Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lees: 1 Johannes 4:7- 5:5
Inleiding:
Johannes staan bekend as die dissipel vir wie Jesus lief gehad het. Hy het in sy Evangelie oor Jesus Christus oor liefde geskryf. Hy het ook in sy brief oor liefde geskryf. Vanoggend is ons by ‘n deel oor liefde. Johannes vertel en leer ons. In werklikheid is dit die Heilige Gees wat ons vertel en leer van God se liefde vir ons en die liefde wat ons vir mekaar behoort te hê.
Tema: Ons sekerheid van God se liefde vir ons laat ons met liefde leef
God is liefde
Johannes het in sy brief baie belangrike waarhede oor God geskryf. Van die belangrike waarhede is:
Jesus is die Woord, die Lewe (1 Joh.1:1).
God is lig (1 Joh.1:5).
Ons is kinders van God (1 Joh.3:1).
God is liefde (1 Joh.4:8).
Die Gees is die getuie (1 Joh.5:6).
Die Gees is die waarheid (1 Joh.5:6).
Elkeen van hierdie baie belangrike waarhede het ‘n spesiale betekenis. Die Heilige Gees het Johannes gelei het om hierdie brief en hierdie waarhede met ‘n baie bepaalde doel te skryf. As die Here wil, sal ons later in die reeks by die doel van hierdie brief kom. Vir vanoggend se preek kan ons sê: Johannes het hierdie brief met sy baie belangrike waarhede oor God geskryf, sodat elkeen wat aan God behoort, geloofsekerheid kan hê. Ek het geloofsekerheid wanneer ek God regtig ken en ‘n geloofsverhouding met Hom het.
Die belangrike waarheid oor God waarna ons vanoggend dieper kyk, is: God is liefde. Omdat hierdie woorde ons vertel en leer hoe God is, is dit regtig nodig dat ons sal verstaan wat die woorde beteken.
Die vraag vir elkeen van ons is: Hoe moet ek die woorde “God is liefde” verstaan?
Ons maak eers seker ons verstaan die woord “liefde” reg.
Liefde is in die Bybel ‘n spesiale woord met ‘n spesiale betekenis. Liefde is om soveel vir ‘n ander om te gee dat jy bereid is om op te offer. Twee woorde is belangrik: Omgee en opoffer. “God is liefde” beteken: By God begin alle omgee en alle opoffering. Ons kan sê Hy is die Bron, die Begin van liefde. Hy wys ons ook wat liefde is.
In vs 9 lees ons: “Hierin is God se liefde vir ons geopenbaar…”
Die woord “openbaar” beteken “om die bedekking weg te vat”, byvoorbeeld die deksel van ‘n pot. Vat die deksel weg of lig hom op, dan sien mens wat in die pot is. Ons ook kan sê “openbaar” is “om duidelik te maak”.
God maak sy liefde vir ons duidelik daarin dat Hy sy enigste Seun van Hom af weggestuur het om sondige mense te verlos. God het sy Seun opgeoffer om ons van ons sonde te verlos. Jesus het sy lewe vir ons opgeoffer deur vir ons aan die kruis te sterf en vir ons op te staan. Hierdie daad van liefde deur God en deur Jesus Christus het sondaarmense en God weer bymekaar gebring. God en ‘n sondige mens is deur Jesus Christus nou in ‘n innige Vader-kindverhouding. Hierdie verhouding is ‘n verhouding van liefde.
Ek kan seker wees van sy liefde vir my
‘n Belangrike vraag vir elkeen van ons is: Het God my lief en hoe weet ek dit?
Hierdie is een van die belangrikste vrae in elke mens, veral in ‘n lidmaat van ‘n gemeente se lewe.
Kom ons vra die vraag weer en die keer met ander woorde: Hoe kan ek weet God het my so lief gehad dat Hy sy Seun vir my opgeoffer het?
Miskien antwoord van ons so:
Ek is lidmaat van die kerk – dit is ‘n heeltemal verkeerde antwoord.
Ek bid en lees Bybel – niemand met hierdie antwoord sal van God se liefde seker kan wees nie.
Ek probeer goed doen en ander help – Omdat ek ander help, beteken nie God het my liefgehad nie.
Hoe kan ek dan seker wees? Laat ek eers vooraf die volgende sê:
God sal ons nie in die duister laat oor sy liefde vir ons nie.
Elke gelowige wat aan God behoort kan seker wees van God se liefde.
Die Heilige Gees is die antwoord op die vraag of ek van God se liefde vir my seker kan wees.
God het ons sy Gees gegee (vs 13).
Deur die Heilige Gees is God in ons en ons in Hom (vs 12).
Omdat ons deur die Gees ‘n innige verhouding met God het, ken ons sy liefde vir ons (vs 16).
Ons kan sê: DIE HEILIGE GEES gee vir elkeen wat in Jesus Christus glo SEKERHEID van God se liefde vir ons.
God verwag van my om met liefde te leef
God se liefde verander my lewe heeltemal. Sy liefde wat Hy deur sy Seun vir my gehad het en sy Seun se liefde vir my, het van my ‘n verloste nuwe mens gemaak. Hierdie wondergenade om ‘n verloste nuwe mens deur Jesus Christus te wees, is een van die heel belangrikste dinge wat in my lewe met my gebeur het.
Wanneer iemand my vra wie ek is en om meer van myself te vertel, behoort een van die heel eerste dinge wat ek sê, te wees: Ek is ‘n verloste nuwe mens deur Jesus Christus.
Ongelukkig hoor ‘n mens hierdie genadewoorde so min. Dit is nie reg nie.
Jesus Christus het deur sy dood en opstanding my ‘n verloste nuwe mens gemaak. Die Heilige Gees het na my toe gekom om by my en in my te wees en my te help om nuut te leef. Met Jesus Christus en die Heilige Gees in my lewe, verwag God van my om met liefde te leef.
Hierdie opdrag staan in verskeie verse in hierdie deel van 1 Johannes:
Vs 7 – ons moet mekaar liefhê.
Vs 8 – wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie.
Vs 11 – as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê.
Vs 21 – Wie vir God liefhet, moet sy broer ook liefhê.
Daar is nog meer verse, maar hierdie is reeds genoeg dat elkeen van ons duidelik kan verstaan, glo en besef dat God van my verwag om met liefde te leef. Onthou die betekenis van liefde – omgee en opoffer. Vriendelikheid en bedagsaamheid is goed en reg en nodig tussen gelowiges. Liefde is meer. Liefde is om soveel om te gee dat ek bereid is om opofferings te maak, sonder dat dit vir my ‘n swaar plig is.
God het sy liefde gewys deur sy Seun te gee.
Jesus Christus het sy liefde gewys deur sy ewe te gee.
God verwag dat ek my liefde vir medegelowiges in die gemeente sal wys.
Ek kan my liefde wys deur –
Medegelowiges in hierdie vreemde en gevaarlike tyd moed in te praat.
Vir ander in die gemeente te bid.
Ander in die gemeente tuis te laat voel.
Medegelowiges goed te leer ken, sodat ons geloofsvriende van mekaar word en mekaar kan ondersteun wanneer en waar nodig.
Wie met liefde leef, leef in oorwinning
‘n Christengelowige wat met liefde leef, leef in oorwinning. Hoe gebeur dit? Johannes leer ons hierdie waarheid in sy brief.
Vs 18 – Meeste mense is baie bang vir Jesus se wederkoms, want dit is die groot oordeelsdag. Wie God se liefde ken en Hom en ander liefhet, is nie bang vir Jesus se wederkoms nie. Ek verwag my Verlosser wat vir my gesterf en opgestaan het. Wanneer Hy weer kom, breek my volmakate verlossingsdag aan. Ek wat met liefde leef, leef dus in oorwinning oor hierdie vrees.
Vs 20 – Daar is soveel haat in ons land en in die wêreld. Die misdaad in ons land, korrupsie en geweld is alles simprome van haat. Almal wat hierin deel haat God en haat medemens. Ek, Christengelowige wat met liefde leef, oorwin die haat wat daar in ons land bestaan.
Hfst.5 vs 3 – Daar is soveel ongehoorsaamheid in ons land. Elke dag word al God se gebooie oortree. Voorbeelde van oortreding en sonde teen God in ons land is:
Al die vals gelowe wat nie op die Bybel alleen gegrond is nie, is oortreding van die eerste en tweede gebod. Daar is miljoene sulke mense in ons land, en dis nie oordrywing nie.
Korrupsie is oortreding van die agtste gebod.
Ontkenning van oortreding in al die ondersoeke is sonde teen die negende gebod
Wanneer ek deur die Heilige Gees uit liefde vir God sy gebooie gehoorsaam, oorwin ek hierdie ongehoorsaamheid.
Hfst.5 vs 5 – Deur my geloof in Jesus, dat Hy die Seun van God is, oorwin ek die wêreld. Ek laat nie toe dat die sondige wêreld met sy verleidelikheid my verlei om weg van God te beweeg nie. Omdat ek God liefhet, leef ek naby Hom en gehoorsaam ek Hom. So, leef ek in oorwinning oor die wêreld.
Johannes was ‘n dissipel van Jesus Christus. Hy het geskryf:”Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God af, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God” (1 Joh.4:7).
Paulus was ‘n apostel van Jesus Christus. Hy het geskryf: “En nou: Geloof, hoop, liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!” (1 Kor.13:13).
Ek, Christengelowige, behoort aan Jesus Christus. Ek het nodig om vir ander, veral medegelowiges, met my lewe te wys, dat ek die liefde van God ken en daarom met liefde leef.
Gebed
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen