Home Preke Omdat alles vir God moontlik is, veg ek vir my geloof in Hom

Omdat alles vir God moontlik is, veg ek vir my geloof in Hom

Datum: 2023-09-10
|
Kernverse: Dan.6:6,11,23

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.

Lof aan God: Ps.48:1,4

Geloofsbelydenis: Nicea

Sang: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Deuteronomium 5

Antwoord op die Wet: Ps.130:1,2

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.130:3,4

Lees: Daniël 6

Kernverse: Dan.6:6,11,23

Tema: Omdat alles vir God moontlik is, veg ek vir my geloof in Hom

Sang: Ps.48:1.4; Ps.71:9; Ps.130:1,2; Ps.130:3,4; Ps.68:1,9; Ps.119:6,7

Inleiding:

Wanneer ek met die Bybel besig is, of ek self by die lees of in ‘n erediens na die Here se Woord en ‘n preek uit sy Woord luister, het ek geleentheid om God te leer ken. Hy maak Homself in sy Woord bekend – Wie Hy is, wat Hy doen en wat Hy wil hê.

Daarom: Wanneer ons Daniël 6 lees en die geskiedenis wat gebeur het, is dit tyd vir ons om God beter te leer ken en hoe wat ek van Hom leer my lewe raak.

Tema: Omdat alles vir God moontlik is, veg ek vir my geloof in Hom

  1. Die Here is die ewige en genadige Verbondsgod

Die eerste wat ons van God in die geskiedenis van Daniël 6 leer, is dat Hy die ewige en genadige Verbondsgod is.

Net nadat koning Darius in sy hoogmoedigheid die bevel skriftelik gegee het dat die hele land vir dertig dae lank net hom wat Darius is, mag aanbid, het Daniël na sy kamer gegaan met die venster wat oop was na Jerusalem se rigting. Daar het hy soos sy gewoonte was, voor God gekniel en Hom geprys, aanbid en gedank.

Daniël se kamervenster was oop na Jerusalem toe, na die land wat die Here reeds aan Abraham beloof het, dat die verbondsgeslag daar sal bly om God in sy verbond te dien. Jerusalem is die stad van Dawid genoem. Dawid, deur God gekies om Israel se koning te wees, het daar gebly en regeer. Dit was ook in Jerusalem dat die Here ‘n belofte aan Dawid gemaak het, dat daar altyd iemand uit sy nageslag op sy troon as koning sal sit. Hierdie belofte van die Here het oor die ewige Koning gegaan wat sou kom, om almal wat aan God behoort van sonde te verlos. Die Here het in werklikheid ‘n belofte van die ewige lewe aan Dawid en sy nageslag gemaak. Hierdie belofte van die ewige lewe aan sy verbondsvolk, is dieselfde as die belofte aan Abraham, die dag toe God met hom die genadeverbond gesluit het.

Wanneer ‘n mens so oor Jerusalem dink, waarvan ons in Dan.6:11 lees, besef jy dat dit in daardie vers oor baie meer as die oop venster gaan. Die Heilige Gees het daardie woorde laat neerskryf vir elkeen wat die vers lees, om aan die Here as die Verbondsgod te dink en  Hom as die ewige en genadige Verbondsgod beter en dieper te leer ken en in Hom te glo.

2. Hy is die Almagtige vir wie alles moontlik is

Ons leer God in hierdie geskiedenis ook ken as die Almagtige vir wie alles moontlik is. Ons kyk vanoggend na twee maniere hoe God Homself as die Almagtige bekend maak.

Die eerste – In Dan.2 lees ons van die droom wat koning Nebukadnesar gehad het. Die droom het oor ‘n beeld wat van verskillende metale gemaak is, gegaan. Daniël het die droom vir koning Nebukadnesar vertel en die betekenis van die droom vir die koning uitgelê. Met koning Darius wat regeer het, het God daardie droom waar gemaak. Die verskillende metale het verskillende wêreldregerings beteken. Darius was koning van die Perse en Mediërs wat as wêreldregering na Nebukadnesar gekom het.

God maak Homself in hierdie wêreldgeskiedenis bekend dat Hy in sy almag die wêreldregerings en die verloop van die wêreldgeskiedenis regeer.

Die tweede – Daniël het koning Darius se bevel nie gehoorsaam nie en soos sy gewoonte was, aangehou om drie keer op ‘n dag na sy kamer te gaan om te bid. Daarvoor is hy in ‘n kuil vol honger mensvreterleeus gegooi. Niks het met Daniël gebeur nie. Die almagtige God vir wie alles moontlik is, het gesorg dat die honger roofdiere Daniël nie verskeur nie.

In werklikheid het God vir Daniël uit die dood gered. Hierdie redding uit die dood, is soos al die ander kere wat God mense uit die dood gered het, soos Isak (Gen.22) en Israel die laaste nag in Egipte (Eks.12) en voor die Rooisee (Eks.14) in werklikheid ‘n teken dat God almal wat aan Hom behoort, volmaak uit die ewige dood sal red.

Ons wat die Nuwe Testament het, weet dat God ons uit die dood gered het deur sy Seun vir ons te gee. Jesus het op ‘n almagtige manier mens geword. Hy het op ‘n almagtige manier sy Vader se verskriklike straf op al ons sonde enduit gedra en daarvoor gesterf. Hy het op ‘n almagtige manier uit die dood opgestaan en aan ons die nuwe lewe, die ewige lewe gegee.

God maak Homself in die geskiedenis van Dan.6 bekend as die Almagtige vir wie alles moontlik is.

3. Elke gelowige leef in ‘n vyandige wêreld

Van die eerste hoofstuk van hierdie boek is dit duidelik dat Daniël as gelowige in die genadeverbond in ‘n baie vyandige wêreld geleef het. In hfst.6 sien ons die vyandigheid van die wêreld waarin Daniël geleef het, weer.

Die mense wat saam met Daniël gewerk het om die land vir koning Darius te bestuur het sondige harte vol haat en jaloesie gehad. Hulle het iets gesoek om ‘n klag teen Daniël te kan lê, sodat hy uit sy werk ontslaan kon word. Hulle het die een plan na die ander gemaak. Niks het geslaag nie. Uiteindelik het hulle besluit om ‘n plan teen Daniël se geloof te maak. Hulle het koning Darius heuning om die mond gesmeer dat hy ‘n wet moet uitgee dat net hy as koning vir ‘n tyd van dertig dae aanbid moet word. Enigiemand wat gedurende die dertig dae ‘n ander god of mens aanbid, moet in die leeukuil gegooi word om te sterf. Dit was duidelik dat Daniël se kollegas hom in werklikheid dood wou hê.

Elkeen wat lees en luister het nodig om raak te sien met hoeveel listigheid Daniël se mederwerkers omgegaan het. Die duiwel het in die paradys so gemaak en die vyandige sondige wêreld wat saam met die duiwel gelowiges kwaad wil aandoen, gaan op dieselfde listige manier te werk. Agter die duiwel se listige woorde in die tuin van Eden het die dood gewag. Agter Daniël se kollegas se woorde het die dood ook gewag.

Die wêreld se gesindheid teenoor gelowiges in die genadeverbond het nie verander nie. Ons, Christengelowiges wat deur Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het, in die genadeverbond leef, leef eweneens in ‘n vyandige wêreld.

Die wêreld kom steeds met listigheid –

  • Dit is nie nodig om gereeld Bybel te lees of te bid terwyl die lewe so besig is nie.
  • Dit is onnodig om na ‘n moeilike week, nog Sondag in die erediens te wees.
  • Dis nie nodig om in alles te vra wat God wil nie.
  • Die kerk waar Jesus as Verlosser van sonde gepreek word, se tyd is uitgedien. Kyk maar hoe gaan dit met soveel kerke in ons land.

Elkeen van ons moet oppas vir die listigheid van die wêreld wat onskuldig lyk. Agter die listigheid van die wêreld wag die dood.

4. Ek deins nie terug nie, maar veg vir my geloof

Daniël het as gelowige onder baie moeilike omstandighede geleef. Hy het baie verantwoordelikhede gehad. Hy het in ‘n heidense land onder ‘n heidense koning gewerk. Die mense wat saam met Daniël gewerk het, was heidene met jaloesie en haat in hulle harte teenoor Daniël. Hulle sondige en slegte gesindheid teenoor Daniël het hulle allerhande bose planne laat maak om Daniël uit hulle lewe te kry. Om dit reg te kry het hulle koning Darius verlei om ‘n wet te maak wat hulle geweet het Daniël nie sou kon hou nie en sy dood sou beteken.

Toe Daniël die bevel oor die dertig dae se gebede gehoor het, het hy na sy huis toe gegaan. Daar in sy dakkamer met die venster oop na Jerusalem toe, het hy voor God gekniel en gebid. Dit was sy gewoonte om te bid, want Daniël het ‘n geloofsverhouding met God gehad. In sy gebed het Daiël God geprys, Hom aanbid en gedank.

Ons kan sê dat Daniël nie vir die wet van die koning teruggedeins het nie. Daniël het vir sy geloof geveg deur gebed. Ons weet uit die Nuwe Testament dat die gebed van ‘n gelowige groot krag het (Jak.5:16).

Elke Christengelowige het in hierdie lewe in hierdie land nodig om vir ons geloof te veg. Die duiwel en die wêreld en ons eie sondigheid wil ons weg van God aftrek. Ek moet veg in my eie lewe teen my eie sondigheid in die eerste plek. Ek het nodig om vir my geloof te veg in ons gemeente, in ons omgewing, in ons land.

Die belangrikste manier om vir my geloof te veg, is gebed.

Wanneer ek bid het ek nodig om my sonde met ‘n hart vol berou voor God te bely. Vir elkeen van ons se sonde sal ons baie tyd in ons gebede moet afstaan.

Ek sal ook vir my gesin, gemeente, volk en land se sonde moet bid.

‘n Gebed wat in hierdie dae gedurig nodig is, is gebed vir ons gemeente en die toekoms van ons gemeente.

My gebede behoort verder dankgebede te wees. Ten spyte van moeilike omstandighede en ‘n vyandige wêreld, het elkeen van ons soveel om God voor te dank.

In plaas daarvan dat ons met bekommernis oor soveel dinge leef, moet ons eerder bid en al ons bekommernis op die Here werp (1 Pet.5:7).

‘n Laaste baie belangrike waarheid by gebed: Wanneer ek bid, moet ek gelowig bid en nie twyfel nie (Jak.1:6).

Ons almal leef in ‘n gebroke lewe in ‘n sondige land en wêreld wat ons baie vyandiggesind is. Die God wat elkeen van ons aanbid en dien en in glo, is die Almagtige vir wie alles moontlik is. Om hierdie rede veg ek in die krag van die Heilige Gees vir my geloof in Hom. Die manier waarop ek veg, is gebed, gelowige gebed.

ANTWOORD

Sang: Ps.68:1,9

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Ps.119:6,7

Seën: God wat alle genade gee, en wat julle geroep het om deur Jesus Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.