Home Preke Jesus Christus, ons Verlosser Net Jesus is ons Verlosser…niks en niemand anders nie!

Net Jesus is ons Verlosser…niks en niemand anders nie!

Datum: 2024-03-17
|
Reeks: Jesus Christus, ons Verlosser
|
Kernverse: Ha.4:10-12

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Skb.1-2:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord  op die Wet: Ps.99:1,5
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Skb.12-2:1
Lees: Handelinge 4:1-22 en Sondag 11
Kernvers: Ha.4:10-12
Tema: Net Jesus is ons Verlosser…niks en niemand anders nie!
Sang: Skb.1-2:1,2,3; Skb.12-3:1,2; Ps.99:1,5; Skb.12-2:1; Ps.2:6; Skb.1-3:1,2,3

Inleiding:

Handelinge 4:13 en Sondag 11 van die Kategismus bring elkeen van ons voor hierdie belangrike vraag; Watter plek het Jesus wat gekruisig is en opgestaan het, in my lewe? Hierdie vraag gaan oor my lewe, my toekoms, die ewigheid.

Tema: Net Jesus is ons Verlosser…niks en niemand anders nie!

1. Waar pas Jesus in ons lewe in?

Nadat Petrus en Johannes ‘n verlamde man by die Mooipoort gesond gemaak het, het hulle in die tempel met die mense wat die wonder gesien het, oor Jesus Christus, die Verlosser wat God gestuur het, gepraat.

Daar het ‘n hele groep van die Jode se godsdienstig leiers op hulle afgestorm om hulle te verbied om in die tempel te praat. Daar was priesters, die bevelvoerder van die tempelwag en die Sadduseërs. Hulle het Petrus en Johannes daar en dan in die tronk gesit. Dit was al laat en ‘n verhoor nie moontlik was nie.

Die volgende môre het die raadslede, die familiehoofde en die skrifgeleerdes vergader. Almal van die hoëpriesterlike familie was teenwoordig. Lukas het die volgende name genoem: Anna, Kajafas, Johannes en Aleksander. Dit was ‘n groot groep van die Jode se godsdienstige leiers. Hulle het gehoor wat in die tempel gebeur het en wou die apostels tot verantwoording roep.

Nadat die raad met die apostels gepraat het, het hulle die apostels uit die raadsaal gestuur. Die Joodse Raad het die genesing van die verlamde man en die apostels wat die mense van Jesus vertel het, bespreek. Daarna het die Raad besluit om die apostels te verbied om weer oor Jesus te praat.

Hierdie raadslede, die godsdienstige leiers het die Ou Testament goed geken. Hulle het die Verlosser wat God beloof het verwag. Hulle het geweet die Verlosser sou ‘n buitengewone Seun wees. Hull het in Jes.9:5 gelees dat Hy Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors genoem sou word. Hulle het Jes.35:5,6 gelees en geken: “Blindes sal kan sien, dowes sal kan hoor, lammes sal kan rondspring soos takbokke, stommes sal kan praat.” Dit alles was die tekens wat sou gebeur wanneer God die Redder van Israel sou stuur. Hierdie man wat verlam was het juis geloop en gespring, nadat Petrus en Johannes hom gesond gemaak het.

Die Jode het die wonderteken gesien dat die Verlosser gekom het. Hulle het die apostels van Jesus Christus daardie dag gehoor praat. Maar…hulle kon nie vir Jesus Christus, die Verlosser, plek in hulle lewens  maak nie. Hulle was godsdienstig. Hulle het die Verlosser wat God beloof het, verwag. Hulle wou nie vir Hom plek maak in hulle lewe nie.

Ons is godsdienstig. Ons is Gereformeerde gelowiges. Ons het die Bybel, die Heilige Skrif waarin ons so baie oor Jesus Christus, ons Verlosser lees. Die vraag waarvoor elkeen van ons staan is: Watter plek het Jesus in ons lewe?

Ons het ‘n gemeenteprogram met baie aktiwiteite. Ons is baie besig met wat ons alles doen. Die belangrik vraag bly: Watter plek het Jesus, die Verlosser wat God gestuur het, in ons lewe?

