Home Preke Ons dankdiens is vir die almagtige Skepper en die getroue Verbondsgod wat vir alles sorg

Ons dankdiens is vir die almagtige Skepper en die getroue Verbondsgod wat vir alles sorg

Datum: 2021-03-28
|
Kernverse: Psalm 146

Lees: Psalm 146

Inleiding:

Ons is vanoggend hier om in ‘n spesiale erediens vir God dankie te sê vir die wonderlike reën wat Hy vir ons hierdie jaar gegee het. Ons wil ook dankie sê vir al sy genade. Ons Here leer ons en help ons deur sy Woord, Psalm 146, hoe om opreg dankbaar te kan leef.

Tema: Ons dankdiens is vir die almagtige Skepper en die getroue Verbondsgod wat vir alles sorg

  1. Die Here is die almagtige Skepper

 Die heel eerste wat ons in die Bybel van God leer is dat Hy die almagtige Skepper is. “In die begin het God die hemel en die aarde geskep”. So staan dit geskryf in die heel eerste vers van die Bybel (Gen.1:1).

Die Heilige Gees het Moses juis die woord “skep” laat skryf, wat beteken om iets uit niks te maak. Daar was niks. God het uit niks die hemel en die aarde geskep.

Vir ‘n gelowige lidmaat in ‘n Gereformeerde kerk is hierdie woorde nie vreemd nie. Elkeen ken dit. Die kinders leer in die katkisasie dat God die hemel en aarde geskep het. Kinders en volwassenes hoor hierdie waarheid gereeld in preke. Ons bely ook elke Sondag dat God die almagtige Skepper is.

Dit is genade om God as almagtige Skepper te ken. Ons ken Hom as Skepper. Dit beteken ons weet, ons aanvaar, ons is oortuig en ons glo vas dat Hy die Skepper is. Daar is net een rede waarom ons Hom as Skepper ken en dit is Hy vertel en leer ons in sy Woord, die Bybel. Sonder die Bybel is dit onmoontlik om God as Skepper te ken.

Hier is die eerste rede om God vanoggend te dank: Ons kan Hom as almagtige Skepper ken.

Verder is Hy die volmaakte Skepper. Ons lees in Gen.1:31Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed”.

Ten spyte van Adam en Eva se sondeval wat veroorsaak het dat die aarde onbeskryflike skade aangedoen word, is daar nog soveel goed oor om te gebruik en te geniet. Grond en water gee kos vir mens en dier. Water is noodsaaklik om te kan lewe en ons het water. Daar is boumateriaal om huise en kerke te bou om ons te beskerm teen wind en weer. Ons kan die skepping geniet of dit nou by die see of in die bosveld of in die berge is.

Die goed en mooi wat God geskep het en wat Hy steeds onderhou, is nog ‘n rede om God vanoggend te dank.

God is ook die almagtige Skepper wat nuwe lewe deur sy Seun, Jesus Christus skep. Ons kan sê Hy is die Skepper van nuwe mense. Ook in hierdie skeppingswerk, skep Hy lewe uit niks. Kyk saam met my hierna –

  • Maria het nog nie ‘n man gehad nie. Sy kon nie swanger geword het nie. Die Heilige Gees kom oor haar en sy gee geboorte aan God se Seun.
  • Jesus sterf aan die kruis. Daar is by Hom geen teken van lewe nie. Die Romeinse soldaat steek sy spies in Jesus se sy om seker te maak Hy is regtig dood. Juis deur aan die kruis te sterf, verlos God ons van sonde en die ewige dood.
  • Daardie Sondag staan Jesus uit die dood op. Sy graf is leeg. Deur sy opstanding uit die dood gee Hy aan ons nuwe lewe.
  • Uit myself is daar geen geloof in my hart nie. My hart klop ja, maar vanself is my hart geestelik dood. Die Heilige Gees kom in my hart. Hy begin nuwe lewe op sy manier en sy tyd. Ek word wedergebore. In my wedergebore hart begin die Heilige Gees geloof in Christus, sodat ek kan lewe.

So wonderlik soos God se skepping is, so wonderlik en baie baie meer, is sy geestelike skepping van ‘n nuwe mens. Hy skep ‘n nuwe mens ook uit niks.

Hiervoor het ons as Christengelowiges alle rede om God vanoggend in die erediens en met ons lewe te dank.

Ons is verlos van die mag en die skuld van sonde. Jesus Christus het daarvoor gesterf en opgestaan. Maar sonde is nog nie heeltemal weg uit ons lewe nie. God het besluit dat dit eers sal gebeur wanneer sy Seun weer kom.

In hierdie stukkende en sondige wêreld beleef ons voorspoed en teëspoed. Nie voorspoed of teëspoed gebeur sommer net nie. Die almagtige Skepper gee voor- en teëspoed. Kom ons praat van die droogte wat in sommige dele van ons land al vir ‘n dekade lank duur. Dink maar aan die tyd toe Elia gebid het en dit vir drie jaar en ses maande nie ‘n druppel in Kanaän gereën het nie (Jak.5:17). Die almagtige en alwetende Skepper het sy rede waarom Hy ‘n ernstige droogte oor ‘n land of gebied laat kom.

Mens dink dalk nie altyd so daaroor nie. Maar ook hier het ons rede om God te dank. Droogte gebeur nie deur toeval of noodlot nie. Daar bestaan nie so iets nie. Ook swaarkry kom van God af.

  1. Die Here is die getroue Verbondsgod

Die Here is die ewige, almagtige, alwetende, genadige en getroue Verbondsgod. Hy maak Homself ook so in Ps.146 bekend. Sy genadeverbond beteken Hy het ‘n ooreenkoms met ons. Die genadeverbond is meer as ‘n ooreenkoms. Die verbond is God se ewige testament van die lewe. Uit genade neem Hy Abraham en sy nageslag in sy testament op as kinders en erfgename.

Elke sondaarmens wat aan Jesus Christus behoort, is die nageslag van Abraham (Gal.3:29) en ook in die genadeverbond. Ek wat in Jesus Christus glo, behoort aan Hom. Ek is ook die nageslag van Abraham. Ek is ook ‘n kind en erfgenaam in die genadeverbond.

Ons Verbondsgod is ewig getrou. Wanneer ek in sy kind en erfgenaam in die genadeverbond is, is ek ewig in die verbond om nooit daaruit gehaal te word nie. My naam is vir ewig in God se testament van die lewe geskryf.

Hier is ons by ‘n baie belangrike rede om God te dank.

Die Here is verder ook ewig getrou wanneer dit by sy skepping kom. Daar kom droogte. Daar kom selfs verskriklike droogte. God laat vaar nooit die werk van sy hande nie. Op sy tyd en op sy manier gee Hy uitkoms.

Hoe het ons juis hierdie uitkoms nie die afgelope reënseisoen beleef nie! In een seisoen het groot damme wat omtrent leeg was, vol geword.

Hoe kan dit anders as dat ons harte vol dankbaarheid is vir hierdie uitkoms wat ons Verbondsgod gegee het?

  1. Aan Hom al die dank uit ons harte

 In onsself is ons nie dankbare mense nie. Dankbaarheid is nie aangebore nie. Ons het die Heilige Gees nodig.

Die Heilige Gees maak ons oë oop dat ons kan sien dat God soveel gee en alles net uit genade.

Die Heilige Gees maak ons ore oop dat ons kan hoor alles kom van God af.

Die Gees maak ons harte oop dat ons kan glo en met harte vol geloof God vir sy genade wil dank.

Die Heilige Gees maak ons monde oop dat ons dankliedere wil sing en dankgebede wil bid.

Dit is deur die Heilige Gees dat ons vanoggend hier is om God te dank.

Ons dank Hom deur –

  • ‘n Dankdiens – is is vanoggend hier om met harte wat oorloop van dankbaarheid ons Verbondsgod te dank vir sy genade en liefde in ons lewe. Elke lied en elke gebed behoort met dankbare gelowige harte te gebeur. Om ‘n erediens spesiaal af te sonder is reg. Ons mag nie net vra vir reën en wanneer ons gekry het, vergeet om dankie te sê nie. Hierdie erediens kan gerus maar meer gereeld in ons gemeente plaasvind.
  • ‘n Erediens alleen is nie genoeg dankbaarheid nie. Elkeen van ons se hele lewe behoort van dankbaarheid te getuig. Dankbaarheid is nie net woorde nie. Gevoelens, gedagtes en veral wat ek doen behoort my dankbaarheid aan God te wys.
  • Leef dan deur die Heilige Gees so, dat jou lewe vir God, vir medegelowiges in die gemeente en vir ander wat nie aan ons gemeente behoort nie, wys dat jy ‘n hart het wat van dankbaarheid teenoor die Here oorloop!