10; Ps.38:1,17; Ps.32:3; Ps.139:1,12

Inleiding:

Heilig is ‘n baie belangrike en kosbare woord in die Bybel. Heilig behoort vir elkeen van ons daarom ook baie belangrik en kosbaar te wees. God praat met ons daaroor dat Hy, die Heilige, ‘n heilige lewe verwag van elkeen wat aan Hom behoort.

Tema: ‘n Heilige lewe voor die heilige God

  1. Die heilige God verwag ‘n heilige lewe van ons

Die Here het vir Moses en Aäron by Meriba gesê: “Omdat julle My nie erken het, en My, die Heilige, nie voor die Israeliete gehoorsaam was nie, sal julle hierdie volk nie inlei in die land wat Ek aan hulle gee nie” (Num.20:12).

In die Nuwe Testament kry ons hierdie woorde wat Petrus deur die Heilige Gees geskryf het: “Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: ‘Wees heilig, want Ek is heilig’” (1 Pet.1:15,16).

Om heilig te wees voor die heilige God, is ‘n waarheid, ‘n opdrag wat ons in die Ou Testament en in die Nuwe Testament, dit is in die hele Bybel kry. Wanneer die heilige God van sy gelowiges ‘n heilige lewe verwag en ons hierdie waarheid, hierdie opdrag weer en weer in God se Woord kry, moet elkeen van ons besef dat die Here baie ernstig daaroor is dat sy gelowiges ‘n heilige lewe voor Hom sal leef. Wanneer God oor iets baie ernstig is, dan behoort elke gelowige ook baie ernstig daaroor te wees.

Hoe moet ons die woord heilig verstaan?

Die Hebreeuse woord “kadoosh “ en die Griekse woord “hagios” word in Afrikaans met “heilig” vertaal. Die woord het ‘n dubbele betekenis: Afgesonder om toegewys te wees. God is heilig. Dit beteken Hy sonder Homself af, Hy is heeltemal uniek, anders en hoog verhewe bo alles en almal om aan Homself en sy eer toegewy te wees.

Hy verwag van elke gelowige in die genadeverbond om vir Hom afgesonder en net aan Hom toegewy te leef, onder alle omstandighede ons hele lewe deur.

Hierdie baie belangrike waarheid bring elkeen van ons voor die vraag: Leef ek heilig voor die heilige God?

2. Ons sondig dikwels deur ons onheilige optrede

Israel het hulle hele lewe gesukkel met ‘n heilige lewe voor die heilige God. In die geskiedenis daar by Meriba in die Sinwoestyn kry ons een van die kere wat Israel met ‘n heilige lewe gesukkel het.

In die Sinwoestyn het hulle by Kades oorgebly. In ‘n woestyn is daar nie baie water nie en Israel se drinkwater het opgeraak. Soos Israel se gewoonte was, het hulle begin kla en vir Moses en Aäron kwaad geword en hulle begin verwyt.

Moses en Aäron het weggedraai van Israel af. Hulle het na die tabernakel, die tent van ontmoeting gegaan om hierdie ernstige probleem na die Here toe te bring en vir uitkoms te vra. Toe hulle by die ingang van die tent van ontmoeting kom, het hulle bewus geword van die heerlikheid van die Here, van sy almagtige teenwoordigheid. Ons weet nie hoe nie, maar die Here het vir Moses en Aäron gewys dat Hy daar teenwoordig was. Hulle het op hulle knieë geval voor die Here.

Die Here het vir hulle uitkoms gegee. Moses moes Aäron, die hoëpriester se kierie vat. Hulle moes die hele Israel bymekaar roep. Voor almal moes Moses met die rots wat daar was, praat. Op hierdie manier wat die Here vir hulle gesê het, sal die rots water gee.

Moses het na God geluister. Hy het Aäron se kierie in die tabernakel gevat. Hy en Aäron het die hele Israel by die rots wat daar was, bymekaar laat kom.

Daar voor Israel, het Moses opgehou om God te gehoorsaam. Hy was kwaad vir Israel en ontevrede met hulle. Hy wys sy ontevredenheid deur hulle skerp aan te spreek: “Luister julle wat julle teen die Here verset!” Moses het ontevrede verder gegaan en gesê:”Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?” Moses se ongehoorsaamheid aan God wat hy tot dusver net in sy woorde gewys het, het oorgegaan in ‘n daad van ongehoorsaamheid. Hy het die rots twee keer met Aäron se kierie geslaan.

Daar het baie water uit die rots gekom, nadat Moses die rots geslaan het.  Die hele Israel en al hulle vee het genoeg water gekry om te drink.

Wat het daar gebeur? Die Here het vir Moses gesê wat hy moes doen. Moses het in sy ontevredenheid met Israel drie dinge gedoen wat die Here nie gesê het nie –

  • Hy het hulle skerp aangspreek. Hy het hulle “opstandiges” genoem wat hulle teen die Here verset.
  • Hy het gevra of hy en Aäron vir hulle water uit die rots moet laat kom.
  • Hy het die rots twee keer met Aäron se kierie geslaan.

Nou mag iemand dink, maar wat Moses gedoen het, kon tog nie so verkeerd gewees het nie. Daar het steeds water uit die rots gekom. Hierdie manier van dink is tipies van die sondige mens wat dink, solank die Here voorspoed en seën en uitkoms gee, beteken dit ons as mense doen nie verkeerd voor Hom nie. Sodra, daar teëspoed kom, wonder ons en vra ons dikwels wat ons gesondig het.

Ons mag dink dat Moses nie regtig gesondig het nie. Hy het nou wel nie met die rots gepraat nie. Maar was dit nou so erg om die rots te slaan? Daar het dan steeds water uitgekom. Ons mag so dink, maar baie belangriker is wat die Here dink en sê. Luister saam: “Omdat julle My nie erken het en My, die heilige, nie voor die Israeliete gehoorsaam was nie, sal julle hierdie volk nie inlei in die land wat Ek aan hulle gee nie” (Num.20:12).

Moses het daardie dag nie afgesonder vir God aan Hom toegewy opgetree nie. Hy het nie heilig voor die heilige God geleef nie. Hy het uit sy eie opgetree. Moses het gesondig.

Moses is nie die uitsondering nie. Ons as gelowiges sondig ook dikwels deur ons onheilige optrede. Daar is soveel voorbeelde. In ’n preek kan mens net enkele voorbeelde noem:

  • Neem bekommernis. Jesus Christus, God se Seun, leer ons, eintlik beveel Hy ons in sy Bergrede meer as een keer om ons nie te bekommer nie. Die Heilige Gees het Petrus in sy eerste brief laat skryf dat ons al ons bekommernisse God moet werp. Paulus het deur die Heilige Gees in sy brief aan die Filippense geskryf dat ons oor niks bekommerd moet wees nie. Baie gelowiges leef met bekommernis heeltemal die teenoorgestelde van wat die Here keer op keer sê. Dit is nie heilig leef voor die heilige God nie.
  • Die tweede voorbeeld, bekering. Johannes die Doper het begin optree deur te preek: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom” (Mt.3:1). Jesus het sy openbare optrede ook begin met hierdie woorde: “Bekeer julle”. Bekeer beteken draai om, verander, kom terug na God toe, leef nader aan God. Hoeveel van my gedagtes en my woorde en my optrede het ek die afgelope jaar verander? Het ek teruggekom na God toe, sodat ek nou baie nader aan Hom leef, as verlede jaar hierdie tyd, of was my manier van lewe waaraan ek gewoond is, vir my goed genoeg? Om van bekering te weet en daaroor te praat, maar dit nie te doen nie, is nie ‘n helige lewe voor die heilige God nie, maar sondige optrede teen sy wil.

3. Die heilige God tree op teen sonde

So ernstig soos die heilige God is dat ons heilig voor Hom moet leef, so ernstig tree Hy op wanneer ons nie heilig leef nie. Luister weer na die Here: “Omdat julle My nie erken het en My, die Heilige, nie voor die Israeliete gehoorsaam was nie, sal julle hierdie volk nie inlei in die land wat Ek aan hulle gee nie” (Num.20:12).

In hierdie woorde van die Here sien en hoor ons duidelik dat Hy, die heilige God, teen sonde optree. Moses het vir israel hiervan vertel.