2.  Almal van ons het verlossing nodig.

Die Joods godsdienstige leiers destyds, ons as gelowiges vandag, alle mense het verlossing nodig. Waarvoor het ons verlossing nodig? Ons het verlossing van sonde nodig.

Oor sonde moet ons duidelikheid en sekerheid hê, sodat daar nie enige misverstand is nie.

Almal van ons het erfsonde. Ons het sonde van ons eerste twee voorouers geërf. Erfsonde bestaan uit erfsmet en erfskuld.

Erfsmet beteken my hele menswees, na liggaam en siel is deurtrek van sonde. Uit my eie kan ek niks doen wat goed en reg en mooi is nie. Al my gedagtes en gevoelens en woorde en dade is deur en deur net vol vuil sonde.

Erfskuld is die woorde wat God vir Adam gesê het: “Die dag as jy daarvan eet, sterf jy” (Gen.2:17). God het van die ewige dood gepraat. Adam het gesondig. Hy moes die ewige dood sterf. Ons kan sê dat hy die ewige dood as straf op sy sonde geskuld het. Elkeen van ons het sonde. Die Allerhoogste en Allerheiligste God se straf op sonde bly die ewige dood. Dit verander nooit. Elkeen van ons skuld God die ewige dood as straf op ons sonde.

Sonde is nie klein voor God nie. Sonde is nie “nie so erg” voor Hom nie. God haat sonde. Hy straf enige sonde net op een manier: Die ewige dood.

Hierby kom nog die sonde wat ons elke dag doen in ons gedagtes, die woorde wat ons sê en in ons dade doen. Verder is daar nog ons sonde deur dit wat God van ons vra, nie te doen nie. Dan is daar die sonde waarvan ons nie eers weet nie, die sonde wat ons onwetend doen, waarvan Dawid in Ps.19:13 geskryf het. Dat ons nie weet van hierdie sonde nie, is nie versagtende omstandighede nie. Indien ons God beter geken het en sy Heilige Skrif beter geken het, sou ons hierdie sonde ook geken het.

Die slotsom van al hierdie is, twee dinge:

Die eerste – Ons almal het sonde. God se straf, op ons sonde is die ewige dood in die hel. Die ewige dood hang soos ‘n donker wolk dreigend oor elkeen van ons.

Die tweede – Ons almal het verlossing dringend nodig…elke dag…ons hele lewe deur.

3. Jesus is ons enigste Verlosser.

In Nasaret het Josef met die baie ernstige probleem dat sy verloofde Maria swanger was, gewroeg. Hy was ‘n gelowige wat God gedien het. Volgens die wette van die Ou Testament moes hy Maria na die godsdienstige leiers toe neem, sodat sy gestenig kon word.  Hy het besluit om eerder in die geheim van haar te skei, sodat hy haar nie na die Joodse leiers hoef te vat en sy in die openbaar aangekla en gestenig sou word nie.

Terwyl Josef met hierdie gedagtes gewroeg het, het ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn. Die engel het die wonderboodskap vir Josef gehad: Maria se swangerskap was van die Heilige Gees. Sy sou ‘n Seun in die wêreld bring. Josef moes die Seun Jesus noem. Die rede vir hierdie Naam was: “…want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Mt.1:21).

Die engel se boodskap was dat Maria, Josef se verloofde, aan die Verlosser wat God beloof het, geboorte sou gee.

Die dag na die genesing van die verlamde man by die Mooipoort, het Petrus en Johannes dieselfde boodskap vir die mense wat die wonder gesien het, gehad. Hulle het die volgende van Jesus gesê: “Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (Ha.4:12).

Altwee hierdie boodskappe, en daar is baie meer in die Bybel, gaan oor dieselfde waarheid: Net Jesus is ons Verlosser…niks en niemand anders nie!

Net Jesus is ons Verlosser, want net Hy het vir ons aan die kruis gesterf. Net Hy het vir ons uit die dood opgestaan. Net Hy het vir ons vergifnis en verlossing en vryspraak gekry. Net Jesus neem ons erfsonde, ons erfsmet en ons erfskuld weg. Net Jesus maak ons deur sy liggaam en bloed skoon van die vuil van ons opsetlike sondes, die vuilheid van sonde omdat ons nalaat wat God vra en die vuilheid van ons onwetende sonde.

Net Jesus…net Hy doen al hierdie dinge…niks en niemand anders nie!

4. Geloof of ongeloof van mense.

Daardie dag in Jerusalem was die mense in twee groepe verdeel oor Jesus as ons enigste Verlosser.

Daar was die Joodse kerkmense. Hulle het ‘n baie besige godsdienstige lewe gehad. Die wette in die Ou Testament was die basis van hulle godsdiens. Hulle het gereelde offers gebring, godsdienstige feesdae, weke, maande en jare onderhou. Hulle was gevestig in hulle godsdienstige lewe.

Maar…hulle het nie plek vir Jesus gehad nie. Hulle het die Verlosser wat God beloof het, verwag, maar toe Hy gekom het, het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. So het Johannes in sy evangelie geskryf (Joh.1:11). Jesus wat vir hulle gekruisig is en opgestaan het, het nie ‘n plek in hulle lewe gehad nie.

Waarom het die Joodse kerklidmate en ampsdraers Jesus nie aangeneem nie, nie vir Hom plek in hulle lewe gehad  nie? Vir vanggend kyk ons na twee redes, daar is baie meer:

Die eerste – Hulle het ‘n wet gesoek om hulle van hulle sonde te verlos en ‘n wet wat sou maak dat God hulle van sy oordeel oor sonde sou vryspreek. Daar is nie so ‘n wet nie (Rom.9:31). Baie godsdienstige aktiwiteite, ‘n besige kerkprogram bring nie verlossing van sonde of vryspraak van God se oordeel nie.

Die tweede – Baie in Israel het gedink omdat hulle deur geboorte die natuurlike nageslag van Abraham was, hulle in die gnadeveerbond was en van sonde verlos is en van oordeel vrygespreek is. Dit is so goed as om vandag te sê omdat ek ‘n lidmaat van ‘n kerk is en gedoop is en nagmaal gebruik, is ek verlos van sonde en vrygespreek van oordeel.

Hierdie manier van dink en doen, maak dat ‘n mens nie in Jesus as enigste Verlosser glo nie. So iemand glo in ‘n lewe deur die wet en ‘n lewe van godsdienstige aktiwiteite wat uiterlik goed lyk. Daar is nie geloof in Jesus as enigste Verlosser nie!

Dan was daar daardie dag in Jerusalem die tweede groep mense. Hulle was eenvoudige vissermanne, ‘n man van oor die veertig wat verlam was en gesond gemaak is en baie ander gewone mense. Hierdie mense het die wonder gesien van die verlamde man wat weer kon loop. Belangriker as die wonder: Hulle het die evangelie van Jesus wat gekruisig is en opgestaan het, gehoor en in Hom as enigste Verloser geglo.

Waarom het daardie gewone mense vir Jesus plek in hulle lewe gehad? Die Heilige Gees het in hulle harte gekom. Hulle het hulle deur die Heilige Gees en die Heilige Skrif laat lei en geglo. Wanneer ‘n mens met die Heilige Gees in jou, die evangelie van Jesus wat gekruisig is en opgestaan het gelowig aanneem, maak jy plek vir Jesus as jou enigste Verlosser.

Die mens wat opreg glo dat net Jesus ons Verlosser is…net Hy, niks en niemand anders nie, is die mens in wie se lewe Jesus ‘n plek het.

Wanneer Jesus, net Hy as my enigste Verlosser plek in my lewe het, dan is ek verlos van sonde en vrygespreek van God se ewige oordeel…vir altyd volmaak verlos…vir altyd volmaak vrygespreek!

ANTWOORD
Sing: Ps.2:6
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.1-3:1,2,3
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; Die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen

Klankbaan

Luister na die preek.