ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Ps.48:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Sb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34 en Sondag 41
Antwoord op die Wet: Ps.38:1,8,17
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.14:2,3,4,5
Lees: Openbaring 14:6-20 en Sondag 19 (vr en antw 52)
Kernverse: Op.14:12,13
Tema: Ons het volharding, gehoorsaamheid en geloof nodig, want God se oordeel kom
Sang: Ps. 48:1,2; Sb.12-3:1,2; Ps.38:1,8,17; Ps.14:2,3,4,5; Ps.99:1,3; Ps.2:1,2,6
Inleiding:
Wanneer ‘n mens met Openbaring besig is, het ek gedurig nodig om seker te maak waar ek in die boek is.
Dan het ek ook nodig om die begin van die boek te onthou, en veral hierdie woorde: “Salig is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en watter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby” (Op.1:3).
Hierdie woorde in die begin van Openbaring is baie belangrik. Ons het die laaste boek van die Bybel, sodat ons kan lees en hoor en glo. Elkeen wat glo, is salig. Daar is ook die anderkant waarvan ons moet weet. Wie lees en hoor en nie glo nie, is verlore met God se eindoordeel wat wag.
Tema: Ons het volharding, gehoorsaamheid en geloof nodig, want God se oordeel kom
Die ewige evangelie van genade vir elkeen wat glo
Johannes het na die wonderlike gesig van die honderd vier en veertig duisend by die gekruisigde Jesus weer ‘n gesig gesien.
Hy het ‘n engel hoog in die lug sien vlieg. Hierdie engel het ‘n boodskap gehad. Van die boodskap het Johannes die volgende geskryf:
Die boodskap was die ewige evangelie. Daar is net een ewige evangelie. Jesus Christus het vir ons sonde aan die kruis gesterf. Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan. Wie in Hom glo, het die ewige lewe. Wie nie glo nie, gaan ewig verlore onder God se oordeel.
Die engel moes die boodskap aan die bewoners van die aarde verkondig. Die evangelie van Jesus wat vir ons gesterf en opgestaan het, was van die begin af bedoel vir almal tot aan die uithoeke van die aarde om te hoor.
Die harde stem van die engel beteken dat die Here wil dat almal sal hoor.
Wanneer die tyd vir God se oordeel aanbreek, gaan die evangelie dieper as die eerste tree om te glo. Dan klink die evangelie so:
Vrees God. Die Griekse woord vir vrees is die Afrikaanse fobie. Hy is die Allerhoogste. Hy is die Heilige. Verlossing kom net deur sy Seun. Hy is op die punt om sy eindoordeel te voltrek. Die manier waarop die woord geskryf is, beteken dat elkeen God regtig moet vrees. Op aarde dink mense ons hoef nie vir God bang te wees nie. Vanuit die hemel wys Jesus Christus vir Johannes die mense op aarde is verkeerd.
Gee aan Hom die eer. Hy is die Heilige en ek is die sondige en tog het Hy sy Seun vir my gegee. Verhoog Hom. Dink aan Hom en praat van Hom met die hoogste ontsag en bewondering.
Aanbid die Skepper. Die woord vir aanbid, is kniel neer. Ons ken dit nie, maar in die vroegste tyd het jy neergekniel uit respek vir iemand wat baie hoër as jy is. Aanbid beteken dat ek besef ek is baie klein en onbelangrik en God is baie groot en baie belangrik.
Vir die Christengelowige wat in Jesus Christus glo, sal hierdie dieper en ryker evangelie nie vreemd wees nie. Ek sal weet dat Jesus reeds voor sy kruisiging geleer het dat ons God moet vrees (Lk.12:5), dat die engele die nag met Jesus se geboorte ons met hulle lied geleer het om aan God die eer te gee (Lk.2:14) en ons geleer het dat ons God deur die Gees en in waarheid moet aanbid (Joh.4:24).
Hierdie evangelie wat die engel met ‘n harde stem uitgeroep het, sal aan die einde met Jesus se koms om te oordeel, steeds die evangelie van genade wees vir elkeen wat glo.
Die ewige evangelie van oordeel vir elkeen wat ontrou was
Na die eerste engel het Johannes nog twee engele gesien. Hierdie engele se woorde het heeltemal anders geklink.
