Die wolkkolom en die vuurkolom kan maklik vir ‘n mens net ‘n verskynsel bly, wat Israel baie gehelp het op hulle pad uit Egipte na Kanaän toe. Dit was ‘n eenmalige, wonderlike en interessante verskynsel wat in die verlede gebeur het, wat nie vir ons vandag nog enigiets beteken nie. So mag ‘n mens dalk dink.
Maar….wanneer jy die Bybel lees, lees jy wat God van Homself openbaar. Die eerste wat mens moet agterkom uit wat jy lees, is wat God van Homself sê. In die tweede plek is dit belangrik om agter te kom hoe die woorde wat jy gelees het, jou vandag raak. Daar is baie meer in die wolkkolom en die vuurkolom as wat mens met die eerste oogopslag lees.
Kom ons luister vanoggend dan na wat die Here vir ons in die wolkkolom en die vuurkolom van Homself sê en hoe dit ons in 2018 en vir die res van ons lewe raak.
Tema: Ons Verbondsgod se pad met ons in 2018 en hierna
In Eks.13 en 14 ontmoet ons Israel buite Egipte oppad na Palestina, of eintlik die groter gebied, Kanaän. Waarom was hulle soontoe oppad? Hierdie vraag neem ons terug na die dag toe die Here met Abraham die genadeverbond gesluit het. Daardie dag het die Here die land Kanaän aan Abraham en sy nageslag beloof (Gen.17:8). Die belofte van Kanaän, of dan die land van die Filistyne, was deel van die beloftes van die genadeverbond wat God met Abraham gesluit het. Die uittog uit Egipte neem ons ook terug na die dag daar in die woestyn toe die Here Homself aan Moses as die Verbondsgod bekend gemaak het (Eks.3:14).
Die uittog uit Egipte en die reis na Kanaän het alles met die verbond te doen. Die Here maak Homself dus hier aan ons bekend as ons Verbondsgod.
Sy verbond met ons is ‘n verbond van genade. Nie Abraham, of Isak of Jakob of enigeen van ons verdien om in God se genadeverbond opgeneem te word nie, tog is ons in die verbond. Ons dra ook die teken van die verbond. Dit is alles net genade.
God se genadeverbond is verder ewig. Die Here se belofte was dat Hy vir Abraham en Abraham se nageslag ‘n God sou wees tot in ewigheid (Gen.17:7). Dink mooi hieroor: Die Almagtige God, Skepper van hemel en aarde, die enigste ware God, is vir ewig in ons lewe.
Binne die genadeverbond is daar lewe. Daar is lewe, omdat God sy verbondskinders verlos. Die Here het Abraham weggeneem tussen die heidene in Ur en Abraham naby Hom in die genadeverbond laat lewe. Die Here het Israel uit Egipte weggeneem, sodat hulle by Hom en vir Hom kon leef. Hy het Abraham en Israel as’t ware uit doodsomstandighede weggeneem, sodat hulle kon lewe.
Die Here het ons ook uit doodsomstandighede weggeneem. Hy het sy Seun vir ons gegee. Deur sy lyding en dood aan die kruis het God se Seun ons van die sondedood verlos. Deur sy opstanding uit die dood het ons nuwe lewe, lewe by God, ewige lewe. Elkeen wat in Christus glo, is openeem in die genadeverbond.
Die Here maak hier aan ons bekend dat Hy ons Verbondsgod is, wat ons opgeneem het in sy ewige verbond van genade en lewe!
Israel is weg uit Egipte, omdat die Here vir hulle ‘n ander bestemming gehad het. Hy wou hulle in die land wat Hy in sy genadeverbond aan Abraham beloof het, die land Kanaän, gehad het, waar hulle as verbondsvolk by Hom en vir Hom kon leef.
Sou mens vandag in ‘n toerbus van Egipte na Israel ry, neem dit volgens een bron ongeveer dertien uur. Die Here laat Israel veertig jaar neem om in Kanaän te kom. Dit is openbarings-geskiedenis wat mens nie net kan lees en laat verbygaan nie. Die vraag is: Wat maak die Here hiermee van Homself bekend en hoe raak dit ons in 2018?
Die Here het Israel nie op die kortste en vinnigste pad gelei nie. Abraham het aanvanklik in Kanaän gebly. Jakob het selfs grond daar gekoop (Gen.33:19). Daarna het die Here ‘n verskriklike droogte en hongersnood beskik wat Jakob en sy hele gesin na Egipte toe gedwing het. Daar het Israel omtrent 430 jaar gebly (Eks.12:40). Na die Here hulle uit Egipte verlos het, het Hy hulle 40 jaar laat neem om in Egipte aan te kom.
Dit was nie die kortste en vinnigste of maklikste pad nie, maar dit was die beste pad. Die beste pad…WANT…dit was die Here se pad met Israel. Die Here het Israel op sy pad, dit is die genadeverbondpad, die verlossingspad, die pad van geloof gelei. Hy het Israel op sy pad vir hulle na sy bestemming vir hulle gelei.
In 2018 is ons Verbondsgod ook met ons oppad na sy bestemming vir ons. Ons bestemming is nie iewers op hierdie aarde nie. Sy bestemming is sy hemelse woning waar Christus besig is om vir al die verbondskinders plek gereed te maak (Joh.14:2,3). Die Here se lewenspad met ons is vir ons dalk nie pad wat ons sou wou hê nie. Hy lei sy verbondskind, sy verbondsvolk dit is sy kerk, soms deur diep waters en brandende vlamme (Jes.43:2). Sy pad met ons is dalk nie die maklikste pad nie, maar dis die beste pad – vir ons in 2018 ook die genadeverbondpad, die verlossingspad, die pad van geloof….die pad na ons eintlike bestemming!
Die Here maak van Homself bekend dat Hy met ons oppad is na sy bestemming vir ons. Hy is met ons oppad in 2018, maar ook elke jaar….elke dag van ons lewe. Hierdie pad is ‘n geloofspad na ons ewige bestemming.
Die beloftes van die genadeverbond was aan Israel goed bekend. Hulle het geweet die Here het Kanaän aan hulle belowe. Hulle het geweet dat hulle Kanaän toe moes trek, waar die Here hulle wou gehad het. Die Here het Israel op ‘n bepaalde manier gelei op die pad wat Hy vir hulle beplan het na die bestemming wat Hy vir hulle gehad het. Bedags het die Here Israel in ‘n wolkkolom en snags in ‘n vuurkolom gelei.
Dit kon nie anders as om twee wonderlike verskynsels vir Israel te wees nie. Maar, die twee kolomme was meer as net ‘n verskynsel. Deur die wolkkolom en die vuurkolom het Israel presies geweet wat die pad was waarop die Here hulle gelei het.
Ons het ook die Here se leiding nodig. Ons het nie ‘n wolkkolom en ‘n vuurkolom nie. Hoe sal ek weet wat die pad is waarop die Here my in 2018 lei?
Ps.19:9 “Die bevele van die Here (dit is sy Woord) dui die regte koers aan.”
Ps.119:105 “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.”
Die Heilige Gees help ons om God se Woord te verstaan dat ons kan weet hoe en waarheen Hy ons lei. Hy is die Gees van die waarheid wat ons in die hele waarheid lei (Joh.16:14), dit is met God se Woord
Die Here lei ons in 2018 op die pad wat Hy vir ons gebaan het na die bestemming wat Hy vir ons bepaal het, deur sy Woord en sy Gees.
Die wolkkolom bedags en die vuurkolom snags het nie net vir Israel gelei op hulle pad na Kanaän toe nie. Die wolkkolom het agter Israel plek ingeneem en hulle teen die Egiptenare beskerm.
Die verbondsvolk het toe beskerming nodig gehad. Die verbondsvolk het vandag steeds beskerming nodig. Ons het liggaamlike en geestelike beskerming nodig. Hoe beskerm die Here ons?
In sy Woord maak Hy aan ons sy voorsieningheid bekend. Ons Verbondsgod beskerm ons in sy voorsienigheid. Hoe doen Hy dit?
Sy voorsienigheid is sy almagtige en oralteenwoordige krag waardeur Hy alles en almal onderhou en regeer. Op ons lewenspad na ons ewige bestemming kom ons dikwels beproewings en gevare teë. Droogte, onvrugbare jare, siekte, armoede is ‘n paar van die beproewings wat in die Kategismus genoem word, wat ‘n mens op jou pad teëkom. Daar is ook emosionele en geestelike beproewings – angs, eensaamheid, twyfel, teleurstelling.
Niks van hierdie beproewings kom per toeval op ‘n mens se lewenspad nie. God beskik hierdie beproewings deur sy voorsienigheid. In sy voorsienigheid beskerm Hy ons deur sy Woord en sy Gees. Sy Woord is die Evangelie van Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het. Deur sy dood en opstanding het Hy ons van al ons sonde verlos en ons sy eiendom gemaak. Omdat ons aan Hom behoort, behoort ons aan God, ons hemelse Vader. Ons Vader leer ons in sy Woord, dat Hy die swaarkry in ons lewe beskik om ons te louter (1 Pet.1), om Homself in ons lewe te verheerlik (Joh.9), om ons nader aan Hom te trek dat ons Hom nog beter ken (Ps.119). Ons Vader gee aan ons deur sy Gees ware geloof in Hom, sodat ons in tye van beproewing nie moedeloos en kleingelowig word nie, maar met geloof en vertroue in Hom, geduldig op Hom wag.
God maak in Eks.13 aan ons bekend dat Hy ons Verbondsgod is wat ons in 2018 en in die jare hierna, in sy voorsienigheid beskerm.
Israel het die wolkkolom en die vuurkolom gehad. In werklikheid het hulle die Here hulle Verbondsgod altyd by hulle gehad. Die Here het van hulle verwag dat hulle Hom sou volg.
Wat het ons? Ons het God se Woord en die Heilige Gees. Dit beteken ons het Christus. Christus is deur sy Gees altyd by ons, tot aan die voleinding van die wêreld (Mt.28:20).
Wat verwag die Here van ons in 2018?
Die Here wil dat ons Hom met ‘n gelowige hart sal volg. Kyk na die jaar wat voorlê, maar nie met ‘n jaar vol selfversekerdheid dat jy met jou lewe sal aangaan soos al die vorige jare nie. Kyk na die jaar met ‘n hart vol ootmoed, ‘n hart wat regtig na God soek, ‘n hart wat elke dag bid vir God se leiding in jou lewe.
Die Here wil verder dat ons Hom met ‘n gehoorsame hart sal volg. Israel het alleen geweet op watter pad om te gaan wanneer hulle die die wolkkolom en die vuurkolom, dit is Here gevolg het.
Ons sal in 2018 alleen weet watter pad die Here se pad is, as ons ons deur sy Woord en sy Gees laat lei, dit is om aan Hom gehoorsaam te wees. Hou die Bybel dan in 2018 elke dag oop voor jou en laat jou lewe deur die Heilige Gees beheers.
Die Here maak in Eks.13 aan ons bekend dat Hy van ons verwag om Hom in 2018 met ‘n gelowige en ‘n gehoorsame hart sal volg.
Die wolkkolom en die vuurkolom op Israel se pad, was nie net ‘n interessante verskynsel waarvan mens in die Bybel lees nie. Inteendeel! Daardie woorde is openbaringsgeskiedenis. God maak Homself in daardie woorde bekend.
Saamgevat, kan ons die volgende van die Here in die openbaringsgeskiedenis van Eksodus 13:21 en 22 leer: