Om te kan sien is ‘n wonderlike genade. MAAR…wanneer jy in hierdie stukkende wêreld leef net volgens wat jy met jou oë sien, sal dit nie goed nie, maar baie sleg vir jou wees. Die Here leer ons daarom om op ‘n ander manier na die wêreld te kyk. Hy leer ons om deur geloof na alles te kyk en deur geloof te leef.
Tema: Nie my oë nie, MAAR…my hart vol geloof!
Kom ons begin by wat Paulus. Ons is vanoggend met een van sy briewe besig. Hy het die volgende gesien:
2 Kor. 4
Vs 7 – ons as mense is kleipotte wat maklik breek (Paulus gebruik ‘n beeld)
Vs 8 – verdrukking en oor raad verleë
Vs 9 – vervolg en op die grond neergegooi
Vs 10 – sterwe ter wille van Jesus Christus altyd naby
Vs 16 – uiterlik is elke mens besig om te vergaan
2 Kor 5
Vs 1 – aardse tentwoning wat afgebreek word (Paulus gebruik ‘n beeld)
Vs 2 – ons sug in die tentwoning
Vs 4 – Ons is sterflik
Wat sien ons?
Dis nie verkeerd om al hierdie dinge te sien nie. Om te kan sien, is een van die sintuie wat die Here gegee het. Oë werk op ‘n wonderlike manier werk, sodat ‘n mens kan sien.
Wat jy sien, neem jy in. Wat jy sien, kom in jou verstand en in jou hart in. Jy reageer op wat jy sien. Jy voel hoe wat gebeur jou raak, jy dink praat dikwels daaroor, dit word deel van jou lewe, deel van die manier waarop jy na jou lewe kyk en deel van jou toekomsverwagting.
Wanneer mens hoofsaaklik die slegte sien, kom hoofsaaklik die slegte in jou binneste. Jy gaan slaap saans, ‘n ongelukkige en bekommerde mens. Jy staan soggens met bekommernis en ongelukkigheid op. Jy word swaarmoedig. Swaarmoedigheid gaan oor in moedeloosheid en uitsigloosheid. Dit voel of ‘n donker wolk oor jou en oor hierdie land hang.
Wat mens met jou oë om jou sien, doen jou nie goed nie. As mens jou lewe daarvolgens inrig, laat jy jou lei deur dit wat nie goed is nie. Waarheen is mens dan met jou lewe oppad? So ‘n lewe sal mos nie ‘n goeie einde kan hê nie.
Die Here leer ons en Hy help ons en Hy lei ons deur sy woorde in 2 Kor.5:7 om juis nie te lewe volgens wat ons sien nie – “Ons leef nie deur sien nie.”
As mens dan nie leef volgens wat jy sien nie, hoe dan? Wat ‘n mens sien, is tog die werklikheid soos dit is. Ja, mens se oë wys vir jou die werklikheid, MAAR….wat jou oë sien, is nie die enigste werklikheid nie!
Hier kom ons by God se genade in hierdie stukkende wêreld. Die Heilige Gees het Paulus oor die ander werklikheid laat skryf…die groter werklikheid…wat mens nie sien nie. Hierdie werklikheid noem Paulus geloof.
By elke slegte en afbrekende ding wat Paulus gesien het, was daar ook dit wat hy nie gesien het nie, maar geglo het. Daarom is daar by elke slegte ding ook ‘n maar. Die maar wys na die ander werklikheid, die groter werklikheid in sy lewe:
Vs 8 – verdruk ja, MAAR….nie terneergedruk nie!
Vs 9 – vervolg ja, MAAR….nie deur God verlaat nie!
op die grond neergegooi, MAAR….nie vernietig nie!
Paulus en elkeen van ons is erdekruike wat maklik breek, MAAR….in ons is die krag wat alles oortref (2 Kor.4:7). Hierdie krag kom van God af. Hierdie krag is geloof in Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het! Die groter werklikheid in Paulus se lewe was Christus en sy geloofsband met Christus.
Ons lees in die Ou Testament lees van mense wat ook deur geloof geleef het. Daniël se drie vriende het nie voor die koning se beeld gebuig en dit aanbid nie, ten spyte van die vuurdood wat op gewag het. Hulle geloof het hulle dieper laat kyk. Abraham het God gehoorsaam en Isak geneem om hom te offer, want hy het geglo God sal Isak weer uit die dood opwek.
Die mense van wie ons in die Ou Testament lees, het deur geloof geleef. Hulle geloof was hulle band met God.
Kan ons vandag in 2019 ook nie leef deur wat ons sien nie, maar deur ‘n hart vol geloof?
Die Heilige Gees het na Christus se kerk, na ons toe gekom. Hy laat ons weergebore word. Hy plant geloof in Christus in ons. Deur die Gees kan ons glo Christus het sy lewe vir ons gegee aan die kruis op Golgota. Ons kan glo Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy kruisiging en opstanding het Christus ons van sonde en sondeskuld voor God verlos. Hy het die afstand en die vyandskap tussen God en ons weggeneem. Deur Hom is elkeen wat in Hom glo, ‘n nuwe mens in ‘n innige Vader-kindverhouding met God met niks en niemand wat ons uit ons Vader se hand sal kan ruk en ons sal kan skei van sy liefde vir ons nie (Rom.8:39).
Deur die Gees kan ons glo in God ons Vader. Ons kan glo Hy het alles geskep. Hy onderhou en regeer steeds alle dinge. Ons kan glo dat Hy deur Christus ons Vader is. Hy is ons almagtige Vader wat die ganse skepping en almal en alles onderhou en regeer. Alles wat gebeur, of dit seën en voorspoed is en of dit beproewing en hartseer is, alles kom uit sy Vaderhand. In alles bewaar Hy my, sodat sonder sy wil nie ‘n haar van my kop sal val nie. Hy bewaar my hemelse erfenis vir my en Hy bewaar my, sodat ek my erfdeel sal kry op die bestemde tyd. Omdat ek glo, kyk ek nie net met my oë na hierdie lewe nie. Ek kyk na alles met my hart vol geloof. Met my hart vol geloof sien ek elke keer eers die kruis op Golgota, die oop graf in die tuin van Josef van Arimatea en my Verlosser aan God se regterhand, voor ek enigiets anders sien.
Ons geloof wat ons by die Heilige Gees kry, is ware geloof in Jesus Christus. Ons geloof in Christus is ons ewige band met God ons Vader. Ek leef met ‘n hart vol geloof dat die almagtige God, my genadige en getroue hemelse Vader alles volmaak onder beheer het!
Leef hierdie wonderlike waarheid sterker in jou as die slegte wat jy elke dag om jou sien?
Of….is die sleg van die gebroke wêreld sterker as die geloof in jou hart?
Antwoord hierdie vrae vir jouself. Jou antwoord sal jou lewe bepaal!
Agt woorde in een kort sin, maar in hierdie paar woorde leer die Here ons alles oor ons lewe:
“Ons lewe deur geloof, nie deur sien nie” (2 Kor.5:7).
Maak hierdie woorde jou eie en elke dag deel van jou lewe.
Kyk na alles met ‘n hart vol geloof.
Dink oor alles met ‘n hart vol geloof.
Praat woorde van geloof wanneer jy gesels, sodat jy ander mense opbou en nie aftrek in die dieptes in nie.
Bid met ‘n hart vol geloof vir jouself dat die Heilige Gees jou sal help om deur geloof te leef en nie deur wat jy sien nie.
Bid ook vir ander en bid vir hierdie sondige land.
Leef dan deur geloof en wees ‘n voorbeeld vir baie wat moedeloos en onseker is.
So ‘n lewe deur geloof kom nie sommer spontaan nie. Jy het hulp nodig. Die Heilige Gees help jou. Hy gee vir jou geloof. Hy maak jou geloof sterker met nagmaal, as die Here wil, volgende Sondag.
Dink hierdie week diep na oor 2 Kor.5:7.
Berei jou goed voor om nagmaal toe te kom dat die Heilige Gees jou geloof sterker kan maak.
Staan Sondag van die nagmaaltafel op, versterk om deur geloof te kan leef en nie deur wat jy sien nie.