Die eerste engel het uitgeroep: “Geval, geval het die grote Babilon wat al die nasies aan die dwelmdrank van haar onsedelikheid laat drink het” (vs.8).
Babilon of Babel is die beeld van ontrou aan God en ‘n onrein of dan vuil lewe vol sonde. Die wêreldmens wat nooit in Jesus Christus geglo het nie, is deel van Babilon. Die mens wat net in naam ‘n gelowige was, maar nie met sy of haar hele hart geglo het nie, is ook deel van Babilon.
Vir baie eeue het God in die Ou Testament die genade van verlossing belowe. Die skrywers van die openbaringsgeskiedenis en die wysheidsboeke en die profete het almal keer op keer vertel en geleer dat God se belofte op sy tyd waar sal word. In die Nuwe Testament het daardie belofte waar geword. Jesus Christus is deur ‘n almagtige wonder gebore. Hy het ons sonde op Hom geneem en vir ons aan die kruis gesterf. Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy kruisiging en opstanding het Hy ons van al ons sonde verlos.
Vir eeue het die kerk van Christus hierdie evangelie verkondig.
Baie, baie miljoene der miljoene het nie geglo nie. Die evangelie, die kerk van Jesus Christus en die wat sy getuies was en sy evangelie gepreek het, is afgekraak, mishandel en selfs doodgemaak. Die wêreld met sy sonde was aanlokliker. Die hier en die nou op aarde was baie belangriker as die ewige lewe wat Christus gee. Getrouheid aan geld en besittings en status het baie meer beteken as om in God te glo. Hierdie manier van dink en glo en doen het baie aan God ontrou gemaak. Onder hierdie ontroues was baie wêreldmense en baie wat net gelyk het soos lidmate van ‘n gemeente, maar nie regtig was nie.
Vir hierdie ontroues was die evangelie die evangelie van oordeel, die sleutel wat die hemel toegesluit het. Aan die einde is dit hierdie wêreldmense wat sal moet hoor: “Geval, geval, het Babilon” (vs 8). Al die glans van die wêreld wat so goed gelyk het, sal verdwyn. Net die vuil van sonde en die verskriklike oordeel wat wag, sal oorbly.
Johannes het ‘n derde engel gesien. Die engel het ook hard uitgeroep. Elke woord wat hy geroep het, was ‘n woord van oordeel:
Wie die dier aanbid het of sy merk aanvaar het, sal die wyn van God se toorn moet drink.
So ‘n veroordeelde sal met vuur en swael gepynig word.
Die oordeel sal ewig wees, met dag of nag geen rus nie.
Al hierdie beelde vertel van die verskriklike ewige oordeel van God vir elkeen wat nie opreg geglo het nie. Hierdie oordeel sal nie gekeer kan word nie. Hierdie oordeel kom.
Die gekruisigde Jesus voltrek die eindoordeel
Na hierdie drie engele het Johannes nog ‘n gesig gesien.
Hy het ‘n wit wolk gesien. Op die wolk het Iemand soos die Seun van die mens gesit. Hy het ‘n goue kroon op sy kop gehad en ‘n skerp sekel in sy hand (vs 14).
Hierdie is ‘n geweldige gesig. Johannes het Jesus Christus gesien wat as Regter weer kom om te oordeel. Ons het die genade om te kan lees wat Johannes gesien het. Die goue kroon wys dat Jesus Christus volmaak beheer oor alles en almal het. Hy regeer. Wat Hy sê en doen, gebeur.
Die sekel was destyds die manier om die oes in te samel. Die Seun van die mens met die sekel in die hand beteken: Wanneer Jesus weer kom, kom Hy om almal wat aan Hom behoort by Hom te neem. Elkeen van ons het nodig om gereed te maak vir wanneer die Seun van die mens kom met die skerp sekel in sy hand.
Johannes het ‘n ander engel uit die tempel in die hemel gesien kom. Hierdie engel het ook ‘n skerp sekel gehad. In Op.6:9-11 het ons gehoor van die gelowiges by die altaar in die hemeltempel wat met hulle gebede wou weet wanneer die Hemelregter weer sal kom om te oordeel.
In hierdie gesig van die engel met die sekel het Johannes die antwoord op daardie gebede gesien. Nog ‘n engel het gekom. Hy het mag oor die vuur gehad. Dit is die vuur van God se oordeel. Dat die engele uit die tempel gekom het, wys dat God hulle gestuur het, want dit is sy tempel en die tyd deur Hom bepaall was reg.