Op ‘n keer, steeds op pad na die beloofde land, het Moses met Israel gepraat en die Here se Wet aan hulle verduidelik (Dt.1:5). In hierdie verduideliking het Moses ook die geskiedenis van die trek uit Egipte na Kanaän en alles wat gebeur het vertel. Hy het ook vertel van wat tussen Hom en God gebeur het na sy onheilige optrede en sonde by Meriba.

Moses het gebid en die Here gesmeek: “Here, my God, U het begin om my u grootheid en u mag te laat ondervind. Watter god is daar, in die hemel of op die aarde, wat u magtige dade kan nadoen? Laat my tog nou deur die Jordaan gaan om hierdie mooi land te bekyk, die mooi Bergwêreld en die Libanon” (Dt.3:23-25).

Die Here het Moses se gebed geantwoord: “Jy het nou al genoeg daaroor gepraat. Moenie weer met My oor hierdie saak praat nie” (Dt.3:26). Die heilige God het vir Moses kwaad geword en gesê hy dat hy nie meer moet bid om in Kanaän te kan ingaan nie.

Moses se gebed kon nie sy onheilige en sondige optrede voor die Here weg neem nie. Hier is ‘n baie belangrike waarheid in die geskiedenis tusseen God en Moses. Dit is ‘n waarheid wat elkeen van ons raak.

Indien ek nie heilig voor die heilige Here leef nie, kan ek nie my sondige lewe agter my gebede wegsteek nie. Ander woorde wat dieselfde beteken, klink so: My gebede neem nie onheilige optrede, sonde voor die heilige God weg nie.

Moses het vertel dat hy God groot gemaak het in sy gebed en gesmeek het om in die beloofde land in te gaan. Van gebed wat onheilige optrede bely en smeek vir vergifnis het Moses nie vertel nie.

Gebed en erkenning van sonde en bekering gaan altyd saam. Daarom bely ons dat ‘n gbed wat deur God verhoor word, ‘n gebed is waar ons ons nood en ellende, dit is ons sonde voor God reg en grondig sal moet ken, sodat ons ons voor die heilige God kan verootmoedig (HK 45). 

Wie sonde nie voor die heilige God in gebed erken en met ‘n gelowige hart daarmee breek nie, staan steeds voor die heilige God wat teen sonde optree. Met die wederkoms van sy Seun, die Hemelregter sal God finaal teen ‘n onheilige lewe, teen sonde optree.

Een manier wat ons kan verander is ons verootmoediging en sondebelydenis in ons gebed. Elkeen van ons het nodig om ons sonde beter voor God te erken dieper voor Hom te bely as net in ‘n paar woorde aan die einde van ons gebed soos die meeste van ons dalk gewoond is.

4. Net by God is daar vir ons uitkoms

Uit hierdie geskiedenis leer die Here ons –

Hy, die heilige God verwag ‘n heilige lewe van elkeen wat aan Hom behoort.

Moses en saam met hom, almal wat aan God behoort, staan voor die heilige God met onheilige sondige optrede in gedagtes en woord en dade.

God tree op teen sonde.

Gebede, selfs nie smeekgebede neem sonde voor God weg nie.

God se heiligheid en ons onheilige optrede bring ons by net een uitweg: Net God kan ons red. Hy kan ons verander! Hy kan ons red!

Ons wat die Nuwe Testament het, weet dat God ons red deur sy Seun. Jesus Christus, die Seun van God en daarom self heilige God, het aarde toe gekom vir ons. In alles wat Hy gesê en gedoen het, was Hy heilig en het Hy heilig opgetree. Daarom kon Hy, wat sonder sonde was, al ons sonde op Hom neem en daarmee aan die kruis sterf. Omdat Hy God was, kon Hy uit die dood opstaan op die derde dag.

Deur sy dood aan die kruis en sy opstanding het Jesus Christus ons verloste nuwe mense gemaak. Hy en sy Vader het die Heilige Gees gestuur om ewig by ons te bly en in ons te wees.

Met die Heilige Gees in my werk God geestelike krag in my om  deur bekering te veg teen en te breek met onheilige sondige optrede voor hom.

 Met die Heilige Gees in my, gee ek alles om as verloste nuwe mens heilig te lewe.

 In die krag van die Gees leef ek ‘n heilige lewe en hou ek aan tot die dag dat ek saam met al die heilige gelowiges voor die troon van God sal staan.

ANTWOORD

Sang: Ps.32:3

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Ps.139:1,12

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.