Die druiwetrosse wat ryp geword het, wys op die oes wat reg is om afgehaal te word. Hierdie oes is die wêreldmens wat nie in Jesus Christus geglo het nie, Hom nie geken het nie en nie by Hom en vir Hom geleef het nie. Weg van Jesus Christus bly net ‘n lewe van sonde oor. Mense groei ook in sonde, sodat die sonde ook ryp word.
Leef ons nie in ‘n wêreld en ‘n tyd waar sonde besig is om ryper en ryper te word nie?
Wanneer die sonde in mense se lewens ryp is om geoes te word, sal die engel sy sekel oor die aarde laat gaan. Die druiwe afsny en in die parskuip van God se toorn gooi. Die parskuip is buite die stad. Dit beteken weg van die nuwe Jerusalem af, weg van God af, vir ewig weg van Hom af.
Die parskuip is getrap en bloed het daaruit gekom tot aan die tooms van die perde, met die bloed wat sestien honderd kilometer vloei. Sestien honderd is ‘n volheidsgetal van die sondige mensdom op aarde wat sonder Christus geleef het. Elke enkele een wat nie met ‘n opregte hart in die Here Jesus geglo het nie en nie vir Hom geleef het nie, sal ewig geoordeel word. Die perde en bloed beteken God se oordeel is nie ‘n ligte oordeel nie, maar soos ‘n geweldige oorlog waarin baie mense doodgemaak word.
Wat maak ek, Christengelowige met Op.14:6-20?
Ek het nodig om met volharding te leef. Volharding beteken aanhou en verdra. Ek het nodig om aan te hou om as Christengelowige te leef. Jesus Christus het vir my gesterf en opgestaan. Deur die Heilige Gees glo ek in Hom met my hele hart. My geloof in Jesus maak die duiwel woedend vir my. Hy gebruik alles teen my, sodat ek baie sal moet verdra in hierdie sondige land en wêreld. Sy doel met my is dat ek weg van my Verlosser moet begin leef en al verder weg. In die krag van die Heilige Gees in my, het ek nodig om te volhard om by my Verlosser en vir Hom te leef.
Ek het nodig om die gebooie van God na te kom. Gehoorsaamheid is nodig. Maar dan werklike gehoorsaamheid aan die diepste betekenis van elke gebod. Die diepste betekenis van God se gebooie is liefde. My gehoorsaamheid aan God sal uit liefde vir Hom moet wees. Die grootste gebod is liefde vir Hom met my hele lewe en liefde vir my naaste. My lewe sal openlik moet getuig van liefde wat omgee en doen vir God en my naaste. Jesus Christus het my met sy kruisiging en opstanding van al my sonde verlos en my nuut gemaak. Die wêreldmens wat sonde liefhet wil van God se gebooie niks weet nie en leef ongehoorsaam op elke terrein van die lewe. Ek is ‘n nuwe mens deur Christus. Ek het nodig om heeltemal anders te leef, gehoorsaam aan God, omdat ek Hom liefhet.
Ek het nodig om opreg in Jesus te glo en te bly glo. Om in Jesus te glo, is nie net hier en daar nie, soos wanneer ek in ‘n erediens is of wanneer ek by die huis die Bybel lees nie. Opregte geloof in Jesus moet wys 24 uur van elke dag, sewe dae van elke week in wat ek sê en wat ek doen. Daar is nie ‘n ander manier van lewe as met opregte geloof in Jesus Christus oral en altyd nie.
Ek het die wondergenade van die Heilige Gees wat gekom het om ewig by my te wees en in my te bly. Die Heilige Gees lei my in ‘n lewe van opregte geloof in Jesus Christus, ons Verlosser. Ek lewe deur die Gees, daarom het ek nodig dat die Heilige Gees my lewe, wat ek dink en wat ek sê en wat ek doen, bepaal.
Die Seun van die mens kom. Hy is die Hemelregter wat kom om te oordeel. Volharding, gehoorsaamheid, geloof is hoe my lewe deur die Gees moet lyk, terwyl ek met ‘n gebed in my hart vir Jesus Christus wag.
ANTWOORD
Sang: Ps.99:1,3
Gebed
Sang: Ps.2:1,2,6
Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak
Amen